LUKAS 2:39-40 – Josef-hulle gaan woon in Nasaret en die genade van God was op die Kind
Lukas vertel nie vir ons van die tyd wat Josef-hulle in Egipte deurgebring het nie, en fokus slegs op die feit dat die gesin na hulle oorspronklike dorp, Nasaret, terugkeer. Hy sluit wel die verhaal van die besoek aan die tempel met Paasfees in toe Jesus twaalf jaar oud was. Hy wil daarmee fokus op die hele gesin se nakoming van die wet en die geestelike groei wat daar by Jesus kom en wat deur almal erken word, ook deur die leraars in die tempel.
39En toe hulle alles afgehandel het wat die wet van die Heer vereis, het hulle teruggekeer na Galilea, na hulle eie dorp Nasaret.
40En die Kind het gegroei en sterk geword en was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.
Teks en konteks
2:39 Soos dit die geval was met Elisabet en Sagaria word Josef en Maria beskryf as mense wat die wet van die Here gehoorsaam het. Dit staan uit van die belangrikste rolspelers in die eerste verhale van die evangelies.
2:40 Lukas sluit met ‘n betekenisvolle opmerking oor Jesus se kinderdae. Hy het soos elke ander kind gegroei en sterk geword, maar was ook anders as ander kinders, vol wysheid, en almal kon sien dat die genade van God op Hom was. Hy was dus volledig mens, maar daar was iets oor Hom wat ook anders was. Mettertyd sou dié andersheid al hoe duideliker met God self verbind word.
Jesus se kinderjare
Hoewel Lukas nie vir ons vertel van die verdere verloop van Jesus se opvoeding vóór Hy 12 jaar oud is nie, weet ons dat in hierdie tyd kinders skool gegaan het by die sinagoge. Daar het Jesus geleer om te lees, en skryf en somme te maak. En veral om die Bybel te lees.
Daar was so 25 kinders in ‘n klas. As daar meer kinders was, het hulle ‘n assistent aangestel, sodat die kinders goeie onderrig kon kry.
Vandat Jesus waarskynlik ongeveer vyf jaar oud was, het Hy elke dag, Sondag tot Vrydag skool gegaan. Elke middag het sy pa of ma Hom waarskynlik kom haal en dan het Jesus die middag saam met sy pa in sy werkswinkel of waar hy ook al huise gebou het, gehelp. Sy pa was immers ‘n bouer of timmerman.
Betekenis en boodskap
- Twee perspektiewe staan uit in dié kort gedeelte: gehoorsaamheid en genade. Jesus se ouers was gehoorsaam aan wat God in die wet van hulle gevra het. God se genade het op die Kind gerus en Hom liggaamlik en geestelik laat groei.
- Dit is hoe hemel en aarde ontmoet. Dit is hoe ons in God se teenwoordigheid leef. Gehoorsaam. In sy genade. Die een kan nie sonder die ander nie.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare
Onlangse kommentaar