Skip to main content

Tag: Kronologiese Bybelleesplan

2 Timoteus 2:1-26

Getrou aan Jesus Christus

Hierdie getrouheid aan die evangelie is ten diepste ‘n getrouheid aan die Here Jesus Christus self. In sy navolging van Hom moet hy ook ander volgelinge van Jesus aanstel wat saam met hom die pad van die evangelies enduit kan stap. Soos Paulus gedoen het met sy “seminarium” in Efese deur medewerkers en opvolgers op te lei, moet Timoteus dit ook in Efese doen.

Continue reading

2 Timoteus 1:1-18

Getrou aan die evangelie

Ná Paulus se vierde sendingreis word hy weer gevange geneem, en in ‘n onbekende tronk in Rome opgesluit, want Onesiforus moes lank soek om Paulus daar op te spoor (2 Tim. 1:17). ‘n Paar van die geestelike leiers het hom ook bygestaan (2 Tim. 4:10-13): Demas (tot hy Paulus in die steek gelaat het), Kresens (na Galasië gestuur), Titus (na Dalmasië gestuur), Lukas (sorg vir Paulus tot sy dood), Tigikus (gestuur na Efese) en van die gemeente: Eubulus, Pudens, Linus, Claudia (2 Tim. 4:21). Paulus vra ook dat Markus en Timoteus hom kom bystaan (2 Tim. 4:11-13).

Die datum van die brief is moeilik bepaalbaar, maar omdat Paulus tereggestel is deur Nero, is dit ten minste voor die einde van Nero se dood in 68 n.C. Omdat Petrus na Paulus in sy tweede brief verwys, en ons daaruit kan aflei dat Paulus tydens die skrywe van 2 Petrus nog gelewe het, plaas ek 2 Timoteus dus ná die briewe van Petrus. Hoe dit ook al sy, hierdie brief aan Timoteus is ook in die middel-sestigerjare geskryf.

‘n Interessante feit van Paulus se bediening om oor na te dink, is dat hy ongeveer ‘n kwart van sy bedieningstyd in die tronk of in huisarres gespandeer het. Dit het hom egter nie gekeer om selfs vanuit die tronk sy roeping om die evangelie te verkondig, na te kom nie.

Hierdie brief is soos die laaste testament van Paulus waarin hy Timoteus oproep om getrou aan Jesus Christus en sy evangelie te bly, sowel as aan Paulus.  Timoteus word hiermee die testateur wat Paulus se laaste wense moet uitvoer, en ook die erfgenaam van die roeping wat God vir Paulus gegee het, om die evangelie regdeur die wêreld te neem.  Paulus weet immers dat die tyd van sy dood voor die deur is (2 Tim. 4:6,18), moontlik weens die verraad van Aleksander (2 Tim.4:14) wat vroeër uit die gemeente gesit is saam met Himeneus (1 Tim 1:19-20; 2 Tim 2:17).  Daarom is die brief anders as die ander gevangenskap briewe, waar Paulus verwag om weer vrygelaat te word (bv. Fil. 1:24; 2:23-24; Filemon 22).  Dié keer is hy oortuig die einde is naby.

Paulus skryf die brief uit die tronk in Rome (2 Tim.1:8,17) in die middel sestigerjare nC en is heel waarskynlik kort hierna deur keiser Nero tereggestel.  Paulus se verwysing in 2 Timoteus 4:17 na ‘n leeu, word deur baie geleerdes met Nero of die Romeinse ryk verbind.  Dit is uit dié leeu se bek wat die Here hom gered het om hom behoue in die hemelse koninkryk te bring.  Die brief word in die eerste plek aan Timoteus gerig (2 Tim.1:2) en in die tweede plek aan die gemeente in Efese (2 Tim.1:18).  Let op Paulus se seënbede aan “jou” en aan “julle” in 2 Timoteus 4:22. Die boodskap is gefokus op getrouheid te midde van teenstand deur dwaalleraars (2 Tim.2:16-18; 3:13), die afvalligheid van baie mense (2 Tim.1:15) en Paulus se eie naderende dood (2 Tim.4:6-8).

Continue reading

2 Petrus 3

Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van Jesus Christus

Die vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars.  Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord.

In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor.  Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.

Hy behandel dit as volg:

  • Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms – 2 Petrus 3:1-4
  • Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis – 2 Petrus 3:5-7
  • Spotters ignoreer God se tydsberekening – 2 Petrus 3:8-10
  • Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde – 2 Petrus 3:11-16
  • Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie – 2 Petrus 3:17-18

Hy sluit sy brief af met ‘n enkele vers wat die interessante verwysing het na God aan wie die heerlikheid behoort: “nou en ook tot op die dag van die ewigheid.” ‘n Manier om op nóg ‘n wyse uit te spel dat die dag van die Here oneindig lank is.

Continue reading

2 Petrus 2

Wees versigtig vir vals profete en leraars

Petrus is baie bewus van die feit dat die evangelie bedreig word deur dwaalleraars.  Dit is natuurlik nie iets nuuts nie, maar iets wat al dateer uit die OT tydvak waar daar ook telkens vals profete opgetree het en baie gelowiges mislei is.  Die dwaalleraars sal dus ‘n groot uitdaging vir die geloofsgemeenskap wees.  Die gelowiges sal net: “met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Petrus waarsku hulle reeds in die eerste drie verse om op die uitkyk te wees vir vier kenmerke van die dwaalleraars se leer en lewe – verloëning van die Here Jesus, allerlei losbandighede, hebsug, en ‘n gebrek aan Skrifgesag: “versinde argumente”.

Hy behandel dié vier kenmerke dan agtereenvolgens in die res van die hoofstuk:

  1. Verloëning in vers 4-9, waarin hy ook die losbandigheid daarvan beklemtoon soos in die verlede geïllustreer in die tyd van Noag en Lot;
  2. Losbandigheid in vers 10-14, waarin hy die losbandigheid van die hede uitlig;
  3. Hebsug in vers 15-16, waarin hy weer teruggryp na ‘n voorbeeld uit die verlede om sy punt te illustreer, Bileam;
  4. Gebrek aan Skrifgesag in vers 17-22, geïllustreer in hulle afwyking: “van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is”.

As die geloofsgemeenskap dié vier kenmerke in gedagte hou, sal dit hulle help om weerstand te bied teen die dwaalleraars.

Petrus gebruik dus bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens drie OT temas (Vloedverhaal, Lot en Sodom en Gomorra, Bileam), kan herken (Judas het ook dié temas, maar verwys ook nog na die temas van die Eksodus, Kain en Korag) om sy punt te maak.  ‘n Mens kan ook ‘n verskuilde verwysing na die pseudepigrafiese werk Hemelvaart van Moses in vers 11 agterkom waar Petrus verwys na die engele wat nie sover gegaan het om ‘n “klag van laster voor die Here in (te) bring” nie, wat waarskynlik verwys na die stryd tussen Migael en die duiwel.  Judas verwys heel eksplisiet daarna (vers 9) asook na ‘n tema uit ‘n ander pseudepigrafiese werk Henog 1 (vers 14-15).

Pseudepigrafiese werke is Joodse werke uit dié tyd wat toegeskryf is aan historiese persoonlikhede om daaraan gesag te verleen, maar nie deur hulle geskryf is nie. Die woord pseudepigrafies beteken letterlik “valse geskrifte”, wat egter nie beteken dat die inhoud vals is nie, maar dat die titel daarvan misleidend is.

Continue reading

2 Petrus 1

Lê julle daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig

Hierdie brief is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Betinië (1 Pet. 1:1), hoewel Petrus hulle nie eksplisiet in die brief noem nie.  Dit lei ons af uit die feit dat Petrus wel sê dat dit die tweede brief is wat hy aan hierdie “geliefdes” rig (2 Pet. 3:1).  Dit dateer dus ook uit die middel sestigjare van die eerste eeu n.C., nie lank na sy eerste brief nie, waarskynlik net ná die brief van Judas, en is ook waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Omdat Petrus in die derde hoofstuk van hierdie brief na Paulus verwys, kan ‘n mens aflei dat Paulus ten tyde van Petrus se brief nog lewe en dat Paulus se tweede brief aan Timoteus, wat net voor sy dood geskrywe is, ná 2 Petrus gedateer kan word. Dit bly egter raaiwerk, omdat ons nie genoeg inligting het nie.

Dat daar ‘n goeie verhouding tussen Petrus en Paulus was, is duidelik uit die brief, hoewel Petrus ook sê dat Paulus se briewe nie altyd maklik is om te verstaan nie, en sommige mense juis hulle onkunde en gebrek aan standvastigheid ten toon stel in die verdraaide interpretasies wat hulle aan Paulus se leringe tot hulle eie ondergang heg (2 Pet. 3:15-16).

Daaruit lei ons ook af dat die vroeë kerk reeds hierdie briewe van Paulus as van groot en gesaghebbende belang geag het en begin het om dit te versamel en versprei.  Dit wys ook op die vroeë begin van die proses van die samestelling van die kanon soos ons dit vandag in die NT (saam met die OT) het.

Continue reading

Onlangse kommentaar