Jeremia 37 – Die Galdeërs sal Jerusalem verbrand
Dit help nogal om die orde waarin die verhale waarby Sedekia betrokke is, geskrywe is, in gedagte te hou. Die verhaal van hoofstuk 32-33 van die grondkooptransaksie (en daarmee natuurlik hoofstuk 30-31 se beloftes ook) pas eintlik tussen die verhale van Jer. 37:1-10 en Jer. 37:11-21 in, waarna die einde van Sedekia se regering in Jer. 38-39 vertel word. Dit vind dus alles in die voorlaaste regeringsjaar van Sedekia plaas, sy 10de.
37:1-10 – Die Galdeërs sal teen hierdie stad veg, dit inneem en verbrand
Sedekia se regering word in dié deel geteken as een waarin ongehoorsaamheid aan die Here die botoon voer: “(Hy) het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.” En dit is nie net hyself nie, ook sy amptenare en die landsburgers.
Sedekia wend wel ’n poging aan dat Jeremia vir hulle moes bid, veral toe dit lyk asof die druk van hulle vir ’n oomblik gewyk het met die vertrek van die Galdeërs agter die Egiptiese leër aan. Maar die Here het Sedekia geantwoord dat die Galdeërs hulle nie sal los nie, al was daar nou hierdie kort tydjie wat die Egiptiese bedreiging die Galdeërs se aandag geverg het en Jerusalem ’n blaaskans geniet het: “Die Galdeërs sal omdraai en teen hierdie stad kom veg en dit inneem en verbrand.”
Die oordeel oor die stad staan dus vas.
37:11-21 – Jeremia word effens begenadig deur die koning
Net na die onvergelyklike hoopvolle prentjie wat Jeremia skets van die nuwe bedeling wat God ná die ballingskap sal laat aanbreek (Jer. 30-31), koop Jeremia in dieselfde jaar, dit is die 10de regeringsjaar van Sedekia, ’n stuk grond as bevestiging van sy boodskap dat die ballingskap in die toekoms omgekeer sal word (Jer. 32-33).
Jeremia wou die stad uit om te gaan kyk na die nuwe aanwins in Anatot, maar ’n kleinseun van Gananja, die geswore vyand van Jeremia, keer hom en laat Jeremia slaan en opsluit in die staatsekretaris Jonatan se huis, wat in ’n tronk verander is, met die beskuldiging: “Jy loop oor na die Galdeërs toe.” Daar is Jeremia uiteindelik in ’n put met sytonnels gesit waar hy lank gebly het.
Sedekia was egter nie klaar met Jeremia nie en laat hom haal in die geheim om te vra vir ’n woord van die Here. Jeremia herhaal net wat hy die hele tyd beklemtoon: “Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.”
Jeremia pleit egter in dié gesprek om ’n genadiger hantering deur Sedekia, want hy begin vrees dat hy in die tronk van honger sou sterf. Hy het immers nie ’n misdaad gepleeg nie en sy woorde het – anders as die valse profete s’n – bewaarheid geword. “Ek wil nie daar sterf nie!” sê Jeremia.
Sedekia staan hierop Jeremia se versoek om vrylating toe en laat hom verder aanhou in die binneplaas van die paleiswag en laat boonop vir hom elke dag brood aflewer uit Bakkerstraat (kan jy nou meer!) totdat die stad se brood op was.
Boodskap
Dit tref my dat Sedekia nie uiteindelik van gedagte kan verander nie. Hy sien die skrif aan die muur. Hy weet hulle dae is getel. Tog kan hy net nie homself so ver kry om die Here te begin vertrou nie, selfs nie al antwoord die Here hom op wat hy vra nie. In hoofstuk 38 sal dit nog duideliker blyk.
Dit tref my ook dat daar ’n klein stukkie genade vir die profeet van die Here is. Ten spyte van die geweldige teenstand en verguising van sy vyande en die onregverdige behandeling deur die amptenare, verskaf die Here deur koning Sedekia vir Jeremia brood, amper soos die kraaie vroeër vir Elia brood by die Kritspruit gebring het (1 Kon. 17). Dit verlig die intense lyding wat Jeremia moet deurstaan, al is dit net ’n klein stukkie genade, ’n bietjie brood uit Bakkerstraat.