Skip to main content

Jeremia 15:10-21 – God het geen gevoel meer vir die volk nie

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia se worsteling met God se gebrek aan medelye met die herhaalde afvalligheid van die volk verdiep in sy derde “Konfessie” waarin hy oor die effek daarvan op homself uitbrei.  Hy bekla sy lot in twee rondtes waarin hy telkens praat en die Here hom antwoord:

  • Hy bekla sy ellende in die uitvoering van sy bediening (vers 10-11), waarop hy bloot die herhaling van God se oordeelsaankondiging, presies dít wat hy moet aankondig, ontvang (vers 12-14).
  • Hy gaan nog dieper in op sy ervaring dat hy nie meer op God kan staatmaak nie (vers 15-18) waarop die Here hom teregwys en uitnooi om sy roeping nog dieper te omhels, sodat die volk agter hom sal aanstap, nie hy agter hulle aan nie (vers 19-21).

15:10-11 – “Ellende het my getref, Ma”

Jeremia sug soos ’n Job van ouds oor die ellende wat hom aangedoen is deur in die eerste plek gebore te word: “Ellende het my getref, Ma, toe Ma my in die wêreld gebring het.” Omdat hy ervaar het dat God van vóór sy geboorte af al vir hom geroep het, beteken dit dat hy nie net sy bestaan bevraagteken nie, maar ook verseker die bediening waarin hy staan.  Dit beteken dat hy oral in die land met mense moet twis oor hulle lewens.  Dit het tot gevolg dat hy alleen is en dat mense hom vervloek. En dit grief hom.

Hoewel vers 11 baie moeilik is om te vertaal (vergelyk die diverse menings in ’n paar vertalings), kies ek tentatief dit soos volg te vertaal

“Die Here het gesê: Verseker sal Ek jou red vir goed, verseker sal Ek sorg dat die vyand jou smeek in ’n tyd van onheil en in ’n tyd van benoudheid.”

Hy vra dus vir die Here, hoe kan dit dan wees?  Jeremia herinner hiermee die Here aan sy beloftes van beskerming en die impak wat sy bediening sal hê, maar wonder hoekom dit nie gebeur soos die Here belowe het nie.

’n Mens sou vers 11 natuurlik ook kon vertaal dat díe vers eerder die Here se antwoord op Jeremia se klag in vers 10 is en dat Hy vir hom ’n belofte gee vir die toekoms, iets wat dan moontlik waar geword het met Jeremia se vrylating deur Nebukadnesar en die impak wat hy toe op die volk gehad het onder andere deur hulle versoeke vir voorbidding.

Die keuse is joune!

Hoe dit ook al sy, vers 12 pas vir my beter as ’n eenheid saam met vers 13-14 en is daarom iets wat die Here sê.  Dit verteenwoordig ’n nuwe gedagte eenheid.

15:12-14 – “Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat, Israel”

Indien Jeremia dus die spreker in vers 11 is, antwoord die Here hom dan in vers 12 met ’n retoriese vraag: “Kan ’n mens yster breek, yster uit die noorde, of brons?” Hy sê daarmee dat die oordeel onafwendbaar is: “ Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat, Israel ...”  Jeremia sal dit moet aanvaar. Die wrede werklikheid is dat die vyand, die yster uit die noorde, Babel, hulle sal wegvoer.

15:15-18 – “Ek kan nie op U reken nie”

Jeremia kla op roerende wyse in die voortsetting van hulle gesprek dat hy steeds verwag dat die Here hom beter sal ondersteun in die teenstand, vervloeking en verwerping wat hy ervaar: “Dink aan my, neem my onder u sorg.” Hy verstaan dus dat die oordeel onafwendbaar is, al worstel hy steeds van tyd tot tyd nog daarmee. Maar, hy wonder hoekom hy wat die Here dien, dan só swaar moet kry.

Hy dink terug aan die eerste proesel van God se woord wat soveel vreugde vir hom gebring het, maar helaas hom geïsoleer het van die normale vreugdes van sosiale kontak.  Soos Esegiël (hfst. 3) ook die woord van God as “soet soos heuning” ervaar het, maar toe agtergekom het dat dit oordeelsprediking is, só ervaar Jeremia dit ook.  En dink ook aan Johannes (Openb. 10) wat dieselfde ervaring gehad het met die klein boekie wat hy moes eet – soet soos heuning, maar galbitter in sy maag – wat die oordeelsboodskap aan die nasies was.

U het my in besit geneem en moes alleen sit, vol van die verontwaardiging wat van U af kom.”  Dit laat hom worstel nie net met sy pyn nie, maar ook met God self: “Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ’n stroom wat nie standhoudend is nie.”  Ontsagwekkende verbysterende woorde.

15:19-21 – “Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie”

Dié woorde van Jeremia stuit die Here egter teen die bors.  Hy kan nie daarmee saamlewe nie en vra dat Jeremia dit moet terugtrek.  Eintlik kan dit nie anders nie, want anders kan hy nie meer God se woorde vir ander gee nie.

Die Here belowe dan wel om hom te help, maar waarsku hom dat die mense hóm moet volg, nie hy vir hulle nie, en dit sluit in dat hy Gód se woorde vir mense moet aanhou bring, hoe swaar dit nou ook al vir hom en vir hulle is.  Dan sal die Here sorg dat hy nie oorweldig word nie.

Boodskap

Die roeping wat God gee vir profete, priesters en konings – en onthou elke gelowige het dié funksie in mindere of meerdere mate – hou nie net sukses in nie. Dit lei nie net tot voorspoed nie.  Die roeping van God bring ook ellende vir sy geroepenes in die uitvoering van hulle roeping.  ’n Mens sien dit veral by die profete omdat die boodskap wat hulle bring baie keer ontwrigtend is, die status quo uitdaag, die ongemaklike vrae vra.  ’n Mens sien dit ook in die kruis van Jesus.

Ek hoor egter vandag ook die belofte van die Here dat ás ’n mens getrou is aan sy roeping, sal daar saam met die pyn ook die ervaring van God se teenwoordigheid wees, sal die situasie jou nie oorweldig en te veel word om te verdra nie: “Ek sal jou help en jou red.” Dit is steeds ook die belofte vir God se geroepenes vandag.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.