Skip to main content

Tag: hart

Niere en hart staan vir gevoelens en gedagtes in die Bybel

Ek het ‘n navraag gekry oor die betekenis van “niere” in die Bybel.

https://www.etsy.com/ca/listing/247908291/kidney-watercolor-painting-watercolor

Die Hebreeuse woord “kilyāh” word in sy letterlike betekenis vir “niere” gebruik en in sy figuurlike betekenis vir “emosies“, die “inmost and most secret part of man“. Dit word baie keer saam met die Hebreeuse woord “lēḇāḇ” gebruik wat letterlik op die “hart” van ‘n mens dui, maar figuurlik op sy “gedagtes“, of die setel van die “intellek“.

Job gebruik “kilyāh” om die setel van sy diepste verlange uit te druk: “My niere versmag van verlange in my binneste.” (Job 19:27).

Dawid gebruik “kilyāh” en “lēḇāḇ” as ‘n kombinasie vir gevoelens en gedagtes om God se regverdige oordeel diep binne in ‘n mens mee uit te druk: “Laat tog die boosheid van die goddelose mense ’n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!” (Ps 7:10).

So sien ‘n mens dit ook by Asaf in Psalm 73:21. “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was …” toe het hy sy binnekant tot rus gebring voor God wat alles weet en Hom nie in die steek laat, selfs al tree hy soms dom op weens sy gevoelens en gedagtes wat bitter en ontstemd word. God sal Hom selfs dan lei!

Dawid gebruik ook “kilyāh” as hy oor sy gewete praat wat hom in die nag vermaan: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.” (Ps 16:7). En hy is baie bewus dat dit die werk van God self is: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.” (Ps 139:13).

Continue reading

Oor ons gedagtes en gevoelens – Jeremia 17:9-10

http://www.kbgraceforward.com/ 2015/12/deceitful-heart.html

 

The human mind is more deceitful than anything else. It is incurably bad. Who can understand it?” I, the Lord, probe into people’s minds. I examine people’s hearts. I deal with each person according to how he has behaved. I give them what they deserve based on what they have done.” (Jer 17:9-10 – NET Bible)

Jeremia maak hier uitsprake oor die menslike kondisie. Hy gebruik die Hebreeuse woord lēḇ (hart) van die mens in sy figuurlike betekenis in vers 9. Daarom word hart daar met “mind” vertaal. ’n Mens kan dit ook vertaal met “character, disposition, inclination, loyalty, concern”.

In die eerste plek, sê Jeremia dus, is ons gedagtes “meer bedrieglik as enigiets anders“, “deceitful” soos dit in Engels weergegee word. Die woord ʿāqōḇ word in die Hebreeus gebruik. Die prentjie wat hierdie woord na vore roep, is dié van ongelyke, stamperige grond wat ‘n mens telkens onkant vang en laat struikel. Jy kan dus nie staatmaak op die integriteit van ander of selfs jou eie gedagtes nie.

In die tweede plek, sê Jeremia, is ons gedagtes “ongeneeslik sleg“, “incurably bad“. Die woord ānǔš word in Hebreeus gebruik. Die prentjie wat die woord oproep, is dat ons gedagtes aan ‘n ernstige ongeneeslike siekte lei, soos dit van Dawid se kind by Batseba gesê word (2 Sam 12:15). Sommige vertaal die woord daarom as “disastrous”! Ons gedagtes is “rampspoedig”!

Daarom, sê Jeremia, kan geen mens ons gedagtes volledig verstaan nie. Dit is bedrieglik en ongeneeslik sleg, rampspoedig.

Continue reading

1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou

Die tema van gehoorsaamheid onder die konings al dan nie, word voortgesit in hierdie hoofstuk.

Abia, Rehabeam se seun by Maäga, ’n (klein)dogter van Abisalom, word koning in Jerusalem. Abisalom verwys waarskynlik na Absalom (vgl 2 Kron 11:20). Maäga word ook as Migaja aangedui, ‘n wisselvorm van Maäga (2 Kron 13:2). Migaja se pa word daar egter as Uriël aangedui wat waarskynlik beteken dat sy Abisalom se kleindogter was. ’n Interessante idioom word gebruik in die Hebreeuse teks om sy ongehoorsaamheid uit te druk: “sy hart was nie lojaal/volledig/perfek toegewy aan die Here nie”.  Vergelyk dit met die “luisterryke hart” van Salomo (1 Kon 3:9) soos “gehoorsaamheid” in die oorspronklike teks lui.

Die Here seën hom egter ter wille van Dawid.  Soos die geval was met sy pa, is daar oorlog tussen hom en Jerobeam van Israel (lees in 2 Kron 13 hieroor, waar dit blyk dat die Here aangeroep word deur Abia en Hy vir hulle die stryd wen – Kronieke dui Abia se ma aan as Miga).

Sy seun Asa was ’n goeie en gehoorsame koning in Juda wat groot hervormings gebring het.  Hy het die tempelprostitute verban, die afgodsbeelde verwoes, selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder onttroon en haar Asjerabeeld vernietig.  Hoewel die hoogtes nie heeltemal verdwyn het nie, was Asa, volgens die Konings skrywers, sy hele lewe lank getrou aan die Here.  Hy was ook ‘n slim strateeg en hernu ’n ou verbintenis met Ben-Hadad en die Arameërs (Siriërs) in Damaskus in sy oorlog teen Baesa van Israel.

Die Kronieke skrywers (2 Kron 16:7-10) beoordeel dié verbintenis egter uit ’n ander hoek, deurdat die siener Ganani Asa voor stok kry omdat hy nie op God in sy stryd met Israel gesteun het nie, maar op die Arameërs.  Dit was volgens Ganani die rede waarom hy nooit vrede sou ken nie, maar voortdurend in oorlog gewikkel sou wees.  Let op die pragtige belofte wat in Ganani se profesie voorkom:

“Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Ook die terloopse verwysing na die voetkwaal wat Asa opdoen (1 Kon 15:23) word in Kronieke (2 Kron 16:12) gewyt aan sy keuse om dokters te vertrou eerder as die Here.  Twee jaar later is hy oorlede.

Nadab, seun van Jerobeam, was, soos ’n mens nou al verwag, ’n ongehoorsame koning.  Sy kortstondige regering word beëindig deur Baesa wat in ’n veldtog teen die Filistynese stad Gibbeton vir Nadab om die lewe bring.  Dit lei tot ’n familiemoord, waar al die nasate van Jerobeam uitgeroei word, presies soos Agija van Silo voorspel het (dit is ’n ander Agija as Baesa se pa wat ook die naam Agija dra).

1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here

Die verhaal van Salomo word voortgesit met klem op sy wysheid en voorspoed.  ’n Tema wat uiteindelik tot sy afvalligheid aanleiding sou gee, word egter ook aangeraak in hfst. 3, sy huwelik met Farao se dogter.  Salomo was lief vir uitlandse vroue en hulle afgode sou hom verlei om hulle te aanbid.

Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon.  Dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.  Dit is betekenisvol dat dit juis hier is waar die Here in die droom aan Salomo verskyn.

Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa.  Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.

Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

God gee daarmee vir hom die ander goed ook, dié dinge wat hy nie gevra het nie.

Daarna keer hy terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar.

En die wysheid wat God gee is onmiddellik sigbaar met die uitspraak wat hy gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is.  Dit verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het.  Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (4:29-34).  Let op hoe die onderwerpe waaroor hy skrywe ook die aarde en die skoonheid van plant en dier insluit.

Twee van die streekbestuurders was getroud met Salomo se dogters wat sy greep op die administrasie verklaar.

Die beloftes aan Abraham word waar: hfst. 4:20: “Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see.”  Interessant dat van hulle gesê word dat hulle gelukkig was.

Salomo het ’n groot huishouding gehad: 15 ton meel per dag, 30 beeste en 100 skape behalwe die wild en hoenders!

Salomo heers oor die grootste gebied van al die Israeliese konings.  Hy verwesenlik die Abrahamitiese droom om die land te besit van Dan tot Berseba.  Die ideaal van “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (4:25) word bereik en bly ook die ideaal waaraan die profete die toekoms meet.

Onlangse kommentaar