Rigters 9 – Die Here straf Abimelek vir al die onreg wat hy pleeg
Abimelek rakel wraakgedagtes op in Sigem téén Gideon se nageslag tot sy eie voordeel
Gideon se verbreking van die verbod op huwelike met die Kanaäniete wreek hom op Israel met die onverkwiklike verhaal van Abimelek, die seun uit Gideon se ongeoorloofde verbintenis met ‘n Kanaäniet van Sigem. Dit wil ook voorkom asof sy in Sigem gebly het (Rigt 8:31) en dat Abimelek dus grootgeword het met min interaksie met sy pa wie se tuisdorp Ofra was.
Sigem was sowat 60 km noord van die huidige Jerusalem, tussen die Ebalberg en die Gerisimberg geleë. Dit was die plek waar Josua al die stamme van Israel bymekaar gekry het in ’n verbondshernuwing seremonie (Jos 24:1-28). Sigem was ook een van die asielstede van Israel (Jos 21:21). Maar daar was duidelik nog Kanaäniete ook, soos die verhaal in Rigters 9 aandui.
Die eintlike konteks wat ‘n mens egter met Sigem in ag moet neem, vind ons in die verhaal van Dina, dogter van Jakob, wat haarself ‘n paar eeue gelede blootgestel het aan die gevaar van die Kanaänitiese omgewing. Sy is juis in hierdie omgewing deur Gamor se seun, Sigem – na wie die plek waarskynlik vernoem is – gekaap en as vrou aangehou. Die verwysing in hierdie hoofstuk na Gamor dui daarop dat hy steeds as stamvader vereer is (Rigt 9:28)
Onlangse kommentaar