Skip to main content

Is daar ‘n hel?

Daar is baie mense wat die bestaan van die hel ontken. Die poel van vuur wat die Bybel sê vir die teenstanders van God voorberei word. Waarin die bose driemanskap – die antichris, die profeet en die Satan – en al hulle volgelinge – bose geeste en ongelowige mense – gegooi word aan die einde van die tyd (Openb 19:20; 20:10; 21:8).

Die ontkenning van die hel berus op die idee dat die God van die Bybel nie veroordelend is nie, maar genadig en liefdevol, en dat Hy nooit ongelowiges aan hulle lot sal oorlaat nie. Hy sal self sorg dat hulle met Hom versoen word, of hulle nou wil of nie. Die uitverkiesing word dan dikwels ook só uitgelê dat alle mense uitverkies is. Sommige weet dit. Ander nie. Maar, of jy dit nou weet of nie, jy sal in die hemel kom. Daar is nie ’n hel vir dié wat nie in God glo nie.

In die proses word bv na die profeet Jona verwys wat wys dat God genadig is, en sy oordeel oor Nineve teruggetrek het. Of na Hosea 11 waar God sê my liefde brand te sterk. Hoe kan ek jou oordeel, Efraim? Of na dele uit Johannes waar Jesus sê dat Hy nie oordeel nie (Joh 8:15; 12:47).

Die probleem is egter dat só ’n lees van die Bybel eerstens eensydig is. Aanhalings uit die Bybel word konteksloos gemaak.

Die probleem is tweedens dat die Bybel se boodskap verdraai word om by ’n voorafingenome prentjie van God in te pas. Só ’n lees van die Bybel werk nie met die volle boodskap van die Bybel nie.

Moenie die Bybel eensydig lees nie

1. Die profeet Jona word aangehaal as ’n bewys dat God genadig is, en nie oordeel nie. Dit is egter net ’n halwe waarheid. God het wel sy oordeel teruggetrek teen Nineve toe hulle en masse tot bekering gekom het. Maar, twee eeue later, het Hy weereens vir Nineve deur die profeet Nahum aangespreek en hulle geoordeel en uitgewis is.

Dit is dus duidelik as ’n mens die boodskap van Jona en Nahum saamlees dat God nie net begenadig nie. Hy oordeel ook werklik. Nineve is verwoes in die tyd van Nahum, 612 vC.

2. Hosea sê tereg in hoofstuk 11 dat God se liefde te sterk brand vir Efraim. Maar net daarna sê die Here in hoofstuk 12 dat Hy Efraim sal vergeld en sy bloedskuld op hom sal laat afkom. En ‘n eeu later is die volk in ballingskap weggevoer. Hoofstuk 11 dui dus op die genadetyd wat God gee op grond van sy liefde. Hoofstuk 12 op die onafwendbaarheid van die oordeel, omdat hulle nie op sy liefde gaan reageer nie.

Trouens, Efraim is só verstrooi met daardie eerste ballingskap dat net ‘n handjievol ooit teruggekom het, sommige interessant genoeg ná die tweede ballingskap.

Die konteks van die oordeel in hoofstuk 12 is dus uiters noodsaaklik om die genade van hoofstuk 11 na waarde te beoordeel. Albei is geldige prentjies van God. En as jy net die een lees, het jy met ’n halwe prentjie van God te make

3. In Johannes 8 sê Jesus dat Hy nie oordeel nie. “Ek oordeel niemand nie.” (Joh 8:15). Maar, dit is nie al nie. ’n Mens moet die vers in konteks lees! In net die volgende vers, Johannes 8:16, sê Jesus: “En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.” (Joh 8:16).

Dieselfde gebeur in Johannes 12. Jesus sê: “Ek oordeel hom nie …” (Joh 12:47). Om net in die volgende vers te sê: “my woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” (Joh 12:48). Dit beteken: “Ek oordeel nie nou nie, maar my woorde sal wel aan die einde oordeel.”

Die evangelie van Johannes – wat só bekend is vir sy klem op die genade en die liefde – praat gereeld van oordeel. Oorweeg maar net gedeeltes soos:

  • Die oordeel is aan die Seun gegee (Joh 5:22).
  • God het Hom mag gegee om te oordeel (Joh 5:28).
  • Soos Ek hoor, oordeel Ek (Joh 5:30).
  • Tot ‘n oordeel het Ek in die wêreld gekom, sodat die siendes blind kan word, en die blindes kan sien, in die gesprek met die Fariseërs rondom die genesing van die blinde man (Joh 9:39).

Selfs daardie bekende en geliefde teks in Johannes 3:16 praat van God se liefde vir die hele wêreld, sodat dié wat in Jesus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Die liefde word in die konteks van verlorenheid verkondig. Trouens, in vers 17 en 18 sê Jesus weereens, Hy kom nie om te veroordeel nie, maar as jy nie glo nie, is jy reeds veroordeel, dws bly jy verlore.

Lees die hele Bybel in konteks

Oorweeg ook bv die volle boodskap van Openbaring waaroor ek onlangs Pinkster gehou het. Jy kan dit hier lees of per video volg: https://ngkerksomerstrand.co.za/pinkster-2020/

Die hele Openbaring is op kontraste gebou, waarvan die ewige lewe en die ewige dood ‘n belangrike deel is. Daar is die Drie-Enige God en die bose driemanskap. Die verlossing van die gelowiges en die oordeel van die ongelowiges. Die hemelse Jerusalem en die poel van vuur.

Neem die ewige dood uit die prentjie en die vraag kan met reg gevra word, maar hoe kan ‘n mens die openbaring oor die ewige lewe glo? En selfs as ’n mens die feit dat Openbaring simboliese taal gebruik, ernstig neem, verwys dit steeds na werklikhede. So wat is die werklikheid dan van die simboliek, anders as dat daar ’n toekoms vir gelowiges is wat anders en op ’n ander plek is as die toekoms vir ongelowiges?

Hierdie tipe lering is ’n dwaalleer wat nie net die boodskap van die Bybel ondergrawe nie, maar onsekerheid by gelowiges skep, en die boodskap aan ’n verloregaande wêreld ontkrag. Staan dit dus op ’n Bybelse manier teë deur dit aan die kaak te stel en die waarheid te bly verkondig.

Daar is inderdaad ’n hel, ’n poel van vuur, wat vir die duiwel en sy trawante voorberei word. Alle ongelowiges wat nie tot inkeer kom in hierdie lewe nie, sal saam met hulle daar in gegooi word. Dit is die tweede dood.

Lees hier meer daaroor in hierdie bydraes uit my boek Wie is God?:

Ek het ook al voorheen ‘n kort bydrae daaroor gemaak: Die hel, doderyk en vuurpoel.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ewige dood, Hel, Poel van vuur


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda