1 Korintiërs 14 – ’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens
Na alles wat Paulus oor die gawes en die liefde gesê het, fokus hy in die hoofstuk op wat in die eredienste moet gebeur en maak basies twee punte: 1) alleen die gawes wat verstaanbaar en opbouend is, moet in die eredienste beoefen word (vers 1-25), en 2) alles moet met ’n sekere mate van orde gebeur (vers 26-40), omdat dit is hoe God Homself aan ons geopenbaar het (vers 33). God se karakter, die liefde, struktureer dus die gebruik van ons gawes in liturgie en die erediens.
Hy brei uitvoerig uit oor die onverstaanbare onsinnigheid van tale in die erediens eerder as die verstaanbare opbouende karakter van profesie, veral ook omdat tale eintlik ’n teken vir die (lidmaat-)ongelowiges is (vgl Jes 28:11-12; Deut 28:49 – God se grootheid is raakgesien in die vreemde taal van die Assiriërs, hoewel dit nie begryp is nie). Nie dat Paulus die gebruik van tale afkraak nie, hy gebruik dit immers self. Maar tale (glossolalie) is bedoel vir die binnekamer en aanbidding, nie soseer vir die eredienste en byeenkomste nie, omdat dit ’n gebedstaal is.
Paulus sal dus eerder 5 woorde met sy verstand wou praat (met ’n openbaring, kennis, profesie of lering) as 1000 woorde in ’n ongewone taal. Dit is die volwasse manier om in eredienste op te tree, wat nie net vir gelowiges iets beteken nie (opbou), maar ook vir ongelowiges of buitestaanders (word aangespreek).
Orde beteken natuurlik nie ’n monoloog deur bv. ’n predikant nie! Dit beteken net dat wanneer die gemeente bymekaar is, en elkeen ’n bydrae het om te lewer, moet hulle mekaar met liefde hanteer en een na die ander optree. Let op hoe wyd die verskeidenheid van bydraes is waarvan Paulus hier praat: ’n psalm, onderwysing, openbaring, sowel as ’n ongewone taal en uitleg daarvan (anders moet die een wat die taal praat stilbly). En daar kan 2 of 3 sprekers van die onderskeie gawes optree.
Ek het reeds oor die vroue geskryf by my bydrae oor hoofstuk 11 – genoeg om hier net te sê dat Paulus die ordelikheid van die byeenkoms in gedagte het – vrouens moet hulle mans by die huis gaan vra en nie die erediens onnodig onderbreek nie – nie dat vroue nie mag optree nie.
Onlangse kommentaar