Skip to main content

1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder

Begeleiding deur die Gees van God is nie net ’n teken van geestelike volwassenheid nie, maar die essensie van ’n vervulde persoonlike en gemeentelike lewe.  Sonder die Gees is daar afguns en twis en verydeling – omdat eie begeertes die botoon vier.  Met die Gees is daar insig en groei en eenheid – omdat die Gees se begeertes die botoon vier.

Interessant dat Paulus hom in sy kommunikasie laat lei deur die vlak van hulle geestelike volwassenheid, dié mate waarin hulle bereid is om hulle deur die Gees te laat lei.  Omdat hulle soos wêreldse mense optree, soos kindertjies in die geloof, moes hy eenvoudig met hulle praat, omdat hulle dieper dinge nie sou kon verteer nie.

Let op hoe hy terugkeer na die kwessie van verdeeldheid rondom leiers, nou meer spesifiek oor die stryd in die gemeente om óf Paulus óf Apollos óf Sefas (Petrus) aan te hang.  En hy praat daaroor uit drie perspektiewe: 3:4-9 – dat die leiers medewerkers is in diens van God wat die werk doen wat Hy gegee het; 3:10-23 – dat die gemeente die gebou van God is waarin die Gees van God woon, en dat dit daarom dwaas is om op mense/leiers te roem of hulle te verheerlik; 4:1-21 – dat die apostels dienaars is van Christus (nie van die gemeente nie), wat deur Hom beoordeel word, en hulle binne die perke moet hou wat Hy bepaal.

Hy gebruik drie basiese metafore in sy gesprek oor eenheid, in die eerste perspektief van boere in ’n saailand, in die tweede van bouers in die gebou of tempel van God, en in die derde van bestuurders in die koninkryk (Bybel in Praktyk praat van die “hemelse ekonomie”!) van God – lekker metafore vir leiers: boere, bouers en bestuurders!  En let op dat Hy dit regdeur trinitaries uitspel – dit gaan oor God (die Vader), die Heilige Gees en Christus wat laat groei, beloon, beskerm, en lof uitdeel.

Wat my tref is die baie belangrike boodskap van Paulus dat die Gees nie net vir my as gelowige gegee is nie, maar vir die gemeente – dat die gemeente ’n tempel van God is waarin Hy woon.  Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want dit skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Daarom moet ek as leier mooi kyk hoe ek werk – Paulus sê letterlik dat ’n mens soos ’n “wyse” (dit is wat die woord goeie in die oorspronklike Grieks beteken) bouer te werk moet gaan, by wyse van spreke, volgens die bouplanne wat God gee.  Let op dat die gehalte van die werk in twee groepe verduidelik word: duursame (goud, silwer, edelstene) en verganklike (hout, gras, strooi) materiale.

En die gemeente moenie op sy leiers roem nie, en veral nie die een bo die ander uitsonder om aan te hang nie, al verskil hulle werk en selfs die kwaliteit van hulle werk, maar almal sien as dienaars van Christus en bestuurders van die geheimenisse van God.

Paulus is ook duidelik – al is dit ’n bietjie sarkasties! – oor die uitdagings en beproewings van die bediening.  Daar is geen glamour nie – net swakheid, veragting, honger, dors, armoede, mishandeling, harde werk, uitskellery, vervolging.  Kortom, die apostels is die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing!  Dit gaan dus werklik in die bediening oor die kruis van Christus (2:2) en die deelhê aan sy lyding ter wille van die evangelie.

Maar dan, op vernuftige wyse, gebruik hy dié tekening van die apostelbediening om sy verbintenis aan hulle as geestelike vader te bevestig om hulle aan te spoor om sy voorbeeld te volg, en te volhard in die geloof.  En in ’n skerp toon vat hy die mense in gemeente aan wat hulleself begin aanmatig met die waarskuwing dat hy op pad is!

1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap

Paulus skryf verder oor van die sake wat Chloë se mense aan hom vertel het, hier oor bloedskande, ’n man wat met sy stiefma saamleef (Lev  18:8 verbied dit), maar steeds deel van die gemeente is.  Dit blyk dat dit algemene kennis was (die eerste frase van vers een kan so vertaal word) en nie net bekend aan ’n klein groepie nie.  Let op dat hy eintlik net oor die man se sonde skryf, nie oor die vrou s’n nie (moontlik was sy ’n ongelowige?), en wou hê dat hy as ’n tugmaatreël uit hulle midde verwyder sou word.

Paulus beskrywe hierdie tughandeling met die woorde: “om hierdie man aan die Satan oor te gee”, woorde wat herinner aan die gesprek tussen God en Satan in Job 1:12, en hou in die gees ’n imaginêre tugvergadering saam met hulle.  Deur hom oor te gee aan die Satan, kan dié hom tref met allerlei teenspoed (soos in Job se geval) wat hom hopelik tot ander insigte sou bring (vgl 1 Tim 1:20 waar Paulus dieselfde doen met Himeneus en Aleksander, mense wat hulle gewete onderdruk het), al sou die man se redding nie in die laaste instansie in gedrang wees nie (vgl 1 Kor 3:15 waar iets soortgelyks van toepassing is op gemeentebouers).

Paulus gebruik dan die geval om hulle aan te vat oor hulle selfverheffing, deurdat hulle hantering van dié saak wys dat hulle nie iets het om hulle oor aan te stel nie.  Nog dieper as dit – deur niks te doen aan openlike sondes nie, benadeel ’n gemeente nie net die persoon nie, maar ook die gemeenskap van die gemeente self.  Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap, net soseer as wat reinheid en waarheid dit doen.

Dit is duidelik dat die gemeente dit makliker gevind het om sondaars uit die wêreld te vermy, maar dit moeilik gevind het om sondaars binne die gemeente onder tug te plaas.  Ek dink baie gemeentes sukkel vandag nog daarmee!  En hulle het dit probeer regverdig deur die voorskrifte in sy vorige brief – om sondaars te vermy – verkeerdelik aan te wend.  Maar daarmee het hulle twee sleutelfoute begaan: hulle het die kwaliteit van hulle eie gemeentelewe benadeel, sowel as hulle roeping in die wêreld versaak, wat tog gemik is juis op mense wat vasgevang is in hulle sonde.

Hy sluit met ’n algemene reël, dat dit nie verantwoord is om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. Dit is God se werk.  Maar, binne die gemeente, het die gemeente die verantwoordelikheid om sensuur toe te pas.

Die klem wat Paulus hier lê op die onderlinge sorg vir mekaar, wat vermaning en tug insluit, bly my by.  Sonde is nie ’n klein saak nie.  Dit het ’n groot effek op die sondaar self, maar dit het net so ’n groot effek op die gemeenskap van die gemeente.  Geen wonder dat Paulus in hoofstuk 3 so duidelik geskryf het oor die gemeente as die tempel waar die Gees woon, iets waaroor hy verder sal skrywe in hoofstuk 6.

Sonde skaad dus ook die verhouding van die gemeente met God.  En daarom is in die Reformasie geoordeel dat die toepassing van tug een van die kenmerke van die ware kerk is (Nederlandse Geloofsbelydenis 29).  En ons sal goed doen om Paulus se voorskrifte hierin te begin navolg.

So, opsommenderwys, tug fokus op die sondaar – om hom te red; op die gemeente – om die gemeenskap te suiwer; op die Gees – om sy teenwoordigheid te verseker.

1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid

Paulus spreek vervolgens twee verdere etiese kwessies aan: hoe om kleiner onderlinge verskille te hanteer, en hoe om seksueel onberispelik te lewe. Die hoofsaak in die eerste is om onreg te vermy, en in die tweede om onsedelikheid te vermy.

Paulus werk met die uitgangspunt dat die regstelsel van daardie tyd nie geestelik van aard is nie, en volgens menslike regsreëls gewerk het.  In die lig van die feit dat ware wysheid van God af kom (vgl hfst. 1:18-31) en gebaseer is op ’n kruis-evangelie (2:1-5; ook vers 6-16), moet gelowiges nie van die regstelsel verwag om uitspraak te gee in sake wat primêr binne die gemeenskap van gelowiges hoort nie.  Hy noem die mense binne die regstelsel letterlik “onregverdiges” teenoor die gelowiges wat hy “heiliges” noem.  Omdat laasgenoemde weet wat God wil hê, moet hulle vertrou word om uitspraak in geskille te lewer, ’n funksie wat selfs in die hiernamaals aan gelowiges toevertrou sal word (vgl ook Open 20:4).

Hy pas die kruisevangelie ook toe op dié wat onreg ly, dat hulle liewer self te kort skiet as wat hulle optrede ander ’n onreg aandoen.  Daarmee gee hy natuurlik ook vir ons die sleutel om die lysie van “onregverdiges” te verstaan, want dit is oor die onreg wat onsedelikes, egbrekers, diewe en kwaadpraters, aan ander doen, wat hulle nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (vgl ook Gal 5:19-22 waar hierdie tipe onreg met die vrug van die Gees gekontrasteer word).

Let op hoe Paulus die eerste perikoop afsluit met ’n verwysing na vryspraak, en dan direk oorgaan na die verkeerde idee wat die Korintiërs het oor vryheid, asof dit geen perke het nie.  Die vryheid in Christus is onderhewig aan die beginsel vraag of iets jou verhouding met God en die gemeenskap sal bevorder of belemmer, en of dit jou sal verslaaf of nie.

Hy pas dit dan toe op die seksuele lewe – hy sonder dit uit onder die lysie van sondes in vers 9-10 – en skiet die idee af dat seks op dieselfde vlak as eet lê.  Die Korintiërs het die spreekwoord: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos” ook op die liggaam en seks toegepas: “Seks is vir die liggaam, en die liggaam vir seks.”  Die vernaamste rede waarom so ’n seksuele losbandige houding verkeerd is, is omdat gelowiges ’n intieme verhouding met God het, en seksuele onsedelikheid en losbandigheid God deel sou maak daarvan.  En dit kan tog nie, sê Paulus.  Ons liggame is daar vir die Here.  Dit geld alle seksuele verhoudings, wat nie binne die huwelik plaasvind nie, soos hy in die volgende hoofstuk uitspel.

Net soos die Gees die korporatiewe liggaam van die gelowiges as ’n tempel gebruik (3:16-17), gebruik Hy ook die persoonlike liggaam van individuele gelowiges as tempel (6:19).  Ons behoort dus nie aan onsself nie, en moet God ook in ons liggaam verheerlik deur nie onsedelik te lewe nie.

Wat baie duidelik is, is dat Paulus ’n baie hoë sedelike standaard daar stel waaraan gelowiges hulleself moet meet.  Omdat God deur sy Gees in ons woon, behoort ons nie aan onsself nie, kan ons nie net maak wat ons wil nie, kan ons nie eers op onreg reageer soos wat die wêreld dit doen nie, maar is ons gebonde aan ’n ander stel reëls wat met omgee en opoffering te make het.  En daarvan is en was Jesus die uitnemende voorbeeld.  En dit is Sy voorbeeld wat ons moet navolg.

Opmerkings oor selfdegeslagverhoudings

1 Korintiërs 6:9-11 – So was sommige van julle ook, maar julle is gewas en geheilig

Opsomming – So was sommige van julle ook, maar julle is gewas en geheilig – waar Paulus die kontra-kulturele en kontra-geestelik moraal van die Christelike gemeenskap teken as radikaal anders as die onsedelike een waaruit hulle verlos is, onder andere deur na malakoi en arsenokoitai te verwys, die “passiewe” en “aktiewe” vennote in selfdegeslagverhoudings.

Die konteks in Korinte

In hierdie brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.  Dat dit nodig was, spruit onder andere uit die voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.

Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Hy spreek dinge aan soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11), prostitusie (6:12-20), en die nagmaalviering (11:17-34).

1 Korintiërs 6:9-11

Daarom praat Paulus so skerp in hierdie gedeelte oor dié dinge wat nie maar net onvanpas was nie, maar hulle ewige bestemming in gevaar gestel het.  Hy sê in 1:9-11 die volgende:

9 Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, 10 of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie. 11 So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (BDV)

Vir Paulus, soos ons reeds kennis geneem het, was seksuele getrouheid tussen man en vrou ononderhandelbaar.  Dit was die OT ideaal selfs terwyl daar ook talle OT verhale van gebroke seksualiteit was: ontrouheid, poligamie, onsedelikheid, verkragting ensomeer.  “The fact remains that the Bible’s core ideal is sexual fidelity between husband and wife.” (William Loader)

Enige ander tipe seksuele gedrag was “buite orde”.  Daarom teken Paulus hier in sy brief aan die Korintiërs ‘n kontra-kultuur, ‘n moraal wat anders is as die onsedelike een waarvandaan hulle kom.  Die tipe moraal wat in die Romeins-Griekse wêreld geheers het, ook en veral in Korinte, was besoedelend in sy oë en iets wat hulle aktief moes teëstaan, iets waaraan hulle glad nie moes deelneem nie.

Dit gaan dus nie in hierdie “sondelysie” in Korintiërs soseer oor insluiting en uitsluiting nie, maar as ‘n skets van die tipe kultuur waarvandaan hulle kom en wat hulle met alle mag en mening moet vermy: “11 So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek …”

Vir ons onderwerp is die volgende twee elemente in die “sondelysie” belangrik: “manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer”.  Die twee Griekse woorde wat hier gebruik word is  malakoi – wat letterlik “sagtes” beteken – en arsenokoitai – letterlik die meervoud van arsenokoitês, ’n samestelling uit arsen (manlik) en koité (slaap/lê), dus “manneslapers” of soos die BDV dit vertaal: “mans wat met mans intiem verkeer”.

Ons hanteer eers die woord arsenokoitai. Die woord arsenokoitai, wat Paulus ook in sy brief aan Timoteus gebruik, moet heel waarskynlik met Levitikus 18-20 se verbod op selfdegeslag seks verbind word.  Die woord is immers nooit voorheen in enige Griekse teks gebruik nie, wat beteken dat Paulus dit heel waarskynlik nuut geskep het.

Die LXX vertaal die relevante Hebreeuse gedeeltes in Levitikus 18-20: “mishkav zakur”, met: “meta arsenos koit n gynaikos”.  In Afrikaans lui dit: “met ‘n man lê soos met ‘n vrou”.  Die frase “mishkav zakur” word daarna ook in die Talmoed gebruik vir homoseksuele omgang – tussen volwassenes sowel as tussen volwassenes en jongmense – aan die hand van dié teks (Scroggs, Gagnon).

Daar kan dus min twyfel wees dat arsenokoitai ’n ondubbelsinnige manier was om van selfdegeslag seks te praat. Die woord is letterlik ‘n transkripsie van die Griekse vertaling van die Hebreeuse “mishkav zakur”.

Die tweede woord malakoi dui in die konteks op die passiewe volwasse party in selfdegeslag seksuele gedrag, soos dit die geval is in ‘n hele paar ander tale, waar die aktiewe en passiewe party met verskillende woorde aangedui word.  Dit is omdat die twee woorde, malakoi en arsenkoitai, waar dit saam gebruik word, semanties as passiewe en aktiewe selfdegeslag partye geïnterpreteer kan word: “It is possible that ἀρσενοκοίτης in certain contexts refers to the active male partner in homosexual intercourse in contrast with μαλακός, the passive male partner.”  (Louw & Nida, Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains).

William Loader stem saam daarmee en sê: “…the words are best understood as referring to the active and passive partners in same-sex intercourse, ‘male-bedders’ and ‘softies’, a term used also more widely of effeminacy”.

Die vertaling van die BDV  malakoi is daarom net ‘n interpretasie dat dit oor prostitusie gaan en sal waarskynlik beter vertaal kan word soos die geval is in die Lexham English Bible (LEB): “nor passive homosexual partners, nor dominant homosexual partners”.  Selfdegeslag prostitusie sou uiteraard ook deur dié uitspraak van Paulus ondervang geword het, maar is nie beperk daartoe nie.

Dit word geëggo deur ‘n redelike breë konsensus onder die meeste Nuwe Testamentici dat malakoi en arsenokoitai verwys na mans wat selfdegeslag seks beoefen. Selfs Andrie du Toit wat pleit vir monogame standvastige homoseksuele verhoudings sê die volgende (aangehaal uit die 2007 verslag): “Nevertheless it was also used for males, often youths, occupying the passive role in a homosexual relationship. Already Plato used malakia with this connotation. Because arsenokoitai is most probably a coinage from Lev. 18:22 and 20:13, it can hardly indicate something other than the active male participants in a homosexual relationship. The co-occurrence of arsenokoitai in 1 Cor 6:9 would therefore denote the passive and active partners in such a relationship (2002:94, 106)”.

Dit is daarom ook direk in kontras met Brownson se idee dat min of meer alle literatuur uit daardie tyd net van selfdegeslagverhoudings in die betekenis van pederastie gepraat het.  Hy skryf “Most scholars recognize that the presence of these two words reflects widespread assumptions throughout the ancient world about male-male homosexual activity: almost all the documents discussing male same-sex eroticism assume a distinction between active older men (commonly referred to in Greek as erastai ) and passive younger males (commonly referred to as er ō menoi ) in other words, the practice of pederasty. The malakoi (“softies”) are the younger, passive er ō menoi, and the arsenokoitai (“man-bedders”) are the older, active erastai.” (Brownson, J.W. Bible, gender, sexuality. Reframing the Church’s Debate on Same-Sex Relationships)

Daar is egter vier probleme met sy interpretasie:

  • Die NT woorde (malakoi en arsenokoitai) word nêrens in die Griekse literatuur eksplisiet verbind met die pederastie woorde (erastai en erômenoi) nie. Dit is nou benewens die feit dat pederastie eintlik met die Griekse term paiderastia weergegee is en erastai eintlik net minnaar beteken.  Dié interpretasie van Brownson berus op Dover se werk (Greek Homosexuality) wat ’n tegniese term van die woorde probeer maak het, maar dit eintlik anakronisties teruglees in die teks.  Erastai word immers in die Griekse literatuur ook in heteroseksuele kontekste gebruik.
  • Malakoi word semanties in die Griekse literatuur genoegsaam met die passiewe vennoot in selfdegeslagverhoudings verbind, dat dit nie noodwendig met erômenoi gelykgestel hoef te word nie. Dit is nou weereens benewens die feit dat erômenoi ook in heteroseksuele kontekste gebruik is, anders as wat Dover beweer.
  • Arsenokoitai kan eintlik net uit Levitikus se mishtav zakur verklaar word, omdat dit ‘n neologisme deur ‘n Jood is. Die Griekse gebruik van dié woord is net te min om dit enigsins anders te verstaan.
  • Pederastie is ook nie die enigste vorm van selfdegeslagverhouding wat in die tyd van die NT bekend was nie, soos John Boswell duidelik aantoon.  Daar was permanente selfdegeslag verhoudings bekend wat net soseer deur hierdie teks aangedui word. Dit kan nie langer ontken word nie.

Week 5: 1 Korintiërs 7-10

Ons lees verder in 1 Korintiërs:

  • Donderdag 19 Augustus: 1 Korintiërs 7:1-24
  • Vrydag 20 Augustus: 1 Korintiërs 7:25-40
  • Maandag 23 Augustus: 1 Korintiërs 8
  • Dinsdag 24 Augustus: 1 Korintiërs 9
  • Woensdag 25 Augustus: 1 Korintiërs 10

1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie

Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in ’n brief van die Korintiërs aan hom gerig is.  In vers 1-24 hanteer hy die vraag oor die huwelik.

Let op dat hy aansluit by ’n gedagterigting wat blykbaar by die Korintiërs ontstaan het, dat dit goed is vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, dit wil sê sonder seks.  Sommige het blykbaar selfs besluit het dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.

Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid.  Ons liggame behoort wel aan God (6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat.  Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seksueel weier nie, behalwe om ’n (kort) tyd lank te bid.  Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ’n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.

Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars[1] en weduwees en werk basies met twee beginsels:

  1. Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”!);
  2. As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9).  Daarom dat ook huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ’n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.

Die perspektief wat egter bo alles van God af kom, is, dat as jy getroud is, jy nie mag skei nie.  Daarmee erken hy wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats moet die band tussen hulle verbreek nie (vgl Jesus in Matt 19 bv. – dit sluit uiteraard dinge soos geweld en mishandeling uit).  Let ook op dat hy werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.

Dan spreek hy die probleem van ’n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie!, die keuse het om te bly of te ry.  Daar is ’n voordeel vir die ongelowige om te bly, maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie.  Daar is ook ’n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word.  Anders sou hulle in ’n heidense omgewing grootword, wat eweneens ’n groot invloed op hulle sal hê.


[1] Paulus gebruik in vers 8 ‘n ander woord (agamos) vir “ongetroudes” as in vers 25 (parthenos – maagd), wat verskeie geleerdes laat vermoed dat hy eintlik in vers 8 van wewenaars praat, wat in die konteks beter pas in die lig van die gelykluidende raad wat hy vir die weduwees gee.

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms