Skip to main content

Jeremia 1 – Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie vyftien Skrifprofete, soos Jeremia, word gewoonlik onderskei van die ander profete soos Moses (Deut. 34:10), Samuel (1 Sam. 3 vv.), Elia (1 Kon. 17 vv.), Elisa (1 Kon. 19 vv.), Gad (1 Sam. 21), Natan (Sam. 7), en Gulda (2 Kon. 22), om net ’n paar te noem, en ‘n hele paar anonieme profete (bv. Rigt. 6:8, ’n profeet wat die werk van Gideon voorberei het; die “ou profeet” wat die “man van God” mislei het in 1 Kon. 13 vv. en nog vele meer).  Kyk hier na twee lyste uit Christelike en Joodse geledere van mense wat as profete in die Bybel beskrywe word: Jesus Alive; Judaism 101.

Die aksies en optredes van profete het normaalweg ‘n groter impak gehad as hulle woorde.  Daarom kon iemand soos Abraham ook ’n profeet genoem word (Gen. 20:7). Maar die Skrifprofete se woorde was só belangrik geag dat dit bewaar is as die Woord van God wat ook vir komende geslagte betekenis sou hê.

Dit is ook belangrik om te weet dat hierdie profete se woorde in die eerste plek ‘n boodskap van God aan hulle eie tyd was, eerder as wat dit voorspellings vir en oor die toekoms was.  Die betekenis vir latere tye lê ook nie soseer in die voorspellings in hulle profesieë nie, maar in die feit dat hulle woorde die werklikheid van God se werk in die geskiedenis bevestig as ’n oproep aan volgende geslagte om Hom ook te vertrou om in hulle eie tyd Homself te openbaar.

Dit geld dus ook vir die boodskap van die profeet Jeremia.  Die eerste hoofstuk vertel vir ons iets van die tydperk van meer as veertig jaar waarin hy optree (1:1-3) en brei dan uit oor sy roeping (1:4-19).

Die tydperk van Jeremia – 1:1-3 

Jeremia word hier as die seun van Gilkija, `n priester uit Anatot (vandag Almon), in die grondgebied van Benjamin, so 5 km noord–oos van Jerusalem (Jer. 1:1) geïdentifiseer.  Jeremia was dus self `n priester, maar iemand wat die Here vroeg reeds as “profeet vir die nasies” geroep het soos ons in vers 5 sal sien.

Soos reeds vroeër genoem, Jeremia se profesieë word gelewer teen die agtergrond van die drie groot wêreldmagte van sy tyd:

  • Assirië – wie se invloed begin taan het met die val van Assurbanipal en die opkoms van die Galdeër Nabopolassar in 627 v.C. en in 609 v.C. finaal verslaan is by Megiddo deur Egipte;
  • Egipte – wat die internasionale vakuum probeer vul het deur hulle mag in die Midde–Ooste uit te brei, maar deur die opkomende Babiloniërs verslaan is in 605 v.C. by Karkemis;
  • Babilon – wat onder Nebukadnesar tot die dominante wêreldmag in die tyd van die ballingskap van Juda uitgebou is.

Volgens vers 2-3 tree Jeremia op van 627 v.C. af, die dertiende jaar van koning Josia se regering en tree regdeur die regerings van Josia (640-609 v.C.), Jojakim (609-598 v.C.) en Sedekia (597-586 v.C.) op tot in 586 v.C. toe die volk in ballingskap weggevoer is.   Joahas en Jojagin  word nie in Jeremia se inleiding genoem nie, waarskynlik omdat hulle slegs 3 maande elk in dié tyd koning was.

Met die name van Josia, Jojakim en Sedekia word ’n mens voorberei vir die koppeling wat daar in Jeremia se woorde met hulle  in die loop van die boek sal wees:

  • Josia was die laaste “goeie koning” van Juda en het omvattende hervormings ingebring, wat egter net te min en te laat was om die oordeel van die Here af te wend.  Josia word net genoem in Jer. 3, terwyl die ander twee heelwat meer genoem word.  Lees meer oor Josia in my bydraes:

o   2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek;

o   2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek;

o   2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid.

  • Jojakim het berug geword vir sy minagting van die Woord van God deur dit te verbrand  (Jer. 36) en só die woord van Jeremia in die wind te slaan.  Ons gaan oor hom lees in Jer. 26, 25 en 36 (in datumvolgorde).  Lees meer oor Jojakim in my bydraes: 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie.
  • Sedekia word in Konings op dieselfde manier as sy voorgangers veroordeel as ‘n koning wat nie die Here gedien het nie.  Jeremia wys ons egter in Jer. 38 van die worsteling wat hy gehad het, hoewel hy net nie homself so ver kon kry om die Here te vertrou en Jeremia se raad te volg nie …   Ons gaan oor hom lees op verskeie plekke in die boek Jeremia.  In datumvolgorde word interaksies met hom gevind in Jer. 24, 27-29, 37:1-10, 32-33, 37:11-21, 21, 34, 38.  Lees meer oor Sedekia in my bydrae: 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer.

Die roeping van Jeremia – 1:4-19

Jeremia beskryf sy roepingsgebeure met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom”.  Hoewel hy nie uitbrei oor die presiese aard daarvan nie, dui die res van die hoofstuk se beskrywings op ’n ervaring wat Jeremia met sy sintuie ervaar het.  Ten minste sy ore, mond en sy oë was betrokke, soos ’n mens uit die roepings-woorde, die aanraking en die roepings-visioene aflei.

Die roepingsgebeure word ook as ’n gesprek tussen God en Jeremia uitgebeeld, soos meermale die geval was met ander ervarings van Bybelfigure wat deur God geroep is — Abraham, (Gen. 12), Moses (Eks. 3), Samuel (1 Sam. 3), Jesaja (Jes. 6), Esegiël (Eseg. 1) ensomeer.  Trouens, dié tipe gesprek teken hulle verhouding met die Here.  Gesprek met God stempel die pad wat hulle met Hom loop.

God se betrokkenheid by sy roeping word met vier werkwoorde gemotiveer: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies).  Let op dat God hom ken nog voor die Here hom skep … ’n diepsinnige perspektief op die lewe!  God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het.

’n Lewensveranderende gedagte om oor na te dink!

Interessant genoeg word dieselfde woord “aanstel” (gegee/gekies) gebruik vir die beskrywing van Abraham se roeping in Genesis 18:19.  Amos gebruik dit ook met verwysing na die verkiesing van Israel (Amos 3:2):

Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.”

Peterson vertaal dit so mooi:

Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).

Jeremia se reaksie daarop is om sy jonkheid as hindernis voor te hou. “Ek is ‘n seun” sê Jeremia, ‘n woord wat beide vir babas en kleiner kinders sowel as vir tieners en jong volwassenes gebruik is.  Sy presiese ouderdom kan dus nie hieruit afgelei word nie, maar hy was dus waarskynlik nog nie in sy twintigerjare nie.  “Ek kan nie goed praat nie,” het waarskynlik meer met sy eie beoordeling van die “gesag” waarmee hy kan praat te doene, as dat hy nie vlot kon praat nie.

Die Here word egter nie daardeur van stryk gebring nie en praat hom moed in, meer nog raak sy mond aan, dié mond waaroor hy bekommerd is.  Dit legitimeer sy woorde as God s’n.  God se gesag sal dus sy woorde stempel.  Dit herinner aan die gloeiende kool vuur waarmee Jesaja se mond aangeraak is toe hy oor sy onrein lippe gekla het (Jes. 6:6).

God spel Jeremia se roeping uit met ses woorde en twee visioene.

  • Die ses woorde behels oordeel: breek, uitroei, vernietig, platslaan, en heil(verlossing, redding): bou en vestig.  Dit is ook ongeveer die ratio waarin sy profesieë gelewer is, dubbeld soveel profesieë van oordeel as profesieë van hoop.
  • Die twee visioene bevestig dat God gaan optree (amandeltak) — God sê letterlik Hy “staan wag” oor sy woorde, om te doen wat Ek gesê het — en dat die oordeel uit die noorde sal kom (kokende pot – die leërs van Assirië en Babilon kom natuurlik van die ooste, maar het telkens uit die noorde ingeval om die tog deur die Transjordanië woestyn oos van Juda te vermy).

Die betroubaarheid en sekerheid van God se woorde tref ’n mens opnuut. Die woorde, soos telkens in die res van die profesieë van Jeremia, verwys duidelik na die vloeke en seën van die verbond, soos in Lev. 26 en Deut. 28 aan die volk voorgehou is.  Die seën en die straf word uitgespel in terme van die ekologie, ekonomie, gesondheid, en die politiek.  Dit is die agtergrond en basis vir wat Jeremia regdeur die boek gaan sê.  Die negatiewe kant van die beloftes van Levitikus en Deuteronomium gaan dus hier in vervulling.

Aan hierdie roeping word darem ook ’n belofte gekoppel dat die Here Jeremia sal staande hou, uitgedruk met drie metafore: ’n vestingstad, ’n ysterpilaar, en ’n bronsmuur.  Die Here sal by hom wees om hom te red en te sorg dat hy nie oorweldig word nie.

Boodskap

Dit is ’n ongelooflike ryk gedeelte. Aan die eenkant gee dit ’n mens ’n sleutel om die boek te verstaan, beide die tyd waarbinne Jeremia optree 627-586 v.C. sowel as die boodskap wat hy vir sy tyd ontvang het.  Daarin speel die ses woorde van sy roeping veral ’n belangrike rol: breek, uitroei, vernietig, platslaan, bou en vestig.

Aan die ander kant is hier só baie waarop ’n mens kan konsentreer in terme van jou eie lewe: God se betrokkenheid by ons van vóór ons geboorte af, sy bereidheid om met ons in gesprek te gaan, sy beloftes wat ons motiveer om die roeping wat Hy vir ons het, aan te gryp.

Ek oordink vandag die woorde aan Jeremia as woorde ook aan my: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.”  Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, het dit ook met my gedoen vir die roeping wat Hy vir my het.

 

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar