Skip to main content

Klaagliedere 1: “Ag, hoe verlate lê die stad”

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnTwee sprekers tree op in hierdie gedig, die profeet en die verpersoonlikte Jerusalem.  Dit gee ook ’n handige verdeling van die inhoud van die gedig:

  • 1:1-11b – Profeet: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was.
  • 1:11c-16 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.
  • 1:17 – Profeet: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie.
  • 1:18-22 – Jerusalem: “Die Here het reg gedoen: ek was ongehoorsaam aan sy woord.

1:1-11b – Profeet: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was.

Jeremia huil in hierdie gedig hartroerend oor die effek van God se toorn oor Jerusalem.  Dit is soos ’n begrafnis wat hy moes gadeslaan (die woord wat hier vertaal is met “Ag, hoe” is baie keer in rouprosesse gebruik).  Dit is duidelik dat hy hier as ’n ooggetuie skrywe van twee van die gevolge van God se toorn:

  1. Die traumatiese effek van die verwoesting van die stad op die psige van die volk:
  • Die prominente stad het soos ’n weduwee geword.
  • Sy moet nou dwangarbeid doen: “sy wat heerskappy gevoer het”.
  • Daar is niemand van haar vorige bondgenote naby om haar te help nie. Hulle het haar verraai en haar vyande geword.
  • Hulle onthou die kosbare dinge uit die verlede, maar weet dit is nou verby, die stad het onrein geword soos ’n menstruerende vrou, dit wys selfs op haar klere, sy is in haar naaktheid ontbloot (’n metafoor vir verkragting).
  1. Die ongebreidelde chaos wat in die gemeenskap sowel as in die heiligdom heers weens die verstrooiing van die volk in ballingskap:
  • Juda se mense is weggevoer en kry swaar tussen vreemde mense.
  • Hulle is nou ’n slawevolk. “Haar teenstanders het haar heersers geword.
  • Die paaie na Sion toe treur omdat daar geen feesgangers is nie.” Die pelgrimstogte na Jerusalem vir die verskillende feeste het tot stilstand geknars.  Die priesters sug, die plek is verlate, Jerusalem het dit bitter.
  • Die prag van Sion het alles verdwyn en haar leiers moes magteloos wegtrek. Dink aan Sedekia wat vir Nebukadnesar gevlug het (Jer. 40), Ismael wat die agtergeblewe volk na die Ammoniete probeer wegvoer het (Jer. 41) en uiteindelik Joganan wat met hulle na Egipte toe getrek het ná die val van Jerusalem (Jer. 43).
  • Die waardevolle dinge in die tempel is uit die heiligdom weggevoer en die tempel ontheilig.
  • Die volk ly broodsgebrek.

Op twee plekke word die rede daarvoor aangegee.  Dit is oor “haar baie sonde” – die woord vir sonde in vers 5 is eintlik opstande of rebellies, boonop in die meervoud – en die “groot sonde” wat sy gedoen het.  In vers 8 word die meer normale woord vir sonde gebruik.

1:11c-16 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.

Jerusalem verwoord haar eie leed in ’n gebed aan die Here: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.”  Sy vra ook aan die omringende nasies of haar onnoembare leed hulle nie raak nie: “of daar ’n smart is soos die smart wat oor my gekom het nie”.

Sy wyt dié smart aan die toorn van die Here wat oor haar losgebreek het.  Haar sondes is as’t ware saamgebind tot ’n juk en op haar nek gesit wat haar kragte getap en laat ingee het.  Sy kon dus nie weerstand bied teen haar teëstanders nie.

In die parskuip het die Here vir Juda fyngetrap.”  Dit is daarom dat sy so huil: “dat die trane uit my oë stroom.”  Daar is geen trooster naby nie.  Die bevolking is verslaan. Die vyand het die oorhand gekry.

1:17 – Profeet: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie.

Jeremia eggo in ’n enkele vers dat daar niemand is wat haar bystaan nie, al steek sy haar hande uit om hulp.

1:18-22 – Jerusalem: “Die Here het reg gedoen: ek was ongehoorsaam aan sy woord.

In ’n boodskap bedoel vir die ander nasies erken Jerusalem nie net dat haar straf weens haar verkeerde alliansies gekom het nie – “Ek het na my bondgenote geroep, maar hulle het my in die steek gelaat” – maar veral omdat die Here reg gedoen het.  Dit is die punt van omkeer, van vernuwing, die besef dat die Here se reg bó alles staan, en dat die erkenning daarvan die begin van nuwe moontlikhede is.

Daarom kan sy die Here vra vir ingrype in haar nood, al word sy deur die swaard van die Here afgemaai.  Sy wens ook dieselfde straf vir haar teëstanders wat hulle verlekker in haar smart: “Doen met hulle soos U met my gedoen het oor al my sondes.

Boodskap

Dit is duidelik dat die waarheid pynlik is om te sluk, maar Jerusalem kon dié chaos vermy het as hulle nie teen God gerebelleer het in hulle sonde nie.  Die straf van ballingskap kon afgewend geword het as hulle maar net geluister het na die boodskap van die Here wat hulle gewaarsku het dat sy toorn oor hulle sal ontvlam weens hulle ongehoorsaamheid.

Die evangelie in hierdie gedeelte is die besef dat die erkenning van sonde gekoppel aan die erkenning dat die Here reg opgetree het, die begin van die verandering kan wees.  Dit is ’n boodskap wat vir alle tye geld.  Soos die tollenaar in die tempel, anders as die Fariseër, daar ver gaan staan het en selfs nie na die hemel toe wou opkyk nie, só moet ons ook bid: “O God, wees my, sondaar, genadig.” (Luk. 18:9-14).

Dit is dan wanneer ons die Here Jesus hoor sê: “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Klaagliedere


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!