Inleiding op Klaagliedere van Jeremia
Versameling klaagliedere
Die Klaagliedere van Jeremia is ‘n versameling van vyf klaagliedere oor die val van Jerusalem en die tempel in 586 v.C. Die eerste woord van die eerste vers (die Hebreeuse woord ekâ) druk alreeds sy verslaentheid uit: “Ag, hoe verlate lê die stad.” Geen wonder dat dié woord ook as Hebreeuse titel gebruik is vir die versameling klaagliedere oor wat Jeremia moes waarneem met die val van Jerusalem in 586 v.C.
Hoewel Jeremia nie in die boek genoem word nie, en baie geleerdes daarom dink dat die klaagliedere aan anonieme digters uit sy tyd toegeskryf moet word – daar is immers heelwat soortgelyke klaagliedere oor die verwoesting van stede, bv. die bekende en antieke Klaaglied oor die Verwoesting van Ur – kom baie van die frases in die boek ooreen met dié van die boek van die profeet Jeremia (vgl. bv. Klaagl. 1:15 met Jer. 8:21; Klaagl. 3:64–66 met Jer. 11:20; Klaagl. 4:21 met Jer. 49:12), en werk die twee boeke met dieselfde teologiese perspektiewe op oordeel en verlossing. Dit is ook duidelik ’n ooggetuie digter.
2 Kron. 35:25 noem verder dat Jeremia klaagliedere geskryf het en dat dit in ’n boek opgeteken is: “Jeremia het ’n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het ’n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.” Hoewel dit nog steeds uiteraard nie sy outeurskap van hierdie vyf klaagliedere bewys nie, maak dit ’n stewig genoeg argument uit om Jeremia as skrywer van dié boek te aanvaar, soos dit inderdaad in die tradisie aan ons oorgelewer is.
Boodskap
Jeremia huil in hierdie boek hartroerend oor die toorn van God wat hy oor die land sien losbars het. Hy skryf as ’n ooggetuie van die traumatiese verwoesting van die stad, die verkragting en vernietiging van die mense en die verstrooiing van die volk in ballingskap. In hartverskeurende detail brei hy uit oor die dodelike impak daarvan op die geloofsgemeenskap:
“My oë is gedaan van huil, dit brand in my, my moed is gebreek … kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad. Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink. In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit. Wat kan ek vir jou sê … Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion?“ (2:11–13)
Die probleem was ook nie net dat die volk Juda sosiaal, ekonomies en polities verwoes is nie. Dit was immers al erg genoeg. Maar, hulle worstel nou in ballingskap veral met die feit dat hulle teologiese sekerhede vernietig is.
Hulle het geglo dat God Sy volk, Sy huis (die tempel) en Sy stad sou beskerm. Dit het sy verbond met Abraham, Moses en Dawid immers behels, soos die Skrifte hulle beloof het. Maar Hy het nie sy verbond in stand gehou nie. Hy het die stad van belofte en die plek van Sy teenwoordigheid vernietig en die volk in ballingskap laat wegvoer.
Die vraag was dus brandende: Hoe kon God soveel ellende oor Sy volk laat kom? Hoe kon Hy Sy eie beloftes só versaak? En waar laat dit hulle nou? Sou daar nog iets oor wees vir die toekoms? Wat kon hulle nou van God verwag? Sou daar ’n omkeer moontlik wees?
Dit is in dié situasie dat Jeremia met sy Klaagliedere die hartseer en verydeling van die volk verwoord. Sy digwerk gee woorde aan die worsteling, gee redes vir die oordeelsvoltrekking, veral redes wat verband hou met die feit dat die volk hulle kant van die verbond nie nagekom het nie, maar formuleer tog ook die hoop dat God Hom weer sal ontferm, want “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:25).
Daarom bring Jeremia met sy Klaagliedere uiteindelik ’n boodskap van hoop en troos vir die toekoms, terwyl hy ook nie wegskram daarvan om die valse teologie wat hulle tot ’n val gebring het, te ontbloot nie. Die beloftes van die verbond was bedoel vir dié wat die Here dien en in ’n verhouding met Hom lewe. Vandaar die voltrekking van die oordeel weens die volk se verbreking van die verbond. Dit was hulle eie skuld.
Die Here is egter steeds in beheer. Soos Hy in beheer van die oordeelsvoltrekking was, sal Hy dit ook wees in die herstel vir dié wat op Hom bly hoop:
“Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut … Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:21–25).
Dié verse het Robert Davidson geïnspireer in die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” ’n Mens kry sommer nuwe waardering vir dié lied binne die konteks van Jeremia se worstelinge. Dít is ons hoop, God se troue liefde, selfs wanneer ons in die diepste ellende is.
