Skip to main content

Hoe om die Psalms te lees

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Lees, luister, leef

Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik wat gebaseer is op Lectio Divina en die luistersiklus van die Seisoen van Luister:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

Continue reading

Psalm 73 – God is my krag en erfenis

Inleiding

Hierdie is die eerste van elf Psalms wat aan Asaf toegeskryf word (vgl. ook Ps. 50).  Walter Brueggemann interpreteer Psalm 73 as die spil waarom die hele Psalmboek draai.  Volgens hom is dit die teologiese sentrum van die hele Psalmboek, nog meer as wat Psalm 1 dit is.  Dit begin wel met die wonderlike boodskap van Psalm 1 dat die gehoorsames gelukkig en geseënd is, maar problematiseer dit onmiddellik in die lig van die feit dat dit in die praktyk duidelik is dat dit eintlik die goddeloses is wat voorspoed het.   Dit is eers wanneer hy uit God se hoek kyk – as hy in die heiligdom ingaan – dat hy agterkom dat die goddelose tog uiteindelik omkom (vers 17-20) en dat die gemeenskap met God die ware geluk gee wat alle ander realiteite verdwerg.

Dit is daarom ’n Psalm wat ongelooflik relevant is vir almal wat die pad met die Here onwrikbaar wil stap, maar aan allerlei beproewinge in die lewe en uitdagings en versoekings van binne en buite blootgestel word.  Dié dinge is soos die versoekings in die woestyntyd (Matt. 4) wat die Here Jesus self aan die begin van sy bediening deurgemaak het, waarin Hy gebrei is deur die versoeker, die duiwel, sodat Hy sterk kon staan tydens sy bediening en die lydenspad uiteindelik tot die einde kon deurstaan.

Continue reading

Psalm 74 – God self is ons enigste hoop

Waarom hou U aan om ons te verstoot – vers 1-11?

Die 1983 vertaling sê so mooi: “Kom loop tog deur die plek wat so lankal in puin lê,” (vers 3) waarmee die Psalmis die behoefte uitspreek dat hy as’t ware die Here aan die hand wil vat en deur die verwoesting van Jerusalem en veral die heiligdom van God wil neem.  Hoekom?  Want die Psalmis kan nie dink dat God daardeur onaangeraak sal kan bly nie.  Selfs al was God ook hóé kwaad vir sy mense (vers 1), dié mense en dié stad is tog sy eiendom.  Hy kan mos nie aanhou om hulle te verstoot nie, of hoe?  Soos die 1984 vertaling vers 1 vertaal: “Waarom smeul u woede teen die kleinvee van u weiplek?” En vir hoe lank nog (vers 10)?

Continue reading

Psalm 75 – Dis God wat verneder en verhef

Waar Psalm 73 gefokus het op die versoeking van ’n enkele gelowige om die goddeloses hul voorspoed te beny totdat sy hart tot rus gebring is toe hy oor die uitkoms van hulle lewe nagedink het, só fokus Psalm 75 op die versoeking van die gemeenskap van gelowiges om dieselfde te doen.

Ons almal kyk baie keer na die relatiewe sukses en mislukking van mense en wyt dit net te maklik aan sulke mense se eie toedoen, hetsy aan hulle vermoëns of aan hulle gebreke.  Soos die Psalmis in Psalm 73 in die heiligdom egter tot ander insigte gekom het oor die goddelose se uiteinde, so gebeur dit in Psalm 75 met die gemeenskap van gelowiges ook in terme van die lewe self.  Hulle word hiermee gerusgestel dat dit God is wat verneder en dat dit God is wat verhef in hierdie lewe (vers 8).  Daarvoor kan ’n mens God vertrou.

Dit is waarom ’n mens dié Psalm waarskynlik kan beskou as ’n “liturgiese preek” wat gelewer is om gelowiges in die heiligdom te help om God se bepalende werk in die wel en weë van die lewe raak te sien.  Die voorganger (profeet of priester) begelei hulle soos volg:

Continue reading

Psalm 76 – God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek

Dié Psalm word in die Griekse vertaling van die OT verbind aan God se oorwinning oor Sanherib in die tyd van koning Hiskia.  Die tipe oorwinning wat in die Psalm beskryf word, pas besonder goed by dié geveg in die tyd van Hiskia omdat die oorwinning daar behaal is sonder dat enige een van Israel eers nodig gehad het om ’n wapen op te tel.  God het namens hulle geveg en hulle verlos.  Lees meer daaroor by hierdie bydraes van my: 2 Kon. 19 – “God luister waar sy eer in gedrang kom”; Jes. 37 – “Gebed en vertroue beweeg God tot optrede”.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda