Skip to main content

Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente

Paulus beweeg hier na ’n spesifieke probleem in die gemeente van Rome, die konflik tussen die sterkes en swakkes in die geloof.  Hy hanteer dit eers in die algemeen in 14:1-12, en dan meer spesifiek in 14:13-23.

14:1-12: Let op hoe Paulus hom hier hoofsaaklik rig tot die sterkes in geloof, en uitspel dat hulle diégene wat in geloof swak is, moet aanvaar, sonder om met hulle te stry oor opvattings wat van die sterkeres verskil.  Dit beteken natuurlik nie dat hulle ander gelowiges se opvattings doodgewoon voor die voet moet aanvaar nie, maar dat hulle die swakkes moet aanvaar.

Die swakkes in die geloof waaroor Paulus hier skryf, is mense wat bv. net groente eet (14:2), of anders as jy met hulle werkers omgaan (14:4), of een dag belangriker as ander reken (14:5).  Die sterkeres in die geloof, waaronder Paulus natuurlik self tel (15:1), wat alles eet of alle dae as gelykwaardig beskou, moet die swakkes nie veroordeel nie, en, voeg hy by, die swakkes moet die sterkeres in die geloof nie verag nie.  Aanvaarding is beter as die wen van argumente.

In 1 Kor 8-10 het hy natuurlik oor ’n soortgelyke probleem geskryf, hoewel dit in Korinte heel moontlik oor die heidense invloed gegaan het.  Hier gaan dit eerder oor die Joodse invloed, soos gesien kan word uit die vermelding van hoe mense oor die dae van die week gedink het.

Almal moet egter wat hulle doen tot eer van die Here doen, en toegelaat word om dit te doen, want ons is aan Hom, en alleen aan Hom, rekenskap verskuldig.  Let op hoe Paulus hier die regterstoel van God as motivering inbring om ’n mens se eie doen en late te ondersoek, eerder as om ander s’n met ’n fynkam deur te gaan.

14:13-23: Die belange van medegelowiges weeg swaarder as jou eie opvattings, veral oor goed wat meer op die periferie lê soos wat jy eet, drink (14:21) en vier.  ’n Mens moenie aanstoot gee of ander tot ’n val bring nie, al is daar niks intrinsieks verkeerd met kos, drank en feesgeleenthede per se nie.  Dit trek ’n streep deur die liefde, soos Paulus dit in hoofstuk 13 uitgespel het.

Let op hoe Paulus die lewe voor God en in die Gees koppel aan die lewe in die liggaam van Christus.  Deur met oorleg op te tree met ons medegelowiges, terwyl ons ook sonder om te skroom aan ons eie oortuigings mag en moet vashou (14:22-23), sorg ons dat mense gehoorsaam aan God kan lewe en sy vrede en vreugde deur die Gees in die uitbreiding van die koninkryk kan beleef.  Vers 19 som dit op: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

Ek onthou nog hoe ek die oortuiging gekry het in ’n 2-jaar tydperk waar ek met alkoholiste gewerk het in my studentejare (straatwerk Parow), en ek nie met ’n goeie gewete self alkohol kon gebruik nie, ter wille van hulle standvastigheid.  Ek het selfs nie Nagmaalwyn gebruik in daardie tyd nie.  En ek onthou ook hoe die Here my daarvan vry gemaak het, toe ek nie langer by hulle betrokke was nie.  Alles ter wille van my medegelowiges wat probleme gehad het, en tot eer van die God aan wie ons saam gehoorsaam gelewe het.

Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het

Let op hoe Paulus hierdie praktiese deel nou koppel aan die voorbeeld van Christus (15:1-6), wie se evangelie ’n impak op alle nasies het (15:7-13), waarvoor Paulus sy lewe gegee het (15:14-21) en wat hy wil afrond deur hulle te besoek (15:22-33).

15:1-6: Soos Christus nie aan Homself gedink het nie, moet dié wat sterk is in geloof die swakhede verdra (grondteks sê dra) van dié wat nie sterk is nie.  Soos Christus Hom ingestel het op wat ons kan bou in die geloof, só moet ons dit ook vir medegelowiges doen.  Dít doen Hy, en dít moet ons doen, sodat daar eensgesindheid onder die gelowiges kan wees.

15:7-13: Die belangrikste ding wat ons vir mekaar kan doen, is om mekaar te aanvaar, weereens soos Christus dit gedoen het.  Soos Hy persoonlik gekom het om die Jode te dien, so het Hy bedoel dat alle nasies die boodskap kon hoor, onder andere deur die bediening van Paulus.  Let op hoe Paulus uit vier OT gedeeltes aanhaal: Ps 18:50; Deut 32:43; Ps 117:1; Jes 11:10 en dit universeel interpreteer.

15:14-21: Let op hoe beskeie Paulus is teenoor die Romeinse gelowiges en half verskoning vra vir sy uitgesprokenheid (anders as met die Korintiërs!), maar tog trots is op die bediening wat God aan hom toe vertrou het.  Alle lof kom in elk geval God toe wat wonderlike dinge deur sy bediening gedoen het.

15:22-33: Hy hoop heel moontlik om Rome te besoek om as ’n soort tuisbasis vir hom te dien op sy droom om ook in Spanje die evangelie te gaan verkondig.  Hy vra dat hulle vir hom bid dat dit goed sal gaan in Jerusalem met sy voorgenome besoek daar, hoewel ons uit die verhaal van Handelinge kan agterkom dat dinge nie regtig so maklik vir hom uitgewerk het nie.  Hy is uiteindelik in boeie na Rome en het 2 jaar in die tronk daar gespandeer.  Die tradisie wil dit hê dat hy uiteindelik wel in Spanje uitgekom het, maar dit kan nie met sekerheid bewys word nie.

Hoofstuk 16: Paulus sluit die brief aan die Romeine in hoofstuk 16 af deur ’n hele klomp persoonlike groeteboodskappe aan ’n verskeidenheid mense, waarvan sommige verwysings waarskynlik na die (meer as 5) huiskerke verwys (5, 10, 11, 14, 15). Let op dat Priscilla eerste genoem word (4 keer uit die 6 keer wat hulle genoem word in die NT, is dit die geval) wat waarskynlik aandui dat sy die leier was.  Hulle was vermoënd en het in ’n hele paar gemeentes hul huise tot die gemeente se beskikking geplaas.  Rufus was moontlik die seun van Simon van Sirene (Mark 15:21).

Waarskynlik het Febe die brief gaan aflewer, sy was immers ’n leraar in die gemeente van Korinte waarvandaan Paulus die brief skrywe.

Die fundamentele vertrekpunt in etiese sake

Ek het in my stiltetyd vanoggend stilgestaan by Romeine 13:8-14.  Ek is net weer getref deur die feit dat die fundamentele vertrekpunt in etiese sake die liefde bly.  As Paulus etiese riglyne wil neerlê vir die gelowiges in Rome dan begrond hy dit in die een deel van die wet van God wat saamgevat kan word in die liefdesgebod: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Let op hoe hy dan vier gebooie uit die tweede deel van die wet aanhaal, sonder om dit volledig te doen, want hy gebruik dit net as illustrasie van die feit dat enige gebod eintlik dié motivering het. Die motivering van die liefde geld immers enige ander gebod wat met etiese sake te doene het. En die motivering is, sê Paulus: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.

So, as jy die liefdesgebod uitvoer, as jy jou naaste liefhê soos jouself en sorg dat jy jou naaste geen kwaad aandoen nie, sal jy nie egbreuk pleeg nie (7de gebod); sal jy nie moord pleeg nie (6de gebod); sal jy nie steel nie (8ste gebod); sal jy nie begeer nie (10de gebod). Positief gestel:

  • Jy sal dus getrou bly vir en in die huwelik wat God se plan vir menslike seksualiteit is. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar om God se plan vir seksualiteit na te volg. Jy sal alles in jou vermoë doen om self egbreuk te vermy, en jou naaste te help om nie in die strik van egbreuk te val nie deur heilig te lewe.
  • Jy sal dus jou naaste se lewe beskerm en hom nie vermoor nie. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar die lewe wat God vir ons almal gegee het. Jy sal alles in jou vermoë doen om te keer dat jy of iemand anders ’n lewe wederregtelik neem.
  • Jy sal dus tevrede wees met wat jy het en nie iets van iemand anders steel nie. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar die gawes wat God vir hulle gegee het. Jy sal alles in jou vermoë doen om te keer dat jy of iemand anders ’n besittting van iemand anders vervreem.
  • Jy sal dus tevrede wees met wie jy is en nie iets van iemand anders begeer wat jou nie toekom nie. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar die lewe wat God vir hulle gegee het. Jy sal alles in jou vermoë doen om te keer dat jy of iemand anders deur begeertes iets van iemand anders besoedel of beduiwel.

Dit is waarom Paulus sê dat ons niemand iets verskuldig moet wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Want hierdie tipe liefde staan bo-oor alles. Dit rig ons denke en ons dade teenoor mekaar.

Dit is ook waarom Paulus daaraan byvoeg dat hierdie besef van die liefde ons sal laat ophou met die werke van die duisternis, en die wapens van die lig sal laat opneem. Die liefde leer ons immers dat ons welvoeglik moet lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.  Dit doen die naaste kwaad aan en dwarsboom die gebod tot naasteliefde.

Nee, sê Paulus, ons moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om ons sondige begeertes te bevredig nie, die dinge wat hy natuurlik al van Romeine 1 af uitspel. Ons moet hierdie begeertes deur die Gees doodmaak, soos hy in Romeine 8 uitspel, en ons liggame as ’n heilige offer vir die Here gee, soos hy in Romeine 12 uitspel op voetspoor van die beweegoffer van die Leviete as dienaars van die Here in Numeri 8, sodat ons aanbidding en gemeenskap met God en mekaar sinvol en gepas kan wees.

Word verander deur die vernuwing van julle gemoed

Prayer – Graham Dean

Ek het ‘n bietjie nagedink oor die belangrike opdrag van Paulus in Romeine 12: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom 12:1-2 – OAV).

Daar is vier opdragte in die teks.

  1. Die eerste opdrag is om ons liggaam aan God as ‘n lewende, heilige en aan Hom welgevallige offer te stel. Die Griekse woord wat vir liggaam gebruik word, soma, dui hier die hele persoon aan. Ons soma, dws ons hele menswees, moet dus ge-“offer” word aan God. Dit is die wesenlike van ons godsdiens. Die drie beskrywings – lewende, heilige, aan God welgevallige – is nie eintlik drie verskillende goed nie. Al drie die beskrywings van hierdie “offer” sê eintlik dieselfde. Ons hele menswees behoort aan God. Ons is “lewende” offers soos wat die Leviete in die tabernakel se hele lewe aan God toegewy is (Num 8:11). Ons leef dus nie meer vir onsself nie, maar vir God. Maar nie as dooie mense nie, as lewendiges. Ons is “heilige” offers soos wat die Leviete afgesonder is vir die diens aan God. Alles wat hulle gedoen het, het op een of ander manier met hulle verhouding met God te make gehad. God se heiligheid bepaal ons heiligheid. Ons is “aan God welgevallige” offers, soos Hy dit vir ons in die Bybel beskrywe. Dit wil sê daar is nie ‘n deel van ons lewe uitgesluit waaroor God nie ‘n sê het nie.
  2. Die tweede opdrag is om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie. Dit verwys terug na die gedrag wat die eerste vers beveel dat ons hele lewe as ‘n offer aan die Here geleef moet word. God moet ons gedrag en gebruike bepaal, nie die media of die gemeenskap nie. Hy bepaal die norme en waardes waarvolgens ons moet leef. Die skema van die wêreld moet ons nie inperk om volgens die wêreldse beginsels te leef nie.
  3. Die derde opdrag is om God toe te laat om jou gedagtes, jou manier van dink, te vernuwe deur die waarheid van die Skrif. Dit het met houdings, gesindhede en denkpatrone te make. Hoe meer ‘n mens die Skrif lees, daaroor nadink, dit toelaat om jou gedagtes te vorm, hoe meer kan God deur sy Gees jou binnewêreld verander en vernuwe.
  4. Die vierde opdrag is om te onderskei tussen verskillende idees van wat reg en verkeerd is, sodat jy in staat sal wees om moreel-eties reg op te tree in lyn met die wil van God in die Skrif. Daarvoor moet ‘n mens die Skrif gebruik, want dit is die enigste standaard van wat goed en volmaak in lyn met God se wil is.

Wat my egter baie gehelp het om dié opdrag te verstaan is Paulus se uitbreiding hierop in Efesiërs 4:17-5:21 te lees. Dit is ‘n uitgebreide kommentaar op hierdie gedeelte wat ons oproep tot heiligmaking te midde van die bedorwe sedes van hierdie wêreld. Die sentrale agent van hierdie verandering is natuurlik die Heilige Gees soos Paulus dit daar uitlê.

In plaas daarvan dat ek self dus verder kommentaar gaan lewer, lees gerus dié gedeelte as ‘n uitleg van Romeine 12:1-2. Dit is die beste kommentaar op Romeine wat jy sal kry.

Die Christelike heiligmaking teenoor die bedorwe sedes van die heidene.

4:17Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — 18mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; 19wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.

20Maar julle het Christus nie so leer ken nie, 21as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: 22dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed24en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

25Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. 26Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; 27en gee aan die duiwel geen plek nie.

28Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. 29Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.

30En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

31Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. 32Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

5:1Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; 2en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur.

3Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; 4ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.

5Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.

6Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. 7Wees dan nie hulle deelgenote nie.

8Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig. 9Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.

10En beproef wat die Here welbehaaglik is; 11en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. 12Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.

13Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig. 14Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.

15Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; 16en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. 17Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.

18Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

19Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, 20terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 21en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.

 

Uitverkiesing en die eindoordeel

Ek het ‘n navraag gekry oor die eindoordeel, en hoe ons dit moet verstaan:

  • Paulus verwys na die eindoordeel in Rom 14:10 en ander plekke. Ons bely dit in die 12-artikels en NGB art 36.
  • En tog skryf Paulus ook daar is geen veroordeling vir wie in Christus is nie (Rom 8:33-34).
  • Wie word dan nou veroordeel?  Net die ongelowiges? En is dit nou hulle skuld as hulle in ‘n ander godsdienshuis groot geword het en nie “in Christus” is nie?
  • Hoe moet ons dit verstaan? Soos iemand gevra het “wag daar nie dalk ‘n verrassing vir my nie?”

Hier is my antwoord met verdere leeswerk in die aangehegde pdf’s.

Ja, die oordeel is uiteindelik vir die ongelowiges. Dit is dié wat “in Christus” is wat nie veroordeel word nie. Jesus maak die verskil. Hy is ons sekerheid.

Oor wie se skuld dit is dat iemand nie glo nie?

Daar is twee antwoorde daaroor in Romeine: die Algemene Openbaring en die Uitverkiesing.

1. Wat van God geken kan word, is in die Algemene Openbaring gegee.

Niemand kan dus sê dat hulle nie geweet het wie God is en wat Hy van ons verwag nie. Dit is die hele argument van Paulus in sy brief aan die Romeine.

  • Niemand, heidene en Jode (met die wet en al), soek God van nature nie. Hulle is vasgeval in sondes wat strek van onsedelikheid tot hartvogtigheid (Rom 1-3).
  • God gee egter geregtigheid deur geloof, soos geïllustreer in die lewe van Abraham (Rom 4).
  • In die Besondere Openbaring van Christus word alle gelowiges vrygespreek (Rom 5).
  • Hulle word vrygespreek deur die menswording, kruisdood en opstanding van die Here Jesus wat hulle doodmaak vir die sonde en lewend vir God (Rom 6-7).
  • Diegene in Christus sal daarom geen veroordeling beleef nie deur die werk van die Gees wat die sonde uitwis in ons lewe deur die heiligmaking (Rom 8).

2. Hierdie geloof is ‘n geskenk van God wat aan gelowiges gegee word sonder enige verdienste deur die uitverkiesing

  • God gee geloof aan sy uitverkorenes, op só ‘n manier dat dié wat uitverkies is nie daarop kan roem nie, en dié wat nie uitgekies is nie, Hom nie daaroor kan verkwalik nie. Metafoor van die Pottebakker (Rom 9).
  • Omdat ons egter nie weet wié diegene is wat uitverkies is (en wie) nie, versprei ons die boodskap van die evangelie, sodat God die uitverkorenes kan aanraak met sy lewegewende geloof (Rom 10).
  • Dit is waarom ons Hom net kan loof vir sy wysheid en goedheid (Rom 11).
  • En ons onsself uiteindelik liggaam en verstand aan Hom toewy (Rom 12).
  • En dan pak Paulus natuurlik sy argument verder uit oor die belang van die onveranderbare wet van God, die reël van dankbaarheid, die essensiële (liefde vir God en liefde vir die naaste) van die godsdiens – “unity in essentials” (Rom 13).
  • En dat ons mekaar in die nie-essensiële (groente, vleis, wyn, belangrike dae) vryheid moet toelaat – “liberty in non-essentials, in all things charity” (Rom 14).
  • Maar verenig moet wees om die boodskap tot die verste dele van die wêreld te vat (Rom 15).
  • Saam met al die gestuurdes van die Here (Rom 16).

Dit is waarom die brief aan die Romeine só belangrik is. Dit sê omtrent alles wat ‘n mens oor die evangelie wil weet!

Ek het voorheen oor die Dordtse Leerreëls geskryf wat met vyf sekerhede (TULIP) en die vyf solas werk binne die raamwerk van die uitverkiesing. Dit gaan ‘n bietjie dieper op Paulus se punt oor die uitverkiesing in. Ek sluit dit ook hier in: Dordtse Leerreëls – ‘n kort inleiding. Ook die Dordtse Leerreëls vir dié wat dit self wil lees: Dordtse Leerreëls.

Die hele boodskap van Openbaring is ook om die boodskap van God se verlossende oordeel gebou. Daar is altyd dié twee kante, reg van die begin af (Gen 3:15). Ek sluit sommer my Bybelskool materiaal daaroor in: Openbaring – God se agenda van verlossing.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda