Skip to main content

Kan Satan jou gedagtes lees?

God weet wat ons dink, soos dit regdeur die Skrif bevestig word (Ps 139:4). So ook Jesus (Mark 2:8; Matt 9:4; 12:25; Luk 6:8; 11:17; Joh 2:25; 6:61; 1 Kor 3:20). Daarom werk Hy deur sy Woord ook diep binne ons om ons die waarheid te help onderskei (Hebr 4:12). Dit is ‘n goddelike eienskap.

Die Satan of duiwel en ander bose geeste is geskape wesens en daarom baie meer beperk in hulle vermoëns. Hulle kan nie gedagtes lees nie. Dit is net God wat die gedagtes van mense ken (1 Kon 8:39). Die duiwels is egter van die begin af betrokke by mense en hou hulle woorde en gedrag die hele tyd dop (Job 1:6-7). Hulle kan ons gedrag wel lees, en dit is baie keer genoeg!

Die Bose kan daarby wel deeglik ons gedagtewêreld beïnvloed. So verduidelik Jesus dit aan die nagmaalstafel: “die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai.” (Joh 13:2). Lukas sê selfs dat die Satan in hom gevaar het (Luk 22:3). Dieselfde geld besetenheid deur demone en bose geeste.

Dit is waarom ons gewaarsku word om die volle wapenrusting van God aan te trek om ons te beskerm teen sy invloed (Ef 6:10-20). Dit sluit die beheer oor ons gedagtes (2 Kor 10:4-5) sowel as ons gedrag (Ef 4:27) in. Anders gee ons aan die duiwel ‘n vastrap plek in ons lewe.

Waar ons dus toegewy lewe as ‘n tempel van die Heilige Gees is ons weerbaar teen hierdie beïnvloeding en kan ons die duiwel se listigheid en versoekings oorkom.

Die bestaan van die duiwel, demone en engele

Ek het ‘n navraag gekry oor die bestaan van die duiwel, demone en engele. Ek haal ‘n stuk aan uit my boek Bid of Baklei? wat daaroor handel. Geniet!

Hoewel die angelologie (leer van die engele) en die demonologie (leer van demone) nie as ‘n deeglike uitgewerkte sisteem in die Skrif voorkom nie, word die bestaan van die engele, demone en die duiwel[i] deur die Skrifboodskap eenvoudig as ‘n werklikheid aanvaar. Daar is ‘n wye aanvaarding van engele en demone in die Bybel en ook in die ander Joodse tekse van daardie tyd (De Villiers, 1997:16.4), sonder om te veel oor hulle uit te brei.

Daar is byvoorbeeld geen sprake van ‘n dominerende rol wat hulle sou speel nie. Die enigste bestaansruimte wat hulle het, is een waarin hulle as ondergeskik aan Jahwe geteken word – die engele in die teenwoordigheid van God en die demone meesal weg van sy teenwoordigheid op die aarde en onder die aarde. Veral demone het in die Ou Testament ‘n totaal ondergeskikte plek gehad as dit vergelyk word met hulle rol in ander godsdienste (Vergelyk die groot voorkoms van byvoorbeeld besweringsformules in tekse uit die Ou Nabye Ooste teenoor die min gegewens hieroor in die Bybel). Daar is byvoorbeeld geen duidelike geval van duiweluitdrywings of bevrydingspraktyke in die Ou Testament nie.

Die bestaan van bose geeste word erken sonder om te veel daarvan te maak. Ons lees byvoorbeeld van Dawid wat vir Saul op die lier gespeel het toe ‘n bose gees – deur God gestuur! – hom ontstel het (vergelyk 1 Sam 16:14vv), sonder dat die duiwel uitgedryf is. In 1 Kon 22:21-22 kry Miga ‘n visioen van ‘n gees wat aan God voorstel dat hy ‘n leuengees word, wat Agab so ver moet kry om na die oorlog te gaan om te sneuwel, sonder enige betrokkenheid van mense in die proses nie. Soms is ‘n bose gees eerder ‘n aanduiding van ‘n slegte gesindheid wat tussen mense veroorsaak word – op gesag van die Here! Hy stuur vyandskap tussen samesweerders om hulle en hulle planne te ontwrig (Rigt 9:23 – Abimelek versus Sigem).

Continue reading

Onlangse kommentaar