Skip to main content

Inleiding op Klaagliedere van Jeremia

Versameling klaagliedere

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie Klaagliedere van Jeremia is ‘n versameling van vyf klaagliedere oor die val van Jerusalem en die tempel in 586 v.C.  Die eerste woord van die eerste vers (die Hebreeuse woord ekâ) druk alreeds sy verslaentheid uit: “Ag, hoe verlate lê die stad.”  Geen wonder dat dié woord ook as Hebreeuse titel gebruik is vir die versameling klaagliedere oor wat Jeremia moes waarneem met die val van Jerusalem in 586 v.C.

Hoewel Jeremia nie in die boek genoem word nie, en baie geleerdes daarom dink dat die klaagliedere aan anonieme digters uit sy tyd toegeskryf moet word – daar is immers heelwat soortgelyke klaagliedere oor die verwoesting van stede, bv. die bekende en antieke Klaaglied oor die Verwoesting van Ur – kom baie van die frases in die boek ooreen met dié van die boek van die profeet Jeremia (vgl. bv. Klaagl. 1:15 met Jer. 8:21; Klaagl. 3:64–66 met Jer. 11:20; Klaagl. 4:21 met Jer. 49:12), en werk die twee boeke met dieselfde teologiese perspektiewe op oordeel en verlossing.  Dit is ook duidelik ’n ooggetuie digter.

2 Kron. 35:25 noem verder dat Jeremia klaagliedere geskryf het en dat dit in ’n boek opgeteken is: “Jeremia het ’n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het ’n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.” Hoewel dit nog steeds uiteraard nie sy outeurskap van hierdie vyf klaagliedere bewys nie, maak dit ’n stewig genoeg argument uit om Jeremia as skrywer van dié boek te aanvaar, soos dit inderdaad in die tradisie aan ons oorgelewer is.

Boodskap

Jeremia huil in hierdie boek hartroerend oor die toorn van God wat hy oor die land sien losbars het.  Hy skryf as ’n ooggetuie van die traumatiese verwoesting van die stad, die verkragting en vernietiging van die mense en die verstrooiing van die volk in ballingskap.  In hartverskeurende detail brei hy uit oor die dodelike impak daarvan op die geloofsgemeenskap:

My oë is gedaan van huil, dit brand in my, my moed is gebreek … kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad.  Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink.  In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.  Wat kan ek vir jou sê … Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion?“ (2:11–13)

Die probleem was ook nie net dat die volk Juda sosiaal, ekonomies en polities verwoes is nie.  Dit was immers al erg genoeg.  Maar, hulle worstel nou in ballingskap veral met die feit dat hulle teologiese sekerhede vernietig is.

Hulle het geglo dat God Sy volk, Sy huis (die tempel) en Sy stad sou beskerm.  Dit het sy verbond met Abraham, Moses en Dawid immers behels, soos die Skrifte hulle beloof het.  Maar Hy het nie sy verbond in stand gehou nie.  Hy het die stad van belofte en die plek van Sy teenwoordigheid vernietig en die volk in ballingskap laat wegvoer.

Die vraag was dus brandende:  Hoe kon God soveel ellende oor Sy volk laat kom?  Hoe kon Hy Sy eie beloftes só versaak?  En waar laat dit hulle nou?  Sou daar nog iets oor wees vir die toekoms?  Wat kon hulle nou van God verwag?  Sou daar ’n omkeer moontlik wees?

Dit is in dié situasie dat Jeremia met sy Klaagliedere die hartseer en verydeling van die volk verwoord.  Sy digwerk gee woorde aan die worsteling, gee redes vir die oordeelsvoltrekking, veral redes wat verband hou met die feit dat die volk hulle kant van die verbond nie nagekom het nie, maar formuleer tog ook die hoop dat God Hom weer sal ontferm, want  “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:25).

Daarom bring Jeremia met sy Klaagliedere uiteindelik ’n boodskap van hoop en troos vir die toekoms, terwyl hy ook nie wegskram daarvan om die valse teologie wat hulle tot ’n val gebring het, te ontbloot nie.  Die beloftes van die verbond was bedoel vir dié wat die Here dien en in ’n verhouding met Hom lewe.  Vandaar die voltrekking van die oordeel weens die volk se verbreking van die verbond.  Dit was hulle eie skuld.

Die Here is egter steeds in beheer.  Soos Hy in beheer van die oordeelsvoltrekking was, sal Hy dit ook wees in die herstel vir dié wat op Hom bly hoop:

Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut … Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:21–25).

Dié verse het Robert Davidson geïnspireer in die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases.  His mercies never come to an end.  They are new every morning, new every morning.  Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” ’n Mens kry sommer nuwe waardering vir dié lied binne die konteks van Jeremia se worstelinge.  Dít is ons hoop, God se troue liefde, selfs wanneer ons in die diepste ellende is.

Jeremia verkondig dus dat die Here nie mense vir altyd verstoot nie, want dit is in die eerste plek teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring (3:31-33).   Die Here sien ook die onreg raak wat die instrumente van sy oordeel pleeg, al gebruik Hy hulle in sy oordeelsvoltrekking.  Hy sal uiteindelik ook optree namens dié wat in die oordeel, steeds met hulle hele hart hulle sonde bely en op God bly vertrou (3:40-42).

Meer nog, Jeremia vra van God dat Hy die inisiatief sal neem: “Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër.” (5:21), iets wat resoneer met beide Dawid se belydenis in Psalm 51 sowel as Jeremia se eie beloftes van herstel in Jer. 30-33, die Boek van Vertroosting.  Die hoop vir bekering lê in God se ingrype, nie in die mens se eie pogings daartoe nie.

Klaagliedere sluit af met ’n vraag: “Of het U ons heeltemal verwerp?  Is U toorn oor ons so groot?” (5:22) wat ook sy klaaglied afsluit as ’n retoriese appèl op die Here en sy goedheid.

Daarmee gee hy ons ’n manier waarop ons ook na leed in ons eie lewe en in dié van ons gemeenskap kan kyk en die Here se wil en uitkoms kan soek.  Net soos die klaagliedere in die Psalms ons help om ons leed te verwoord en met die regte perspektief op onsself en op God die Here om uitkoms te nader, só help Klaagliedere van Jeremia ons ook.

Indeling

Die vyf klaagliedere is kunstig opgebou in akrostiese vorm.  Dit beteken dat in hfst. 1,2,en 4 elke vers met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin, 22 in getal.  In hfst. 3, die middelste hoofstuk, begin telkens drie verse op ‘n keer elkeen met dieselfde opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet.  Die hoofstuk is dan ook die kern van die boodskap van Jeremia wat God se hart vir die volk in ballingskap die diepste verwoord.  Sy slotsom dat ’n mens alleen op God se barmhartigheid jou hoop kan bou.  Hfst. 5 het ’n vryer opbou, maar steeds 22 verse, hoewel elke vers nie met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin nie.

Hierdie aanpak van die skrywer is nie net ’n goeie kommunikasie metode wat ’n mens help om die verse agter mekaar te kan opsê nie, maar dit kommunikeer in ’n sekere sin ook ’n konsekwentheid in God se optrede.  Daar is ’n orde in wat Hy doen.  Jy kan op sy integriteit om te doen wat Hy beloof, staatmaak.  Daarom kan ’n mens selfs in oordeel op God se karakter vertrou, waarvan sy troue liefde en sy goedheid twee konsepte is wat Jeremia aangryp as die basis vir sy hoop op die toekoms.

Die vyf klaagliedere volg op mekaar in terme van ’n perspektief op die verlede (hfst. 1-2), die hede (hfst. 3), en die hoop vir die toekoms (hfst. 4-5).   My titels vir hoofstuk 1,2 en 4 kom uit die eerste verse van dié hoofstukke, terwyl hoofstuk 3 en 5 se titels uit die kernvers van die onderskeie klaagliedere kom:

  • Ag, hoe verlate lê die stad” – hfst. 1
  • Ag, hoe het die donker toegesak op Sion” – hfst. 2
  • Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop” – hfst. 3
  • Ag, hoe dof het die goud geword” – hfst. 4
  • Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër” – hfst. 5.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Klaagliedere


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms