Jeremia 3:1-4:4 – Kom terug na My toe!

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDit is ’n uitdaging om die indeling van die perikope in dié hoofstuk te doen.  Nie net is daar ’n wisseling van prosa (bv. 3:6-12a; 3:14-18)  en poësie (3:1-5; 3:12b-13; 3:19-4:4) nie, maar ook ’n wisseling van voornaamwoorde (derde persoon: hy, sy, hulle, tweede persoon: jy, julle en eerste persoon: ek, my, ons).  Die onderskeie gedeeltes het ook verskillende funksies gehad:

  • Sommige van die gedeeltes word as ’n gesprek tussen die Here en Jeremia aangebied waarin die Here aan hom opdragte gee (3:6-12a).
  • Sommige van die gedeeltes word as ’n opdrag tot ’n (simboliese?) gesprek van die Here (by monde van Jeremia) met die volk aangebied, bv. “gaan roep hierdie woorde uit na die noorde” (3:12 – vgl. 3:1-5; 3:12b-4:4).
  • Sommige van hierdie gedeeltes is waarskynlik ook as profetiese prediking by een of ander geleentheid gelewer, bv. 4:1-4, aangedui met “so sê die Here” (4:1,3).

Wat help met die indeling, is dat die tema van ’n oproep tot bekering regdeur gehandhaaf word.  My indeling sal blyk uit die volgende opskrifte.

3:1-5 – Halfhartige bekering herstel nie die verhouding met God nie

Die Here gebruik die wette wat egbreuk en hertrou gereël het (Deut. 24) om die verhouding tussen Hom en die volk te tipeer.  Net soos dit in normale huweliksverhoudinge ondenkbaar is dat ’n man na sy vorige vrou sal “teruggaan” ná ’n egskeiding, só is dit eintlik ondenkbaar dat die volk sal “terugkom” na die Here toe, d.w.s. tot bekering sal kom.

Hulle het immers volhard in hulle weiering om met die Here in verhouding te bly, selfs al het Hy hulle tot ander insigte probeer oortuig deur droogte.  Omdat die Baäl godsdiens ’n vrugbaarheidsgodsdiens was, moes God se hand in die natuur hulle van sy beheer van die natuur oortuig het.  Hulle het egter geen berou getoon en nie van hulle afgodediens afgesien nie.

Daarom help dit nie om op ’n halfhartige manier vir die Here “Vader” te noem en steeds voort te gaan om verkeerd te bly doen, “net waar jy kon” nie.

3:6-10 – Israel en Juda dwarsboom die Here se verwagting

Die gedeelte word in Josia se regeringstyd gedateer en handel oor die trouelose noordryk van Israel wat uitgeblink het met hulle afgodediens.  Die Here het hulle ’n “skeibrief” gegee – die ballingskap van 722 v.C. – onder andere as afskrikmiddel vir die suidryk, Juda.  Helaas, dit het nie die gewenste uitwerking gehad nie.  Hulle bekering was vals – waarmee waarskynlik verwys word na die hervormings onder Josia wat – omdat dit nie met volle oorgawe was nie.

3:6:11-18 – Erken net julle skuld en Ek sal julle lot verander

Tog kies die Here eerder om te werk met afvalliges (Israel) as met halfhartiges (Juda) – soos ons later in Openbaring in die boodskap aan Laodisea sal hoor.  God verkies eerder ’n koue of warm verhouding as ’n louwarm een.  Hy gee dus opdrag aan Jeremia om wel ’n oproep aan die vorige ballinge van Israel te maak – wat ’n eeu gelede al weggevoer is – om hulle sonde te erken en met volle oorgawe hulle tot die Here te bekeer.  Dan sal die Here hulle lot verander.

Hierdie aanbod word op God se getrouheid gebaseer (3:12) en sal hulle potensieel weer sy eiendom maak.  Hy sal hulle terugbring, al is hulle ook min – een uit ’n stad, twee uit ’n familie – en hulle in die Godstad versorg, vermeerder en begelei met leiers na God se hart.

’n Pragtige prentjie van God se teenwoordigheid word geteken deurdat die sentrum van hulle Godsverhouding nie meer die verbondsark sal wees nie, maar die hele Jerusalem as die “troon van die Here”.  Weereens ’n beeld wat weerklank gevind het in Openbaring.

Dié belofte sluit uiteindelik albei ryke van Israel in – die noordryk sowel as die suidryk – asook die nasies wat die Here saam met die Godsvolk sal vereer.

3:19-22a – God wil ’n Vader wees vir hulle

In hierdie gedeelte word ons ’n kykie gegee in die hart van God vir sy mense.  Hy wil só graag vir hulle goed wees en ’n ruimte vir hulle gee om te floreer.  Al wat Hy vra is dat hulle met hulle hele hart vir Hom “Vader” sê en Hom nie verlaat vir ander nie.  Trouens, Hy is selfs bereid om ’n einde te maak aan hulle afdwaling, as hulle maar net sal terugkom.

3:22b-25 – Jeremia bely namens die volk hulle skuld

Hierdie gedeelte word deur Jeremia in die mond van die volk geplaas – moontlik as ’n retoriese respons namens die volk – en kan eintlik as ’n klaagpsalm gekategoriseer word.  Let op die wyse waarop hulle belydenis dat die Here hulle God is die skuldbelydenis voorafgaan dat hulle lawaai op die heuwels – die aanbidding van Baäl – niks opgelewer het nie.  Hulle redding kom net van die Here hulle God af.  Trouens, die aanbidding van Baäl het hulle ekonomies en sosiaal geruïneer, tot hulle skaamte.  Daarom erken hulle hul sonde.

’n Pragtige Psalm, maar in die mond van die profeet, te min te laat …

4:1-4 – Bekering moet eg wees, sê die Here

Dié respons van die Here is weereens om te beklemtoon dat bekering nie halfhartig durf te wees nie.  Bekering moet in waarheid wees, d.w.s. eg, onder andere deur reg te laat geskied en reg te doen.  D.w.s. bekering het altyd ook sosiale konsekwensies.  Godsliefde word gewys in naasteliefde.

Dit word geïllustreer met twee metafore, die een uit die gebruik van die besnydenis en die ander uit die landbou.  Deur alle ontrou (onbesnedenheid) uit hulle harte te verwyder, word hulle Godsliefde bevestig.  Deur ’n braakland te ploeg en nie in die dorings te saai nie, sal hulle die grond van hulle lewenspraktyk goed voorberei om vrugte te kan dra, ook sosiaal, vrugte wat kan hou.  Let op die verband met die gelykenis van die saaier in Matteus 13!

Die resultaat sal vêrreikend wees – selfs die nasies sal hulle seën dan van die Here verwag waar God se mense Hom regtig dien.  Watter waar wysheid!

Boodskap

Dit tref my hoe pertinent die Here volle oorgawe aan Hom beklemtoon.  In die verhouding met God werk halfhartigheid net nooit nie.  Dit is iets wat regdeur albei dele van die Bybel, die OT en die NT, beklemtoon word.  En die volle oorgawe het met bekering te make, ’n terugdraai na die Here, uitgedruk beide as Godsliefde en naasteliefde.

Hoe graag wil Ek jou ’n seun van My maak en aan jou ’n lieflike land gee!” God se droom vir ons.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: