Jeremia 36 – Jojakim verbrand Jeremia se boekrol

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnSteeds in Jojakim se regering, sy vierde regeringsjaar (605 v.C.), laat die Here Jeremia al die oordeelsprofesieë wat die Here vir hom sedert die tyd van Josia teen Juda en die nasies gegee het deur Baruk op ’n boekrol skryf en in die tempel aan almal voorlees, aangesien Jeremia op dié stadium op een of ander manier ingeperk of ten minste beperk in sy bewegings was.  Hy kon nie self die boekrol in die tempel gaan voorlees nie.

Sommige geleerdes noem baie keer hfst. 36-45 die Baruk dokument, maar omdat hierdie opdrag eintlik al Jeremia se oordeelsprofesieë van die begin af insluit, ook dié aan die nasies (vgl. Jer. 46-51), het ons hier waarskynlik te make met die opdrag waaruit die hele boek van Jeremia tot stand gekom het: “vandat Ek met jou begin praat het in die dae van Josia tot nou toe”.

Die Here se hoop was dat die volk tot bekering sal kom by die aanhoor van hierdie boodskap: “As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer.” Dit wys onomwonde die Here se goeie bedoelinge, selfs in die aankondiging van oordeel.  Hy staan ook gereed om hulle hulle ongeregtighede en hulle sonde te vergewe.

Dit wil voorkom asof Jeremia en Baruk meer as ’n jaar lank gewerk het aan dié opdrag van die Here, want eers ’n jaar later, in die negende maand van Jojakim se vyfde regeringsjaar, is ’n vasdag vir die Here in Jerusalem uitgeroep en is die boekrol voorgelees.  Die hele volk uit die stede van Juda en Jerusalem was teenwoordig. Dit was in die sykamer van Gemarja, die een wat later Jeremia se briewe aan die ballinge afgelewer het in die tyd van Sedekia (Jer. 29:3).

Gemarja se seun Miga het hom uit die tempel gehaas na die paleis en die koning se amptenare – Elisama die staatsekretaris in die paleis, en ’n paar ander – om hulle in te lig oor wat nou in die tempel gebeur.  Hulle het Baruk laat roep om self te hoor wat hy gelees het, en in die proses baie bang geword toe hulle die boodskap van die boekrol hoor. Hulle besluit om die boekrol na Jojakim toe te bring en hom alles te vertel wat gebeur het, maar waarsku Baruk om op een of ander manier te gaan wegkruip saam met Jeremia: “niemand moet weet waar julle is nie.”

Interessant genoeg bêre hulle eers die boekrol in die staatsekretaris se kantoor voor hulle na die koning toe is in die voorhof.  Jojakim laat egter onmiddellik die boekrol haal en laat dit vir hom voorlees.  En dan lees ons:

“Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met ’n bak gloeiende kole voor hom.  Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi,  Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.”

Drie van die amptenare het teen hierdie wandaad van Jojakim geprotesteer, Gemarja ingesluit, maar verniet.  Gelukkig het die Here Jeremia beskerm teen Jojakim se gramskap wat Jeremia en Baruk hieroor wou laat arresteer.

Deur die boekrol te verbrand, het Jojakim egter nie geslaag daarin om die boodskap van die boekrol tot niet te maak nie, en gee die Here vir Jeremia opnuut die opdrag om die boekrol met al sy profesieë vir Baruk te dikteer sodat dit nie verlore sou raak nie.  Die Here herhaal ook opnuut sy woorde van oordeel, persoonlik aan Jojakim en publiek aan die volk.

Geen wonder dat Jeremia se oordeel oor Jojakim is: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.”  (Jer. 22:19).

Ons lees meer hieroor in die Kronis wat hierby aansluit en sê dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan.  Die Hebreeus in 2 Kronieke 36:6 kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …”  Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie en dood is buite die stad.

Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings – weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1).  Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig.

Terloops: Daniël word in die 3de jaar (ongeveer 606 v.C.) van Jojakim na Babel weggevoer in een van Nebukadnesar se eerste veldtogte teen Juda (Dan 1:1).  Dit was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die koning van Babel was.  Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik in ballingskap begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.

Boodskap

Dit tref my hoe ons hier ’n kykie kry in die tydsame en uitdagende proses waardeur die Bybel tot stand gekom het.  Jeremia en Baruk werk meer as ’n jaar lank aan die manuskrip.  En dan verbrand Jojakim dit sommer net so.  Dit lyk ook asof daar nie ’n ekstra kopie van sy boek was nie. Daarom moet hulle dit van meet af aan weer oorskrywe!

Dit gee ons ook ’n kykie in God se voorsiening.  Hy het hierdie boek nie net van Jojakim se vuur gered nie, maar ook van elke ander poging om die boodskap van Jeremia en die res van die Bybel deur onderdrukking of vervalsing te ontkrag.  Watter voorreg om dié Boek der boeke vandag op soveel maniere en in soveel tale te kan lees!

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: