Skip to main content

Habakuk 2:1-20 – Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs

2:1 – Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap

prayer-shawlMet dié laaste reeks vrae aan die Here, neem Habakuk in hoofstuk twee die enigste posisie in wat sin maak: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê, en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

2:2-4 – Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly

Die Here antwoord Habakuk op twee maniere.

  • Hy wys in die eerste gedeelte wat die geloofsgemeenskap se verantwoordelikheid in só ‘n tyd van onreg en oordeel is: “Wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.
  • Hy wys in die tweede gedeelte uitvoerig op die ellende wat mense te wagte kan wees wat plunder, knoei en onreg pleeg.

En dit is dié tweede antwoord wat Habakuk tot rus bring en sy gebed laat skryf wat ons in hoofstuk 3 opgeteken het.

In die eerste gedeelte beveel die Here vir Habakuk om die boodskap op kleitablette te skryf wat mense sommer in die verbygaan kan lees. Dit moet dus baie sigbaar in die publieke oog wees, die moderne weergawe van groot kennisgewing- of advertensieborde. Dié boodskap is:

Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” In die OAV lui die tweede frase: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Geloof en getrouheid (faithfulness) is albei goeie weergawes van die Hebreeus ‘emunâ.

Let op dat dié boodskap gekoppel word aan die geduldige wag vir die uitkoms van die Here:

Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

In dié twee woorde van die Here – 1) om te wag vir sy uitkoms, en 2) om in geloof en getrouheid te volhard – lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit. Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan die Galasiërs (3:11 – “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”) en die Romeine (1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’”) so baie van hierdie boodskap maak.

Ook die skrywer van Hebreërs maak in sy brief-boodskap baie van dié belangrike boodskap uit Habakuk (10:37-38 – “Nog net ‘‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdiens, het Ek niks aan hom meer nie.’”). Let op hoe die Hebreërskrywer die boodskap van Habakuk aan die wederkoms van die Here Jesus Christus koppel, dié dag wat geregtigheid in sy volheid sal aanbreek. Let ook op hoe hy die hoop en vertroue uitspreek dat die geloofsgemeenskap dié boodskap ter harte sal neem: “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.”!

Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Maarten Luther wat in die Romeine brief se boodskap (1:16-17) ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.

2:5-20 – Die Here: Ellende wag altyd vir die wat plunder, knoei en onreg pleeg

Hierdie tweede antwoord van die Here is opgebou rondom vyf uitsprake van: “Ellende wag vir …” (2:6,9,12,15,19) wat volg ná die inleidende veroordeling in vers 5 van ‘n hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, ‘n direkte veroordeling van die Galdeërs se arogansie en grypsug. Dit sluit af met die oorhoofse oproep: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op die aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees.

2:6-8 – Ellende wag vir dié wat rykdom oneerlik en onregverdig bekom

Jy kan nie ander sy rykdom vir jouself toeeien en dink dat jy skotvry sal loskom nie. Die tyd kom nader, sê die Here, dat jou oneerlike en onregverdige besit deur ander van jou afgeneem sal word.

2:9-11 – Ellende wag vir dié wat ander uitbuit deur hulle geknoeiery

Jy kan nie ander uitbuit deur ‘n onwettige geknoeiery en dink dat dit nie ‘n ramp op jou en jou familie sal bring nie. Geen sekuriteit wat jy probeer bou, sal jou van ondergang beskerm nie, want selfs die klippe waarmee jy jouself probeer beveilig van ander, sal jou skuld uitskree en verkondig.

2:12-14 – Ellende wag vir dié wat mag bekom met moord en onreg

Die Here is oral en sien alles. Niks ontglip sy teenwoordigheid nie. Hy sal rekenskap eis.

2:15-17 – Ellende wag vir dié wat ander verlei met drank in wellustigheid

Noag se probleme met die vrug van die wingerdstok lê waarskynlik agter die beeldspraak wat hier gebruik word, en Gam se skandelike openbaringmaking daarvan (Gen. 9). Só mag mense nie met mekaar omgaan nie, want daardeur word hulle geweld aangedoen. Die Here se straf vir die ontering van ander deur die Galdeërs is dat hulleself onteer sal word.

2:18-20 – Ellende wag vir dié wat afgode dien

Die Here is skerp in sy veroordeling van afgodediens, nie net omdat dit mense verlei om Hom te dien nie, maar omdat dit só nutteloos is: “Dit is maar net iets wat deur ‘n mens gemaak is.” Geen vertroue sal hulle lewendig maak nie. Geen aandag aan hulle sal jou enigiets kan leer nie.

Wat nodig is, is om die Here in sy heilige tempel raak te sien en saam met almal op aarde in sy teenwoordigheid tot rus te kom. Sy goedheid sal triomfeer oor die kwaad.

Boodskap

Ons is geneig om net te fokus op die wonderlike boodskap in Habakuk 3:17-19: “al sou die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek in die Here jubel.” Dit is egter noodsaaklik om eers te fokus op die worsteling van Habakuk in die eerste twee hoofstukke vóór ‘n mens tot ‘n jubeling midde in jou en jou gemeenskap se stryd oorgaan.

Dit is nie ‘n klein saak as geregtigheid ‘n grap geword het nie. Dit is nie maklik om die grypsug en geweld van plunderaars gade te slaan, veral as dit oopgevlek word in die openbare lewe nie. Dit is pynlik en hartverskeurend. Habakuk roep ons op om sélf met God daaroor in gesprek te tree en dán te wag, en te luister na sy antwoorde vóórdat ons ons geloof in Hom bely met die jubeling dat Hy genoeg is vir ons, dat sy uitkoms genoeg is vir ons.

Ons moet ook onthou dat die vyf uitsprake van ellende oor plunderaars en knoeiers ons nie vryspreek van die absolute eis van die Here tot geloof in en getrouheid aan Hom nie. “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou/gelowig bly.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Habakuk


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!