Skip to main content

Riglyne vir die leeswerk

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnEk nooi jou uit om die boek van Jeremia “geestelik” te lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede.  Die inligting wat ek elke weeksdag gaan gee, help jou net om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou ’n groter raamwerk om jou eie verstaan by in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie.

Ek glo dat die hele Bybel God se woord aan jou is, en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met Hom lees.

Ek het al baie maniere van lees deur die loop van die Bybelskool voorgestel.  Die een wat vir myself die beste werk, is soos volg:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het (sinopsis van wat my tref) en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?  Dit help my sin maak van my eie ervarings in die lig van God se Woord.
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.  Jy is welkom om dit só te gebruik of aan te pas vir jou eie behoeftes.

Lectio Divina

Indien jy ’n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening) gebruik wat ek self baie sinvol vind, hoewel ’n mens meer tyd hiervoor opsy moet sit.  Dit werk met 6 bewegings:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees.  Gebruik musiek, óf ’n Psalmvers, óf ’n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing.  Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week).  Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.  Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week).  Sê vir die Here dankie daarvoor.  Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref.  Dink na oor temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een  sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe.  Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.  Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe?  Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.  Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê.  Doen ook voorbidding.  Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.  Dit kan ’n paar minute wees of langer.  Spandeer een keer ’n week ’n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

As jy meer oor die tradisionele aanpak van Lectio Divina wil lees, kan jy Luke Dysinger se weergawe hier aflaai.

Vir Bybelstudiegroepe en Bybelskole

Laat elkeen die gedeeltes lees wat ek publiseer by www.bybelskool.com (registreer by die webtuiste om dit elke weeksdag in jou Inbox te ontvang) en vir hulle persoonlike stiltetyd gebruik soos hierbo beskryf.

Kom ooreen op die aantal hoofstukke wat julle elke week gaan lees.  Julle kan byvoorbeeld kies om ses hoofstukke ’n week te lees, soos ek hierdie keer doen, en dan weekliks by mekaar te kom om dit te bespreek.  Julle kan dit natuurlik ook oor ’n langer tydperk deurlees.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Gebruik van die voorstelle hierbo van die Silencio van Lectio Divina.  Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het.  Gebruik julle joernale.  Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes.  Watter ander gedagtes wil julle byvoeg?  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.  Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk?  Wat vra dit van julle?  Wat belowe dit vir julle?  Wat moet julle dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Doen ook voorbidding.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.  Leef dit uit.

Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.

Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk deur die Bybelteks te werk.  Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.

Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.

 


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders