Niere en hart staan vir gevoelens en gedagtes in die Bybel
Ek het ‘n navraag gekry oor die betekenis van “niere” in die Bybel.

Die Hebreeuse woord “kilyāh” word in sy letterlike betekenis vir “niere” gebruik en in sy figuurlike betekenis vir “emosies“, die “inmost and most secret part of man“. Dit word baie keer saam met die Hebreeuse woord “lēḇāḇ” gebruik wat letterlik op die “hart” van ‘n mens dui, maar figuurlik op sy “gedagtes“, of die setel van die “intellek“.
Job gebruik “kilyāh” om die setel van sy diepste verlange uit te druk: “My niere versmag van verlange in my binneste.” (Job 19:27).
Dawid gebruik “kilyāh” en “lēḇāḇ” as ‘n kombinasie vir gevoelens en gedagtes om God se regverdige oordeel diep binne in ‘n mens mee uit te druk: “Laat tog die boosheid van die goddelose mense ’n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!” (Ps 7:10).
So sien ‘n mens dit ook by Asaf in Psalm 73:21. “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was …” toe het hy sy binnekant tot rus gebring voor God wat alles weet en Hom nie in die steek laat, selfs al tree hy soms dom op weens sy gevoelens en gedagtes wat bitter en ontstemd word. God sal Hom selfs dan lei!
Dawid gebruik ook “kilyāh” as hy oor sy gewete praat wat hom in die nag vermaan: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.” (Ps 16:7). En hy is baie bewus dat dit die werk van God self is: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.” (Ps 139:13).