Skip to main content

Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is

Ek onthou steeds baie helder die effek wat vers 16 op my gehad het in my standerd 5 jaar.  My ma het by huisgodsdiens Romeine 8 gelees.  Toe sy vers 16 lees: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is,” het ek in trane uitgebars.  Ek was diep geraak deur die feit dat God binne in ons die sekerheid bring dat ons sy kinders is en dat dit by uitstek die werk van die Heilige Gees is.

Baie jare later sou my ma my vertel dat sy daardie dag geweet het dat ek predikant sou word.  Ek moes egter ’n lang pad loop voor die oortuiging aan die einde van my skoolloopbaan tot my gekom het.

Maar ek sal nooit die vertroosting van God se aanraking daardie aand vergeet nie.

En dit is uiteindelik die boodskap van Paulus in dié hoofstuk.  Daar is net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees.  Geen wonder Hy word 20 keer genoem in hierdie hoofstuk nie!

’n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie, daarvoor is ons sondige vlees te swak.  Dit kan net wees deur ’n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ’n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (8:13). ’n Mens kan selfs sê soos Paulus dat daar ’n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees (8:2).

Hiermee sluit Paulus aan by ’n hele paar OT profete wat reeds ’n paar 100 jaar tevore verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom.  Jeremia het daaroor gepreek in Jer 31:31-34, Esegiël het dit aan die ballinge verkondig in Eseg 11:19-20, en Jesaja laat ook van hom hoor in Jes 65:17-25.

Let op hoe Paulus dit as ’n geestelike werklikheid skets (8:9), maar ook as ’n fisiese konkrete werklikheid: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11).  Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.

Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie.  Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.

Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees

Let op hoe Paulus met hierdie gedeelte nie net die gevolge van die vryspraak van God vir sondige mense uitspel nie, maar ook vir die hele skepping.  Dit is nie net God se kinders wat bevry sal word om in vrede met God en met vrye toegang tot Hom te kan lewe nie.  Nee, dit is ook die skepping wat bevry sal word.

Daarmee lê Paulus ook ’n direkte verband met hoofstuk 1 en die beskrywing van die verganklikheid en verydeling wat met die goddeloosheid en ongeregtigheid in die skepping ingekom het.  En die skepping wag met gespanne verwagting na die finale bevryding van die kinders van God, omdat dit ook sy eie bevryding sal beteken.

Interessant is dat die werk van die Gees nie net is om ons te oortuig van ons kindskap nie, maar die hoop in ons aan die brand steek om te wag op die bevryding en verheerliking met volharding.  Soos die Israeliete aanvanklik die eerste gawes van hulle oes vir God gebring het as offer, gee God nou aan ons die eerste gawe van Sy nuwe skeppingsoes, die Gees.  En Sy getuienis saam met ons gees (8:16) word nou aangevul met versugtinge en pleidooie van die Gees vir ons (8:26) dat alles ten goede sal meewerk en ons gelykvormig sal wees aan Jesus Christus (8:28).  Daarmee word God se beeld in ons ook herstel (Gen 1:27).

Paulus kan dus nie anders as om met ’n lofrede af te sluit: as God vir ons is, wie kan teen ons wees.  Daar is geen aanklag, of veroordeling, of lyding, of benoudheid, of vervolging, of honger, of naaktheid, of gevaar, of die swaard wat ons kan skei van Sy liefde nie.  Inteendeel, ons sal saam met Hom oorwinnaars wees.

Met hierdie gedeelte praat Paulus die Romeine moed in, spoor hy hulle aan om te volhard, motiveer hy hulle met die klem op die inwonende Gees wat nie net hulle van binne af transformeer nie, maar die hoop op ’n volmaakte toekoms laat behou.

En die waarheid van Rom 8:28 dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet, bly my by.  Dink terug aan geleenthede waar jy dit ervaar het, en dank die Here daarvoor.  Ons kan vanaand verder daaroor gesels by die Bybelskool.

Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word

Na Paulus met soveel oorgawe oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode.  Immers, as dit so is:

1.      dat die besit en kennis van die wet die Jode nie kan red nie, ten spyte van die groot voorreg daarvan, en die besnydenis beperkte waarde het, omdat dit gaan oor die innerlike gesindheid van die mens (hfst. 2), maar

2.      terselfdertyd dit so is dat God Hom onlosmaaklik verbind het aan Israel om aan hulle genade te bewys, al sou sommige van hulle aan Hom ontrou wees (hfst. 3),

wat is dan die toekoms van Israel?

Paulus wy in 3 hoofstukke uitvoerig hieroor uit.  En dit help ons om eers oorhoofs te kyk na die antwoord wat Paulus hier gee.  Let veral op hoe 1) ’n reeks vrae sy antwoord aan die orde stel, en 2) hoe die einde van hoofstuk 11 nie net die hoogtepunt van sy antwoord is nie, maar ook eintlik die beginsel is wat die hele antwoord dra:

  • 9:1-14 – Paulus is hartseer oor baie van sy volksgenote wat – ten spyte van hulle afstamming van Israel – tog nie werklik Israel is nie.  Die rede?  God ontferm Hom oor wie Hy wil.
  • 9:15-18 – Is God dan nie onregverdig nie? Beslis nie!  Hy toon sy krag daardeur.
  • 9:19-29 – Wie kan dan met God verskil? Niemand nie.  God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees.
  • 9:30-10:21 – Wat is ons gevolgtrekking? Die vryspraak is vir elkeen wat glo, vir die heidene sowel as vir Israel.  Dié boodskap het regoor die wêreld uitgekring, onder andere om Israel jaloers te maak.
  • 11:1-10 – Het God dan sy volk verstoot? Beslis nie!  Paulus is immers ’n Jood en glo.  Daar is vandag nog ’n oorblyfsel van die Joodse volk wat uit genade uitverkies is.
  • 11:11-24 – Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie!  Die Jode se volle getal sal gelowig word.
  • 11:25-32 – Daar is ’n verharding oor ’n deel van Israel totdat die volle getal van die heidense nasies in die koninkryk ingegaan het, maar die “hele Israel” sal gered word.
  • 11:33-36 – Uit God en deur God en tot God is alle dinge.

Ek gaan hieronder ’n paar eksegetiese opmerkings maak vir verdere nadenke, maar hier eers net uitbrei op die toekoms van Israel, of soos Paulus dit in 11:26 sê: “op hierdie manier sal die hele Israel gered word.”

Wat Paulus hier bedoel, as ’n mens vers 25 ook ingedagte hou, is: dat wanneer die volle getal uit die heidene in die koninkryk ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees (Jonker), dws die volle getal van die Jode wat deur God uitverkies is om gelowig te word (Dunn).

Sommige het dit wel as 3 tydperke verstaan: 1) Verharding van ’n deel van die Jode, 2) Redding van ’n deel van die heidennasies, 3) Redding van die hele Israel.  Maar dit wil eerder voorkom asof dit hier oor die wyse (“op hierdie manier”) waarop redding plaasvind gaan, eerder as die tydperke waarbinne dit gebeur.  Dit is ook duidelik dat die “hele Israel” nie elke enkele Jood kan beteken nie, omdat dit juis die punt van Paulus se betoog is, dat net ’n deel van Israel geloof as God se vryspraak aangegryp het, ’n oorblyfsel (vgl bv. 11:5, 7-10, 12).

Ander het die “hele Israel” as ’n geestelike entiteit, saamgestel uit Jode en heidene, verstaan, soms gekoppel aan bogenoemde tydperk-interpretasie.  Israel word egter konsekwent in hierdie 3 hoofstukke in die historiese betekenis van die Joodse volk gebruik, wat so ’n betekenis onwaarskynlik maak.

Die toekoms van die Jode is dus aan die een kant dieselfde as die toekoms van die heidene: die vryspraak deur die geloof maak hulle kinders van God.  Aan die ander kant is dit ook verskillend, want die heidene word deur geloof ingeënt op die Joodse olyfboom (11:17-24), wat beteken dat God nie sy volk in sy geheel verwerp nie, maar net dié wat nie in Hom glo nie.

Enkele eksegetiese opmerkings:

  • 9:1 – Let op dat ’n mens se gewete iets apart van die Heilige Gees is, en deur Hom gelei moet word.  Jou gewete word immers ook deur die gemeenskap waarbinne jy grootword gevorm, ten goede en ten slegte.
  • 9:3 – Paulus praat dieselfde taal as Moses dat hy graag in die plek van die volk van Christus afgesny wou wees, maar weet dat dit nie vir God aanvaarbaar wou wees nie (Eks 32:32).
  • 9:6-9 – Paulus herhaal die gedagte dat gelowiges soos die kinders van die belofte is en nie soos kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is nie, waaroor hy al in sy brief aan die Galasiërs 4 geskryf het met Sara en Hagar as sy metafore.
  • 9:10-18 – Die voorbeelde van Jakob en Esau, Moses en farao illustreer die OT teologie dat God vir alles verantwoordelik is.  Maar, dit moet saam met 9:30 vv se gevolgtrekking gelees word, dat God se vryspraak is vir elkeen wat glo.  God se uitverkiesing word dus sigbaar in geloof, by Jode sowel as heidene.
  • 9:19-29 – Paulus haal hier voorbeelde en profesieë uit Jeremia (pottebakker – Jer 18), Hosea (2:22; 1:10) en Jesaja (10:22-23; 1:9) aan om God se vrymagtige oordeel EN genade onomwonde te stel.  Hieruit is die dubbele uitverkiesingsleer geformuleer deur Augustinus, soos nagevolg deur Calvyn, wat in die Gereformeerde wêreld in die Dordtse Leerreëls ’n neerslag gevind het:

o   By die sinode van Dordt (Die dorpie Dordrecht in Nederland) in 1618-19 is die stryd tussen die Remonstrante (wat saam met die Arminiane op die vryheid van die wil van die mens gewys het) en die Kontra-Remonstrante (wat die ortodokse Calvinistiese leer van die onvoorwaardelike uitverkiesing gehandhaaf het) op die spits gedryf. Die sinode het midde-in ‘n bitter teologiese en politiese stryd (tussen die Remonstrant-ondersteuner Jan van Oldenbarneveldt – ‘n staatsman wat vrede en verdraagsaamheid gesoek het – en die Kontra-Remonstrante ondersteuner Maurice – die militêre leier teen die Spanjaarde wat ook in die kerk steun vir sy voortgaande oorlog teen Spanje gesoek het) plaasgevind. Die sinode het (na dit gelaai is deur die “regte” Kontra-Remonstrante ondersteuners!) die ortodokse posisie gehandhaaf, naamlik 1) die totale verdorwenheid van die mens 2) die onvoorwaardelike uitverkiesing van God (God kies mense nie uit vanweë enige aksie van hulle kant af nie), 3) die beperkte versoening (Jesus het net gesterwe vir die uitverkorenes), 4) die onweerstaanbaarheid van die genade (die uitverkorenes kan God se uitverkiesing nie weerstaan nie) en 5) die volharding van die uitverkorenes (eenmaal uitverkore, altyd uitverkore). [In Engels word dit meermale weergegee met die akroniem TULIP (T – Total inability, U – Unconditional election, L – Limited atonement, I – Irresistible Grace, P – Perseverance of the Saints).]

o   Wat my baie help om hiervan sin te maak, is om te onthou dat Dordt vir ’n uitverkiesing in Christus en in die geskiedenis gekies het (Infralapsarisme) en nie vir ’n uitverkiesing voor die sondeval (Supralapsarisme) nie.  Die uitverkiesing vind plaas in die geloofskeuse wat mense vir Christus maak, waarin God se roeping die oortuigingskrag is (9:24; 10:8,11-21), en geloof en belydenis die manier is waarop ons dit ontvang (10:9-10).  Dit is in die ongehoorsaamheid en weerspannigheid van die volk wat hulle verwerping sigbaar word (9:32; 10:3, 16-21; 11:7-10).

  • 10:9-10 – Let op hoe belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt geskets word.  Dit is baie keer eers wanneer jy bely dat jou geloof tot sy reg kom, of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy glo, dat jy die Here Jesus kan bely.
  • 10:14-15 – Dié gedeelte is ’n duidelike aansporing aan elkeen wat in Jesus glo om die goeie boodskap van vryspraak deur geloof aan alle mense op die aarde te bring.

Wat my uit al die wonderlike tekste uit dié 3 hoofstukke tref, is 10:11: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”  Dit is die evangelie; dit is wat my sekerheid gee.  Om dan te hoor dat God “almal wat Hom aanroep” seën (10:12) laat my baie spesiaal voel – uitverkies!

Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig

Verandering kom deur die werk van die Gees.  Dit het ons geleer in hoofstuk 7 en 8. ’n Wet kan jou nie verander nie, net ’n verhouding met God waarin die Gees ons lei om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir God.

En die belangrikste plek waar ons moet verander, is in ons denke. Let op, dit is nie net in ons hart (geloof) en ons mond (getuienis) nie, soos hoofstuk 10 op die tafel gesit het, waar die verandering kom nie.  Ons het ook ’n kopskuif (nuwe denke) nodig waar ons waak daarteen dat die wêreld se druk op konformering ons lewens só in beslag neem, en so in sy vorm druk, dat ons nie meer ’n lewende offer is en vir God lewe nie.

Let op hoe Paulus die nuwe lewe hier in 12:1-8 uitspel.

  • Ons moet anders dink oor die sondige wêreld en nie konformeer aan die manier van leef wat die media en vermaaklikheidswêreld aan ons opdis nie (12:2).
  • Ons moet anders dink oor onsself en nie meer dink van onsself as wat ons behoort nie (12:3).  Ons moet ’n kopskuif na beskeidenheid maak.
  • Ons moet ook anders dink oor die gemeenskap van gelowiges (12:4):

o   Ons is een al het ons verskillende funksies (12:5).  Ons verskillende gawes kom immers van dieselfde God af (12:6).

o   Ons moet die gawes met vernuwende denke aanwend:

§  Profesie moet in lyn wees met ons geloofsbelydenis (12:6).

§  Ons gawes moet sonder bybedoelings wees (12:8).

§  Ons leierskap moet met toewyding wees (12:8).

§  Ons hulp aan ander moet met blymoedigheid wees (12:8).

En dan spel Paulus ’n lang lys van kenmerke van só ’n nuwe lewe/denkwyse uit.  Dit is só ’n omvattende lysie dat dit die moeite werd is om dit uit te druk en op jou motor se stuurwiel te plak sodat jy dit kan lees voor jy ry, en as jy by die robot stilhou (hou net die robot ook dop!) en as jy by jou bestemming aankom (Deut 6:6-9 vir vandag!).

En let op hoe dit van hoek tot kant met verhoudings te make het, hier in die eerste plek met medegelowiges (12:10,13,15,16), maar selfs ook met vervolgers (12:14) en vyande (12:19-21), kortom alle mense (12:17,18).  Vers 11-12 bring ook die verhouding met God in spel waarin toewyding en gebed ’n belangrike rol speel.  En die laaste paar verse 12:19-21 verbind dit aan ’n vertroue op God wat regverdig sal oordeel (Deut 32:35) en transformerend sal optree in ons verhouding met vyande (Spreuke 25:21-22).

Veral hierdie laaste paar kopskuiwe maak my gerus – God is regverdig EN kan die kwaad deur die goeie oorwin.

Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê

Paulus skryf in hoofstuk 13 verder oor die praktiese implikasies van die vryspraak wat God gee.  En hy pas dit toe op ons verpligtinge teenoor die owerhede wat oor ons aangestel is 13:1-7 en teenoor ons medemense 13:8-14.

13:1-7

Paulus motiveer ons verpligting om ons aan owerhede te onderwerp in die beskikking en gesag van God.  Let op dat die onderwerping hier uitgespel word aan owerhede wat dienaars van God is en ’n ordenende invloed op die samelewing uitoefen deur wetstoepassing, direkte belastings soos persoonlike belasting, en indirekte belastings soos aksyns op aankope (vgl die soortgelyke uitsprake van Jesus in Mark 12:13-17).

Dit is egter anders as in die geval van bose owerhede soos in Openbaring 13 die geval is, waar wysheid, volharding en geloof nodig is om staande te bly en die aanbidding/navolging deur ongelowiges vermy moet word (vgl ook Hand 5:29 waar Petrus ook sê dat die lojaliteit aan God belangriker is as die lojaliteit aan mense).

13:8-14

Die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê, soos die wet dit uitspel.  Let op dat Paulus hier vier van die gebooie van die tweede tafel van die wet aanhaal soos ’n mens dit in Deuteronomium 5:17–21 kry: die sesde gebod kom egter hier voor die vyfde gebod (vgl ook Luk. 18:20). Die vierde gebod en die tweede laaste gebod oor vals getuienis word weer weggelaat.  Hoe dit ook al sy, al hierdie gebooie, trouens elke gebod wat daar is, word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself (Lev. 19:18) saamgevat.

Let op hoe Paulus die liefde beide negatief (geen kwaad aandoen nie) as positief (volle uitvoering van die wet) uitspel in vers 10.

Sy motivering vir hierdie opdrag vind hy in die naderende finale verlossing (vgl Rom 8 – in Fil 4 sal hy weer terugkom op dié gedagtes)  wat beteken dat ons moet ophou met die werke van die duisternis (publieke vieringe: drinkery, uitspattigheid; sedelike lewe: ontug, onsedelikheid; onderlinge verhoudinge: rusie, jaloesie – vgl Gal 5:19-21) en die wapens van die lig (welvoeglik lewe [eerbaar] as volgelinge van die Here Jesus Christus) opneem.  Let op hoe die “geestelike oorlogvoering”-wapens met ’n heilige lewe te make het (In Ef 6 sal Paulus verder hieroor uitbrei – vgl ook 1 Tes 5; 2 Kor 10 waaroor ek reeds by die Bybelskool kommentaar gelewer het).

Toepassing

Ek het regtig die ervaring dat Romeine vir my soos heilige grond word.  Nie net het Romeine 8:16 ’n rigtinggewende invloed in my eie lewe gehad nie, maar ’n hele paar groot figure in die Christelike geskiedenis kan veranderinge in hulle lewe terugvoer na Romeine.  Luther het bv. in Rom 1:16-17 die antwoord op sy vraag gekry na ’n genadige God.

En hoofstuk 13 het ’n groot invloed op die groot kerkvader Augustinus gehad.  Hy het ’n wilde lewe gelei en regtig ver van die Here af gelewe.  Sy lewe het egter ook dramaties verander met die lees van Romeine, spesifiek 13:13-14.  Hier is ’n aanhaling uit ’n preek van my hieroor:

“In die jaar 386, in Milaan in Italië, sit drie vriende en gesels.  Die een is Augustinus, ‘n beroemde professor in retoriek uit Noord-Afrika.  Die ander twee is sy twee vriende Alypius en Ponticianus.  Daar lê ‘n Nuwe Testament geskrif op ‘n tafel en Ponticianus vra vir Augustinus of hy ‘n Christen is.

Nou Augustinus se ma, Monica, het toe al jare reeds vir hom gebid, maar hy moes antwoord, nee, hy is nie ‘n gelowige nie; hy kom net nie so ver nie, eintlik omdat hy sy eie lewenstyl – ‘n gejaag na plesier en sukses – te liefhet.  (Terloops, ‘n biskop het vir Monica, Augustinus se ma gesê:  “’n Kind van soveel gebed en trane kan nie verlore gaan nie”!)

Dan vertel Ponticianus vir Augustinus hoe hy onlangs tot geloof gekom het toe hy een van die woestynvaders, Antonius, se verhale gelees het, en hoe dié tot geloof gekom het toe hy in ‘n kerk gehoor het hoe daar uit die boek Matteus voorgelees is.  Dié woorde het Antonius só ontroer dat hy tot inkeer gekom het, en sy lewe dramaties verander het.

En Ponticianus het só onder die indruk van die krag van die Woord in die lewe van Antoius gekom, dat hyself ‘n volgeling van Jesus geword het.

Die gesprek en getuienis van sy vriend het Augustinus hewig ontstel.  Dit het hom opnuut verward en leeg laat voel, vol van verlange na die vreugde wat Ponticianus en Antonius in die Woord en in ‘n verhouding met Jesus ontdek het.

Hy het opgestaan en in ‘n tuin daar naby gegaan om alleen te wees.  Onder ‘n vyeboom het hy in trane uitgebars.  En dan hoor hy ‘n stem.  Êrens, daar naby, hoor hy ‘n kinderstem wat sing, dieselfde woorde oor en oor.  En hoewel hy nie kan uitmaak of dit ‘n seuns- of dogterstem is nie, kan hy die woorde van die liedjie duidelik hoor: Tolle, lege.  Tolle, lege. Neem, lees.  Neem, lees.

Dit is asof Augustinus weet die woorde is vir hom bedoel.  Hy draai om, gaan die huis binne, neem die Nuwe Testamentiese boek op die tafel en begin lees by Romeine 13:13 en verder.  En oombliklik is die Woord vir hom soos ‘n spieël, waarin hy homself sien: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.  Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.”

En in die sien van homself, in alle eerlikheid skuldig aan alles wat die Woord sê nie in sy lewe moet wees nie, kom daar ‘n verandering, toe hy verder lees en agterkom die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van sy sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus ( vers 14).  En hy kom tot geloof in Jesus Christus, tot groot vreugde van sy ma.

En die res van die verhaal is vir ons bekend: Augustinus word waarskynlik die grootste denker en teoloog, nie net van sy eie tyd nie, maar van alle tye (volledige verhaal in Neem, lees! van Dirkie Smit, p 231).”

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda