Skip to main content

Habakuk 3:1-19 – Habakuk jubel in die God wat tot die redding van sy mense sal kom

prayer-shawlNá die indringende gesprek van Habakuk en die Here gee Habakuk vir ons ‘n gebed in die vorm van ‘n Psalm. Dit was waarskynlik bedoel om as ‘n liturgie in opeenvolgende geslagte van die geloofsgemeenskap gebruik te word.

Die liturgie begin in vers 2 met ‘n smeekgebed dat die Here weer kragtig sal optree soos in die verlede. Habakuk beskryf vervolgens in vers 3-15 wat hy sien en hoor in sy verhouding met die Here. Die dinge wat hy in hierdie visoen sien, oortuig hom dat die Here die volk sál red en die goddelose Galdeërs sál verpletter. Daarom sluit hy in vers 16-19 af met die besef dat hy maar kán wag vir die uitkoms van die Here. Dit kom verseker. Hy kan geduldig wag daarop al beleef hy nou niks daarvan nie. Al lyk dit asof alles verkeerd is, kan hy nógtans nou reeds die Here loof vir wat Hy sál doen om dit reg te stel.

Die Psalm van Habakuk is daarom bedoel om as ‘n liturgie gebruik te word ook in ander kontekste met ander uitdagings. Hy dui aan dat dit gesing word op die wysie van ‘n klaaglied met snaarinstrumente, ‘n uitdaging wat verskeie musici deur die eeu aanvaar het. Die drie dele van sy gebed kan as volg opgesom word:

  • 2:2 – Laat u dade ook in ons tyd ervaar word
  • 2:3-15 – U wys my dat U die volk red en die goddelose verpletter
  • 2:16-19 – Ek sal geduldig wag vir u uitkoms

2:2 – Laat u dade ook in ons tyd ervaar word

Die liturgie begin in vers 2 met ‘n smeekgebed dat die Here weer kragtig sal optree soos in die verlede. Habakuk koppel hulle behoefte aan redding en uitkoms direk aan die kragtige dade wat die Here in die verlede in die geloofsgemeenskap gedoen het. Dit is die basis vir sy ontsag vir die Here sowel as sy oproep: “Doen dit tog ook in ons tyd.” Hy bid om God se ontferming selfs al is die Here toornig op hulle. “Laat u dade ook in ons tyd ervaar word.

2:3-15 – U wys my dat U die volk red en die goddelose verpletter

Die liturgie vervolg in vers 3-15 met wat Habakuk sien en hoor in sy verhouding met die Here. Die beskrywings laat ‘n mens besef dat dit ‘n visioen, ‘n teofanie, van God se kragtige teenwoordigheid in die skepping en die geskiedenis van die nasies is.

Habakuk begin met die beskrywing van God wat van die rigting van die Sinai berg, die plek waar Moses die wet ontvang het, na Israel toe kom. Teman was suid-oos van Israel in Edomitiese gebied en die Paranberg waarskynlik ook. God se majesteit is baie wyd sigbaar, in die hemel sowel as op die aarde.

God se teenwoordigheid het ‘n aardskuddende impak op alles wat leef en beef. Maar anders as by Sinai, bring sy verskyning oordeel en redding tegelykertyd. Aan die een kant bring dit die pes en die dood, onheil en rampe. God verpletter die aanvoerder van die goddeloses, ‘n duidelike aanwysing van die Galdeërs (vers 13b-14). Hy is die Goddelike Krygsman par excellence wat sy oordeel uitvoer. Aan die ander kant bring die Here se verskyning redding vir sy mense (vers 13a). Sy oordeel bring verlossing vir sy mense. Hy is dus ook die Goddelike Redder par excelence wat sy mense verlos.

Hierdie visioen verkondig aan Habakuk dat die Here sy belofte sal waar maak. Hy sal die volk red en die goddelose Galdeërs verpletter. Die visioen is egter vir ‘n ander tyd, kom Habakuk ook agter, hoewel dit vas staan dat dit in die toekoms sal gebeur.

2:16-19 – Ek sal geduldig wag vir u uitkoms

Habakuk sluit daarom af in vers 16-19 met die derde beweging van die liturgie. Hy besef dat hy maar kán wag vir die uitkoms van die Here. Die uitkoms kom verseker. Die gesig het wel ‘n sidderende ontstellende uitwerking op hom. Maar Habakuk besef terselfdertyd dat hy geduldig kan wag daarop. Die Here is in beheer van beide die oordeel as die redding. Al lyk dit dus asof alles verkeerd is om hom, kan hy nógtans nou reeds al die Here loof vir wat Hy sál doen om dit reg te stel.

Hy sê daarom op daardie onvergelyklike inspirerende manier van hom: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig God, my Redder.” (Hab. 3:18-19). Hoekom? Want hy het die uitkoms gesien – die volk se redding en die vyand se nederlaag. Hy weet dus dat God nie dié versaak wat hulle toevlug tot Hom neem nie. Trouens, dit gee hom krag in die hoop dat hy self deel van die verandering kan wees wat die Here sal bring.

Boodskap

Die gebed van Habakuk gee vir ons as geloofsgemeenskap drie liturgiese bewegings wat ons in negatiewe omstandighede kan gebruik om tot die Here te nader:

  1. In die eerste plek kan ons ons behoefte aan redding en uitkoms eerlik aan die Here bekend maak. Ons kan die Here herinner aan die kragtige dade wat Hy in die verlede in die geloofsgemeenskap deur die eeue gedoen het. Dit bly die plek wat ons eerste opsoek in ons verhouding met die Here, die geestelike merkers van die pad wat ons met Hom tot hier geloop het.
  2. In die tweede plek kan ons die prentjies van redding en uitkoms wat die Here vir ons gee in ons gebed gebruik, veral dié wat begrond is in sy beloftes in die Bybel. God se skeppingsmag, die ontsag waarmee mense deur die eeue Hom bejeën, en die ingrype in die wel en wee van die nasies, is alles dinge wat ons in ons gebede kan gebruik, totdat die begrip van wat die Here nóú wil doen, vir ons oopgaan. Die Bybel en die verhale van God se verlossende oordeel speel hierin ‘n belangrike rol. Dit stimuleer ons verbeelding in ons gesamentlike gebed tot die Here.
  3. In die derde plek kan ons dieselfde geduld van Habakuk aan die dag lê. Verandering kom van die Here af. Daarop kan ons ons hoop stel. Daarin kan ons ons verbly: “Nogtans sal ek in die Here jubel.” Geduld bring ook verandering in ons eie gemoed en gedrag. Geduld help ons om vas te gryp aan die Here en Hom te vertrou en aktief op Hom te wag. Wanneer ons dit reg kry om geduldig op Hom te wag, begin ons ook ervaar dat Hy ons krag gee en ons voete soos dié van ‘n ribbok maak. Dán kry ons dit reg om op hoë plekke veilig te loop. Dán raak ons baie kere self katalisastors in die verandering wat die Here bring.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Habakuk


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.