Skip to main content

Jeremia 33 – Ek sal die lot van Juda, Israel en Jerusalem verander

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia is nog steeds ingeperk in die binneplaas van die paleiswag met die volgende reeks van woorde van die Here wat na hom toe kom oor die lotsverandering wat die Here vir hulle beplan.  Dit bestaan uit sewe kort profesieë wat soos volg saamgevat kan word:

  • 33:1-3 – Die aankondiging van die openbaring van die Here – inleiding en een profesie;
  • 33:4-13 – Die lotsverandering van Juda en Israel geïllustreer deur die herstel van die Jerusalem en sy mense sowel as hulle grondgebied – drie profesieë (4-9; 10-11; 12-13);
  • 33:14-26 – Die lotsverandering van Juda en Israel geïllustreer deur die herstel van die koningstroon van Dawid en die Levitiese priesterskap as deel van die verbond met die aartsvaders – drie profesieë (14-18; 19-22; 23-26).

33:1-3 -Die openbaring van die Here, die Skepper

Elke dag terwyl ’n skoenmaker in sy winkel gesit en skoene regmaak het, het hy na ’n kaart op sy muur gestaar en gebid vir die nasies wat hy daarop kon raaksien.  Hy was baie bewus van die nood van die mense sonder die lig van Christus in hulle lewe.  Sy hart het gebrand vir hulle en hy het hulle nood elke dag voor God gebring.

In dié tyd lees hy Jeremia 33:3: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”  En hy word só aangegryp daardeur dat dit die motto van sy lewe word: “Attempt great things for God.  Expect great things from God.”

Sy naam?  William Carey van Northampton in Engeland.  Die jaar?  1779.  Die situasie?  Ongeveer 200 miljoen Christene wêreldwyd in die bekende wêreld.  Die gevolg?  Vandag is daar meer as 2 biljoen Christene wêreldwyd.  ’n Groei van Christene van ongeveer 20% van die wêreldbevolking in die 1800’s na ongeveer 26-30% van die wêreldbevolking vandag.

Geen wonder William staan vandag bekend as die vader van die moderne sendingbeweging nie.  William se sendinguitreik na Indië in 1793 het ’n wêreldsending beweging aan die gang gesit wat steeds vandag nog nie afgeplat het nie.  Voor hom was daar baie min kerke wat die grens na ongelowiges oorgesteek het. Ná hom was daar baie min kerke wat dit nie gedoen het nie.  Talle kinders van die Here het die Groot Opdrag van die Here aangegryp en die proses van dissipelmaking begin.

En dit het alles met dié vers begin!

In Jeremia se tyd het dié visie die hoop op die terugkeer uit ballingskap aangesteek, saam met die ander heilsprofesieë van Jeremia.  Die visie word begrond in die Here se Skeppingsmag, die een wat nie net die aarde gemaak het nie, maar dit só gevorm het dat dit nie wankel nie.

God se skeppingsmag en voorsienigheid begrond en beheer dus die beloftes wat hierna volg.

33:4-13 – Jerusalem en die grondgebied van Juda se lot word verander

Die Here haak sy belofte van herstel aan die huidige tragiese toestand van die huise van die Jode in Jerusalem en omstreke sowel as dié van die paleis van die konings weens hulle sonde: “Ek sal hom heeltemal gesond maak en sy inwoners genees.”

Dit sal insluit dat die Here hulle nie net vergewe nie, maar ook sal reinig van hulle sonde.  Die drie woorde vir sonde wat die meeste in die OT gebruik word – sonde (verkeerd doen, oortree), ongeregtigheid pleeg (onregverdig of onbillik optree), en in opstand kom (rebelleer) – kom hier voor.  Die Here belowe om hulle daarvan te reinig.

Dít sal God se Naam grootmaak onder die nasies en as getuienis dien van sy goedheid en die vrede wat Hy gee.  En dit sal aan God intense blydskap verskaf, ’n blydskap wat sal vermenigvuldig in die blydskap en vreugde van mens en dier wat weer voorspoed en vrede sal belewe in die normalisering van die gemeenskapslewe sowel as die godsdienstige lewe, gesimboliseer in die bring van dankoffers na die huis van die Here.

Die Here sal die lot van die land verander: “dit sal weer wees soos vroeër.”  Reg deur die land sal die situasie weer na normaal terugkeer.

33:14-26 – Die troon van Dawid en die Levitiese priesterskap word herstel as deel van die verbond met die aartsvaders

Die fokus skuif van die normalisering van die situasie van die land en sy mense na die herstel van die leierskap van die geloofsgemeenskap, die koningstroon van Dawid en die Levitiese priesterskap.  Die feit dat daar van ’n enkeling gepraat word wat reg sal laat geskied en reg sal doen, laat ’n mens dink aan ’n Messiaanse vervulling wat in die oog is, hoewel dit nie uitsluit dat dit die herstel van die Dawidiese dinastie in die oog het nie.  Die Levitiese priesterskap word ook herstel.

Die Here noem dié twee aspekte van die herstel van die leierskap van die geloofsgemeenskap die vervulling van sy verbond met Dawid en Levi wat die beloftes in 2 Sam. 7 (vgl. ook Jer. 23) en (Num. 25) onderskeidelik in herinnering roep.  Daaraan koppel die Here sy verbond met die dag en nag – die skeppingstradisie – en sy verbond met Abraham (en Jakob en Isak) dat dié se nageslag so baie soos die sterre en die sand van die see sal wees (Gen. 22:17).

Die lotsverandering wat die Here daarom vir Israel en Juda in die vooruitsig stel, is gebaseer op die sterkste moontlike geloofstradisies uit die volksverlede.  Dit betrek die Skepping tradisie, die Aartsvader tradisie, die Uittog tradisie, die Priesterlike tradisie in die woestyn, en die Intog tradisie in die land waar die volk sy eenheid kon beleef in die eenheid wat die Dawidiese dinastie gebring het.

Boodskap

Die lotsverandering wat die Here beloof, herstel alles weer in die land soos wat dit vroeër was.  Die sosiale gemeenskap van Juda en Israel word herstel.  Die geloofsgemeenskap in die teenwoordigheid van die Here word herstel.  Die leierskap van Dawid en Levi in die lewe van die volk word herstel.  Die verbond van die Here in al sy verskillende dimensies word herstel.

Voorwaar ’n blye vooruitsig, iets wat nie net ’n getuienis aan die nasies sal wees nie.  Dit maak die hart van die Here self bly: “Ek sal hulle lot verander en medelye met hulle hê.” Dit is wie God is.  Dit is wie Hy ook vir ons is.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda