LUKAS 2:41-52 – Die seun Jesus verstom almal met sy insig en antwoorde in die tempel
Ons sluit ons leeswerk van Jesus se geboorte en kinderjare af met die laaste verhaal wat vir ons opgeteken is van Jesus voor Hy met sy bediening begin het. Dankie vir die saamlees! Môre begin ons met die reeks: Bid die Psalms 2026.
Die volgende gebeure vind plaas wanneer Jesus 12 jaar oud is, dws ongeveer 7 nC (onthou daar is nie ‘n jaar zero nie). Jesus gaan vir die Paasfees na Jerusalem soos hulle familie se gewoonte was. Dit is immers wat die wet gevra het dat die Paasfees in Jerusalem gevier word (Deut 16).
Jesus was dus al ‘n hele paar keer daar. Dit is ongeveer Jesus se tiende keer wat Hy die Paasfees in Jerusalem vier as ‘n mens die versigtigheid vir Herodes, en die gevolglike tyd in Egipte in ag neem. Hulle het uiteraard die Paasfees wel by die huis gevier, soos dit van gelowiges verwag is as hulle nie in Jerusalem kon uitkom nie (vgl Eks 12-13 waar die eerste Paasfees in die woestyn gehou is).
41En sy ouers was gewoond om elke jaar na Jerusalem toe te gaan vir die Paasfees.
42En toe Hy twaalf jaar geword het, het hulle weer opgegaan volgens die gebruik van die fees,
43en nadat hulle die feesdae daar deurgebring het, en terwyl hulle teruggekeer het, het die Seun Jesus agtergebly in Jerusalem, maar sy ouers het dit nie geweet nie.
44En omdat hulle gedink het dat Hy onder die groep reisigers was, het hulle ’n dagreis ver gegaan, en het Hom toe begin soek onder die familie en bekendes,
45en toe hulle Hom nie kry nie, het hulle na Jerusalem teruggekeer op soek na Hom.
46En dit het gebeur na drie dae dat hulle Hom gekry het in die tempel waar Hy tussen die leraars sit, besig om na hulle te luister en hulle vrae te vra.
47En almal wat Hom gehoor het, was verstom oor sy insig en antwoorde.
48En toe hulle Hom sien, was hulle stomgeslaan, en sy moeder het vir Hom gesê: “Kind, hoekom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek was vreeslik bekommerd en het jou gesoek.”
49Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is dit dat julle na My gesoek het? Het julle nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
50En hulle het nie die woord verstaan wat Hy vir hulle gesê het nie.
51En Hy het afgegaan saam met hulle en by Nasaret gekom. En Hy was onderdanig aan hulle. En sy moeder het al die gebeure in haar hart bewaar.
52En Jesus het toegeneem in wysheid en liggaamsgrootte en in guns by God en die mense.
Teks en konteks
2:41-42 Die feit dat hierdie paasfees uitgelig word, het waarskynlik te make met die feit dat Jesus 12 jaar oud is, die ouderdom waarop die kinders se “kategese” by die sinagoges afgehandel is en hulle ‘n “seun van die wet” geword het. Dit is wat Bar Mitzvah beteken, soos ons die seremonie vandag nog ken in die Joodse wêreld.
Joodse dogters het op daardie ouderdom die Bat Mitzvah en seuns die Bar Mitzvah afgelê. Hulle het daarna bekend gestaan as ‘n “dogter van die wet” of ‘n “seun van die wet”. Want hulle het die wet van God amper uit hulle kop geken. Hulle het geweet hoe God wil hê dat hulle moet lewe.
Jesus het dus waarskynlik al die grootste deel van die OT deurgelees en bestudeer, met ‘n fokus op die Pentateug, sodat Hy belydenis van geloof kon aflê.
Dit tref ‘n mens dat Jesus se verbintenis aan die Paasfees, en die feit dat Hy uiteindelik as die Paaslam op Paasfees geslag (gekruisig) sou word, begin het by sy ouers se gereelde bywoning daarvan van sy jeug af.
2:43-50 Sy ouers kon egter nie die kloutjie by die oor kry toe Hy agterbly in die tempel, in die huis van sy Vader, om met die geleerdes te praat nie. Let op hoe Hy beide na die leraars (didaskalos – die enigste plek waar Lukas die woord in sy evangelie gebruik) luister en hulle uitvra, as dat Hy vir hulle antwoorde met insig gee. En let ook op dat Hy nou al God sy Vader noem, en nie sy pa, Josef nie!
2:51-52 Tog eer Jesus sy ouers en gaan saam met hulle terug. Hy kom die vyfde gebod na om sy ouers te eer, ‘n wet waaroor hy uiteindelik skerp sou verskil met die Fariseërs, omdat hulle mondelinge tradisie juis dié gebod ontkrag het (Mark 7:11).
Geen wonder dat Jesus in guns by God en die mense toegeneem het nie. Hulle kon sien dat Hy God eer en gehoorsaam, sowel as sy ouers eerbiedig.
Betekenis en boodskap
- ‘n Mens sien hier hoe Jesus sy liefde vir en gehoorsaamheid aan God uitleef deur tyd te spandeer in God se teenwoordigheid in die tempel. Soos ‘n Dawid van ouds sien ‘n mens die verlange na God by Jesus soos verwoord in daardie Psalm vir alle seisoene van die lewe: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.” (Ps 23:6)
- ‘n Mens sien egter ook hoe Jesus doelbewus gehoorsaam is aan die tweede tafel van die wet, die liefde vir die naaste, wat voorrang gee aan die eerbied vir ouers (5de). Die liefde vir ouers is immers die vertrekpunt vir die liefde vir die naaste vóór daar oor die eerbied vir die lewe (6de), vir die huwelik (7de), vir die goed van ander (8ste), vir die waarheid (9de), of vir enigiets anders van jou naaste gepraat word (10de).
- Jesus vra dus nie van ons enigiets anders as wat Hyself geleef het nie. Liefde vir God. Liefde vir jou naaste.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

Onlangse kommentaar