Skip to main content

Is daar ‘n hel?

Daar is baie mense wat die bestaan van die hel ontken. Die poel van vuur wat die Bybel sê vir die teenstanders van God voorberei word. Waarin die bose driemanskap – die antichris, die profeet en die Satan – en al hulle volgelinge – bose geeste en ongelowige mense – gegooi word aan die einde van die tyd (Openb 19:20; 20:10; 21:8).

Die ontkenning van die hel berus op die idee dat die God van die Bybel nie veroordelend is nie, maar genadig en liefdevol, en dat Hy nooit ongelowiges aan hulle lot sal oorlaat nie. Hy sal self sorg dat hulle met Hom versoen word, of hulle nou wil of nie. Die uitverkiesing word dan dikwels ook só uitgelê dat alle mense uitverkies is. Sommige weet dit. Ander nie. Maar, of jy dit nou weet of nie, jy sal in die hemel kom. Daar is nie ’n hel vir dié wat nie in God glo nie.

In die proses word bv na die profeet Jona verwys wat wys dat God genadig is, en sy oordeel oor Nineve teruggetrek het. Of na Hosea 11 waar God sê my liefde brand te sterk. Hoe kan ek jou oordeel, Efraim? Of na dele uit Johannes waar Jesus sê dat Hy nie oordeel nie (Joh 8:15; 12:47).

Die probleem is egter dat só ’n lees van die Bybel eerstens eensydig is. Aanhalings uit die Bybel word konteksloos gemaak.

Die probleem is tweedens dat die Bybel se boodskap verdraai word om by ’n voorafingenome prentjie van God in te pas. Só ’n lees van die Bybel werk nie met die volle boodskap van die Bybel nie.

Moenie die Bybel eensydig lees nie

1. Die profeet Jona word aangehaal as ’n bewys dat God genadig is, en nie oordeel nie. Dit is egter net ’n halwe waarheid. God het wel sy oordeel teruggetrek teen Nineve toe hulle en masse tot bekering gekom het. Maar, twee eeue later, het Hy weereens vir Nineve deur die profeet Nahum aangespreek en hulle geoordeel en uitgewis is.

Dit is dus duidelik as ’n mens die boodskap van Jona en Nahum saamlees dat God nie net begenadig nie. Hy oordeel ook werklik. Nineve is verwoes in die tyd van Nahum, 612 vC.

2. Hosea sê tereg in hoofstuk 11 dat God se liefde te sterk brand vir Efraim. Maar net daarna sê die Here in hoofstuk 12 dat Hy Efraim sal vergeld en sy bloedskuld op hom sal laat afkom. En ‘n eeu later is die volk in ballingskap weggevoer. Hoofstuk 11 dui dus op die genadetyd wat God gee op grond van sy liefde. Hoofstuk 12 op die onafwendbaarheid van die oordeel, omdat hulle nie op sy liefde gaan reageer nie.

Trouens, Efraim is só verstrooi met daardie eerste ballingskap dat net ‘n handjievol ooit teruggekom het, sommige interessant genoeg ná die tweede ballingskap.

Die konteks van die oordeel in hoofstuk 12 is dus uiters noodsaaklik om die genade van hoofstuk 11 na waarde te beoordeel. Albei is geldige prentjies van God. En as jy net die een lees, het jy met ’n halwe prentjie van God te make

3. In Johannes 8 sê Jesus dat Hy nie oordeel nie. “Ek oordeel niemand nie.” (Joh 8:15). Maar, dit is nie al nie. ’n Mens moet die vers in konteks lees! In net die volgende vers, Johannes 8:16, sê Jesus: “En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.” (Joh 8:16).

Dieselfde gebeur in Johannes 12. Jesus sê: “Ek oordeel hom nie …” (Joh 12:47). Om net in die volgende vers te sê: “my woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” (Joh 12:48). Dit beteken: “Ek oordeel nie nou nie, maar my woorde sal wel aan die einde oordeel.”

Die evangelie van Johannes – wat só bekend is vir sy klem op die genade en die liefde – praat gereeld van oordeel. Oorweeg maar net gedeeltes soos:

  • Die oordeel is aan die Seun gegee (Joh 5:22).
  • God het Hom mag gegee om te oordeel (Joh 5:28).
  • Soos Ek hoor, oordeel Ek (Joh 5:30).
  • Tot ‘n oordeel het Ek in die wêreld gekom, sodat die siendes blind kan word, en die blindes kan sien, in die gesprek met die Fariseërs rondom die genesing van die blinde man (Joh 9:39).

Selfs daardie bekende en geliefde teks in Johannes 3:16 praat van God se liefde vir die hele wêreld, sodat dié wat in Jesus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Die liefde word in die konteks van verlorenheid verkondig. Trouens, in vers 17 en 18 sê Jesus weereens, Hy kom nie om te veroordeel nie, maar as jy nie glo nie, is jy reeds veroordeel, dws bly jy verlore.

Lees die hele Bybel in konteks

Oorweeg ook bv die volle boodskap van Openbaring waaroor ek onlangs Pinkster gehou het. Jy kan dit hier lees of per video volg: https://ngkerksomerstrand.co.za/pinkster-2020/

Die hele Openbaring is op kontraste gebou, waarvan die ewige lewe en die ewige dood ‘n belangrike deel is. Daar is die Drie-Enige God en die bose driemanskap. Die verlossing van die gelowiges en die oordeel van die ongelowiges. Die hemelse Jerusalem en die poel van vuur.

Neem die ewige dood uit die prentjie en die vraag kan met reg gevra word, maar hoe kan ‘n mens die openbaring oor die ewige lewe glo? En selfs as ’n mens die feit dat Openbaring simboliese taal gebruik, ernstig neem, verwys dit steeds na werklikhede. So wat is die werklikheid dan van die simboliek, anders as dat daar ’n toekoms vir gelowiges is wat anders en op ’n ander plek is as die toekoms vir ongelowiges?

Hierdie tipe lering is ’n dwaalleer wat nie net die boodskap van die Bybel ondergrawe nie, maar onsekerheid by gelowiges skep, en die boodskap aan ’n verloregaande wêreld ontkrag. Staan dit dus op ’n Bybelse manier teë deur dit aan die kaak te stel en die waarheid te bly verkondig.

Daar is inderdaad ’n hel, ’n poel van vuur, wat vir die duiwel en sy trawante voorberei word. Alle ongelowiges wat nie tot inkeer kom in hierdie lewe nie, sal saam met hulle daar in gegooi word. Dit is die tweede dood.

Lees hier meer daaroor in hierdie bydraes uit my boek Wie is God?:

Ek het ook al voorheen ‘n kort bydrae daaroor gemaak: Die hel, doderyk en vuurpoel.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ewige dood, Hel, Poel van vuur


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.