Skip to main content

Tag: Bid die Psalms

Psalm 119:97-104

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die dertiende deel van hierdie Psalm verklaar die Psalmis sy liefde vir die hele openbaring van God – wet, gebooie, waarskuwings, bevele, woord (dâbâr), bepalings, woorde (‘imrâh) – sewe van die woorde wat daarvoor in die Psalm gebruik word. Let op dat die Psalmis hier niks vra van die Here nie, net fokus op sy eie besig wees met God se openbaring.

Bid die Psalm

“Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad.” NLV

Boodskap en betekenis

In die eerste vier verse wissel hy telkens sy eie fokus op die openbaring van God af met die effek wat dit in sy lewe het:

  • Sy liefde vir die wet – die hele dag dink hy daaroor na, dit bly hom elke oomblik by.
  • Die wysheid van God se gebooie – dit is altyd daar vir hom.
  • Die verstandigheid van God se waarskuwings – dit is beter as al sy leermeesters en bly vir hom stof tot nadenke; hy munt selfs uit bó sy leermeesters weens die krag van God se bepalings.
  • Sy gehoorsaamheid aan God se bevele gee hom selfs meer insig as oumense.

In die laaste vier verse verklaar hy sy gehoorsaamheid aan God se openbaring en die wederkerige effek wat dit nie net op sy lewe het nie, maar veral op sy begrip en insig in wat God wil.

  • Sy gehoorsaamheid sluit in dat hy sy voete van verkeerde paaie weerhou, sodat hy God se woord kan onderhou.
  • Hy wyk nie af van God se bepalings nie, want dit is na alles dié beslissings wat hom onderrig.
  • God se woorde en beloftes is vir hom soeter as heuning.
  • Hy haat elke bedrieglike verkeerde pad, want dit kan God se opdragte waardeur hy insig kry, verduister.

Die Psalmis help ons hier om te verstaan dat insig nie net kom deur verklaring nie, maar veral deur God se wil te begin doen. Insig kom wanneer ‘n mens gehoorsaamheid aan God se wil begin beoefen. Soos ek baie keer sê, die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Dit is dán wat ons God regtig leer ken en ons die pad wat Hy vir ons het, kan onderskei.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:89-96

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis verwonder hom in die twaalfde deel van die Psalm oor die blywende waarde van die openbaring van God: “U woord, Here, is vir altyd, dit staan vas in die hemel.” Daar is ‘n permanensie en betroubaarheid aan God se woorde wat nie net in die geskape werklikheid van die hemel en die aarde raakgesien kan word nie (Ps. 119:89), maar ook in die durende en blywende effek wat sy woord – geskrewe en ongeskrewe – in die geskiedenis het, van geslag tot geslag (Ps. 119:91). God se skeppingswoord bevestig die blywende waarde van sy openbaringswoord. God se woorde gaan daarom nooit uit die mode nie, die vreugde daarvan bly van krag selfs in die grootste ellende en swaarkry wat ons kan beleef. Dit hoef nooit opgedateer te word nie. Dit is genoeg vir elke situasie wat mag ontstaan. Daarom kan ‘n mens daarop staatmaak. Dit maak jou nie net lewend nie (Ps. 119:93), maar dit hou jou in die lewe, anders sou ‘n mens se ellende vir jou te veel geword het. Soos Peterson vertaal: “If your revelation hadn’t delighted me so, I would have given up when the hard times came.” (The Message) Daarom is dit só belangrik om jou hele lewe om God se woorde te laat draai. Trouens, die Psalmis sê: “Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe.” Hy weet sy eie voortbestaan hang van dié woorde van God af. In die permanensie van God se woorde vind die Psalmis sy eie permanensie! Want dit is die realiteit van God se openbaring. Soos die laaste reël van vers 96 sê: “u gebooie ken geen grense nie”. Dit bedoel dat die diepte en wydte van God se openbaring nooit volledig ondersoek en begryp kan word nie. Dit is dieselfde as wat van sy liefde gesê word, dat dit onbegrens is. Daar is altyd nóg ‘n kant daarvan wat vir die Psalmis oopgaan en sy vreugde in en verbintenis aan God se woorde verdiep.

Bid die Psalm

“U woord, Here, is vir altyd, dit staan vas in die hemel. U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas. U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars. As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende. Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe. Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele. Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag. Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Jeremia het dieselfde gedagtes in sy Klaagliedere opgeteken oor God se liefde. Juis toe hy in die ballingskap gedink het dit is klaar met hulle en met hulle hoop op die Here, het die besef gekom: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie. Daar het ’n oorblyfsel gebly. Wat vir Jeremia beteken het: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” Dié woorde het Robert Davidson geïnspireer tot die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” Daarteenoor staan al die ander dinge op aarde, selfs waar dié dinge wonderlik is, selfs volmaak is. Alles het ‘n grens, net God se openbaring nie. Trouens, al dié dinge in hemel en op aarde is God se diensknegte. Hulle voer sy besluite en bepalings uit, bring sy openbaring tot hulle volle verwerkliking. Daarom kan ‘n mens op God se woorde staatmaak, al kan ons nie dieselfde sê van enige ander ding wat bestaan nie, hoe volmaak ook al.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:81-88

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die elfde deel van die Psalm fokus op die dilemma van gelowiges wat in ‘n situasie van vervolging wag op ‘n woord van die Here of die vervulling daarvan. Hy beskryf die inhoud van die verlange op verskillende wyses: ‘n woord van redding (Ps. 119:81), ‘n woord van troos (Ps. 119:82), ‘n woord van straf vir sy agtervolgers (Ps. 119:84), ‘n woord van hulp (Ps. 119:86 –“Help my!”), en ‘n woord van lewe (Ps. 119:88). ‘n Mens kan sy verlange met een woord opsom: “Wanneer?!” Sy hele wese smag na die verlossende en vertroostende woord van die Here. “Hoe lank moet u dienaar wag?” Hy druk sy stryd uit met die ongelooflike sprekende metafoor van ‘n wynsak in die rook. Dit het verskrompel van die lang blootstelling aan rook. Dit kan selfs wees dat hy hier eintlik van ‘n skoorsteen van dierevel praat wat amper onbruikbaar begin raak van al die blootstelling aan die rook en hitte van die vuur. Tóg het hy die voorskrifte van die Here nie vergeet nie. Tóg het hy die Here se opdragte nie verontagsaam nie. Daarom het hy die vrymoedigheid om met verwagting die Here te smeek om uitkoms, want dit is uiteindelik al wat hy met sy lewe wil doen: om die waarskuwings uit God se mond na te kom.

Bid die Psalm

“Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord. Ek ooreis my oë om te sien wanneer u beloftes waar word, en vra: “Wanneer sal U my vertroos?” Ek het verskrompel soos ’n wynsak in rook, maar ek vergeet nie u voorskrifte nie. Hoe lank moet u dienaar wag? Wanneer straf U my agtervolgers? Hierdie verwaande mense wat nie leef volgens u gebooie nie, het vir my vanggate gegrawe. Al u gebooie is betroubaar. Help my, want hulle vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar ek het geweier om af te sien van u bevele. Op grond van u troue liefde, spaar tog my lewe sodat ek kan voortgaan om u waarskuwings te gehoorsaam.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe die Psalmis se verwagting en verlange na verlossing nie soseer gemik is op die een of ander voordeel wat hyself daaruit sal put nie, maar om in staat gestel te word om al meer te kan beantwoord aan sy lewensdoel, om absoluut nougeset te doen wat die Here hom wys. Dit is na alles wat Psalm 119 in hoofsaak sê die doel van die lewe is: “Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.” En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus wat hierdie ongelooflike ding gesê het van sy eie lewensbegeerte: “Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” (Joh. 5:19) Hierdie gedeelte van die Psalm laat my diep dink oor my eie gehegtheid aan die woord van die Here. Nie net om my gedrag daardeur te laat bepaal in die algemeen nie (bv. die dubbele liefdesgebod, en die vrug van die Gees), maar om baie meer te fokus op die daaglikse woorde van die Here in my stiltetyd, en dit met alles in my na te kom.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:73-80

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die tiende deel van die Psalm is ryk aan betekenis. Om die waarheid te sê, daar is verskillende vertalings moontlik by ‘n hele paar woorde wat verskillende dimensies van die betekenis van die Psalm na vore bring. Die eerste interessante veelvlakkige betekenis is in vers 73 waar die Psalmis sê: “U hande het my gemaak, my gevorm.” (1983-vertaling – “toeberei” in 1933-vertaling). Die laaste woord (kûn in Hebreeus) kan egter ook vertaal word in die betekenis van: “aan my ‘n plek gee” (2020-vertaling) of in die sin van “vestig” of “bevestig” (“establish” – LEB). Dit beteken dat die eerste deel van dié vers God se skeppende werk in ons geboorte bevestig, sowel as sy voortgaande werk in terme van ons “vorming”, “bevestiging” en selfs die “plek” wat Hy vir ons in die lewe gee. Maar, dit is nie al nie. Ná dié belydenis van God se skeppende en vormende werk in sy lewe, bid die Psalmis dan in die tweede plek: “Gee my tog insig om u gebooie te verstaan.” Hy wil as’t ware voltooi word, meer insig in God se wil bekom, sodat sy lewe op alle vlakke aan God se visie vir hom kan beantwoord. Peterson koppel dit aan ‘n begrip ook van God self in sy vertaling: “now breathe your wisdom over me so I can understand you.” (The Message). God se kreatiewe werk in ons word dus voortgesit deur ‘n al hoe beter begrip en bemeestering van sy wil, soos uitgedruk in sy bevele (mizwôt – “commandments”). En die effek daarvan is nie net ‘n al hoe meer volwasse moreel-etiese persoonlike lewe vir die Psalmis nie, maar ook ‘n publieke getuienis aan die geloofsgemeenskap.

Bid die Psalm

“U hande het my gemaak, my gevorm. Gee my tog insig om u gebooie te verstaan. U dienaars sal my sien en bly wees, want op u woord hoop ek. Ek weet, Here, u bepalings is reg; op grond van u trou bestraf U my. Laat u troue liefde my nou vertroos soos U aan u dienaar beloof het. Laat u medelye my oordek sodat ek kan lewe, want u gebooie is my vreugde. Laat die verwaandes in skande kom omdat hulle my vals beskuldig; maar ek sal u bevele oordink. Laat u dienaars terugkom na my toe, hulle wat u voorskrifte ken. Mag ek onberispelik wees in die uitleef van u gebooie; dan hoef ek nooit beskaam te wees nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Elkeen wat die Here dien, kan moed skep uit die feit dat ook die Psalmis se insig deur God self gevorm word, dat dit sigbaar is, en dat dit van groei getuig. Die sigbare groei steek die hoop by die geloofsgemeenskap aan dat dit ook vir hulle waar kan wees. Soos Paulus veel later vir Timoteus sou sê: “Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees … Want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.” (1 Tim. 4:15-16). Die getuieniskrag van sy lewe laat die Psalmis dus anders kyk na die Here se beslissings. Dit hou vier aspekte in:

  1. Hy erken God se beslissings omdat dit sy getuienis vorm. Hy weet God is regverdig, en as daar vir hom vernedering langs die pad is, gebeur dit nie buite-om God se getrouheid nie. Om die waarheid te sê, swaarkry is deel van God se getrouheid. Nie net bewaar Hy ons daarin nie – of dit nou weens ons eie skuld of die skuld van ander is. God gebruik dit as deel van ons getuienis aan die geloofsgemeenskap wat ander laat moed skep om hulle eie pad na volwassenheid met die Here te loop. Dié erkenning is lewensnoodsaaklik vir groei in jou lewe.
  2. Hy bid vir konkrete bewyse van God se troue liefde. Hy bid dat die troue liefde van die Here steeds vir hom tot ‘n troos sal wees, in antwoord op die beloftes van die Here in dié verband. Trouens hy wil God se ontferming konkreet in sy lewe ervaar, sodat sy vreugde in die wet geëggo kan word in sy lewensvreugde, veral omdat die vermeteles en hovaardiges hom veronreg met leuens terwyl hy probeer om sy lewe in te rig volgens sy verdieping in God se woorde. Ons mag dus hiervoor vra.
  3. Hy bid ook dat die Here vir hom mense sal gee om hom te ondersteun.Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.” Die geloofsgemeenskap is van onskatbare waarde in ‘n volhardende geestelike lewe.
  4. Hy bid dat die Here self in sy lewe, veral sy hart, sal werk. Dit is die belangrikste van alles. Hy bid dat die Here self sal keer dat hy beskaam word in sy lojaliteit aan God: “Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou.

Inderdaad – my gebed ook vir myself vir hierdie dag.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:65-72

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die negende deel van dié Psalm fokus op God se goedheid (tôv). Nie net IS God goed nie, maar DOEN Hy net wat goed is. En dit is van dié God wat die Psalmis onderrig wil ontvang, omdat God se woorde, bevele, voorskrifte, opdragte, wet, en onderrig soortgelyk goed sal wees – weereens ses van die agt woorde vir God se openbaring in die Psalm. Na alles, dit is dinge wat van God self af kom: “Die gebooie uit u mond is vir my meer waardevol as baie goud en silwer.

Bid die Psalm

“U het aan my goedgedoen, Here, net soos U belowe het. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie. Voor ek gely het, het ek telkens afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord. U is goed en doen net wat goed is; leer my u voorskrifte. Verwaande mense het leuens oor my verkondig, maar ek sal u bevele met my hele hart uitleef. Hulle harte is afgestomp en koud, maar ek verlustig my in u gebooie. Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer. Die gebooie uit u mond is vir my meer waardevol as baie goud en silwer.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis fokus op twee funksies van God se onderrig. Die een is te vinde in God se woorde, die ander in ervarings in die lewe wat deur God gebruik word. Aan die een kant prys hy die Here vir die positiewe funksie van God se “goeie woorde”. Dit leer hom onderskei wat die pad van die Here is, en wat nie. Die frase in vers 66: “Goeie oordeel” (NLV en 2020-vertaling) of: “goeie insig” (1983-vertaling) vertaal die letterlike Hebreeuse frase: “goeie smaak” wat hier figuurlik gebruik word in ‘n moreel-etiese sin. In Engels word dit weergegee as “proper discernment” (NET Bible) of “good judgement” (NIV). Dit is wat God se woord hom leer, om goeie moreel-etiese besluite te kan neem. Maar daar is aan die ander kant ook ‘n tweede funksie van God se onderrig in sy lewe, ‘n negatiewe dissiplinêre funksie wat in ervarings van: “vernedering, swaarkry of verdrukking” geleer word. Die Palmis gebruik die Hebreeuse woord ânâh (Ps. 119:67, 71) om sy ervaring te beskryf. Dié woord kan op verskillende wyses vertaal word, soos ‘n vergelyking in net ‘n paar van die Afrikaanse vertalings wys: “lyding” (NLV), “verdruk” (1933-vertaling), “swaarkry” (1983-vertaling), en “verneder” (2020-vertaling). In Engels word dit gewoonlik vertaal met: “afflicted” (NET Bible, NIV, KJV), asook ‘n keer of wat met “humbled” (NRSV) wat ooreenkom met die 2020-vertaling. Wat die negatiewe ervaring presies in die Psalmis se geval beteken het, word nie uitgespel nie. Dit is egter duidelik dat die ervaring van vernedering, swaarkry of verdrukking hom van sy dwaalweë teruggebring het om God se woorde en beloftes na waarde te skat. Hy kan daarom sê: “Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer.” Die pynlike situasie waaraan hy blootgestel is, het dus die funksie van ‘n dissiplinêre aksie in sy lewe gehad. Hy kon daaruit leer, en tot inkeer kom. Dit laat ‘n mens besef dat elke woord uit God se mond belangrik is in ons onderskeiding van wat goed is en wat nie. Netso is elke ervaring waaraan ons blootgestel is belangrik om in die praktyk van die lewe te leer hoe ons die pad met God moet loop. En dit lyk asof dit veral die negatiewe en swaarkry ervarings is wat die Here in ons lewe gebruik. Wat ons motiveer en inspireer op dié pad is die feit dat God goed is en goed doen! Paulus sê nie verniet in Romeine 8:28: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” Lees gerus die verdere verse in Romeine 8 wat die implikasies hiervan uitspel. Psalm 119:68 is daarom vandag vir my ‘n helder woord wat ‘n nuwe Bybelse begronding gee vir een van my lewensmotto’s. Dit is Richard Niebuhr (The Responsible Self) se stelling: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions as a response to his action.” En ek besef nou, ek kan daarvolgens lewe, ómdat God goed is en goed doen. Daarom kan ek, soos die Psalmis, hom vra om my sy voorskrifte te leer, en kan ek dit van harte navolg.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…