Jeremia 38 – Jeremia ly in die put totdat Sedekia hom raadpleeg

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie lyding van Jeremia neem in hoofstuk 38 toe met ’n weifelende Sedekia wat eers toelaat dat Jeremia in ’n put gegooi word, voordat iemand hom darem oor Jeremia ontferm (38:1-13).  Daarna vra Sedekia weer raad by Jeremia, raad wat hy soos sy gewoonte nou al is – tot sy skade en dié van sy volk – nie volg nie (38:14-28).

Jeremia 38:1-13 – Jeremia word gered deur ‘n ontmande Ethiopiër

In ’n opvolgaksie teen Jeremia deur vier van Sedekia se amptenare, Sefatja, Gedalja (die latere goewerneur wat vermoor sou word), Jukal en Pasgur – almal geswore vyande van Jeremia – word Jeremia met Sedekia se goedkeuring (“Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie”) in ’n put in die binneplaas van die paleiswag gegooi. Hulle het hom beskuldig van verraad deurdat hy die volk aangeraai het om oor te loop na die Galdeërs: “Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.”

Hulle was bekommerd dat dit die volk en veral die soldate negatief sou beïnvloed: “Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.”  Sedekia se goeie guns aan Jeremia deur vir hom brood te verskaf van Bakkerstraat af was dus kortstondig.

Jeremia het in die modder onder in die put ingesak en die gevaar geloop om te sterf.  Gelukkig het ’n ontmande Kussiet (waarskynlik van Ethiopië), Ebed-Melek, hom oor Jeremia ontferm en Sedekia om genade gesmeek.  Ironies genoeg sit Sedekia by die Benjaminpoort, waarskynlik besig om reg te spreek in sake tussen lede van die volk in Jerusalem.

Sedekia doen egter die regte ding en stuur 3 man (sommige manuskripte en die LXX sê dit was dertig man) saam met Ebed-Melek (“slaaf van die koning”) om Jeremia te help.  Hulle het Jeremia uitgetrek met toue en stukke klere onder sy armholtes.  Jeremia was nie klein nie, wil dit voorkom, óf hy het, meer waarskynlik, beskerming nodig gehad!

Daarna kon hy weer in die binneplaas bly, hoewel daar nie meer brood oor was in die stad nie en hulle almal regtig begin honger ly het.  Bakkerstraat het dus ook nie meer vir Jeremia gewerk nie.

Jeremia 38:14-28 – Sedekia volhard in sy weiering om na die Here te luister

Sedekia was duidelik uiteindelik erg geraak deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, want in dié verhaal sit hy by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat.  ’n Mens sou wou sê, in plaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek!

Sedekia weet egter die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan.

In ’n kostelike interaksie kry Jeremia Sedekia eers sover om te sweer dat hy Jeremia nie iets sal aandoen nie: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.”  Hoe waar!  Sedekia gee egter die onderneming, en Jeremia spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit.  Dit sou beteken dat Sedekia hom aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, gedoen het.

Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie, waarskynlik weens ’n kombinasie van ’n swak en weifelende karakter – hy is selfs bang vir dié Jode wat reeds oorgeloop het na die Galdeërs, kan jy nou meer – sowel as ’n domastrante hoogmoed.

Ons kry ’n kykie in hoe die Here met Jeremia gewerk het, want hy probeer die koning oortuig om die Here te glo: “dit is wat die Here my laat sien het …”  Die Here het Jeremia dus waarskynlik ’n visioen gegee van wat wag aan die einde van die beleg.  Hy gebruik ook ’n digterlike beskrywing van die misleiding van die koning se gewaande vriende wat “hom van die wal in die sloot gehelp het.”  Pragtig vertaal!

Sedekia kan homself egter net nie sover kry om te luister nie, en maak Jeremia stil met ’n opmaak storie vir sy amptenare.  Die gevolg van Sedekia se weiering om na die woord van die Here te luister, is egter dat hy ’n vernederende dood ly soos Kronieke en Konings dit beskryf, en Jeremia in die volgende hoofstukke (hfst. 39-40) grafies sal uitspel.

Jeremia word darem ná die beleg van Jerusalem begenadig en vrygelaat deur Nebukadnesar, hoewel hy daarna tog uiteindelik weens die anargie in die land moes vlug na Egipte toe en sy laaste woorde in Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) geuiter het, woorde téén Egipte!

Boodskap

In hierdie hoofstuk word die weifelende en besluitelose karakter van Sedekia op grafiese wyse geteken.  Hy gee in dat Jeremia se vyande hom byna doodmaak, en gee gelukkig ook in dat een van Jeremia se min “vriende” hom van ’n seker dood in die put red.  Selfs toe die Here vir hom ’n visioen gee deur Jeremia, kan Sedekia homself nie sover kry om die Here op sy woord te neem nie.  Hoe tragies!

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: