Jeremia 5 – Hulle het hulle nie laat leer nie

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnWeereens word hierdie aantal gedigte (5:18-20 is in prosa) in ’n gespreksvorm geplaas waar die Here twee keer met Jeremia praat oor die minagting van die volk vir wat God hulle wou leer, en Jeremia daarop antwoord.  Die res van die perikope bevat die Here se worsteling met die onleerbaarheid van die volk in die vorm van ’n gesprek met hulle, sommige daarvan gelewer as profetiese prediking deur Jeremia in opdrag van die Here by een of ander geleentheid.

Die wendinge in die gesprek vorm my indeling van die onderskeie perikope.

5:1-2 – Die Here: “Gaan soek of julle daar iemand kry wat die waarheid soek.”

Jeremia word uitgenooi om deur die strate van Jerusalem te stap en op te let of hy enigiemand sien wat reg doen, wat die waarheid soek.  Die Here se aanbod is steeds dat Hy Jerusalem se sonde sal vergewe, as daar sulke mense te vinde is.  Maar daar is helaas nie.

Ons hoor hier die gesprek tussen Abraham en die Here oor Sodom en Gomorra waar Abraham vra of die Here nie die stede sou spaar ter wille van ’n paar regverdiges nie (Gen. 18).  Hier is dit egter die Here wat die inisiatief neem en stellig verklaar dat daar niemand is wat die waarheid soek nie.  Selfs as hulle ’n eed aflê dat hulle die waarheid praat, vertel hulle leuens, is dit vals.

5:3-6 – Jeremia: “Dit terwyl U waarheid eis, Here, maar hulle het hulle nie laat leer nie.”

Jeremia sluit goedkeurend aan by die Here se waarneming dat daar niemand is wat die waarheid soek nie en dit ook nie praat nie.  Dit is waarom, erken Jeremia, die Here hulle gestraf het, maar ongelukkig tevergeefs.  Hulle het hulle nie laat leer nie: “hulle koppe was harder as klip”!  Hulle het geweier om hulle tot die Here te bekeer, soos in die vorige hoofstuk geargumenteer is.

Jeremia vervolg met sy ontsetting dat dit nie net die gewone mense was wat uit onkunde so opgetree het nie.  Dit was ook die leiers wat geweet het wat die Here verwag, maar die gesag van God verwerp het.  Hulle oortredings was nie min nie, hulle het gedurig afgedwaal.  Daarom is hulle verwoes deur die nasies, voorgestel met die driedubbele metafoor van die leeus, wolwe en luiperds.

5:7-11 – Die Here: “Waarom sou Ek jou vergewe?  Die mense van Juda was ontrou aan My.”

Die feit dat Jeremia God se beoordeling van die volk se onleerbaarheid erken, en daarby sy oordeel oor die volk ten minste in beginsel goedkeur, laat die Here vervolg met die vraag aan Juda: “Waarom sou Ek jou vergewe?”  Die mense van Juda was ontrou aan die Here ten spyte van die verbondsverhouding wat daar tussen hulle gesmee is.  “Sal Ek hulle dan nie hieroor straf nie?  sê-vra die Here vir Jeremia, al laat Hy tog die moontlikheid oop dat die vernietiging nie absoluut sal wees nie: “moenie alles vernietig nie.”

5:12-13 – Jeremia: “Hulle het gesê: Hy sal dit nie doen nie.  Dit is nie die woord van die Here nie.”

Jeremia eggo weereens die Here se waarneming en besluit, omdat hy agterkom dat die oordeelsuitsprake van die Here met minagting deur die volk bejeën word: “Hy sal dit nie doen nie, daar sal geen kwaad oor ons kom nie …

Hoe verkeerd kan ’n mens nie wees nie!  Sê Jeremia: “Wat die profete sê , is wind, dit is nie die woord van die Here nie.” En hy voeg daarby die wens dat wat hulle sê oor hulleself sal kom.

5:14-17 – Die Here: “Ek laat ’n nasie uit ’n ver land teen julle optrek”.

Die Here vervolg deur op Sy beurt by Jeremia aan te sluit en aan Jeremia die belofte te maak dat God se woorde in sy mond ’n vuur sal wees wat die volk sal verteer.  Die oordeel van die Galdeërs is aan die kom en hulle sal op groot skaal die volk ekonomies, sosiaal en polities vernietig.

5:18-19 – Die Here: “Maar ook in daardie dae, sê die Here, sal Ek nie ’n einde aan julle maak nie.”

Daar is die skraal hoop, sê die Here, dat die vernietiging nie absoluut sal wees nie, maar hulle lot om in ballingskap te gaan, staan vas.  Omdat hulle vreemde gode in hulle eie land gedien het, sal hulle nou vreemdes in ’n vreemde land dien.

5:20-25 – Die Here: “Het julle nie ontsag vir My nie? Hulle het in opstand gekom, My verlaat.”

Die Here keer in die volgende drie perikope terug na die tema van die dwaasheid van die volk en gee Jeremia opdrag om dit aan hulle bekend te maak.

  • In die eerste spreek Hy die volk aan oor hulle sonde,
  • in die tweede oor die mag en rykdom wat hulle op onregverdige maniere bekom, en
  • in die laaste oor die leiers wat net hulleself en hulle eie posisies dien.

In die eerste perikoop vra die Here die volk of hulle dan nie ontsag het vir Hom nie.  Hy is immers die Skepper wat nie net vir hulle oë en ore gegee het nie, maar ook die see en die land geskei en op hulle plek hou.  Tog is hulle rebels en opstandig.  Hulle het God verlaat.  Selfs die ekologiese veranderinge weens God se weerhouding van voorspoed, het hulle nie oortuig om hulle oortredings en sonde te laat staan nie.

5:26-29 – Die Here: “Daar is goddelose mense onder my volk.  Sou Ek My nie wreek op ’n nasie soos hierdie nie?”

In die tweede perikoop gaan die Here verder en verwyt die volk vir die goddelose mense onder hulle wat hulle fokus op mag en rykdom geplaas het en wie se boosheid geen perke ken nie.  Hulle koninkryke word gebou op die verydeling van die regspraak.  Hulle gee nie om vir die weerloses van die samelewing nie: weeskinders en armes.  Let op dat boosheid aan onreg gelykgestel word.

Sal Ek hulle nie hieroor straf nie?  Sou Ek My nie wreek op ’n nasie soos hierdie nie?”  God kan eintlik nie anders as om die onreg wat hulle pleeg reg te stel deur hulle mag en voorspoed te breek nie.  So laat Hy reg geskied aan die geringes onder die volk.

5:30-31 – Die Here: “Iets vreesliks en afskuweliks het in die land gebeur.  Wat sal julle doen as die einde kom?”

In die laaste perikoop spreek die Here die leiers aan, die profete en priesters in dié geval, en verkwalik hulle dat vals optree, d.w.s. sonder ’n woord van die Here, en regeer met hulle eie gesag, d.w.s. sonder respek vir en in ooreenstemming met wat die Here sê.  En die volk hou daarvan!  Die toedrag van sake is vir God eenvoudig vreeslik en afskuwelik, ’n situasie wat Hy nie kan duld nie.  En Hy vra half mymerend: “Wat sal julle doen as die einde kom,”  dié einde wat hulle sê nie sal aanbreek nie?

Boodskap

Die intieme gesprek tussen God en Jeremia spreek my besonderlik aan.  Dit is asof ’n mens Jeremia se gebedsjoernaal lees en ’n perspektief kry aan die eenkant op die openheid van die Here om in gesprek te tree met sy profete oor wat Hy doen.  Iets wat ook vir ons bedoel is.

Maar aan die ander kant is daar ook die ontstellende werklikheid van ’n situasie wat só sleg geraak het dat daar geen salf meer aan te smeer is nie.  Abraham het ’n antwoord gekry op sy gebed deurdat die Here engele gestuur het om Lot en sy gesin te red uit die oordeelsvoltrekkking oor Sodom en Gomorra.  Dieselfde gaan egter nie nou met Jeremia gebeur nie.  En hy sit binne-in die situasie.  Hy kan dit self nie ontvlug nie.  Dit is baie keer ook ons eie ervaring.

Daar is darem die hoop waarvan ons later sal hoor, geïllustreer deur die grondkooptransaksie (Jer. 32).  En ons weet uit die boeke Daniël en Ester dat die Here mense onder die ballinge laat tel het, wat ’n groot rol sou speel in die latere behoud van die volk.  Daniël het die Here aan sy beloftes aan Jeremia herinner in sy intersessie vir die terugkeer na Jerusalem (Dan. 9:2).  Mordegai was instrumenteel in die beskerming van die amperse Joodse volksmoord onder die Persiese koning Ahasveros (Ester 2:6).

Interessant genoeg, Mordegai was soos Jeremia ’n Benjaminiet.  Hy kon weens die Here se bestiering sy stam van hulle aartsvyand uit die Agagiete, Haman – ’n afstammeling van koning Agag wat deur koning Saul, uit die stam van Benjamin, om die lewe gebring is – red en daarmee saam die hele volk.  Lees meer daaroor in my bydraes oor Daniël en Ester.

Ek hou vas vandag aan die belofte van die Here: “Maar ook in daardie dae, sê die Here, sal Ek nie ’n einde aan julle maak nie.”

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: