Skip to main content

Handelinge 1:1-14 – Julle sal krag ontvang om my getuies te wees

23 Mei

Handelinge 1:1-14 – Julle sal krag ontvang om my getuies te wees

1Die eerste berig, Teofilus, het ek geskryf oor alles wat Jesus begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het, 2tot die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy deur die Heilige Gees opdragte gegee het aan die apostels wat Hy uitgekies het. 3Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor ‘n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die koninkryk van God gepraat het. 4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 5Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” 6Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” 7Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” 9Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. 10Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle 11en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het.” 12Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, ‘n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. 13Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het: Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Thomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus, seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas, die seun van Jakobus. 14Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.

Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het. Let op hoe die fondasie van die kerk se werk in hierdie perikoop verbind word aan: 1) die aardse lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het, 2) die lyding, sterwe en opstanding van Jesus, 3) die nuwe lewe van Jesus wat Hy nou leef en met “talle tekens” aan hulle gedemonstreer het, 4) die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk van hulle getuienis nie kan aanpak nie. Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word. Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk. Dit is ook opmerklik dat vroue en mans saam bid, terwyl dit nie die gebruik in die Joodse sinagoges was nie. Soos Jesus uiteindelik die heidene deel maak van sy kerk, só doen Hy dit van die begin af met mans en vroue.

Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag vir die belofte, die gawe van die Heilige Gees, spreek mens sterk aan. Natuurlik wag ons nie meer presies soos hulle op die uitstorting van die Heilige Gees nie. Ons het Hom reeds ontvang toe ons tot geloof gekom het, en word daagliks deur Hom vervul. Maar dit beklemtoon ook die voortdurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie. Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak, ook saam met ander gelowiges, en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en sy stem hoor om daarby betrokke te raak.

Dink vandag na oor die drie beloftes waarvan Lukas hier skryf en hoe dit in jou lewe al hoe meer vervul kan word. 1) Die belofte van die Heilige Gees wat reeds vir ons vervul is (vers 4-5), maar op wie se voortgaande werking ons steeds daagliks wag. 2) Die belofte van die krag tot getuienis waarvoor die Gees aan ons gegee is (vers 8), en wat steeds al hoe meer in wyer en wyer kringe in ons lewens vervul “moet” word: naby (Jerusalem), verder (Judea en Samaria), en tot aan die einde van die aarde. Dit bly die hart van die werk van die Heilige Gees. Dat die boodskap van Jesus deur ons getuienis oor die hele wêreld sal versprei. 3) Die belofte van Jesus se Wederkoms (vers 10-11). Daarop wag ons met reikhalsende verlange. Dit is juis dié belofte wat ons motiveer om te volhard in ons getuienis van Jesus totdat Hy weer sigbaar sal kom.

Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge-11-26-wag-op-die-gawe-van-die-heilige-gees/ of https://ngkerksomerstrand.co.za/hulle-het-almal-eensgesind-in-gebed-volhard-handelinge-11-14-hemelvaart-2021/ of https://ngkerksomerstrand.co.za/uitgestelde-verwagting-leer-ons-volhard-handelinge-11-11/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar