Skip to main content

Habakuk 1:1-17 – Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument

prayer-shawlDie eerste twee hoofstukke is ‘n roerende gesprek tussen Habakuk en God. Habakuk praat twee keer in hoofstuk een en die Here een keer. God praat twee keer meer uitgebreid in hoofstuk twee wat deur ‘n kort voorneme van Habakuk om te wag en te luister, ingelei word. Dit verloop as volg:

  • Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument – 1:1-17
    • Habakuk: Hoe kan u onreg verdra? – 1:2-4
    • Die Here: Jy sal verstom staan oor wat Ek gaan doen – 1:5-11
    • Habakuk: U kan tog nie niks doen aan die ellende nie? – 1:12-17
  • Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs – 2:1-20
    • Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap – 2:1
    • Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly – 2:2-4
    • Die Here: Ellende wag altyd vir die wat plunder, knoei en onreg pleeg – 2:5-20

1:2-4 – Habakuk: Hoe kan u onreg verdra?

Habakuk se eerste woorde weerklink reg deur die eeue in gelowiges se gebede: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here.” Wat Habakuk se klag nog meer intens maak, is dat dit nie net sy persoonlike nood is wat voor die Here gebring word nie, maar dié van die gemeenskap waar die gebrek aan geregtigheid ‘n grusame grap geraak het, a la Peterson. Waar Habakuk ook al kyk, is daar onreg en ellende, onderdrukking en geweld, getwis en gebaklei.

Sy ervaring is dat die wet geen krag meer het nie en dat die slegte mense die oorhand het oor die goeies. Nêrens geskied daar meer reg en geregtigheid nie. Die reg word verkrag. En dit is nie die Galdeërs en die nasies wie se onreg Habakuk van praat nie. Dit is sy eie mense, die mense van Juda!

Wat Habakuk egter nog dieper ontstel, is dat dit lyk asof die Here van ‘n afstand af net toekyk en niks doen aan die ellende en geweld in die Joodse geloofsgemeenskap nie. Waarom tree die Here nie op nie? Hy kan tog sien dat dinge nie só kan aangaan nie?

1:5-11 – Die Here: Jy sal verstom staan oor wat Ek gaan doen

Die Here antwoord vir Habakuk, maar nie met ‘n antwoord wat hom regtig gerus gaan stel nie. Die Here gaan Habakuk verstom met wat Hy gaan doen. Die Galdeërs sal as die Here se oordeelsinstrument optree en vrees en ontsag inboesem reg oor die aarde, ook in Juda: “Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe.” Hulle sal die hele aarde verower en lag vir die weerstand wat van die nasies probeer bied teen die geweld van hulle aanslag.

Let egter op die ingeboude kritiek wat reeds in God se beskrywing van hulle mag ingesluit is: “Hulle ken net een wet, een trots, hulle eie … Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.” Daarmee wys die Here dat Hy baie bewus is van die problematiek van hulle gebrek aan die regte Godsbewussyn en die gestalte daarvan in gehoorsaamheid aan God in die lewe. Daarin lê alreeds die oordeel van die Here oor die Galdeërs ingesluit, al gebruik Hy hulle tans as sy oordeelsinstrument.

1:12-17 – Habakuk: U kan tog nie niks doen aan die ellende nie?

Habakuk kan egter nie vrede maak met die feit dat dié oordeelsinstrument wat God gebruik eintlik slegter mense is as dié waarteen die Here hulle gebruik nie: “Waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is?” Die Here is tog ewig, heilig, soewerein en bekend daarvoor dat sy oë te rein is om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word: “U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!

Habakuk gryp terug op die skeppingsverhaal, soos onder andere verwoord in Ps. 8, dat die mens tog nie soos die diere is nie: “Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is?” Hy wys ook op die goddeloosheid van die Galdeërs, wat selfs offers vir hulle nette bring, waarmee hulle hulle opstand teen God bewys, soos dit ook uitmond in hulle minagting vir die mense wat God geskep het.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Habakuk


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!