Skip to main content

Hebreërs 8:1-13 – Jesus Christus is die Middelaar van ’n beter verbond

HebreërsIn hierdie hoofstuk word die eerste gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap uitgespel.  Hy is die Middelaar van ’n beter verbond, die vervulling van die nuwe verbond soos Jeremia reeds in die 6de eeu v.C. voorspel het in Jer. 31:31-34 (vgl. wat ek daaroor geskryf het: Jeremia 31:2-40 – Ek sluit ’n nuwe verbond met julle).

Dit hang saam met die feit dat die vorige verbond met sy priesterlike bediening vanuit ‘n aardse tabernakel/tempel vanweë die aardsgebondenheid daarvan onvolkome was.  Trouens die aardse tabernakel is gebou na die voorbeeld van die hemelse een in opdrag van die Here (Eks. 25:40).  Daarom het dit wel baie waarde gehad, maar was dit vanselfsprekend net ’n afbeelding en daarom ’n skadubeeld van die hemelse heiligdom.

Jesus het die heiligdom van God in die hemele betree en sit aan die regterkant van God van waar Hy ’n besondere magsposisie beklee.  Hy maak nou die belofte van God in Jeremia dat daar ’n nuwe verhouding/verbond tussen God en sy mense tot stand sal kom, vir almal wat in Jesus Christus glo waar.  Daarmee vervang God die ou verbond dan ook met die nuwe verbond.

In vers 8-12 haal die skrywer die belofte van Jeremia aan en verduidelik daarmee dat die Here in Jesus die gebreke van die Ou Verbond kom herstel het, spesifiek die feit dat die volk die verbond kon verbreek, al was God getrou aan hulle.  Dit doen Jesus deur die wet (woorde) van die verbond as ’n interne werklikheid in hulle harte en verstand te skrywe wat hulle op ’n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind.  Die sekerheid van die nuwe verbond is dus volledig in God se aksie in ons lewe geleë.  God gee ons dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond.

Nie dat dit nie nog altyd die droom van God vir sy mense was nie (Deut. 6:6 – “hierdie woorde moet in jou hart wees”), maar God maak self in Jesus die droom nou ’n werklikheid.  Die wonder is verder dat elkeen wat in Jesus Christus glo, sal deel in dié werklikheid, van die kleinste tot die grootste.  In Jesus Christus het die vervulling van die nuwe verbond van Jeremia nou beslissend aangebreek.

Boodskap

Die wonder van Jesus Christus se Middelaarskap lê in die sekerheid wat dit bring.  Jesus staan nie net tussen God en ons nie.  Hy staan by God vir en ter wille van ons.  Hy neem verantwoordelikheid vir ons om ons nie net in ’n intieme verhouding met God te bring nie, maar ons ook daarin te hou.  In Jesus kan ons dit ervaar dat God ons God wil wees, en dat Hy sorg dat ons sy volk kan wees.  Ons sekerheid is dus nie geleë in ons eie gehoorsaamheid nie, maar in Jesus s’n.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.