Josua 1:1-9 – God praat deur sy Woord
Preek vir 16 Januarie 2011 18:30 by Klema in Somerstrand
Terwyl ek Maandag stil geraak het en dink oor wat die Here vir ons almal wil sê vanaand, het die verhaal van Josua by my opgekom. Ek vermoed dit het iets te doene gehad met my gesprek met Jaco net daarvoor, toe hy vertel het hoe hy en Karlien gesels het oor die verhaal van Barnabas, waaroor ek verlede week gepreek het. In ons gesprek het ek toe die verhaal van Josua aangeroer, omdat daar nogal baie ooreenkomste is in die mentor verhoudinge van Barnabas met Johannes Markus en Moses met Josua … en dit het my bygebly toe ek in die kantoor langsaan voor die Here stil geraak het.
Dit het natuurlik óók te make met die ongelooflike waarheid wat ek in die lewe van Josua raakgesien het toe ek besig was in die Bybelskool met die Pentateug, die eerste 5 boeke van die Bybel. En dit is dat daar ‘n baie besondere verskuiwing in die manier waarop God met mense werk in die lewe van Josua gekom het.
Kom ons lees Josua 1:1-9
Voor Josua het God op baie maniere met mense gepraat
- direk met die oermense: Adam, Eva, Abel, Kain en Noag ook met natuurtekens, soos die reënboog, en deur engele;
- steeds direk met die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob, sowel as deur gesigte en engele en dan uiteindelik veral deur drome met Josef.
- Wanneer Moses op die toneel verskyn, sien ‘n mens aan die eenkant hoe God in die natuur praat, die braambos wat brand in die woestyn, die plae wat die Here stuur in Egipte en die donderslae op die berg Sinai wat die gawe van die wet begelei, maar aan die ander kant is daar ook ‘n persoonlike kant waar Moses letterlik so naby aan God kom dat hy toegelaat word om God van agter te sien.
In Eksodus 33 word hulle gemeenskap met mekaar as volg beskryf: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.” (vers 11).
Maar met Josua kom daar ‘n verskuiwing.
Ons tref Josua vir die eerste keer aan in Eksodus 17:8-16 in die geveg teen die Amelekiete. En die konflik tussen Amalek en Israel sou baie jare voortduur. Selfs in die verhaal van Ester sou dit nog ’n rol speel – Haman wat die Jode wou uitmoor, was ’n Amalekiet.
Sommige geleerdes dink dat hier ’n dispuut oor “die water uit die rots” by Refidim ontstaan het. Moses het daar met die kierie in opdrag van die Here op ’n rots geslaan waaruit daar toe water uitgeloop het. Amalek wil dié wonderwater vir hulleself inpalm. Moses kies dan vir Josua om ’n weermag saam te stel om die bedreiging van die Amelekiete af te weer. Julle sal miskien die verhaal onthou uit die prentjie van Aäron en Hur wat Moses se arms omhoog gehou het waarmee op ’n bonatuurlike wyse Josua se oorwinning bepaal is.
Maar dan is daar hierdie wonderlike ding wat in vers 14 gesê word: “die Here het vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.”!
Hierdie geskrif was die begin van wat die Bybel as die woorde van Moses aan ons bekendstel – en dit word hier baie spesifiek en in die eerste plek deur die Here aan Josua gerig.
En daarmee is die patroon vir Josua vasgestel, waarop Josua 1 voortborduur. God praat op baie maniere – selfs met Josua – maar die manier wat God begin verkies, is om deur die geskrewe Woord te praat.
Josua probeer ook op ander maniere na God luister
Die volgende plek waar ons van Josua lees is in Eksodus 24:1-18 waar Josua, – hy word as Moses se “assistent” beskryf (:13) – saam met Moses verder op teen die berg op bevel van God gaan, terwyl die volk agterbly onder Aäron se leierskap. Nou ons lees nie veel oor Josua se rol in hierdie ongelooflike gebeurtenis nie. Maar dat hy baie geïnteresseerd was in wat daar gebeur, kan ons sonder twyfel aanvaar. Maar, hy word nie in die gesprek met God ingesluit nie. Aan die einde van hierdie 40 dae op die berg tref ons Josua wel aan in gesprek met Moses, moontlik met die terugkeer na die kamp, maar sonder dat dit lyk asof God ook met hom gepraat het (32:17).
Hierna lyk dit asof Josua Moses nie onder sy oë laat uitgaan nie, en deurentyd naby aan Moses probeer bly, aan die een kant natuurlik om te leer van Moses, maar aan die ander kant moontlik ook om dieselfde ervarings met God te hê as wat Moses gehad het. Ons lees bv in Eksodus 33:7-23 – van verskillende ontmoetinge wat Moses met God in die tent van ontmoeting gehad het. En dan lees ons hierdie interessante mededeling.
Na die verskyning van God aan Moses, is Moses terug kamp toe, “maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.” (:11) Josua het dus alles probeer om in die teenwoordigheid van God te bly, of ten minste so na as moontlik daaraan te kom. Tog het dit nie met hom gebeur nie op dieselfde wyse as met Moses nie.
En so verloop sy verhaal deurgaans. Hy is ’n uitnemende ontwikkelende leier, waarvan sy rol in die storie van die mislukte eerste Intog uitstaan – Numeri 13-15 – waar hy saam met Kaleb, anders as die ander 10 verkenners, gedink het hulle het ’n goeie kans om die land in te neem – met God aan hulle kant – hoewel dit hom die gramskap van die ander verkenners en die volk op die hals haal. En ons weet sy stem het hier ongelukkig nog nie genoeg gewig gedra nie en die volk moes uiteindelik 40 jaar rondtrek in die woestyn.
