Jeremia 35 – Die Rekabiete word as voorbeeld van getrouheid aan Juda voorgehou

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia 35 is ’n gevallestudie in getrouheid in skerp kontras met die ontrouheid van die konings en volk van Juda.  Dit is die rede waarom die samestellers van die boek van Jeremia dié hoofstuk met die verhaal van die Rekabiete direk ná die verhaal van Sedekia en sy mense se ontrouheid plaas, al vind die Rekabiete verhaal eintlik vóór Sedekia se regeringstyd plaas, in die tyd van sy broer Jojakim.

Die hoofstuk beslaan 3 dele:

  1. 35:1-11 – Die Rekabiete se getrouheid aan hulle voorvader se gebod
  2. 35:12-17 – Die veroordeling van Juda omdat hulle nie na die Here geluister het nie
  3. 35:18-19 – Die belofte van die Here aan die Rekabiete vir hulle lojaliteit

35:1-11 – Die Rekabiete bly getrou aan hulle voorvader se gebod

Jeremia kry die opdrag om die Rekabiete in die tempel wyn aan te bied om te drink.  Hulle het geantwoord dat hulle nie die gebod van hulle voorvader Jonadab, seun van Rekab, kan oortree nie.  Dit het ingesluit dat hulle benewens geen wyn nie, ook nie in huise mag woon of landbou bedryf nie.  Hulle moes in tente woon en het wel weens die oorlog skuiling gesoek in die stad Jerusalem, maar wou op geen manier aan hulle verbond met mekaar ongehoorsaam word nie.

Die Rekabiete was dus waarskynlik nomadiese veeboere wat rondgetrek het en dié lewenstyl gekies het bo dié van die vestiging in dorpe en stede.  Sommige geleerdes identifiseer die Rekabiete met die Keniete, omdat van die Keniete in die OT van ’n voorvader Rekab afgestam het (1 Kron. 2:55). Moses het bv. met ’n Keniet getrou (Rigt. 1:16), en sy skoonvader Jetro, ’n priester van Midian, was dus ’n Keniet (Eks. 3; 18).

Maar, die Keniete waarvan ons in die OT lees, het wel in stede gebly en selfs gehelp met die herbou van Jerusalem ná die ballingskap (Neh. 3:14).  Die Rekabiete moet dus ook onderskei word van die Keniete, omdat hulle ’n ander lewenstyl as die Keniete gekies het. Meer weet ons ongelukkig nie van hulle af nie.

35:12-17 – Die veroordeling van Juda omdat hulle nie na die Here geluister het nie

Dié ervaring met die Rekabiete word die aanleiding vir die Here om ’n boodskap van oordeel oor Juda uit te spreek om hulle wys dat hulle doodgewoon net nie kan leer om na die woord van die Here te luister nie.  Die Rekabiete luister na hulle voorvader oor ’n verbod op wyn.  Die Jode luister egter nie na die woord van God nie, al het Hy vroeg en laat met hulle gepraat om hulle van hulle verkeerde dade te bekeer.

Daarom bring die Here al die rampe waaroor Hy oor tyd heen met hulle gepraat het, nou oor hulle: “Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geantwoord nie.”

35:18-19 – Die belofte van die Here aan die Rekabiete vir hulle lojaliteit

Die Here gee ’n interessante belofte aan die Rekabiete. Hy beloon hulle lojaliteit aan hulle eie tradisie met ’n belofte dat altyd iemand uit hulle nageslag sal wees wat die Here dien!  Dit is asof die Here sê, “Ek soek sulke mense as deel van my volk!” Iets om oor na te dink.

Boodskap

Jeremia 35 prys lojaliteit as ’n onontbeerlike eienskap in die verhouding tussen mense sowel as in ons verhouding met God.  Om die waarheid te sê, waar mense lojaal aan mekaar bly, bring dit soveel vreugde vir die Here, dat Hy sulke mense insluit as deel van sy volk.  Dit beteken nie dat die lewenstyl van die Rekabiete nagevolg hoef te word nie.  Maar, verseker hulle lojaliteit.  Daar is min dinge wat God se hart só bly maak, as dat ons getrou is aan mekaar, want dít beteken normaalweg dat ons dan ook getrou aan Hom sal bly.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: