Jeremia 6 – Die Here het hulle verwerp

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie gesprek tussen God en Jeremia word in dié hoofstuk voortgesit, hoewel Jeremia volgens my ontleding net op twee plekke kortliks aan die woord kom in reaksie op wat die Here sê: vers 10-11a oor die worsteling wat hy met sy opdrag het en vers 24-26 waar hy die angs en benoudheid van die volk verwoord.

6:1-9 – Die Here:  Neem die waarskuwing ter harte

Die mense van Benjamin, waarskynlik dié wat in Jerusalem gewoon het, word spesifiek hier aangespreek, dié stam waarvan Jeremia ook deel was.  Hulle moet veiligheid buite Jerusalem gaan soek, want die Here gaan sy mooi maar verwende dogter, Sion, vernietig deur die leërs wat teen hulle optrek.  Die ramshoring (sjofar) moet in Tekoa, so 20 km suid van Jerusalem, die plek waar die skaapboer profeet Amos vandaan gekom het, geblaas word, om almal rondom die Godstad te waarsku.  Daar moet ook vuurseine by Bet-Kerem gegee word, op sy beurt weer so ongeveer 7 km wes van Jerusalem in die rigting van Bethlehem.  Vuurseine sou dus goed sigbaar gewees het.

Die gemak waarmee die vyand hulle gaan inval word met ’n verbeelde gesprek onder die vyandiges weergegee wat óf helder oordag óf in die nag kan aanval.  Die Here gee hulle ook leiding hóé hulle die stad kan inneem:  “kap bome af en gooi ’n wal op teen Jerusalem.” Dit is immers ’n stad wat veroordeel is weens die sosiale onreg, geweld en vernietiging, wat daar soos water vars (koel) gehou word.

’n Laaste waarskuwing word aan Jerusalem se adres gelewer dat hulle tog sal reageer op God se appèl, anders sal Hy hulle soos die laaste druiwekorrel van ’n wingerdrank af oes.

6:10-11a – Jeremia: Wie sal na my luister?

Toenemend word Jeremia met God self geïdentifiseer.  En soos God deur die leiers en die volk verwerp word, tref dieselfde lot Jeremia.  Sy woorde word in die wind geslaan, hulle ore is doof vir die boodskap van die Here.  Niemand luister na Jeremia nie.  Daarom voel hy die opdrag van die Here is eintlik nutteloos en maak net homself seer.  Hulle ongeërgdheid oor die woord van die Here laat die toorn van die Here in hom brand: “ek kan dit nie verduur nie!”

6:11b-15 – Die Here: Hulle sal tot ’n val kom

Die Here verlos Jeremia egter nie van sy opdrag aan hom nie.  Hy moet die oordeelswoorde van die Here uitgiet op jonk en op oud sodat hulle die waarskuwing van die Here ter harte kan neem dat die Here die land gaan straf.  Die rede daarvoor moet Jeremia uitspel: selfverryking en bedrog.  Al sê hulle: “Alles is reg!  Alles is reg!” waarsku die Here: “Niks is reg nie.”  Hulle gaan omkom soos almal voor hulle wat die Here se woorde in die wind geslaan het.

6:16-20 – Die Here: Vra na die ou paaie

Die Here druk dit op die volk se hart om na die ou paaie te vra en die beste daarvan te kies en daarvolgens te lewe.  Die ou paaie verwys na die paaie van die voorvaders en nie na die verlede per se nie.  Dit gaan oor die positiewe voorbeelde van geloof en gehoorsaamheid van Abraham, Isak en Jakob wat hulle tussen die ander verhale van ongehoorsaamheid moet uitkies.  Die boek Spreuke waarsku ons tereg dat ’n mens nie noodwendig die verlede as sodanig moet verheerlik nie net omdat dit in die verlede lê nie: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie;dit is nie uit wysheiddat ’n mens so sê nie.” (Spr. 7:10).

Dan sal julle rus vind, sê die Here, hoewel Hy in dieselfde asem erken dat hulle dié raad nie gaan volg nie.  Die Here verwys na die wagte wat Hy aangestel het om hulle te waarsku, mense soos Jeremia.  Wagte was natuurlik baie belangrik in die tipe samelewing van daardie tyd wat sonder moderne kommunikasie middele moes klaarkom.  Hulle taak was om te luister en te kyk vir enigiets wat die gemeenskap kan skade aandoen en alarm te maak as daar enigiets verkeerds gaan (met sjofars of vuurseine).  Maar die volk het nie na die wagte geluister nie.

Dit laat die Here die nasies as getuie oproep om te leer uit wat Hy met dié ongehoorsame volk gaan doen, omdat hulle hul nie aan sy woorde gesteur het nie.  Hulle offers – wierook, kalmoes en brandoffers – roer nie God se hart nie.  Skeba was waarskynlik waar Jemen vandag is. Kalmoes is ’n geurige soort suikerriet waarvan die poeier in parfuum gebruik is. Dit is ingevoer uit Indië, die “ver land”.

6:21-23 – Die Here: Vaders en kinders, vriende en bure sal omkom

Die Here spel die vernietiging wat die volk gaan tref uit met verwysing na die sosiale bande van gesinne, vriende en bure wat verbreek sal word.  Die vyand is wreed en sal niemand spaar nie.

6:24-26 – Jeremia:  Trek rouklere aan, want die verwoester is op ons

Jeremia reageer met afgryse omdat hy weet hyself sal deel in die verwoesting wat oor Jerusalem sal kom.  Angs pak hulle beet, benoudheid soos ’n vrou in barensnood.  Hy waarsku sy mense om nie alleen in die veld of op die pad te wees nie, want die verwoesting sal hulle daar tref.  Waarskynlik met trane in sy oë raai hy die volk aan om rouklere aan te trek, te treur met bittere trane soos oor die dood van ’n enigste kind, want die oordeel is voor die deur.

6:27-30 – Die Here: Ek het hulle verwerp

Die laaste perikoop van hierdie gesprek tussen God en Jeremia trek die logiese gevolgtrekking uit die aanklagte wat Hy teen die volk het.  Omdat hulle hardkoppige rebelle is, nie net teenoor God nie, maar ook teenoor mekaar, het God se poging om hulle te reinig deur die werk van Jeremia nie geslaag nie.  Hy het Jeremia aangestel om die volk te suiwer, maar die afvalstowwe word nie uitgesmelt nie.  Hulle bly weggooi silwer.  Die oordeel is ophande.

Boodskap

Dit tref my hoe Jeremia praat oor die boosheid van die volk wat soos koel water beskerm word van verval.  Dit moes eintlik andersom gewees het.  Dit moes die mense se eer gewees het om die reg en die waarheid in stand te hou. Nou is hulle korrup, loop en beswadder mekaar en fokus net op selfverryking.  God se oordeel daaroor stel ’n mens eintlik gerus, al is dit swaar om, soos Jeremia, ook te ly onder die noodwendige oordeel wat oor ’n hardkoppige rebellie teen God uitgespreek word.

Die ballingskap van die 6de eeu v.C. was ’n vreeslike katastrofe vir die volk van Juda, maar in die lig van God se langdurige uitnodiging tot die herstel van sy verhouding met hulle, ’n regverdige ingrype.  En soos ons later sal sien, die begin van ’n nuwe bedeling.  Ná die ballingskap het Juda nooit weer ander gode aanbid nie, hoewel hulle verhouding met God natuurlik ook steeds by tye stormagtig was, soos ons in Esra en Nehemia en van die ander na-ballingskap profete sal lees (Haggai, Sagaria en Maleagi).

Dit roer my dat Jeremia getrou is aan sy opdrag, maar nie die sukses van bekering smaak nie, maar die pyn van die voltrekking van die oordeel.  Ek sê saam met hom: “Ek kan dit nie verduur nie.”

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: