Hoofstuk 8 begin met ’n kernagtige opsomming van Jesus se bediening. Hy het oral gegaan, die land deurkruis van een stad en dorp na die ander, en oral gepreek en die koninkryk van God verkondig. Die 12 dissipels was ook daar, saam met ‘n hele paar vroue, wat ‘n groot rol gespeel het in die volhoubaarheid van die bediening.
En dit is juis dan wat Jesus die gelykenis van die saaier vertel, waarmee Lukas nie net iets sê oor die koms van die koninkryk nie, maar ook oor die wyse waarop Jesus dit uitgevoer het, want die wêreld was Jesus se saailand.
Jesus begin al hoe meer op die 12 fokus. En soos Hyself in hoofstuk 8 die koninkryk gaan verkondig het van een dorp en stad na die ander, stuur Hy hulle nou om met Sy gesag dieselfde te doen, siekes gesond te maak, bose geeste uit te dryf en so die koninkryk te verkondig. Die opdrag sal in hoofstuk 10 verder uitgebrei word na ’n verdere 72 dissipels wat uitgestuur word op Sy pad na Jerusalem. Na Sy Opstanding sal die opdrag na alle dissipels uitgebrei word wat oor die hele wêreld die koninkryk van God moet gaan verkondig.
Let op dat Jesus hulle opdrag gee om niks vir die reis saam te vat nie, nie eers brood nie. Hierdie opdrag dwing hulle dus om op twee goed te vertrou: 1) die gasvryheid van die mense en 2) God se getrouheid.
Waar Jesus se bediening in hoofstuk 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland van Galilea is Jesus in hoofstuk 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”. Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31). Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk. En dit kan Hy net in Jerusalem doen.
Jesus leer sy dissipels om te bid, soos Johannes dit ook gedoen het.
Hierdie gebed het net 5 bedes, anders as die gebed in Matteus 6. Die gebed om God se wil in die hemel so ook op die aarde is uitgelaat, maar word vervang en uitgebrei met die gelykenis, opdrag en belofte wat daarop volg.
Die gelykenis wat Jesus vertel, illustreer God se gewilligheid om ons gebede te beantwoord.
Die opdrag om te vra, soek en klop is ‘n kosbare uitnodiging om nie net die Here vir alles te vertrou nie, maar Hom direk daarvoor te vra. Hy wil met ons in gemeenskap lewe.
Die belofte wat God gee, sluit die fisiese en konkrete dinge in waarvoor ons vra. Die belangrikste is egter dat God ons sy Heilige Gees gee. Dit is die beste gawe.
VIR BYBELSKOOL
Die vasbeslotenheid van Jesus tref my. Hy weet wat Hy moet doen. En Hy weet wat die einde van daardie pad is. Tog fokus Hy met passie op hierdie roeping, al beteken dit dat Hy soos Johannes die Doper met sy lewe daarvoor sal moet boet.
Let op hoe Hy hindernisse op sy weg hanteer. Hy verteer nie met vuur dié wat Hom nie wil ondersteun op sy pad nie (9:52-56 -Samaritane), soos Hy die dissipels ook gekeer het om ander te verhinder wat ook goed doen, maar nie die pad saam met hulle loop nie (9:50). Hy laat dit Hom nie afsit nie, en bly op die pad wat Hy ingeslaan het.
Die gelykenis van die ryk dwaas word gekoppel aan die versoek dat Jesus die regter speel in erfsake. Hy lewer dus in die eerste plek kommentaar op die aandrang op ‘n regverdige bedeling in hierdie lewe, eerder as om te sorg dat ‘n mens ryk in God is met die oog op die lewe hierna, al ly jy ook onreg in hierdie lewe.
Jesus lewer in die tweede plek nog skerper kommentaar met die gelykenis op die geweldige versoeking wat gierigheid op ons almal het. Die lewe is onseker en die versameling van rykdom kan futiel blyk te wees as jou lewe skielik tot ‘n einde kom. Gierigheid dwarsboom ons Godsvrug. Vergelyk die verdere gelykenis oor die sorge van die lewe wat net hierna vertel word. Ons kan God vertrou vir wat ons nodig het in die lewe.
Jesus lewer waarskynlik ook in die derde plek kommentaar op die Fariseërs wat nie in hulle verhouding met God groei nie, veral nie deur die boodskap van Jesus te aanvaar as die goeie nuus nie.
Lukas 12:32-40 – God sorg vir sy kinders; Hulle is waaksaam
Vers 32-24: Koningskinders hoef nie bang te wees dat God, die Koning, hulle in die steek sal laat in terme van aardse behoeftes nie. Hulle kan daarom vrygewig wees. Want, dan sal hulle hart wees waar God is.
Vers 25-40: Wees waaksaam met die oog op Jesus se Wederkoms. Elkeen van ons is deur die Here geroep om Hom te dien. Hy moet ons daarmee besig vind wanneer Hy weer kom.
Lukas 12:49-56 – Getrouheid bring normale familiebande in gedrang
Jesus bring nie net vrede nie, want Hy bring mense voor ‘n keuse. Dié wat Hom verwerp, word teenstanders van dié wat Hom aanvaar. Dit sny deur die normale familiebande wat ons aan mekaar verbind. Ons getrouheid aan Hom moet nie deur sulke teenstand, wat baie naby ons lyf kan kom, in die gedrang kom nie.
Die doop waarna Hy verwys, is sy kruisdood.
Die verwysing na die tekens van die tye dui op die helderheid van die keuse wat van mense gevra word. Hulle moet self besluit wat die regte ding is om te doen, anders sal dit hulle suur bekom.
Lukas 13:10-17 – Die genade van genesing bring skeiding
Jesus genees die vrou op die sabbat. Dit het twee reaksies tot gevolg. Sy loof die Here vir haar verlossing ná 18 jaar se swaarkry. Die leiers van die sinagoge is verontwaardig dat dit op die sabbat was, en dat Jesus daarmee die wet oortree het deur te werk.
Let op hoe die leier die skare beveel om liewer op die eerste ses dae van die week te kom vir genesing! Jesus berispe hom egter dat dit skynheilig is, want hulle doen self genadewerk op die sabbat deur vir hulle diere goed te wees. Hoeveel te meer dan nie vir ‘n dogter van Abraham waardeur God die Satan se werk verbreek.
Let ook op hoe daar weer twee reaksies is op hierdie gesprek tussen die leier van die sinagoge en Jesus. Die teenstanders was beskaamd. Die skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.
VIR BYBELSKOOL
Met ‘n groeiende skare wat om Jesus saamdrom, waarsku Jesus nou die dissipels teen die aansteeklike skynheiligheid van die Fariseërs wat hulle ware self wegsteek agter uiterlike vertoon.
Let op hoe Hy sy dissipels sy vriende noem en aanmoedig om aan God getrou te bly, want Hy kan vir hulle sorg, nie noodwendig van gevaar nie, maar juis in gevaar. En Jesus koppel dit aan die werk van die Heilige Gees wat God nou ook aan gewone mense gee.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar