Jeremia 16 – Moenie meeleef met dié volk nie, want Ek het nie meer medelye met hulle nie
Dit is ’n baie harde woord van die Here wat in hierdie hoofstuk na Jeremia kom. Hy kry opdrag om homself van drie basiese gemeenskapsinstellings te onttrek:
- om ’n familie en gesin te begin (vers 2-4);
- om te simpatiseer met mense wat geliefdes verloor het (vers 5-7);
- om fees te vier saam met familie en vriende wat waarskynlik al die godsdienstige feeste ingesluit het, saam met die huweliksfeeste wat hier spesifiek genoem word (vers 8-9).
Dié gesprek en opdrag aan Jeremia was egter nie net bedoel vir homself nie. Dit was bedoel as ’n boodskap aan die volk. Daarom sê die Here in vers 10, “wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: Waarom …” En dit is op dié punt wat Jeremia die Here se beperking op sy lewe vir hulle moet uitlê as ’n verwerping van die volk weens hulle sonde wat hulle eie gemeenskapslewe sal vernietig (vers 11-13).
Dié woord word opgevolg met twee kort woorde van die Here oor die uiteindelike terugkeer (vers 14-15) ná Hy hulle laat boet het vir hulle sonde (vers 16-18) en ’n baie hoopvolle gesprek tussen Jeremia en God oor die nasies wat tegelykertyd dan tot inkeer sal kom (vers 19-21).
16:1-13 – Moenie meeleef met dié volk nie, want Ek het geen medelye met hulle nie
Oujongkêrels was so onbekend in die OT dat daar nie eers ’n Hebreeuse woord daarvoor bestaan het nie. Maar dít is die opdrag wat Jeremia in die eerste plek kry. Hy mag nie trou en kinders hê in dié plek nie. Daarmee gebruik die Here Jeremia se huwelikstatus om die volk mee aan te spreek (soos die Here dit met Hosea 2 eeue vroeër gedoen het wat met ’n prostituut moes trou). Soos Jeremia ’n oujongkêrel word, só kies die Here om sonder die volk voort te gaan, ’n oujongkêrel.
Jeremia mag in die tweede plek ook nie simpatiseer met geliefdes wat iemand aan die dood afgegee het nie. Hy mag nie saam met hulle waak nie, hy mag nie saam met hulle treur nie, hy mag nie met hulle enige meegevoel betuig nie, want “Ek het hulle nie meer lief nie en Ek ontferm My nie meer oor hulle nie, sê die Here.” Die Here wil op geen manier vir hulle langer sorg nie, nie eers ’n stukkie brood of ’n ietsie te drinke gee as lafenis vir hulle smart nie. Hy verwerp hulle om te krepeer in hulle eie ellende.
Jeremia mag dus op geen manier met die volk meeleef nie, nie in die normale gang van familie- en gesinsverband nie, nie in die omgee en simpatiseer met familie en vriende wat geliefdes aan die dood afgestaan het nie, en ook nie in derde plek in die normale feesvieringe wat met hulle godsdiensbeoefening sowel as met huweliksluitings saamgeval het.
Dit het die drie groot feeste ingesluit: die Paasfees (Pêsag), Pinksterfees (Shavuot) en Loofhuttefees (Sukkot) wat ook Pelgrimsfeeste genoem is, omdat die Jode daarvoor na Jerusalem gereis het. Dan was daar die talle ander kleiner feeste: die fees van die ongesuurde brood, oesfees, trompetfees (sewende maand), versoeningsdag (Jôm Kippur – die heiligste Joodse dag), en natuurlik ook die weeklikse Sabbat en die maandelikse nuwemaansfees.
Ná die tyd van Jeremia sou nog feeste bykom: die Purim fees (ná die tyd van Ester), en die wydingsfees (Hannuka – ná die tyd van die Makkabeërs).
Hierdie feeste het ’n geweldige belangrike rol gespeel om die gemeente as ‘n gemeenskap aan mekaar te bind. Daarom kan ’n mens die geweldige impak van die verbod op Jeremia besef, dat die Here hom verbied om deel te hê daaraan. Daarmee het die Here op die sterkste moontlike manier sy afkeer aan die gemeenskap van die volk te kenne gegee. Niemand kon die betekenis daarvan miskyk nie.
Dié opdrag aan Jeremia was dus nie in die eerste plek bedoel vir homself nie. Dit was bedoel as ’n boodskap aan die volk. Daarom sê die Here in vers 10, “wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: Waarom …” En dit is op dié punt wat Jeremia die Here se beperking op sy lewe vir hulle moet uitlê as ’n verwerping van die volk weens hulle sonde wat hulle eie gemeenskapslewe sal vernietig (vers 11-13).
16:14-21 – Ek sal hulle terugbring ná die oordeel – ook die nasies
Dié opdrag aan Jeremia word opgevolg met twee kort woorde van die Here oor die uiteindelike terugkeer (vers 14-15) ná Hy hulle laat boet het vir hulle sonde (vers 16-18) en ’n baie hoopvolle gesprek tussen Jeremia en God oor die nasies wat tegelykertyd dán tot inkeer sal kom (vers 19-21).
Die eerste woord is ’n ongelooflike belangrike een. Dit beloof ’n terugkeer op dieselfde patroon as dié van die Uittog uit Egipte. Die Here beloof hier ’n nuwe Uittog uit ballingskap waar sy mense hulle ook al bevind: “Ek sal hulle terugbring na die land toe wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.”
Die tweede woord verduidelik dat die ballingskap eers sal móét plaasvind in uitvoering van die Here se oordeelsaankondiging. Die vissers staan waarskynlik vir die Galdeërs met die eerste wegvoering in 597 v.C. (Jojagin en kie), en die jagters vir die Galdeërs met die tweede wegvoering in 586 v.C. (Sedekis en kie). So laat Hy hulle “dubbel” boet vir hulle sonde deur afgodediens.
Die gesprek tussen Jeremia en die Here val my op deurdat daarmee ook ’n uiters hoopvolle belofte gemaak word. Jeremia sien in sy geestesoog ’n tyd wanneer die nasies hulle dwaasheid sal raaksien en die Here sal vra om hulle God te wees: “Ons voorvaders het net vals gode gehad, nikswerd en nutteloos.”
En uiteraard is dit vir die Here soos musiek in sy ore: “Kan ’n mens vir hom gode maak? Dit is mos nie gode nie!” Die Here eggo dus Jeremia se visie en bevestig dat Hy ook aan die nasies sy Naam sal bekend maak sodat hulle sy mag en krag kan ken.
Boodskap
Om darem ‘n opdrag te kry om ’n oujongkêrel te word, en daarby ongevoelig en ongesellig op te tree, en met niemand te simpatiseer of fees te vier nie! Die eensaamheid van Jeremia was regtig ’n totale sosiale ontbering. Hy moes hom losmaak van alle ondersteuning op sosiale vlak, omdat hy in sy menswees ’n woord aan die volk geword het. Wat hy ervaar het, hoe hy geleef het, het ’n woord aan die volk van die Here af geword. Hard, amper onmenslik, maar uiters effektief en helder.
Die Here wou nie hê hy moet meeleef met mense waarmee die Here net geen meegevoel meer mee gehad het nie. Gelukkig is daardie paar woorde van hoop aan die einde van die hoofstuk. God keur ’n nuwe begin goed vir die volk. Hy sluit selfs die nasies in! En op die koop toe, gebruik Hy later in ’n verrassende omkeer van Jeremia se “vissers”, die “vissers van mense” wat Jesus sou inspan om die Naam van die Here aan die wêreld bekend te maak. Dít is die hoop vir my vandag. Ek is ook deel van dié vissers! En jy ook.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Rita Haley
Hi Chris,
Ek geniet jou e-posse Prontuit die waarheid. Ek ervaar dat daar vir my antwoorde is. En vanoggend het ek my bybel oopgemaak by Jeremia 16 en ek wou net regtig verstaan wat die HERE se boodskap vir my was vanoggend. Daarom het ek kom soek en afgekom op hierdie stukkie.