Jeremia 34 – Koning Sedekia en die volk sal verwoes word omdat hulle van gedagte verander het
In die volgende 12 hoofstukke word gefokus op Jeremia se interaksies met die leiers van die volk vóór en ná die val van Jerusalem. Dit beslaan hfste. 34-45 en sluit ook ’n woord aan Jeremia se skrywersvriend Baruk in (hfst. 45). Dit kan opgedeel word in terme van die tyd vóór en ná die val van Jerusalem:
- Voor en tot met die val van Jerusalem – die verhale van die vroeëre koning Jojakim [35-36] is in die middel van dié oor die latere koning, sy broer Sedekia [34,37-39], geplaas, d.w.s. nie heeltemal kronologies in tyd nie. Die rede is waarskynlik dat Jeremia in hfst. 35 die Rekabiete se verbondstrou wil kontrasteer met Sedekia se ontrou in hfst. 34, waarna die ander verhaal van ontrou van Jojakim gevoeg is, hfst. 36 – hfst. 34-39;
- Ná die val van Jerusalem – die verhale van die lotgevalle van die agtergeblewenes. Jeremia is vrygelaat, maar uiteindelik gevange geneem deur opstandelinge onder leiding van Joganan en na Tagpanges in Egipte weggevoer – hfst. 40-45.
Hoofstuk 34 is in twee dele opgedeel:
- ’n Beloftewoord van die Here aan Sedekia dat hy in vredestyd sal sterf ten spyte van die ballingskap – vers 1-7;
- ’n Oordeelswoord van die Here aan almal wat die ooreenkoms om slawe vry te laat weer verbreek het – vers 8-22.
34:1-7 – ’n Belofte aan Sedekia
Die gesprekke van die vorige hoofstukke tussen Jeremia en Sedekia moet waarskynlik hierna gedateer word, saam met dié van hoofstukke 37-38.
Die Here neem hier inisiatief en gee ’n belofte aan Sedekia dat hy ten spyte van die beleg en ballingskap die guns van die Here sal geniet, as hy maar net sal luister: “Jy sal nie deur die swaard sterf nie. Jy sal in vredestyd sterf …”.
Ons lees nie direk van ’n antwoord van Sedekia hierop nie, hoewel die volgende gedeelte ’n antwoord in die vorm van ’n ooreenkoms rondom slawe veronderstel.
34:8-22 – ’n Oordeelswoord aan die volk
Dit wil dus aanvanklik lyk asof Sedekia positief hierop reageer en dat hy in ’n ooreenkoms met die hele Jerusalem alle Joodse slawe vrylaat, soos die Here dit beveel het (vgl. die bevel in Deut. 15; vgl. ook die gebruik van Lev. 25 sowel as Nehemia se maatreëls wat ná die ballingskap in Neh. 5 en 10 getref is wat hiermee verband hou).
Sedekia hou hom egter nie lank daaraan nie en verander weer van gedagte en verbreek dié ooreenkoms, nie net met die Jode nie, maar ook met die Here. Dít beseël Sedekia se lot in die oë van die Here finaal.
Bekering kan wonders doen om ’n situasie om te keer. Wanneer ’n mens egter dié bekering weer ongedaan maak, bevind jy jou in ’n slegter situasie as voor die bekering. Dit is nie net sleg vir die slawe wat weer ’n keer verneder word nie, maar maak ’n bespotting van God se Naam wat daaraan gekoppel is.
Let op hoe die Here spot met hulle gewaande “vrylating” van die slawe, iets wat hulle self weer ongedaan gemaak het. Die Here doen nou sy eie “vrylating” waarin Hy hulle tot slawe maak in ’n vreemde land.
Boodskap
Die genade van die Here staan vir my voorop in dié gedeelte. Hy is bereid om selfs op die allerlaaste nog sy oordeel oor die volk te versag en die koning se lot te verlig. En ’n mens wil net hoop dat daar ’n uitkoms gekom het met die oënskynlike bekering van die koning en sy mense. Maar, dan verander hulle weer van gedagte, trek ’n streep deur hulle bekering, en bring die hernude gramskap van die Here op hulle kop af. Hoe tragies – dat God se uitkoms só versmaai en in die wind geslaan word!