God praat deur Sy Woord
En hier in Josua 1 tref ons Josua uiteindelik aan as die leier van die volk, wat deur Moses aangestel is as sy opvolger (Deut 31) en wat die volk suksesvol in Kanaän inlei.
Maar dit wat ons reeds aan die begin van sy leierskap sien, dat God met geskrewe woorde met hom praat, dít maak die Here nou die fokus van sy hele lewe – soos God dit vandag nog met ons doen – deur die geskrewe Woord.
Let op:
1) ’n Omvattende belofte word aan hom in vers 5-6 gegee. “Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal jou nie verlaat nie.”
Josua kan die uitdaging van die Intog aanpak in volle versekering dat God met hom sal wees. En hierdie belofte word uitgebrei dat dit die roeping wat God vir hom het, insluit. “Jy moet hierdie volk die land in besit laat neem – Wees daarom sterk, want Ek is by jou.”
2) Maar daarmee saam kom ’n verdere opdrag aan hom – “Wees veral … sterk en vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Jy moet daarvan nie links of regs afwyk nie.” Hy moet die wet dus prakties uitvoer in sy lewe.
En hoe moet hy dit doen?
1. Josua moet dit die rigsnoer maak vir alles wat hy sê. Sy woorde moet daardeur bepaal word.
2. Hy moet dit dag en nag oordink. Sy gedagtes moet dus vol word van die woorde van God.
3. Hy moet sorg dat hy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Sy dade moet dit ten uitvoer bring. Die Woord moet prakties word in sy lewe.
Kortom, sy hele lewe moet deur die geskrewe Woord van God begelei word.
Weliswaar gebeur daar ook nog wonders in sy lewe. In Jos 5:13 vertel die skrywer ons dat Josua ‘n engel, die leërowerste van die Here, sien, net voor hy Jerigo inval, maar die primêre manier waarop God met hom praat, bly die geskrewe woorde van God.
Josua kry ook die voorreg om self later by te dra tot die Bybel. Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan (Jos 24:26). En so is daar Sameul na hom, en Dawid en die profete en later die NT skrywers, wat almal God se gesproke woorde en hulle nadenke daaroor op skrif gestel het, sodat ons vandag die geskrewe Woord van God in ons hand kan vashou.
Kom ons raak prakties
Kyk, niks kom daarby om God te hoor praat deur sy Woord nie. Niks is ook meer belangrik as om God se Woord te hoor en daarop te reageer nie. Die Woord moet vir ons soos ‘n huis word waarin ons woon, dit moet soos klere word wat jy aantrek, dit moet soos kos word wat jy eet en wat jou versadig.
Maar hoe?
Daar is baie verskillende Bybelstudie metodes. Sommige is meer informatief van aard en ander meer formatief van aard. En julle kan meer daaroor gaan lees by Bybelskool.com. Kyk by Inligting/Bybellees.
Die idee met alle metodes is om beide die breë lyne van boek of hoofstuk van die Bybel asook die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Want, dit is hoe jy uiteindelik God hoor praat, en die Woord ’n riglyn word vir jou lewe. Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat on God hoor praat en geestelike groei plaasvind.
Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel. Hier is ’n aantal metodes waaruit jy kan kies – ek lus 8, daar is meer. Kies 1 of probeer ’n paar uit vir afwisseling.
Drie simbole
Werk met drie simbole waaroor jy dan kan reflekteer:
! – IETS WAT JOU GETREF HET
? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET
↓ – IETS VAN GROOT BETEKENIS
Drie pyl metode
Jy kan drie pyle gebruik:
← Kyk terug
↑ Kyk boontoe
→ Kyk vorentoe
Eenvoudige luistersiklus
- RUS
- Raak bewus van jou diepste behoeftes.
- Gee dit in gebed aan God.
- HOOR
- Lees die Skrifgedeelte hardop.
- Dink na oor wat jou daarin tref.
- LEEF
- Wat lê die Here nou op jou hart?
- Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.
Lees soos ‘n Kunstenaar[1]
- Wat tref my?
- Watter nuwe gedagtes kry ek?
- Wat moet ek daarmee doen?
Lees soos ‘n Speurder
- Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
- Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
- Wat nou (aksie, met wie)?
Lees soos ‘n Skatkisjagter
- Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
- Wat moet ek hiermee doen?
Lees soos ‘n Vakleerling
- Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
- Wat moet ek hiermee doen?
Lectio Divina
Lectio divina, of “geestelike lees” word op verskillende maniere gedoen.
Die een wat ek die sinvolste vind (Alice Fryling – The Art of Listening), werk as volg:
1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te lewe
2. Lectio – lees die Skrifgedeelte hardop en fokus op ‘n vers of gedagte wat jou tref
3. Meditatio – oordink die praktiese impak daarvan op jou lewe
4. Oratio – antwoord God in gebed daarop
5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat
6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.
As jy meer oor die tradisionele aanpak van Lectio Divina wil lees, kan jy by Bybelskool.com meer lees.
Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.
Vir verdere nadenke oor Josua 1:1-9
- Lees Josua 1:5-6 as God se belofte ook vir jou. Dink na oor die jaar wat kom en die roeping wat God vir jou het. Verbind jou daaraan in gebed.
- Stel vir jou ’n werkbare plan op om Josua 1:7-8 se opdrag hierdie jaar uit te voer.
[1] Hierdie en die volgende 3 metodes kom van Adele Calhoun af (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief.
Erna Rademan
Beste Ds Chris, ek lees dikwels jou kommentare om my daaglikse lees van die Bybel aan te vul en ek vind dit geweldig verrykend en insiggewend.
Baie dankie daarvoor en mag die Here jou werk ryklik seën.
Uit Vredefort
Chris van Wyk
Dankie Erna, dit bly my vreugde en voorreg.