Skip to main content

Lukas 14:1-15:32 – God het ’n hart vir verlorenes

VIR STILTETYD

Lukas 14:1, 7-14 – Beskeidenheid en gasvryheid kenmerk Jesus se dissipels

  • God het ‘n hart vir verlorenes. Ons beskeidenheid en gasvryheid is twee maniere waarop hy mense tot hulle reg laat kom in ons geselskap.  Die een het met ons denke oor onsself te make. Die ander met ons denke oor ander.
  • Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie, maar minder oor Dink daaroor na.
  • Gasvryheid beteken ook dat jy die grens na ander oorsteek en op hulle gasvryheid staatmaak. Ons moet ook bereid wees om te ontvang, nie net te gee nie.

Lukas 14:25-33 – Dissipelskap bring ons normale lojaliteite in gedrang

  • Die eise van dissipelskap kan baie keer ons normale familie lojaliteite in gedrang bring. Jesus moet te alle tye die nommer een in ons lewe wees.
  • Dit beteken dat ‘n mens die koste moet bereken, vóór jy regtig ja sê vir die pad wat die Here vir jou wys in terme van dissipelskap en die uitvoering van jou roeping.
  • Dit is nie net familiebande wat vir ons ‘n uitdaging is nie, maar ook ons besittings. Afstand doen, beteken in dié konteks om dit onder leiding van die Here se wil te hanteer.  Hy het die finale sê daaroor.

Lukas 15:1-10 – God het ’n hart vir verlorenes

Die 3 gelykenisse in hoofstuk 15 – verlore skaap, muntstuk, seun – Is van die helderste sketse van God se hart vir verlorenes in die Bybel, wat die gelykenis van God se gasvryheid nog verder neem.

Let op na die volgende:

  • Jesus vertel dié gelykenisse vir die Fariseërs en skrifgeleerdes waarmee Hy eintlik hulle eie verlorenheid ontbloot.  Hulle reageer eintlik soos die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun.
  • Die verskil tussen die eerste 2 gelykenisse is dat in die eerste die verlore skaap se nood beklemtoon word, en in die tweede die vrou se nood ten opsigte van die verlore muntstuk beklemtoon word.  Waar die skaapboer vir die verlore skaap gaan soek, ter wille van die skaap, gaan die vrou soek vir die verlore muntstuk ter wille van haarself.  Albei teken dus kante van wie God is en hoe Hy deur ons werk in die wêreld – ter wille van ons, EN ter wille van Homself.
  • Die laaste gelykenis kombineer dié twee aspekte van God se besorgdheid oor verlorenes.  Daarom kan die gelykenis van die verlore seun net so goed as die gelykenis van die wagtende vader beskryf word.  Want dit is nie net die nood van die verlore seun wat beskryf word nie, ook die nood van die wagtende vader.

VIR BYBELSKOOL

Jesus gebruik weereens ‘n sieke, hierdie keer ‘n man wat aan water (watersug of dropsy in Engels) gely het, om die Fariseërs se verdraaide siening van die sabbatdag uit te daag (14:1-6).

Hy gaan verder en leer hulle deur 2 gelykenisse van beskeidenheid (14:7-11) en gasvryheid (14:12-14) – albei karaktereienskappe wat hulle gekort het – en wys in ‘n 3de gelykenis hoe hierdie oproep in God se gasvryheid teenoor mense, sy hart vir verlorenes, begrond is, die gelykenis van die groot maaltyd (14:15-24).

Continue reading

Lukas 16:1-17:37 – Dissipels leef met integriteit en genade

VIR STILTETYD

Lukas 16:1-13 – Dissipels leef met integriteit en genade

Jesus gebruik regtig ’n baie vreemde gelykenis (16:1-8a), dié van die oneerlike bestuurder, wat nie net aanvanklik sy baas se goed verkwis nie, maar met sy afdanking verdere toegewings maak aan mense wat sy baas geld skuld ter wille van die voordeel wat hy daaruit sal kan kry.  Omdat die sosiale netwerk waarin hy geleef het, gewerk het met die beginsel van wederkerigheid, het hy verseker dat hulle nou by hom in skuld was, en was sy (afsienbare)  toekoms verseker.  Sy baas gee toe dat hy slim opgetree het met die inisiatief wat hy geneem het, waarmee hy natuurlik nie die oneerlikheid goedpraat nie.

Jesus toon met die vertel van die gelykenis dat Hy geen illusies gehad het oor hoe dit baie keer in die besigheidswêreld gaan nie.  Besigheidsmense – dié wat nie aan God gehoorsaam is en volgens sy standaarde lewe nie – oorleef in ’n vyandige omgewing deur alles moontlik te gebruik tot hulle eie voordeel, selfs deur oneerlik te wees.  Sonder om dit natuurlik goed te keur, weet Hy hoe dit werk en volgens watter reëls daar opgetree word (of juis waarsonder daar opgetree word).

Die betekenis van die gelykenis word dan uitgespel en ook verder geneem ( ek kies vir die interpretasies wat vir my die meeste sin maak, want daar is regtig baie maniere om vers 8b-13 te verstaan!):

  • Vers 8b-9 – Jesus tref ’n vergelyking tussen die mense van die wêreld en die mense van die lig (Christene).  En die punt wat Hy maak, is dat mense van die lig moet leer om met dieselfde inisiatief en voorsorg ter wille van die koninkryk en die ewigheid te lewe (dws – anders as die oneerlike bestuurder – nie vir hulleself en hulle eie oorlewing nie).
  • Vers 10-12 – Die lewe in die koninkryk word met integriteit en betroubaarheid geleef, en moet met oorgawe nagejaag word.
  • Vers 13 – Die punt van alles is, jy kan nie vir God saam met enigiets anders – soos Mammon – dien nie (Eks 20:3 – Jy mag naas My geen ander gode hê nie).

Lukas 16:19-31 – Die ryk man en Lasarus

  • Lukas maak ons bewus van die mag wat geld en besittings in ons lewens kan hê, soveel só, dat ons die arm mense wat in ons poorte lê, by wyse van spreke, nie meer kan of wil raaksien nie. Daarmee oortree ons die liefdesgebod wat ons oproep om ons naaste lief te hê soos onsself.
  • Hierdie verhaal is ‘n waarskuwing teen ‘n lewe wat net vir jou eie verryking en bevrediging gelewe word, selfs al verdoesel jy die bedoeling daarvan deur te dink aan wat jy wel vir jou eie mense of eie kring doen.
  • Onthou dat Lasarus se naam “God help” beteken. Dit is dus ‘n aanduiding dat die hoop van hierdie verhaal in God lê, soos Hy Lasarus inderdaad uiteindelik ‘n beter posisie gee in die hiernamaals as wat die ryk man verkry.
  • Dit gaan egter in die verhaal nie oor die meriete van die twee persone nie, maar dat Lasarus geleef het in die hoop dat God Hom sal ontferm oor sy lot, en dat die ryk man geleef het deur vir homself te sorg, en van God en sy gebod tot liefde vir die naaste vergeet het.

VIR BYBELSKOOL

Hoofstuk 16

Waar die tema in die laaste twee gelykenisse van hoofstuk 15 oor geld en eiendom gehandel het, word dit nou voortgesit en gesels Jesus 1) met sy dissipels oor integriteit en betroubaarheid in die hantering van geld – 16:1-13; 2) met die Fariseërs oor hulle geldgierigheid en ontrouheid in die huwelik (16:14-18) sowel as hulle gebrek aan ’n hart vir armes met die verhaal van die ryk man en Lasarus (16:19-31).

’n Bietjie meer oor die vreemde gelykenis van die oneerlike bestuurder:

Continue reading

Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord

Onthou dat Jesus steeds vasbeslote op pad is na Jerusalem.  Sy gesprekke en gelykenisse het dus ’n dringendheid en skerpheid om sy boodskap finaal tuis te bring.  Hy praat oor:
  • volharding in gebed (18:1-8 – gelykenis van die weduwee en die regter),
  • nederigheid teenoor God (18:9-14 – gelykenis van die Fariseër en die tollenaar),
  • kinders wat welkom is by Hom en in die koninkryk (18:15-17) en oor
  • die ewige lewe wat ’n geskenk van God is vir elkeen wat Jesus navolg (18:18-30 – die verhaal van die ryk jongman).

’n Bietjie meer oor die gelykenis van die weduwee en die regter

Continue reading

WEEK 4: Lukas 19:45-24:53

Ons kom by die laaste week van ons lees van die evangelie van Lukas.  Dit is ook die laaste week van Jesus se aardse lewe wat alles plaasvind in Jerusalem (hfst. 19:45-23:56).  Bedags leer hy die mense in die “gereinigde” tempel, en snags oornag Hy op die Olyfberg (21:37) tot met Sy verhoor, kruisiging, dood en begrafnis.  Daarna volg die opstandings- en hemelvaart verhale, wat die verskyning aan die twee Emmausgangers insluit, en sluit Lukas die evangelie af met Jesus wat die dissipels op betekenisvolle wyse uitlei uit die stad na die dorpie Betanië as simbool van die volgende fase van sy bediening, om die koninkryk in die hele wêreld te laat kom (hfst. 24).

Lukas 19:45-20:47 – Jesus het nie net ’n groot intellek nie, maar veral diep wysheid

Soos Jesus aan die begin van die evangelie tyd in die tempel gespandeer het by die geleerdes (hfst. 2) neem Hy nou sy regmatige plek as leraar in, deur nie net die tempel van handelaars skoon te maak om die tempel se funksie as ’n huis van gebed te herstel nie, maar ook deur die mense op ’n omvattende wyse te leer en die evangelie aan hulle te verkondig.

Die lering neem veral die vorm aan van ’n strydgesprek tussen Jesus en die Joodse leiers waar Hy die vrae antwoord wat deur verskillende Joodse groepe aan Hom gestel word, met tussen-in leringe in die vorm van gelykenisse en geprekke met sy dissipels.

Continue reading

Onlangse kommentaar