Skip to main content

Tag: 2 Petrus

2 Petrus 3 – Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van Jesus Christus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasDie vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars. Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord.

In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.

Hy behandel dit as volg:

  • Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms – 3:1-4
  • Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis – 3:5-7
  • Spotters ignoreer God se tydsberekening – 3:8-10
  • Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde – 3:11-16
  • Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie – 3:17-18

Hy sluit sy brief af met ‘n enkele vers wat die interessante verwysing het na God aan wie die heerlikheid behoort: “nou en ook tot op die dag van die ewigheid.” ‘n Manier om op nóg ‘n wyse uit te spel dat die dag van die Here oneindig lank is.

Continue reading

2 Petrus 2 – Wees versigtig vir vals profete en leraars

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus is baie bewus van die feit dat die evangelie bedreig word deur dwaalleraars. Dit is natuurlik nie iets nuuts nie, maar iets wat al dateer uit die OT tydvak waar daar ook telkens vals profete opgetree het en baie gelowiges mislei is (vgl. bv. Jeremia in sy stryd met die vals profete: Jeremia 23 – Ellende wag vir julle leiers). Die dwaalleraars sal dus ‘n groot uitdaging vir die geloofsgemeenskap wees. Die gelowiges sal net: “met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Petrus waarsku hulle reeds in die eerste drie verse om op die uitkyk te wees vir vier kenmerke van die dwaalleraars se leer en lewe – verloëning van die Here Jesus, allerlei losbandighede, hebsug, en ‘n gebrek aan Skrifgesag: “versinde argumente”.

Hy behandel dié vier kenmerke dan agtereenvolgens in die res van die hoofstuk:

  1. Verloëning in vers 4-9, waarin hy ook die losbandigheid daarvan beklemtoon soos in die verlede geïllustreer in die tyd van Noag en Lot;
  2. Losbandigheid in vers 10-14, waarin hy die losbandigheid van die hede uitlig;
  3. Hebsug in vers 15-16, waarin hy weer teruggryp na ‘n voorbeeld uit die verlede om sy punt te illustreer, Bileam;
  4. Gebrek aan Skrifgesag in vers 17-22, geïllustreer in hulle afwyking: “van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is”.

As die geloofsgemeenskap dié vier kenmerke in gedagte hou, sal dit hulle help om weerstand te bied teen die dwaalleraars.

Petrus gebruik dus bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens drie OT temas (Vloedverhaal, Lot en Sodom en Gomorra, Bileam), kan herken (Judas het ook dié temas, maar verwys ook nog na die temas van die Eksodus, Kain en Korag) om sy punt te maak. ‘n Mens kan ook ‘n verskuilde verwysing na die pseudepigrafiese werk Hemelvaart van Moses in vers 11 agterkom waar Petrus verwys na die engele wat nie sover gegaan het om ‘n “klag van laster voor die Here in (te) bring” nie, wat waarskynlik verwys na die stryd tussen Migael en die duiwel. Judas verwys heel eksplisiet daarna (vers 9) asook na ‘n tema uit ‘n ander pseudepigrafiese werk Henog 1 (vers 14-15).

Pseudepigrafiese werke is Joodse werke uit dié tyd wat toegeskryf is aan historiese persoonlikhede om daaraan gesag te verleen, maar nie deur hulle geskryf is nie. Die woord pseudepigrafies beteken letterlik “valse geskrifte”, wat egter nie beteken dat die inhoud vals is nie, maar dat die titel daarvan misleidend is.

Continue reading

2 Petrus 1 – Lê julle daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus begin sy brief in vers 1 met ‘n baie belangrike beskrywing van homself – dienskneg en apostel – waarna hy twee belangrike temas van die inhoud van sy brief aankondig. Hy skryf eerstens oor die kosbare geloof wat hulle van die Here ontvang het en tweedens oor die feit dat hulle in hulle kennis van Hom moet toeneem – vers 2. Dit is die boustene van ware geestelike groei wat hulle in staat stel om aan die ware evangelie vas te hou.

  • Hy behandel vervolgens die tweede bousteen – kennis – eerste en moedig hulle aan om hulle te beywer om geestelik te groei – vers 3-15.
  • Hy behandel die eerste bousteen – geloof – tweede en bevestig op drie maniere dat die geloofsinhoud wat hulle van die Here Jesus Christus ontvang het, betroubaar is. Dit is betroubaar vanweë die kragtige teenwoordigheid van die Here Jesus (2 Pet. 1:16), vanweë Petrus se eie ooggetuie ervaring daarvan (2 Pet. 1:17-18), en vanweë die getuienis van die Skrifte, onder leiding van die Heilige Gees (2 Pet. 1:19-20) – vers 16-21.

Continue reading

2 Petrus – Hou vas aan die ware evangelie

Inleiding op 2 Petrus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasAfskeidsboodskap van Petrus

Hierdie brief is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Betinië (1 Pet. 1:1), hoewel Petrus hulle nie eksplisiet in die brief noem nie. Dit lei ons af uit die feit dat Petrus wel sê dat dit die tweede brief is wat hy aan hierdie “geliefdes” rig (2 Pet. 3:1). Dit dateer dus ook uit die vroeë tot middel sestigjare van die eerste eeu n.C., en is ook waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Uitdaging van dwaalleraars

Waar die eerste brief gerig is aan hierdie gelowiges om hulle te bemoedig om standvastig in geloof te bly, midde in intimidasie, vervolging en “allerhande beproewings”, word die tweede brief aan hulle gerig om die uitdaging van dwaalleraars die hoof te bied. Petrus is baie bewus van die feit dat die geloofsgemeenskap net: “met moeite (sal) ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Hy waarsku hulle dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken (2 Pet. 3:4). Hierdie ketterye was waarskynlik die voorlopers van die Gnostiese leringe wat ‘n onderskeid tussen die gees en liggaam gemaak het, en geleer het dat losbandigheid aanvaarbaar is, omdat dit volgens hulle nie jou gees kan besoedel nie.

Petrus wys die hebsug uit waarmee hulle die geloofsgemeenskap vir eie gewin sal uitbuit (2 Pet. 2:3,14), sowel as die verdraaidheid van hulle argumente deur veral op die regte interpretasie van die Skrif en hulle eie geloofstradisie klem te lê in hfst. 2, ‘n hoofstuk wat groot ooreenkomste toon met die brief van Judas.

Hou vas aan die ware evangelie

Petrus wil hulle daarmee aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.

Hy wil daarom met hierdie tweede brief hulle geheue verfris (2 Pet. 1:12) en hulle denke verhelder (2 Pet. 3:1), sodat hulle met die oog op die wederkoms van die Here Jesus Christus op hulle hoede kan wees vir hierdie beginsellose dwaalleraars en nie die gevaar loop om hulle standvastigheid te verloor nie (2 Pet. 3:17), ‘n tema waaroor hy uitvoerig in sy eerste brief aan hulle geskryf het.

Continue reading

Onlangse kommentaar