Jeremia 11:1-17 – Vervloek is elkeen wat ongehoorsaam is aan die verbond
Hier begin weer ’n nuwe hoofdeel van Jeremia, aangedui met die frase: “Dit is die woord …”. Die Here fokus hier op die verbreking van die verbond wat Hy met die volk gesluit het, maar wat hulle deur hulle ongehoorsaamheid en afgodediens verbreek het. Dit is duidelik dat dié woorde van Jeremia geïnspireer is uit beskrywings van die verbond regdeur die boek Deuteronomium. Vgl. bv. die verwysing na “vloek” in vers 3 met Deut. 27:26, “ystersmeltoond” in vers 4 met Deut. 4:20, die “eed aan die voorvaders” in vers 5 met Deut. 7:8; 8:18; 9:5 en nog vele meer.
Jeremia word ’n opdrag gegee om self te luister na die bepalings van die verbond, soos dit in Eksodus tot in Deuteronomium (veral 27:15-26) beslag gekry het en deur Josia in sy hervorming gebruik is (2 Kon. 22-23). Met dít as agtergrond moet hy die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem soos volg daaroor inlig, telkens vanuit sy intieme gesprek met en in opdrag van die Here:
11:3-5 – Die vloek van die verbond
Die verbond hou nie net voortdurende seën in vir die volk onafhanklik van hulle nakoming van die voorwaardes van die verbond nie. Die verbond het ook vervloekings bevat aan elkeen wat ongehoorsaam is aan die bepalings van die verbond wat die Here by die Uittog uit Egipte aan hulle voorvaders bekend gemaak het.
Hulle verhouding met God hang af van hulle gehoorsaamheid. God se landsbelofte word bevestig in hulle gehoorsaamheid aan die verbondsbepalings. Daarop het Jeremia sy instemming laat hoor: “Amen, Here.”
11:6-8 – Die straf van die verbond
Die Here vervolg deur die volk op te roep tot gehoorsaamheid aan die bepalings van die verbond. Hy herinner hulle egter onmiddellik aan die feit dat die voorvaders dié oproep op hardkoppige wyse geïgnoreer het. Dit het God se strawwe wat in die verbondsvervloekinge bepaal is, in werking gestel. Let op dat Jeremia dié boodskap moet bring in die stede van Juda sowel as in die strate van Jerusalem. Hy het dus moontlik as deel van Josia se hervormings die land vol met dié boodskap deurkruis.
11:9-10 – Die verbreking van die verbond
Die Here sluit in sy opvolg gesprek met Jeremia die huidige volk in by die sondes van die voorvaders. “Hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders.” Hulle weier ook om na God se woorde te luister. Hulle dien ook eerder ander gode. Daarmee het hulle, soos hulle voorvaders, die verbond met God verbreek. Hier kan ook ’n subtiele verwysing wees na die konings wat politiese alliansies met ander nasies aangegaan het en só “saamgesweer” het teen die Here. Dit kan ook na sy eie mense in Anatot verwys (11:21-22; 12:5-6).
11:11-14 – Gebed sal die ramp nie afweer nie
Omdat die volk ook in Jeremia se tyd nie na God geluister en Hom nie gedien het nie, bring God daarom die vervloekings en strawwe van die verbond oor hulle, soos Hy dit ook al vroeër gedoen het oor sy ongehoorsame volk. Die afgode sal hulle dan nie kan help nie. Trouens, selfs Jeremia se gebed sal nie help nie, want hy word verbied om vir hulle in te tree.
11:15-17 – Afgodediens is die oorsaak van die rampspoed
Dit is duidelik dat die oorsaak van die rampspoed wat Juda tref in hulle afgodediens lê. Die mooi groen olyfboom van die Here, Juda, sal kaal gestroop en sy blare aan die brand gesteek word. En die tragiese is dat die volk dit hulleself aangedoen het.
Boodskap
Dit is weereens duidelik hoe belangrik die bekende Woord van God, in dié geval Deuteronomium, vir Jeremia was in sy beoordeling van wat rondom hom met die volk besig was om te gebeur. God se beloftes en riglyne is in die Bybel, wat almal kan lees, opgeteken.
- Dit is aan die eenkant ’n uitnodiging en aanmoediging – “Doen alles wat Ek julle beveel, dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees”.
- Dit is aan die ander kant ’n waarskuwing en oordeelsaankondiging – “Omdat dit so is … bring Ek ’n ramp oor hulle waaraan hulle nie sal kan ontkom nie.”
Die feit dat God in Jesus naby ons gekom het, dat Hy vir ons lief het en aan ons sy genade op soveel wyses bewys, moet ons nie onder enige illusies laat dat Hy daarmee sy soewereiniteit en Almag prysgegee het nie. Hy is Here, ja. Maar Hy is ook die Almagtige, verseker.
Tags: Jeremia
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Tabita – ek het kennis geneem van sy afsterwe, maar ongelukkig bied ek nie só ‘n kursus aan nie. Jy kan hoor by jou kerk se opleidingsinstansies of daar verdere moontlikhede vir jou is. Jy kan ook by SATS probeer: https://www.sats.edu.za/programmes/undergraduate/higher-certificate-in-christian-counselling/
Tabita
| #
Goeie dag pastoor. My naam is Tabita. Ek het n pastorale kursus gedoen deur past. Chris Mengel. Ongelukig en baie hartseer, aan die einde van my finale jaar het die Here hom kom haal. Bied pastoor sulke kursese aan of weet pastoor dalk waar ek my finale jaar kan voltooi groot asb? Groete en geseende dag vir u.
Chris van Wyk
| #
Klik net op Confirm Follow in die e-pos wat wordpress.com na jou Inbox stuur.
Chris van Wyk
| #
Hi Esmé, ek sal jou e-pos insit op daardie bladsy. Jy moet net die e-pos wat WordPress vir jou stuur goedkeur.
Esme Dorfling
| #
Ek wil graag aansluit by 2021 bybel lees program.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/