Habakuk – Nogtans sal ek in die Here jubel
Inleiding
Die profeet Habakuk, tydgenoot van Jeremia en Obadja, maar verder onbekend, worstel in die agste boek in die ry van Twaalf Kleiner Profete met die vrae wat Nahum op die tafel sit. As God dan só streng en grusaaam kan oordeel oor die nasies, soos in die geval van Nineve, hoekom doen Hy dit nie ook nou waar die onderdrukkende werklikheid van die Galdeërs (1:6) die Jode se voortbestaan bedreig nie?
Hoe kan die Here hoegenaamd sê dat hy nasies inspan – “Kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek … (1:6) – terwyl hulle nie in Hom glo nie? Hoe kan die Here hulle toelaat om op gewelddadige en bose maniere op te tree? En hoe lank sal die onreg en geweld selfs onder die Godsvolk die oorhand hê? Kortom, hoe lank kan God nog toelaat dat onreg en boosheid gedy en regverdiges daaronder ly? Geregtigheid is immers ‘n grap in die land en die wêreld, soos Peterson in The Message skryf (Justice is a Joke – opskrif vir hoofstuk een).
Die Here oortuig Habakuk egter in sy gebedsworsteling dat al lyk dit op die oog af asof alles ten gronde gaan, God die regverdiges nie sal versaak nie. Op God se verlossing moet hulle wag, selfs al lyk dit asof dit/Hy talm. In volhardende wag, al dieper wordende luister en worstelende gebed met die Here lê hulle toekoms opgesluit.
Habakuk kan uiteindelik sê dat al lyk dinge op die oog af asof dit nie regkom nie, en eerder vererger: “nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag.” (Hab. 3:18-19). God versaak dus nie dié wat hulle toevlug tot Hom neem nie.
Die boek toon daarom eintlik meer ooreenkomste met van die Psalms as met van die ander profetiese boeke. Dit is, soos die Psalms, meer ‘n gesprek met God as wat dit ‘n woord van God af is. Habakuk reflekteer dus meer van sy intersessorskap by God as dat hy as woordvoerder van God optree. Uit hfst. 2:1 blyk dit egter dat dit ook op ‘n woord vir die geloofsgemeenskap sal uitloop: “Ek wil wag om te verneem … wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.”
Weereens, soos die Psalms, is Habakuk daarom ook woorde wat God vir ons gee om vir Hom terug te sê. Kan ons Habakuk se woorde ons eie maak in watter uitdagende situasie ons ons ook al bevind. Trouens, Habakuk skryf sy gebed in hoofstuk 3 in die vorm van ‘n liturgie wat die geloofsgemeenskap kan gebruik in die erediens as klaaglied om by God in te tree vir watter situasie hulle ook al in verkeer (vgl. vers 1 en 19 – “Op die wysie van ‘n klaaglied … Vir die koorleier. Met snarespel.”).
Op dié manier is die boek op ‘n besondere manier ‘n boek van hoop, al weet ons dat die ballingskap uiteindelik wel gekom het en die volk vir sewentig jaar moes wag vir die uiteindelike verlossing. Uiteindelik het die Here hulle lot verander en kon hulle Hom weer dien in hulle eie land. En daarin lê ook vir ons die hoop vandag opgesluit.
Indeling
Die boek deel maklik in drie dele op. Die eerste twee hoofstukke is in die vorm van ‘n gesprek tussen Habakuk en die Here. Die derde hoofstuk is ‘n gebed wat uitsien na die uitkoms waarvoor Habakuk sy vertroue op God sit:
- 1:1-17 – Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument
- 2:1-20 – Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs
- 3:1-19 – Habakuk jubel in die God wat tot die redding van sy mense sal kom
View all posts in this series
- Habakuk – Nogtans sal ek in die Here jubel - March 12, 2015
- Habakuk 1:1-17 – Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument
- Habakuk 2:1-20 – Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs
- Habakuk 3:1-19 – Habakuk jubel in die God wat tot die redding van sy mense sal kom - March 13, 2015