Jeremia 17 – Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand
Hierdie hoofstuk bestaan uit drie dele.
- Vers 1-13 bevat ’n paar relatief selfstandige perspektiewe op die toestand van die volk, saamgebind deur bv. die klem op die hart as sleutel in die Godsverhouding (vers 1, 5 [“terwyl sy hart van My afwyk” staan in die oorspronklike], 9, 10), God se soewereiniteit deurdat Hy die grond aan Israel gegee het en hulle ook kan gee wat hulle verdien (vers 4, 10) en die verskillende beskrywings van die volk se afvalligheid (wegdraai in vers 5,13; verlaat in vers 11, 13).
- Vers 14-18 is die vierde “Konfessie” van Jeremia waarin hy pleit dat die Here nie vir hom ’n verskrikking sal word deur sy woord nie waar te maak nie.
- Vers 19-27 waarin die Here die volk skerp aanspreek oor hulle nie-nakoming van die Sabbatdag.
17:1-13 – Ek, die Here, deurgrond en toets die hart en verstand
Dit is ironies dat in plaas van God se wet op hulle harte, is die sonde van Juda ingegraveer daarop. Netso is die horings van hulle altare nie meer die plek waar versoening vir hulle sondes gedoen word nie, maar waarop juis hulle sonde ingegrif is. En in die geheue van hulle kinders is die afgodsdiens afgeëts, en nie die stories van verlossing, bewaring en toewyding uit die verlede nie.
Daarom laat die Here hulle in sy toorn verdryf uit hulle land en gee dit aan ander. “Jy sal deur jou eie toedoen die grond moet laat lê.” Die geestelike bankrotskap van Juda maak hulle ook polities en ekonomies bankrot.
Geen wonder dat die nuwe verbond van Jer. 31 juis dié toedrag van sake sal omkeer, en dat God se wet, sy woorde, op hulle harte en in hulle gedagtes geskrywe sal word. Dit sou hulle verhouding met die land ook herstel (Jer. 32).
Die Here vervolg in vers 5 om ’n vloek te plaas op mense wat nie net hulle hartsverbintenis aan Hom verraai nie (die laaste frase van vers 5 lui letterlik so: “terwyl sy hart van My afwyk.”), maar hulle krag soek in alliansies met mense eerder as met God. Dit isoleer hulle egter en maak hulle geestelik arm.
Daarteenoor sê die Here in ’n saligspreking: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel …” Hulle is soos bome wat by water geplant is en voorspoedig en vrugbaar is reg deur die jaar, ’n duidelike verwysing na die beskrywing van die regverdiges en die goddeloses van Psalm 1.
Dan keer die Here terug na die gesprek oor die hart en wys hoe bedrieglik die hart is, die innerlike bewussyn van die mens. Om die waarheid te sê, “wie kan hom verstaan?” Hy is ongeneeslik. Tóg gee die Here die antwoord: “Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand.” Dit regverdig die feit dat God die mens gee wat hom toekom, wat hy of sy verdien.
Verwant aan dié gedagte van verdienste, is die gedagte dat rykdom wat oneerlik verkry is nie volhoubaar sal wees nie. Dit is soos ’n fisant wat eiers probeer broei wat nie gelê is nie. Doodgewoon dwaas.
Die gedeelte sluit af met ’n bevestiging dat ’n mens die Hoop van Israel tot jou skade ignoreer: Hulle: “is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van lewe.”
17:14-18 – Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees!
In die vierde “Konfessie” van Jeremia fokus hy op sy eie toewyding aan die Here, beide innerlik as uiterlik. Die behoefte van Jeremia om gesond te word kan met sy innerlike gemoedstoestand verbind word, omdat dit is hoe die woord wat vir gesond word gebruik word ook vertaal kan word en veral nadat hy uitgebrei het oor die ongeneeslikheid van die hart in die vorige gedeelte.
Daarby vra hy vir bevryding wat meer met uiterlike omstandighede te make het wat waarskynlik dan met die bedreiging van Jeremia se teenstanders en vervolgers te make het. Jeremia vra dus innerlike genesing en uiterlike bevryding, indien ’n mens die woord vir gesond word só verstaan.
Jeremia pleit daarby dat die Here nie vir hom ’n verskrikking sal word deur sy woord nie waar te maak nie. Hy wil uiteraard nie die onheilsdag in vervulling wens nie, veral omdat hy ’n herder was wat met deernis met die volk wou omgaan, maar die woord wat die Here gegee het, moet ook vervul word, liefs dan op dié wat hom vervolg: “Laat hulle vreesbevange word, nie ek nie!”
17:19-27 – Hou die sabbatdag heilig
Dit is onseker of 17:19-27, waarin die Here ’n woord vir Jeremia gee waarmee hy die volk moet gaan aanspreek, direk aan Jeremia se “Konfessie” verbind is. Die meeste kommentare dink dat dit eintlik ’n nuwe deel is wat nie noodwendig met die vorige gedeelte verbind is nie. Tog is daar vir my ’n sterk skakel tussen die twee gedeeltes met die klem op “dag”.
Jeremia praat in sy “Konfessie” een keer van die “onheilsdag” en twee keer van die “dag van rampe” en vra die Here dat hy dit nou eens en vir altyd oor sy teenstanders en vervolgers sal bring, al het hy vroeër gevra dat die Here dit uitstel. Hulle daag hom nou uit dat daar niks gebeur nie, en hy wil nou hê dat die Here wys dat Hy ernstig is.
Die Here praat weer sewe keer oor die “sabbatdag” in die volgende gedeelte en sê dat die volk se onderhouding daarvan al dan nie sal bepaal of die rampe waarvan Jeremia praat hulle tref of nie. Dié woord van die Here oor die sabbatdag, kan dus as ’n antwoord aan Jeremia verstaan word en gee vir my genoeg van ’n skakel tussen die twee gedeeltes. Die betekenis is in elk geval duidelik, selfs al het die gedeeltes nie direk met mekaar te make nie.
Hierdie gedeelte reflekteer waarskynlik iets van die groeiende belangrikheid van die Sabbatdag ín en ná die ballingskap as dié Joodse onderskeidingsteken, natuurlik saam met die besnydenis. Jy het jou solidariteit en gemeenskap met die volk van God daardeur gewys.
Boodskap
Twee goed bly my by uit die lees van dié hoofstuk – die klem op die hart en die klem op die sabbatdag.
Die een het te make met die verbintenis van ons hart aan God waarin sy deurgronding en toetsing ’n louterende en suiwerende krag het. Daarom moet ’n mens nie te gou ontsteld raak oor dinge wat verkeerd loop en jou geduld en onderskeiding toets nie. Daardeur is God besig met jou hart!
Die ander het te make met die belangrikheid van ’n gereelde ritme van werk en rus, en net so belangrik, werk en feesvier. Ons vergeet meesal die vieringselement van die Sabbat. Dit is net so belangrik soos die rus element. God het immers twee dinge gedoen na sy werk met die skepping klaar was: Hom verheug daarin (“en dit was baie goed”) en gerus na al die werk wat Hy gedoen het (Gen. 1:31-2:1). Ons moet Hom daarin navolg.
Tags: Jeremia
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Tabita – ek het kennis geneem van sy afsterwe, maar ongelukkig bied ek nie só ‘n kursus aan nie. Jy kan hoor by jou kerk se opleidingsinstansies of daar verdere moontlikhede vir jou is. Jy kan ook by SATS probeer: https://www.sats.edu.za/programmes/undergraduate/higher-certificate-in-christian-counselling/
Tabita
| #
Goeie dag pastoor. My naam is Tabita. Ek het n pastorale kursus gedoen deur past. Chris Mengel. Ongelukig en baie hartseer, aan die einde van my finale jaar het die Here hom kom haal. Bied pastoor sulke kursese aan of weet pastoor dalk waar ek my finale jaar kan voltooi groot asb? Groete en geseende dag vir u.
Chris van Wyk
| #
Klik net op Confirm Follow in die e-pos wat wordpress.com na jou Inbox stuur.
Chris van Wyk
| #
Hi Esmé, ek sal jou e-pos insit op daardie bladsy. Jy moet net die e-pos wat WordPress vir jou stuur goedkeur.
Esme Dorfling
| #
Ek wil graag aansluit by 2021 bybel lees program.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/