Jeremia verkondig dus dat die Here nie mense vir altyd verstoot nie, want dit is in die eerste plek teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring (3:31-33). Die Here sien ook die onreg raak wat die instrumente van sy oordeel pleeg, al gebruik Hy hulle in sy oordeelsvoltrekking. Hy sal uiteindelik ook optree namens dié wat in die oordeel, steeds met hulle hele hart hulle sonde bely en op God bly vertrou (3:40-42).
Meer nog, Jeremia vra van God dat Hy die inisiatief sal neem: “Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër.” (5:21), iets wat resoneer met beide Dawid se belydenis in Psalm 51 sowel as Jeremia se eie beloftes van herstel in Jer. 30-33, die Boek van Vertroosting. Die hoop vir bekering lê in God se ingrype, nie in die mens se eie pogings daartoe nie.
Klaagliedere sluit af met ’n vraag: “Of het U ons heeltemal verwerp? Is U toorn oor ons so groot?” (5:22) wat ook sy klaaglied afsluit as ’n retoriese appèl op die Here en sy goedheid.
Daarmee gee hy ons ’n manier waarop ons ook na leed in ons eie lewe en in dié van ons gemeenskap kan kyk en die Here se wil en uitkoms kan soek. Net soos die klaagliedere in die Psalms ons help om ons leed te verwoord en met die regte perspektief op onsself en op God die Here om uitkoms te nader, só help Klaagliedere van Jeremia ons ook.
Indeling
Die vyf klaagliedere is kunstig opgebou in akrostiese vorm. Dit beteken dat in hfst. 1,2,en 4 elke vers met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin, 22 in getal. In hfst. 3, die middelste hoofstuk, begin telkens drie verse op ‘n keer elkeen met dieselfde opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Die hoofstuk is dan ook die kern van die boodskap van Jeremia wat God se hart vir die volk in ballingskap die diepste verwoord. Sy slotsom dat ’n mens alleen op God se barmhartigheid jou hoop kan bou. Hfst. 5 het ’n vryer opbou, maar steeds 22 verse, hoewel elke vers nie met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin nie.
Hierdie aanpak van die skrywer is nie net ’n goeie kommunikasie metode wat ’n mens help om die verse agter mekaar te kan opsê nie, maar dit kommunikeer in ’n sekere sin ook ’n konsekwentheid in God se optrede. Daar is ’n orde in wat Hy doen. Jy kan op sy integriteit om te doen wat Hy beloof, staatmaak. Daarom kan ’n mens selfs in oordeel op God se karakter vertrou, waarvan sy troue liefde en sy goedheid twee konsepte is wat Jeremia aangryp as die basis vir sy hoop op die toekoms.
Die vyf klaagliedere volg op mekaar in terme van ’n perspektief op die verlede (hfst. 1-2), die hede (hfst. 3), en die hoop vir die toekoms (hfst. 4-5). My titels vir hoofstuk 1,2 en 4 kom uit die eerste verse van dié hoofstukke, terwyl hoofstuk 3 en 5 se titels uit die kernvers van die onderskeie klaagliedere kom:
- “Ag, hoe verlate lê die stad” – hfst. 1
- “Ag, hoe het die donker toegesak op Sion” – hfst. 2
- “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop” – hfst. 3
- “Ag, hoe dof het die goud geword” – hfst. 4
- “Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër” – hfst. 5.
Tags: Klaagliedere
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Tabita – ek het kennis geneem van sy afsterwe, maar ongelukkig bied ek nie só ‘n kursus aan nie. Jy kan hoor by jou kerk se opleidingsinstansies of daar verdere moontlikhede vir jou is. Jy kan ook by SATS probeer: https://www.sats.edu.za/programmes/undergraduate/higher-certificate-in-christian-counselling/
Tabita
| #
Goeie dag pastoor. My naam is Tabita. Ek het n pastorale kursus gedoen deur past. Chris Mengel. Ongelukig en baie hartseer, aan die einde van my finale jaar het die Here hom kom haal. Bied pastoor sulke kursese aan of weet pastoor dalk waar ek my finale jaar kan voltooi groot asb? Groete en geseende dag vir u.
Chris van Wyk
| #
Klik net op Confirm Follow in die e-pos wat wordpress.com na jou Inbox stuur.
Chris van Wyk
| #
Hi Esmé, ek sal jou e-pos insit op daardie bladsy. Jy moet net die e-pos wat WordPress vir jou stuur goedkeur.
Esme Dorfling
| #
Ek wil graag aansluit by 2021 bybel lees program.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/