Week 6: 1 Korintiërs 11-16
Ons lees die laaste deel van 1 Korintiërs as volg:
- Donderdag – 1 Korintiërs 11
- Vrydag – 1 Korintiërs 12
- Maandag – 1 Korintiërs 13
- Dinsdag – 1 Korintiërs 14
- Woensdag – 1 Korintiërs 15-16
Ons lees die laaste deel van 1 Korintiërs as volg:
Paulus begin hier aandag gee aan sake wat by die erediens hoort en sal:
Hoe mans en vroue moet bid en profeteer
Ek kan nie anders as om my te verwonder oor die jarelange debat oor die dra van hoede deur vroue al dan nie. Dit maak my tegelyk kwaad en hartseer – kwaad omdat mense met soveel onkunde hieroor geredeneer het en geslagte van vroue aan hoede verbind het; hartseer omdat soveel mans en vroue ’n verkeerde interpretasie as die Woord van God aanvaar het en gedink het die Here self skryf hoede vir vroue voor.
En let op dat vir baie lank die eksplisiete boodskap van hierdie gedeelte gemis is, dat vroue saam met mans mag bid en profeteer in die gemeente! ’n Boodskap wat gemis is, omdat op die hoede gefokus is, ’n voorwerp wat in elk geval nie eers genoem word in die gedeelte nie, net ’n hoofbedekking.
Paulus werk hier met die algemene sosiale gebruik (let op in vers 14-15) dat vrouens in dié tyd lang hare gehad het en ’n hoofbedekking gedra het in die openbaar, anders sou hulle as prostitute gereken kon word, dws as hulle kort of los hare gehad het en sonder ’n hoofbedekking opgetree het. Daarom was dit die gebruik in die gemeentes, en om geen ander rede nie.
Soos die sosiale gebruike verander, moes die gebruike in die erediens ook verander het. Maar, helaas, dit was nie die geval nie; daar is vir eeue vasgeklou aan uitgediende sosiale gebruike asof dit deur die Here self ingegee is.
Dit hang natuurlik saam met die algemene misverstaan van die rol van vroue in die kerk, waarin die swygverbod van 1 Korintiërs 14:34 en 1 Tim 2:11-12 ’n groot rol gespeel het.
Lees ook my ekskursus oor ‘n paar vroue in die NT.
Hoe om die Nagmaal te gebruik
Paulus brei sy voorskrifte vir die erediens uit na die wyse waarop die Nagmaal gevier moet word.
Hier moet ’n mens in gedagte hou dat baie gelowiges in Korinte slawe was. Weens hulle omstandighede moes hulle tot laat werk (en ook van vroeg af in terme van oggendbyeenkomste) en gevolglik baie keer laat opgedaag vir die aandbyeenkomste. Dit het dus baie keer gebeur dat die meer vermoënde lidmate solank begin eet het – onthou dit was ’n liefdesmaal waartydens die Nagmaal ingestel is – en dat daar nie meer oor was as die ander by hulle aansluit nie. Dit het die armes verneder en Paulus spreek hom skerp hieroor uit en stel die eenheid voorop, wat uitdrukking kry in die mededeelsaamheid van ryk en arm by die Nagmaalstafel. Die rykes moet daarom by die huis klaar eet, as hulle nie kan wag met al die kos by die nagmaalstafel nie (vers 34)!
Na hy die lering oor die Nagmaal gegee het, wat hy by die Here self ontvang het, pas hy dit toe op ’n verdere ongepaste wyse om die Nagmaal te gebruik, naamlik om nie selfondersoek te doen nie. Daardeur drink en eet mense ’n oordeel oor hulleself wat letterlik ’n fisiese uitwerking op hulle het en sal hê. ’n Mens moet dit nou nie interpreteer asof net diegene dood is wat die Nagmaal verkeerd gebruik het nie, maar dat daar in die algemeen meer siektes en dood by hulle teenwoordig was wat Paulus wyt aan die feit dat hulle nie as ’n gemeente genoegsaam bedagsaam voor die Here God lewe nie.
Ek het sommer ’n paar vroue uit die Nuwe Testament gaan opdiep wat ’n spesifieke rol en funksie gehad het, en dit is baie interessante leesstof:
Lees ook wat NT Wright oor vroue in die bediening te sê het!
Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het. Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ’n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.
Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).
Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is. Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).
Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.
Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31). Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon. ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.
As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik. Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding. Dit wys dat die gawes nie ’n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.
Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.
Hierdie is só ’n pragtige tekening van die hart van die Christelike geloof in die vorm van ’n gedig. Dit besing eerstens die onmisbaarheid van die liefde in die gebruik van die gawes in ’n gemeente (1-3), dan die wyse waarop die liefde met die gawes tot sy reg kom in die gemeente (4-7), en dan die duursaamheid van die liefde bo alles anders (8-13). Daarmee korrigeer Paulus die verkeerde idees wat die Korinte oor die liefde gehad het, wat eerder in onsedelikheid en afguns ontaard het.
Let op hoe Paulus regdeur van die gawes wat hy so pas genoem het (tale, profesie, kennis, geloof), eksplisiet relativeer en ondergeskik maak aan die liefde (4-7). Selfs die bereidheid om jouself op te offer, word ondergeskik gestel aan die liefde. Om die waarheid te sê, gawes sal verdwyn, terwyl die liefde sal voortduur (8-13). Dit geld natuurlik alle gawes. Anders gestel, die gawes kom net tot hulle reg binne ’n konteks van liefde.
Hierdie tipe liefde is eienskappe van God (bv. Eks 34:6 – lankmoedig) wat Hy deur die Gees aan ons skenk (Gal 5:22). Daarom maak die liefde dat ’n mens die gawes gebruik terwyl jy geduldig is met mense, vriendelik is en nie afgunstig nie, en verseker nie grootpraterig en verwaand daaroor nie. Anders bring die gawes verdeeldheid en hoogmoed. Liefde leer jou verder om nie onwelvoeglik op te tree daarmee nie, nie jou eie belang binne die liggaam te soek nie en ook nie liggeraak te wees oor wat ander doen nie. Daarom hou die liefde ook nie boek van die kwaad nie.
Maar die liefde en die waarheid is verbind aan mekaar. Daarom is onreg nooit iets waaroor ’n gelowige hom kan verbly nie. So, hoewel jy nie boekhou van die kwaad nie, kan onreg nooit aanvaar word nie.
Vers 7 belig ’n intesessante aspek van die liefde, dat hoewel dit nie bly is oor die onreg nie, dit tog in liefde bereid is om “alles te bedek”, dws om te verdra en te beskerm (NIV), wat ’n mens herinner aan Spreuke 10:12: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee.” Miskien is die beste manier om dit te verstaan dat die liefde nie ou wonde wil oopkrap nie, bereid is om ’n tweede myl te loop, bereid is om 70×7 keer te vergewe, bereid is om te verdra en vorentoe te kyk. Daarby is die liefde bereid om onbevange ’n pad met mense te loop, en nie in sinisme te verval nie en mense te wantrou op grond van ervarings uit die verlede. Let op hoe die drie woorde (glo, hoop, verdra) in wese ooreenstem met die geloof, hoop en liefde van vers 13.
Liefde is ook meer duursaam as die gawes; profesie en tale sal verdwyn, en kennis sal uitgedien raak, wanneer ons eendag met God se oë na alles kan kyk, maar die liefde sal bly.
Vers 11 kontrasteer die onvolwasse gebruik van die gawes teenoor die volwasse gebruik daarvan. Vers 12 kontrasteer ons gebrekkige verstaan van dinge teenoor die volle kennis wat eendag ons deel sal wees.
Wat hom uitbring by sy belangrike slot, dat al wat saak maak, is geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is.
Onlangse kommentaar