Jeremia 4:5-31 – My volk tree dwaas op
Een manier om dié aantal gedigte wat hier as ’n eenheid saamgesnoer is, te lees, is om dit as ’n gesprek tussen God en Jeremia te lees. Die onderwerp is die volk se dwase optrede en die gevolge wat dit vir hulle, sowel as die impak wat dit op Jeremia het.
4:5-10 – “Ek, die Here, laat onheil uit die noorde kom” … “Ag, Here my God!”
Die Here kondig die onheil uit die noorde met groot geskal aan. Die leeu uit die noorde, die vernietiger van die nasies gaan hulle blyplek verwoes weens die toorn van die Here wat op die volk rus. Al raai die Here hulle aan om na die vestingstede te vlug, sal dit hulle niks help nie. Almal: koning, amptenare, priesters en profete sal verslae wees en nie weet waarheen nie.
Jeremia se reaksie is: “Ag, Here my God!” Sy verweer is dat daar ’n opening vir bekering geskep is – “Julle sal vrede hê,” so het hy dit verstaan. Maar nou lê die swaard teen hulle kele. Die onheil is op pad. Die deur vir omkeer is toegeslaan.
4:11-13 – “Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek” … “Dit is klaar met ons!”
Die Here se oordeel word met die treffende metafoor van die skroeiende bergwind – die Sirocco – beskryf wat uit die woestyn die temperatuur sal opjaag en hulle in sy volle krag sal tref. Dit sal skielik gebeur, so skielik soos die wolke versamel.
Jeremia se reaksie is kort: “Ellende wag vir ons, dit is klaar met ons!”
4:14-21 – “Jou eie dade het hierdie dinge oor jou gebring” … “O die benoudheid in my hart!”
In ’n klaarblyklike terugverwysing na die moontlikheid van ’n omkeer vir die volk, herhaal die Here sy oproep dat die volk hulle hart moet reinig van die kwaad dat hulle behoue kan bly. Maar, helaas, die tyding van die noorde van die land (Dan en die Efraimsberge) is dat die vyand al naby is, dat die rebellie teen die Here se ontsettende gevolge in beweging gebring is. En die Here wyt dit aan hulle eie optrede: “Jou eie optrede, jou eie dade het hierdie dinge oor jou gebring, dis jou eie boosheid wat dit so bitter maak, wat jou in jou hart tref.”
Jeremia se reaksie daarop is roerend: “O, die krampe in my ingewande, o die benoudheid van my hart!” Die feit dat hy getrou was om die oordeel van die Here aan ’n ongehoorsame volk te verkondig, bring vir hom geen genoegdoening nie. Die naderende onheil is ’n angswekkende werklikheid.
4:22-26 – “My volk tree dwaas op” … “die vrugbare grond het in woestyn verander”
Die Here verwys vêrder na die dwaasheid van die volk deurdat hulle Hom nie erken nie, dat hulle moedswillig is, sonder enige begrip van wat die Here doen. Die enigste intelligensie wat hulle het, is om kwaad te doen. Van goeddoen wil hulle niks weet nie.
Jeremia (dit kan ook uit God se perspektief gelees word) kyk daarom rondom hom rond en sien dat die chaosmagte die skeppingsorde van Genesis 1 as’t ware omkeer. Die land word weer onbewoonbaar. Die lig verdwyn. Die mens verdwyn, die voëls. Alles is in puin. “Dit is die Here wat dit in sy gloeiende toorn gedoen het!”
4:27-31 – “Die hele land sal verwoes word” … “elke stad lê verlate”
Die Here kom weer aan die woord en erken dat dit Hy is wat die verwoesting laat gebeur het, hoewel Hy tog beloof dat Hy die land nie totaal sal vernietig nie. Sy besluit bly egter vas: “Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie.” Die hemel en aarde wat getuies is van die begin van die volk se geboorte af, dié word tot trane beweeg weens die voltrekking van die oordeel.
Jeremia se reaksie is weereens om die effek van die vyand op die volk te beskryf. Let op die treffende metafoor dat “elke stad op die vlug” slaan en tussen die bosse inhardloop, en in die rotsskeure gaan wegkruip. Jeremia besef dat mooipraatjies nie gaan help nie, die koeël is by wyse van spreke deur die kerk. Die volk is weerloos teen hulle teenstanders. Die werklikheid moet in die oë gestaar word. “Ellende wag vir my!”
Boodskap
Die boek se boodskap roer my regtig. Die wyse waarop die gesprek tussen God en Jeremia ontplooi gee ’n mens ’n diep insig in wie God is en ook hoe met Hom in verhouding gegaan moet word. Jeremia se menslikheid en eerlike worsteling met God se oordele oor sy volk roer my. En die verbysterende krag van God se ontblotende beoordeling van wat regtig aangaan – van die voortskreidende dwaasheid van die volk – laat my met nuwe oë kyk na die tipe gehoorsaamheid wat God van ons vra. God is net nie tevrede met tweede beste nie.
“O, die krampe in my ingewande, o die benoudheid van my hart!” Dat Jeremia se woorde waar word, bring vir hom geen vreugde nie. Hy deel in die smart wat die volk ly, selfs al is dit deur hulle eie toedoen.