Skip to main content

Jeremia 3:1-4:4 – Kom terug na My toe!

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDit is ’n uitdaging om die indeling van die perikope in dié hoofstuk te doen.  Nie net is daar ’n wisseling van prosa (bv. 3:6-12a; 3:14-18)  en poësie (3:1-5; 3:12b-13; 3:19-4:4) nie, maar ook ’n wisseling van voornaamwoorde (derde persoon: hy, sy, hulle, tweede persoon: jy, julle en eerste persoon: ek, my, ons).  Die onderskeie gedeeltes het ook verskillende funksies gehad:

  • Sommige van die gedeeltes word as ’n gesprek tussen die Here en Jeremia aangebied waarin die Here aan hom opdragte gee (3:6-12a).
  • Sommige van die gedeeltes word as ’n opdrag tot ’n (simboliese?) gesprek van die Here (by monde van Jeremia) met die volk aangebied, bv. “gaan roep hierdie woorde uit na die noorde” (3:12 – vgl. 3:1-5; 3:12b-4:4).
  • Sommige van hierdie gedeeltes is waarskynlik ook as profetiese prediking by een of ander geleentheid gelewer, bv. 4:1-4, aangedui met “so sê die Here” (4:1,3).

Wat help met die indeling, is dat die tema van ’n oproep tot bekering regdeur gehandhaaf word.  My indeling sal blyk uit die volgende opskrifte.

3:1-5 – Halfhartige bekering herstel nie die verhouding met God nie

Die Here gebruik die wette wat egbreuk en hertrou gereël het (Deut. 24) om die verhouding tussen Hom en die volk te tipeer.  Net soos dit in normale huweliksverhoudinge ondenkbaar is dat ’n man na sy vorige vrou sal “teruggaan” ná ’n egskeiding, só is dit eintlik ondenkbaar dat die volk sal “terugkom” na die Here toe, d.w.s. tot bekering sal kom.

Hulle het immers volhard in hulle weiering om met die Here in verhouding te bly, selfs al het Hy hulle tot ander insigte probeer oortuig deur droogte.  Omdat die Baäl godsdiens ’n vrugbaarheidsgodsdiens was, moes God se hand in die natuur hulle van sy beheer van die natuur oortuig het.  Hulle het egter geen berou getoon en nie van hulle afgodediens afgesien nie.

Daarom help dit nie om op ’n halfhartige manier vir die Here “Vader” te noem en steeds voort te gaan om verkeerd te bly doen, “net waar jy kon” nie.

3:6-10 – Israel en Juda dwarsboom die Here se verwagting

Die gedeelte word in Josia se regeringstyd gedateer en handel oor die trouelose noordryk van Israel wat uitgeblink het met hulle afgodediens.  Die Here het hulle ’n “skeibrief” gegee – die ballingskap van 722 v.C. – onder andere as afskrikmiddel vir die suidryk, Juda.  Helaas, dit het nie die gewenste uitwerking gehad nie.  Hulle bekering was vals – waarmee waarskynlik verwys word na die hervormings onder Josia wat – omdat dit nie met volle oorgawe was nie.

3:6:11-18 – Erken net julle skuld en Ek sal julle lot verander

Tog kies die Here eerder om te werk met afvalliges (Israel) as met halfhartiges (Juda) – soos ons later in Openbaring in die boodskap aan Laodisea sal hoor.  God verkies eerder ’n koue of warm verhouding as ’n louwarm een.  Hy gee dus opdrag aan Jeremia om wel ’n oproep aan die vorige ballinge van Israel te maak – wat ’n eeu gelede al weggevoer is – om hulle sonde te erken en met volle oorgawe hulle tot die Here te bekeer.  Dan sal die Here hulle lot verander.

Hierdie aanbod word op God se getrouheid gebaseer (3:12) en sal hulle potensieel weer sy eiendom maak.  Hy sal hulle terugbring, al is hulle ook min – een uit ’n stad, twee uit ’n familie – en hulle in die Godstad versorg, vermeerder en begelei met leiers na God se hart.

’n Pragtige prentjie van God se teenwoordigheid word geteken deurdat die sentrum van hulle Godsverhouding nie meer die verbondsark sal wees nie, maar die hele Jerusalem as die “troon van die Here”.  Weereens ’n beeld wat weerklank gevind het in Openbaring.

Dié belofte sluit uiteindelik albei ryke van Israel in – die noordryk sowel as die suidryk – asook die nasies wat die Here saam met die Godsvolk sal vereer.

3:19-22a – God wil ’n Vader wees vir hulle

In hierdie gedeelte word ons ’n kykie gegee in die hart van God vir sy mense.  Hy wil só graag vir hulle goed wees en ’n ruimte vir hulle gee om te floreer.  Al wat Hy vra is dat hulle met hulle hele hart vir Hom “Vader” sê en Hom nie verlaat vir ander nie.  Trouens, Hy is selfs bereid om ’n einde te maak aan hulle afdwaling, as hulle maar net sal terugkom.

3:22b-25 – Jeremia bely namens die volk hulle skuld

Hierdie gedeelte word deur Jeremia in die mond van die volk geplaas – moontlik as ’n retoriese respons namens die volk – en kan eintlik as ’n klaagpsalm gekategoriseer word.  Let op die wyse waarop hulle belydenis dat die Here hulle God is die skuldbelydenis voorafgaan dat hulle lawaai op die heuwels – die aanbidding van Baäl – niks opgelewer het nie.  Hulle redding kom net van die Here hulle God af.  Trouens, die aanbidding van Baäl het hulle ekonomies en sosiaal geruïneer, tot hulle skaamte.  Daarom erken hulle hul sonde.

’n Pragtige Psalm, maar in die mond van die profeet, te min te laat …

4:1-4 – Bekering moet eg wees, sê die Here

Dié respons van die Here is weereens om te beklemtoon dat bekering nie halfhartig durf te wees nie.  Bekering moet in waarheid wees, d.w.s. eg, onder andere deur reg te laat geskied en reg te doen.  D.w.s. bekering het altyd ook sosiale konsekwensies.  Godsliefde word gewys in naasteliefde.

Dit word geïllustreer met twee metafore, die een uit die gebruik van die besnydenis en die ander uit die landbou.  Deur alle ontrou (onbesnedenheid) uit hulle harte te verwyder, word hulle Godsliefde bevestig.  Deur ’n braakland te ploeg en nie in die dorings te saai nie, sal hulle die grond van hulle lewenspraktyk goed voorberei om vrugte te kan dra, ook sosiaal, vrugte wat kan hou.  Let op die verband met die gelykenis van die saaier in Matteus 13!

Die resultaat sal vêrreikend wees – selfs die nasies sal hulle seën dan van die Here verwag waar God se mense Hom regtig dien.  Watter waar wysheid!

Boodskap

Dit tref my hoe pertinent die Here volle oorgawe aan Hom beklemtoon.  In die verhouding met God werk halfhartigheid net nooit nie.  Dit is iets wat regdeur albei dele van die Bybel, die OT en die NT, beklemtoon word.  En die volle oorgawe het met bekering te make, ’n terugdraai na die Here, uitgedruk beide as Godsliefde en naasteliefde.

Hoe graag wil Ek jou ’n seun van My maak en aan jou ’n lieflike land gee!” God se droom vir ons.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.