Jeremia 33 – Ek sal die lot van Juda, Israel en Jerusalem verander

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia is nog steeds ingeperk in die binneplaas van die paleiswag met die volgende reeks van woorde van die Here wat na hom toe kom oor die lotsverandering wat die Here vir hulle beplan.  Dit bestaan uit sewe kort profesieë wat soos volg saamgevat kan word:

  • 33:1-3 – Die aankondiging van die openbaring van die Here – inleiding en een profesie;
  • 33:4-13 – Die lotsverandering van Juda en Israel geïllustreer deur die herstel van die Jerusalem en sy mense sowel as hulle grondgebied – drie profesieë (4-9; 10-11; 12-13);
  • 33:14-26 – Die lotsverandering van Juda en Israel geïllustreer deur die herstel van die koningstroon van Dawid en die Levitiese priesterskap as deel van die verbond met die aartsvaders – drie profesieë (14-18; 19-22; 23-26).

33:1-3 -Die openbaring van die Here, die Skepper

Elke dag terwyl ’n skoenmaker in sy winkel gesit en skoene regmaak het, het hy na ’n kaart op sy muur gestaar en gebid vir die nasies wat hy daarop kon raaksien.  Hy was baie bewus van die nood van die mense sonder die lig van Christus in hulle lewe.  Sy hart het gebrand vir hulle en hy het hulle nood elke dag voor God gebring.

In dié tyd lees hy Jeremia 33:3: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”  En hy word só aangegryp daardeur dat dit die motto van sy lewe word: “Attempt great things for God.  Expect great things from God.”

Sy naam?  William Carey van Northampton in Engeland.  Die jaar?  1779.  Die situasie?  Ongeveer 200 miljoen Christene wêreldwyd in die bekende wêreld.  Die gevolg?  Vandag is daar meer as 2 biljoen Christene wêreldwyd.  ’n Groei van Christene van ongeveer 20% van die wêreldbevolking in die 1800’s na ongeveer 26-30% van die wêreldbevolking vandag.

Geen wonder William staan vandag bekend as die vader van die moderne sendingbeweging nie.  William se sendinguitreik na Indië in 1793 het ’n wêreldsending beweging aan die gang gesit wat steeds vandag nog nie afgeplat het nie.  Voor hom was daar baie min kerke wat die grens na ongelowiges oorgesteek het. Ná hom was daar baie min kerke wat dit nie gedoen het nie.  Talle kinders van die Here het die Groot Opdrag van die Here aangegryp en die proses van dissipelmaking begin.

En dit het alles met dié vers begin!

In Jeremia se tyd het dié visie die hoop op die terugkeer uit ballingskap aangesteek, saam met die ander heilsprofesieë van Jeremia.  Die visie word begrond in die Here se Skeppingsmag, die een wat nie net die aarde gemaak het nie, maar dit só gevorm het dat dit nie wankel nie.

God se skeppingsmag en voorsienigheid begrond en beheer dus die beloftes wat hierna volg.

33:4-13 – Jerusalem en die grondgebied van Juda se lot word verander

Die Here haak sy belofte van herstel aan die huidige tragiese toestand van die huise van die Jode in Jerusalem en omstreke sowel as dié van die paleis van die konings weens hulle sonde: “Ek sal hom heeltemal gesond maak en sy inwoners genees.”

Dit sal insluit dat die Here hulle nie net vergewe nie, maar ook sal reinig van hulle sonde.  Die drie woorde vir sonde wat die meeste in die OT gebruik word – sonde (verkeerd doen, oortree), ongeregtigheid pleeg (onregverdig of onbillik optree), en in opstand kom (rebelleer) – kom hier voor.  Die Here belowe om hulle daarvan te reinig.

Dít sal God se Naam grootmaak onder die nasies en as getuienis dien van sy goedheid en die vrede wat Hy gee.  En dit sal aan God intense blydskap verskaf, ’n blydskap wat sal vermenigvuldig in die blydskap en vreugde van mens en dier wat weer voorspoed en vrede sal belewe in die normalisering van die gemeenskapslewe sowel as die godsdienstige lewe, gesimboliseer in die bring van dankoffers na die huis van die Here.

Die Here sal die lot van die land verander: “dit sal weer wees soos vroeër.”  Reg deur die land sal die situasie weer na normaal terugkeer.

33:14-26 – Die troon van Dawid en die Levitiese priesterskap word herstel as deel van die verbond met die aartsvaders

Die fokus skuif van die normalisering van die situasie van die land en sy mense na die herstel van die leierskap van die geloofsgemeenskap, die koningstroon van Dawid en die Levitiese priesterskap.  Die feit dat daar van ’n enkeling gepraat word wat reg sal laat geskied en reg sal doen, laat ’n mens dink aan ’n Messiaanse vervulling wat in die oog is, hoewel dit nie uitsluit dat dit die herstel van die Dawidiese dinastie in die oog het nie.  Die Levitiese priesterskap word ook herstel.

Die Here noem dié twee aspekte van die herstel van die leierskap van die geloofsgemeenskap die vervulling van sy verbond met Dawid en Levi wat die beloftes in 2 Sam. 7 (vgl. ook Jer. 23) en (Num. 25) onderskeidelik in herinnering roep.  Daaraan koppel die Here sy verbond met die dag en nag – die skeppingstradisie – en sy verbond met Abraham (en Jakob en Isak) dat dié se nageslag so baie soos die sterre en die sand van die see sal wees (Gen. 22:17).

Die lotsverandering wat die Here daarom vir Israel en Juda in die vooruitsig stel, is gebaseer op die sterkste moontlike geloofstradisies uit die volksverlede.  Dit betrek die Skepping tradisie, die Aartsvader tradisie, die Uittog tradisie, die Priesterlike tradisie in die woestyn, en die Intog tradisie in die land waar die volk sy eenheid kon beleef in die eenheid wat die Dawidiese dinastie gebring het.

Boodskap

Die lotsverandering wat die Here beloof, herstel alles weer in die land soos wat dit vroeër was.  Die sosiale gemeenskap van Juda en Israel word herstel.  Die geloofsgemeenskap in die teenwoordigheid van die Here word herstel.  Die leierskap van Dawid en Levi in die lewe van die volk word herstel.  Die verbond van die Here in al sy verskillende dimensies word herstel.

Voorwaar ’n blye vooruitsig, iets wat nie net ’n getuienis aan die nasies sal wees nie.  Dit maak die hart van die Here self bly: “Ek sal hulle lot verander en medelye met hulle hê.” Dit is wie God is.  Dit is wie Hy ook vir ons is.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d