Skip to main content

Jeremia 34 – Koning Sedekia en die volk sal verwoes word omdat hulle van gedagte verander het

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnIn die volgende 12 hoofstukke word gefokus op Jeremia se interaksies met die leiers van die volk vóór en ná die val van Jerusalem.  Dit beslaan hfste. 34-45 en sluit ook ’n woord aan Jeremia se skrywersvriend Baruk in (hfst. 45).  Dit kan opgedeel word in terme van die tyd vóór en ná die val van Jerusalem:

  • Voor en tot met die val van Jerusalem – die verhale van die vroeëre koning Jojakim [35-36] is in die middel van dié oor die latere koning, sy broer Sedekia [34,37-39], geplaas, d.w.s. nie heeltemal kronologies in tyd nie.  Die rede is waarskynlik dat Jeremia in hfst. 35 die Rekabiete se verbondstrou  wil kontrasteer met Sedekia se ontrou in hfst. 34, waarna die ander verhaal van ontrou van Jojakim gevoeg is, hfst. 36 – hfst. 34-39;
  • Ná die val van Jerusalem – die verhale van die lotgevalle van die agtergeblewenes.  Jeremia is  vrygelaat, maar uiteindelik gevange geneem deur opstandelinge onder leiding van Joganan en na Tagpanges in Egipte weggevoer – hfst. 40-45.

Hoofstuk 34 is in twee dele opgedeel:

  • ’n Beloftewoord van die Here aan Sedekia dat hy in vredestyd sal sterf ten spyte van die ballingskap – vers 1-7;
  • ’n Oordeelswoord van die Here aan almal wat die ooreenkoms om slawe vry te laat weer verbreek het – vers 8-22.

34:1-7 – ’n Belofte aan Sedekia

Die gesprekke van die vorige hoofstukke tussen Jeremia en Sedekia moet waarskynlik hierna gedateer word, saam met dié van hoofstukke 37-38.

Die Here neem hier inisiatief en gee ’n belofte aan Sedekia dat hy ten spyte van die beleg en ballingskap die guns van die Here sal geniet, as hy maar net sal luister: “Jy sal nie deur die swaard sterf nie.  Jy sal in vredestyd sterf …”.

Ons lees nie direk van ’n antwoord van Sedekia hierop nie, hoewel die volgende gedeelte ’n antwoord in die vorm van ’n ooreenkoms rondom slawe veronderstel.

34:8-22 – ’n Oordeelswoord aan die volk

Dit wil dus aanvanklik lyk asof Sedekia positief hierop reageer en dat hy in ’n ooreenkoms met die hele Jerusalem alle Joodse slawe vrylaat, soos die Here dit beveel het (vgl. die bevel in Deut. 15; vgl. ook die gebruik van Lev. 25 sowel as Nehemia se maatreëls wat ná die ballingskap in Neh. 5 en 10 getref is wat hiermee verband hou).

Sedekia hou hom egter nie lank daaraan nie en verander weer van gedagte en verbreek dié ooreenkoms, nie net met die Jode nie, maar ook met die Here.  Dít beseël Sedekia se lot in die oë van die Here finaal.

Bekering kan wonders doen om ’n situasie om te keer.  Wanneer ’n mens egter dié bekering weer ongedaan maak, bevind jy jou in ’n slegter situasie as voor die bekering.  Dit is nie net sleg vir die slawe wat weer ’n keer verneder word nie, maar maak ’n bespotting van God se Naam wat daaraan gekoppel is.

Let op hoe die Here spot met hulle gewaande “vrylating” van die slawe, iets wat hulle self weer ongedaan gemaak het.  Die Here doen nou sy eie “vrylating” waarin Hy hulle tot slawe maak in ’n vreemde land.

Boodskap

Die genade van die Here staan vir my voorop in dié gedeelte.  Hy is bereid om selfs op die allerlaaste nog sy oordeel oor die volk te versag en die koning se lot te verlig.  En ’n mens wil net hoop dat daar ’n uitkoms gekom het met die oënskynlike bekering van die koning en sy mense.  Maar, dan verander hulle weer van gedagte, trek ’n streep deur hulle bekering, en bring die hernude gramskap van die Here op hulle kop af.  Hoe tragies – dat God se uitkoms só versmaai en in die wind geslaan word!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms