Hebreërs 5:11-6:20 – Gaan voort na volwassenheid en hou stewig vas aan die hoop wat voorlê

HebreërsDie skrywer is egter bewus van die feit dat die dinge wat hy oor Jesus se Hoëpriesterskap wil sê gefokusde aandag van die gemeente gaan verg.  “Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik.”  Dit verwys terug na die boodskap oor Jesus, meer spesifiek sy Hoëpriesterskap.  In hfst. 7-8 sal die skrywer meer daaroor sê, omdat dit só ’n belangrike en hoopvolle boodskap is, maar nou wil hy eers die problematiek aanspreek waarom dit so moeilik is om daaroor te praat.

Daarom brei hy oor twee dinge in dié gedeelte uit:

  • 5:11-6:12 – Fokus op geestelike volwassenheid
  • 6:13-20 – Fokus op God se belofte

5:11-6:12 – Fokus op geestelike volwassenheid

Hoekom is dit so moeilik om oor die dieper dinge te praat?  “Aangesien julle traag geword het om te luister.”  Hulle moes teen hierdie tyd al ander mense oor dié dinge kon leer, maar hulle traagheid (hardhorendheid) het ironies genoeg beteken dat hulle eintlik weer behoefte het aan melk, dinge wat maklik verteer, en nie die vaste kos van moeiliker leer en lewe kwessies nie.

Hulle was dus onervare in die boodskap van wat Jesus alles vir hulle beteken, veral met betrekking tot die vryspraak wat Hy gee.  Hulle het nie nodig gehad om dié vryspraak te herbesoek deur die eerste beginsels van die Christelike lewe te herbesoek nie – bekering, geloof, doop, handoplegging ensomeer nie.  Hulle het eerder nodig gehad om die volle betekenis daarvan te omarm en daaruit te lewe.  Wyse woorde!

Die ses aspekte van dié dinge wat maklik verteer – die melk in onderskeid van vaste kos, die basiese prediking oor Christus teenoor die dieper dinge van sy werk – wat hier aangeraak word, word in die oorspronklike Grieks eintlik in twee groepe op die tafel gesit (Fensham verdeel dit in drie groepe van twee elk).

  • Die eerste twee aspekte wat genoem word, hoort bymekaar, en word met die begin van die Christelike lewe verbind: om tot bekering te kom en in God te glo.
  • Die laaste vier aspekte is eintlik al vier sake waaroor gelowiges by die begin van die Christelike pad onderrig moet ontvang. Die woord onderrig pas dus eintlik by al vier, omdat dit letterlik soos volg vertaal kan word: “onderrig van die dope, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel.”  Let ook op die meervoud “dope”.

Hier is ’n verduideliking van wat elke aspek waarskynlik behels:

BEKERING:

  1. Diebekering van dooie werke – dié “dooie werke” word ook in hfst. 9:14 aangeraak. Die skrywer spel nie presies uit watter dinge hy as “dooie werke” beskou nie. Uit die res van die NT boodskap kan ’n mens aflei dat dit in die eerste plek gaan oor die begin van die geloofspad met God, d.w.s. bekering as sodanig (Hand. 20:21; 1 Tes. 1:9: “hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.”).  In die tweede plek gaan dit moontlik oor dinge wat sonder geloof in God gedoen word (Vgl. Jak. 2:14-26 wat oor die omgekeerde praat: “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.”).  Christus se werk in ons binneste reinig ons harte van hierdie “dooie werke” sodat ons die lewende God kan dien (hfst. 9:14).
  2. “Geloof in God” – Waar die bekering die omkeer van gelowiges beskryf, beskryf “geloof in God” die positiewe vasgryp van die boodskap van die Here Jesus Christus. Albei is nodig en noodsaaklik.

ONDERRIG:

  1. “Dope” – die meervoud beteken dat dit nie net gaan oor wat ons in ons eie kerke as die doop leer ken het nie. Die vroeë kerk het immers uiteindelik net een doop erken, die doop in die Naam van Jesus (Ef. 4:5), soos in die Geloofsbelydenis van Nicea ’n neerslag gevind het: “Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.” Die term “dope” word hier egter waarskynlik gebruik vir sowel die Christelike doop as  vir ten minste twee ander tipe “dope”.  In die eerste plek gaan hierdie ander dope waarskynlik oor die reiningsgebruike van die Jode.  bv. hfst. 9:10 – “verskillende reinigingsrites” – sowel as Mrk. 7:4 – “die was van bekers, kruike, koperhouers en eetbanke.”  Dit hang waarskynlik saam met Joh. 3:25 wat oor ’n konflik tussen die dissipels en die Fariseërs oor die “reiniging” praat.  In die tweede plek gaan dit waarskynlik oor die inlywingsrites wat met die woord “dope” uitgedruk kon word, soos in die misterie godsdienste en Joodse kultus die gebruik was (Robertson, A. T. Word Pictures in the New Testament).  Uiteraard sou hierdie “dope” ook die Christelike doop as sodanig ingesluit het.  Dit is die doop in die naam van Jesus wat die doop van Johannes vervang het.  Interessant genoeg lees ons net in een geval direk daarvan dat iemand wat die doop van Johannes ontvang het, óók die doop van Jesus ontvang het.  Die doop van Johannes was genoegsaam geag indien dit tot geloof in Jesus gelei het.  Waar die doop van Johannes gelei het tot ’n geloofsverbintenis aan Jesus was daar dus nie weer ’n ekstra doop gewees nie.  Ons lees bv. in Hand. 18:23-19:7 hoe Priscilla en Akwila vir Apollos in Efese nog duideliker “onderrig”, maar nie weer doop nie, aangesien hy reeds die Here Jesus geken en self alreeds “deeglike onderrig gegee (het) oor die dinge wat op Jesus betrekking het.”  Hoewel hy dus net van die doop van Johannes geweet het en net dit ondergaan het, is hy nie weer oorgedoop nie.  Paulus daarenteen het in dieselfde tyd in Efese twaalf ander dissipels aangetref wat ook net met die doop van Johannes gedoop is, maar nie van al die dinge wat Jesus gedoen het en die uitstorting van die Heilige Gees wat al plaas gevind het, geweet het nie.  Hy het hulle toe in dié dinge “onderrig” en spesifiek ook “in die Naam van die Here Jesus” gedoop, omdat hulle kennis van Jesus regtig gebrekkig was.  Hy het hulle ook die hande opgelê om die Gees te ontvang, iets waarvan die Hebreërskrywer natuurlik ook hier praat.
  2. “Oplegging van hande” – hierdie gebruik is op verskillende maniere toegepas, dit was ’n algemene teken van seën (Matt. 19:13 – Jesus lê die kinders hande op en seën hulle), ’n teken van genesing (Mrk. 7:32 – Jesus genees ’n dowe deur sy hand op hom te lê), ’n teken van verkiesing (Hand. 6:6 – die “sewe” word daarmee vir die weduwee-versorging afgesonder), ’n handeling met die ontvangs van die Heilige Gees by die doop (Hand. 8:17 – die doop en handoplegging het baie keer saamgegaan), ’n teken van die bevestiging van ’n roeping (Hand 13:3 – Paulus-hulle word hande opgelê deur die gemeente en uitgestuur), en ’n teken met die ordening as dienaar in die gemeente (1 Tim. 4:14 – die raad van ouderlinge het Timoteus só georden/bevestig; 2 Tim. 1:6 – Paulus het Timoteus se roeping vroeër ook met handoplegging bevestig.  ook 1 Tim. 5:22 – Timoteus word gemaan om handoplegging in sy bediening versigtig te beoefen).
  3. “Opstanding uit die dood” – dit was ’n algemene en fundamentele lering van die vroeë kerk, soos ons dit beide in die bediening van Jesus (Joh. 5:29) en die bediening van die kerk sien (Hand. 24:15; 1 Kor. 15). Dit was die kern van die hoop van die geloofsgemeenskap, maar terselfdertyd ook iets wat hulle prediking aan die wêreld gekenmerk het.
  4. “Ewige oordeel” – dit was ook ’n algemene lering van die vroeë kerk, iets waarop Johannes uitvoerig uitbrei in die Openbaring aan Johannes, die laaste boek in die NT.

Dit is dié dinge wat hulle daar moet laat – nie noodwendig ignoreer nie, want dit is uiteraard die begin van die pad, maar nou moet afhandel en met rus moet laat – sodat hulle geestelike volwasse kan word en die aanvoeling kan bekom om te onderskei tussen goed en kwaad.  Soos die NET Bible dit vertaal: “But solid food is for the mature, whose perceptions are trained by practice to discern both good and evil.” (Hebr. 5:14).  Ons insig in dié dinge wat saak maak, is iets wat immers net kan groei as ons ons onderskeiding inoefen, as ons van onderskeiding ’n gewoonte maak.

Die begin kwessies van die Christelike geloof kan ’n mens dan juis verhinder om geestelik volwasse te word.  Hoekom?  Nie net omdat hulle só vasgevang kan word daarin dat hulle nie geestelik volwasse word nie, maar omdat dit eintlik onmoontlik is om iemand wat van dié dinge afvallig geword het – nádat hulle die hemelse gawe gesmaak het, deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God gesmaak het, sowel as die kragte van die komende bedeling – om dié mense weer opnuut tot bekering te bring. Hulle het wat hulleself betref eintlik die Seun van God opnuut gekruisig en openlik tot skande gemaak, sê die skrywer.

Die boodskap het dus nie sy vrug in hulle gedra nie, en deur weereens op die begin kwessies te fokus, gaan nie maklik enige verandering by hulle bring nie.  Dit sal net ’n wonder van God wees wat in sulke gevalle mense tot inkeer kan bring.

Ek hou van die manier waarop William Lane dit sê: “If those who have enjoyed a full and authentic Christian experience should then fall away, a renewal to repentance is impossible” (Word kommentaar).  Let op die “if” en die “should“, want die skrywer dink nie só iets is regtig moontlik nie.

Hy sê wel: “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak,” (Hebr. 6:4-6 in BDV).

Hoekom sou ons dit só erg wees, as ‘n mens ter wille van die argument sou bedink?  Want dit sou beteken dat die lewende God aktief teengestaan word.  Dit is egter iets wat eintlik nie kan gebeur nie.

Daarom is die skrywer nie regtig bekommerd oor die geloofsgemeenskap in Rome nie, want hy is oortuig dat hulle die pad met God na volwassenheid sal stap: “Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing.” (Hebr. 6:9).  Die Here is immers nie onregverdig nie, sien raak wat hulle vir Hom en vir die ander “heiliges” doen.  Hy wil net baie graag hê dat elkeen van hulle enduit dieselfde ywer sal toon om die wedloop wat vir hulle voorlê te voltooi, soos dié wat hulle voorgegaan het.  In hfst. 11-12 sal hy verder daaroor uitbrei.

6:13-20 – Fokus op God se belofte

Die skrywer kan sy kommer oor hulle besweer deur homself en hulle te herinner aan die feit dat God se belofte van seën steeds van krag is.  Soos hy vir Abraham gesweer het met sy offer van Isak: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou veelvuldig laat vermeerder,” (Gen. 22) só belowe Hy dit nou vir die gelowiges in Italië, trouens vir alle gelowiges waar hulle hul ook mag bevind.

Dié besluit van God is onveranderlik: “Ons het hierdie hoop as ’n veilige en stewige anker van die siel wat tot aan die binnekant van die tempelgordyn ingaan.  Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek.”

Dit sal in hfst. 10 die basis word van sy oproep om op dié nuwe lewende weg deur die bloed van Jesus Christus na God te gaan en met Hom gemeenskap te hê.  Die tempelgordyn word daar met Jesus se liggaam verbind.

Boodskap

Geestelike onvolwassenheid is ’n probleem in enige geloofsgemeenskap.  Wanneer mense traag word om te luister, raak hulle geestelike lewe oppervlakkig.  En dit beïnvloed die hele geloofsgemeenskap.  Dan kan dit maklik gebeur dat mense weer hulle toevlug neem tot die basiese beginsels van die Christelike geloof, dinge wat met bekering en geloof in God te make het, en dinge waaroor hulle eintlik alreeds kategetiese onderrig ontvang het.

En natuurlik moet dié dinge steeds die fondasie van elke gelowige se lewe wees, maar as dit ál is waaroor gesels word, as dit ál is waaroor opgewonde geraak word, word mense se aptyt vir die dieper dinge van die Here afgestomp.

Die Christelike wedloop gaan nie net oor die begin daarvan nie, die inlywing in die liggaam van Christus deur die doop en die ervaring van die krag van die Heilige Gees nie, hoe belangrik dit ook al is.  Dit gaan veral oor die inblywing in die liggaam van Christus, oor die vasgryp aan die Here Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof, om ten spyte van die uitdagings van versoekings en vervolgings te onderskei tussen goed en kwaad, en betrokke te raak by die uitbreiding en vestiging van God se koninkryk.  Daarin moet ons geoefen word.  Daarin moet ons mekaar ondersteun.  Daarvoor moet ons die Here vertrou – geduldig en gelowig.  Hy sal inderdaad ons daarin seën!

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Amanda van Jaarsveld

    Goeie more Chris.

    In nr6 Heb 5:11-6:20 verwys jy na die dope. Waar lees ek van die dope. In die gedeelte in Heb, lees ek niks van dope nie en het na verskei vertalings gekyk?

    • Hi Amanda. Hebreërs 6:2 praat in die Grieks van βαπτισμῶν, wat “dope” beteken. Dit word in die NAV en OAV verkeerdelik in die enkelvoud vertaal.
      Jy sal dit bv. in die NIV reg vertaal kry met “cleansing rites” of in die voetnoot daarby met “baptisms”. Vandaar my verduideliking dat dit met Joodse reinigingsgebruike of inlywingsrites sowel as die Christelike doop verband kan hou. Die verwysings is in my bydrae.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: