Skip to main content

Jeremia 16 – Moenie meeleef met dié volk nie, want Ek het nie meer medelye met hulle nie

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDit is ’n baie harde woord van die Here wat in hierdie hoofstuk na Jeremia kom.  Hy kry opdrag om homself van drie basiese gemeenskapsinstellings te onttrek:

  • om ’n familie en gesin te begin  (vers 2-4);
  • om te simpatiseer met mense wat geliefdes verloor het (vers 5-7);
  • om fees te vier saam met familie en vriende wat waarskynlik al die godsdienstige feeste ingesluit het, saam met die huweliksfeeste wat hier spesifiek genoem word (vers 8-9).

Dié gesprek en opdrag aan Jeremia was egter nie net bedoel vir homself nie.  Dit was bedoel as ’n boodskap aan die volk.  Daarom sê die Here in vers 10, “wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: Waarom …”  En dit is op dié punt wat Jeremia die Here se beperking op sy lewe vir hulle moet uitlê as ’n verwerping van die volk weens hulle sonde wat hulle eie gemeenskapslewe sal vernietig (vers 11-13).

Dié woord word opgevolg met twee kort woorde van die Here oor die uiteindelike terugkeer (vers 14-15) ná Hy hulle laat boet het vir hulle sonde (vers 16-18) en ’n baie hoopvolle gesprek tussen Jeremia en God oor die nasies wat tegelykertyd dan tot inkeer sal kom (vers 19-21).

16:1-13 – Moenie meeleef met dié volk nie, want Ek het geen medelye met hulle nie

Oujongkêrels was so onbekend in die OT dat daar nie eers ’n Hebreeuse woord daarvoor bestaan het nie.  Maar dít is die opdrag wat Jeremia in die eerste plek kry.  Hy mag nie trou en kinders hê in dié plek nie.  Daarmee gebruik die Here Jeremia se huwelikstatus om die volk mee aan te spreek (soos die Here dit met Hosea 2 eeue vroeër gedoen het wat met ’n prostituut moes trou).  Soos Jeremia ’n oujongkêrel word, só kies die Here om sonder die volk voort te gaan, ’n oujongkêrel.

Jeremia mag in die tweede plek ook nie simpatiseer met geliefdes wat iemand aan die dood afgegee het nie.  Hy mag nie saam met hulle waak nie, hy mag nie saam met hulle treur nie, hy mag nie met hulle enige meegevoel betuig nie, want “Ek het hulle nie meer lief nie en Ek ontferm My nie meer oor hulle nie, sê die Here.”  Die Here wil op geen manier vir hulle langer sorg nie, nie eers ’n stukkie brood of ’n ietsie te drinke gee as lafenis vir hulle smart nie.  Hy verwerp hulle om te krepeer in hulle eie ellende.

Jeremia mag dus op geen manier met die volk meeleef nie, nie in die normale gang van familie- en gesinsverband nie, nie in die omgee en simpatiseer met familie en vriende wat geliefdes aan die dood afgestaan het nie, en ook nie in derde plek in die normale feesvieringe wat met hulle godsdiensbeoefening sowel as met huweliksluitings saamgeval het.

Dit het die drie groot feeste ingesluit: die Paasfees (Pêsag), Pinksterfees (Shavuot) en Loofhuttefees (Sukkot) wat ook Pelgrimsfeeste genoem is, omdat die Jode daarvoor na Jerusalem gereis het.  Dan was daar die talle ander kleiner feeste: die fees van die ongesuurde brood, oesfees, trompetfees (sewende maand), versoeningsdag (Jôm Kippur – die heiligste Joodse dag), en natuurlik ook die weeklikse Sabbat en die maandelikse nuwemaansfees.

Ná die tyd van Jeremia sou nog feeste bykom: die Purim fees (ná die tyd van Ester), en die wydingsfees (Hannuka – ná die tyd van die Makkabeërs).

Hierdie feeste het ’n geweldige belangrike rol gespeel om die gemeente as ‘n gemeenskap aan mekaar te bind.  Daarom kan ’n mens die geweldige impak van die verbod op Jeremia besef, dat die Here hom verbied om deel te hê daaraan.  Daarmee het die Here op die sterkste moontlike manier sy afkeer aan die gemeenskap van die volk te kenne gegee.  Niemand kon die betekenis daarvan miskyk nie.

Dié opdrag aan Jeremia was dus nie in die eerste plek bedoel vir homself nie.  Dit was bedoel as ’n boodskap aan die volk.  Daarom sê die Here in vers 10, “wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: Waarom …”  En dit is op dié punt wat Jeremia die Here se beperking op sy lewe vir hulle moet uitlê as ’n verwerping van die volk weens hulle sonde wat hulle eie gemeenskapslewe sal vernietig (vers 11-13).

16:14-21 – Ek sal hulle terugbring ná die oordeel – ook die nasies

Dié opdrag aan Jeremia word opgevolg met twee kort woorde van die Here oor die uiteindelike terugkeer (vers 14-15) ná Hy hulle laat boet het vir hulle sonde (vers 16-18) en ’n baie hoopvolle gesprek tussen Jeremia en God oor die nasies wat tegelykertyd dán tot inkeer sal kom (vers 19-21).

Die eerste woord is ’n ongelooflike belangrike een.  Dit beloof ’n terugkeer op dieselfde patroon as dié van die Uittog uit Egipte.  Die Here beloof hier ’n nuwe Uittog uit ballingskap waar sy mense hulle ook al bevind: “Ek sal hulle terugbring na die land toe wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.”

Die tweede woord verduidelik dat die ballingskap eers sal móét plaasvind in uitvoering van die Here se oordeelsaankondiging.  Die vissers staan waarskynlik vir die Galdeërs met die eerste wegvoering in 597 v.C. (Jojagin en kie), en die jagters vir die Galdeërs met die tweede wegvoering in 586 v.C. (Sedekis en kie).   So laat Hy hulle “dubbel” boet vir hulle sonde deur afgodediens.

Die gesprek tussen Jeremia en die Here val my op deurdat daarmee ook ’n uiters hoopvolle belofte gemaak word.  Jeremia sien in sy geestesoog ’n tyd wanneer die nasies hulle dwaasheid sal raaksien en die Here sal vra om hulle God te wees: “Ons voorvaders het net vals gode gehad, nikswerd en nutteloos.”

En uiteraard is dit vir die Here soos musiek in sy ore: “Kan ’n mens vir hom gode maak?  Dit is mos nie gode nie!” Die Here eggo dus Jeremia se visie en bevestig dat Hy ook aan die nasies sy Naam sal bekend maak sodat hulle sy mag en krag kan ken.

Boodskap

Om darem ‘n opdrag te kry om ’n oujongkêrel te word, en daarby ongevoelig en ongesellig op te tree, en met niemand te simpatiseer of fees te vier nie!  Die eensaamheid van Jeremia was regtig ’n totale sosiale ontbering.  Hy moes hom losmaak van alle ondersteuning op sosiale vlak, omdat hy in sy menswees ’n woord aan die volk geword het.  Wat hy ervaar het, hoe hy geleef het, het ’n woord aan die volk van die Here af geword.  Hard, amper onmenslik, maar uiters effektief en helder.

Die Here wou nie hê hy moet meeleef met mense waarmee die Here net geen meegevoel meer mee gehad het nie.  Gelukkig is daardie paar woorde van hoop aan die einde van die hoofstuk.  God keur ’n nuwe begin goed vir die volk.  Hy sluit selfs die nasies in!  En op die koop toe, gebruik Hy later in ’n verrassende omkeer van Jeremia se “vissers”, die “vissers van mense” wat Jesus sou inspan om die Naam van die Here aan die wêreld bekend te maak.  Dít is die hoop vir my vandag.  Ek is ook deel van dié vissers!  En jy ook.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…