Skip to main content

Hebreërs 7:1-28 – Jesus Christus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek

HebreërsIn hierdie hoofstuk begrond die skrywer sy aansporing tot geestelike volwassenheid in die Hoëpriesterskap van Jesus Christus.  Hy doen dit op twee maniere:

  • Hy beskryf die wese van Melgisedek se priesterskap – 7:1-10
  • Hy stel Jesus as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek voor – 7:11-28

Hy sal in die volgende hoofstukke drie gevolge hiervan uitspel, dat:

  • Jesus die Hoëpriester van ’n beter verbond is – 8:1-13;
  • Jesus ons gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien – 9:1-22;
  • Jesus in die heiligdom van God verskyn ter wille van ons – 9:23-10:18.

Daarna sal hy ’n verdere appèl maak:

  • dat ons self die heiligdom van God sal betree met ’n opregte hart en volle geloofsekerheid, bemoedig deur ons eie geloofsgenote – 10:19-39, sowel as dié uit die verlede – hfst. 11;
  • sodat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding sal hardloop die oog gevestig op die Leidsman en Voleinder van die geloof – hfst. 12.

Sy brief-boodskap sal afsluit met ’n beskrywing van die tipe geloofsgemeenskap wat nodig is om hierdie groei na geestelike volwassenheid te ondersteun – hfst. 13.

Dit help om dié breë prentjie in gedagte te hou soos ons die twee perikope van hoofstuk 7 lees.

7:1-10 – Die wese van Melgisedek se priesterskap

Die skrywer sluit hier aan by die verhaal van Melgisedek soos ons dit in Genesis 14 aantref, maar gaan verder in sy interpretasie daarvan as wat ons in die OT aantref.

Terloops, verwysings na ’n hemelse figuur met die naam Melgisedek kom ook in ander Joodse bronne voor, bv. in een van die eskatologiese tekste uit die Dooie See rolle van Qumran (2de eeu v.C.) sowel as in die tweede boek van Henog (1ste eeu v.C.).  Ander tekste uit die Joodse rabbynse tradisies verbind die naam Melgisedek weer aan Sem, die seun van Noag , wat sou beteken dat hy 465 jaar oud sou wees teen dié tyd wat hy Abraham ontmoet, as ‘n mens die Bybelse ouderdomme op sigwaarde sou neem!

Die Hebreër skrywer gaan egter sy eie onafhanklike weg op met sy interpretasie van Melgisedek aan die hand van die verhaal in Genesis 14 in hierdie perikoop en in die volgende perikoop aan die hand van Psalm 110.  Hy ignoreer dus die bestaande Joodse tradisies en fokus net op die Bybelse teks met sy eie verdere interpretasie daarvan.

Om jou gedagtes te verfris: in Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is.  Hy het brood en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde.  Geloof sy God die Allerhoogste!  Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”  Abram se reaksie was betekenisvol, soos die skrywer dit ook hier uitlê.  Hy het vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee.  Daarmee is Melgisedek se voorrang bó die aartsvader Abraham bevestig.

Die Hebreër skrywer lê die bestaande teks in Genesis 14 egter verder uit en verduidelik benewens die verklaring van sy naam as “Koning van Geregtigheid” ook sy naam as “Koning van Salem” dit is “Koning van Vrede”.  Dit is egter die volgende aansprake oor hom wat ’n mens tot stilstand laat kom: “Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde.”  Dit is beskrywings wat net op ’n hemelse ongeskape wese van toepassing kan wees.

Die toppunt van sy aanspraak is dat Melgisedek daarbenewens: “soortgelyk aan die Seun van God” geteken word, d.w.s. dat hy ‘n voorafskaduwing van Jesus as Seun van God is.  Dit is merkwaardig!  Melgisedek as ‘n gestalte uit die OT het dus in die NT ‘n realiteit in Jesus geword.  Die enigmatiese misterieuse hemelse figuur Melgisedek vind vervulling in Jesus as die Seun van God.

Ons sien wel dieselfde verbande wat in die res van die NT gelê word sodat ander figure uit die OT in Jesus ‘n vervulling kry, waar Jesus bv. as die Adam (1 Kor. 15) en die Moses (Joh. 1:45; 6:14) van die NT bedeling geteken word.  Die skrywer van Hebreërs gebruik dus dieselfde manier van uitleg deur Jesus as die vervulling van verskillende persone uit die OT te teken. Om die waarheid te sê, op ander plekke word Jesus selfs ook as die vervulling van institusies uit die OT, die tempeldiens, geskets, soos ons bv. in hoofstuk 9 sal sien.

Die wyse waarop hy Melgisedek met Jesus verbind is egter wel kwalitatief anders, omdat Adam en Moses sterflike skepsels was, maar Melgisedek ongeskape en onsterflik.  Daar is dus ’n dieper band tussen Melgisedek en Jesus.  Ek is egter versigtig om ‘n direkte identifikasie van Jesus terug na die OT figuur van Melgisedek te maak.  Ek sal verseker sê Jesus is in aanhalingstekens die “Melgisedek” van die NT, soos die skrywer van Hebreërs dit sê.  Ek sal egter versigtig wees om te sê Melgisedek is die Jesus van die OT.  Dit sou misleidend kon wees met geen eksegetiese basis in die Bybelteks nie.  Ons weet net te min van die OT figuur Melgisedek om só iets kwyt te raak.

Dat Melgisedek in die OT beduidende trekke van Jesus in die NT  openbaar is egter ook waar – sy ongeskape en ewige bestaan, sy hoë koninklike en priesterlike status, sy noue verbintenis aan God, die brood en wyn wat ‘n mens aan die nagmaal laat dink, die tiendes wat aan hom gegee is – sonder dat ek daarmee hom direk met Jesus sal kan identifiseer.

Die skrywer gaan voort om die belang van Melgisedek se priesterskap uit te lê.  Hy is die meerdere nie net van Abraham sowel as van almal wat uit hom voortgespruit het, onder andere die geslag van Levi waaruit die Joodse priesterlike geslag gestam het.  Dit is belangrik om dié punt te onderstreep, want die Levitiese priesterskap kon nooit volmaaktheid bring nie.  Net dié priesterskap van Melgisedek, omdat hy vir altyd priester bly.

7:11-28 – Jesus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek

Die skrywer vervolg met sy verbintenis van Jesus aan die orde van Melgisedek, hierdie keer in sy uitleg van Psalm 110.  In dié Psalm is aan die koning van Israel nie net oorwinning oor sy vyande beloof nie, nie net die mag oor allerlei nie, maar baie spesifiek ook die priesterskap volgens die priesterorde van Melgisedek, iets wat geen aardse koning ooit kon waarmaak nie.

Hierdie Psalm se boodskap word nou Messiaans geïnterpreteer en deur die skrywer aan die Hebreërs op Jesus van toepassing gemaak, die Een wat in staat is om as koning en priester vir ewig op te tree.  Jesus is daarom die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.  Dit is ’n koninklike priesterskap.  Hy tree nie net in vir ons as priester nie, maar het inderdaad mag oor die hele lewe, omdat Hy inderdaad “die krag van onvernietigbare lewe” het.

Die Levitiese priesterskap word daarmee opgehef deur die Messiaanse priesterlike koning, Jesus Christus.  Hy bring ’n beter hoop op verlossing waardeur ons tot God kan nader, omdat Hy nie net die borg van ’n beter verbond geword het nie, maar ’n priesterskap besit wat nooit tot ’n einde kom nie.

Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef om ter wille van hulle in te tree.” (vers 25).

Omdat Hy heilig is, onskuldig en onbevlek, boonop afgesonder van die sondaars en onaantasbaar hoër as die hemele verhef is, kan Hy as die volmaakte volkome versoening doen vir ons as sondaars.

Boodskap

Ek kan aan min dinge dink wat my aan die een kant so opgewonde maak, maar aan die ander kant ook heeltemal tot rus bring, as die feit van Jesus se voorbidding vir my.  Hy leef vir altyd om vir ons in te tree, om vir ons voorspraak by God te doen.  Dit is die boodskap van Hebreërs.

Jesus raak ook nie moeg om dit te doen nie. Hy sal nooit ophou om dit te doen nie.  Hy sal selfs ná ek dood is aangaan om vir my mense, beide my familie as my geloofsgemeenskap, sowel as vir die koms van die koninkryk in die wêreld in te tree.  Watter gerusstelling.  Ek kan my kommer en nood, my verwagtings en behoeftes by sy voete los.  Hy leef vir altyd om vir my in te tree.  Sela.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.