Hebreërs 4:14-5:10 – Hou styf vas aan ons belydenis en nader met vrymoedigheid die troon van genade
Waar die skrywer in hoofstuk 3 gesê het dat Jesus belangriker is as Moses, vervolg hy hier om te verklaar dat Jesus ook belangriker as Aäron is. Jesus is die “groot Hoëpriester.”
Die hoëpriester was ’n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word (Eks. 28). God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep. Die hoëpriester se funksie was om versoening vir die sondes van die volk (en sy eie) te doen deur eenmaal per jaar in die heiligdom van die tempel te verskyn voor die Here.
Jesus is egter nie ’n Hoëpriester volgens die orde van Aäron nie. Hy is ’n Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (“my koning [is] geregtigheid”). Hy het dieselfde funksie as die Aäronitiese hoëpriester om versoening te doen, maar daar is vier baie groot verskille.
- Jesus doen nie vir sy eie sonde versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, want Hy is sonder sonde. Daarom is Hy vir ons die bron van ewige verlossing (vers 9).
- Jesus doen nie net vir die sondes van die volk versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar vir die sonde van die hele wêreld. Só lê Johannes die Doper dit ook uit op grond van die belofte in Jesaja 53:11: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29 – vgl. 1 Pet. 2:24). Daarom kan Jesus nie maar net ’n Aäronitiese hoëpriester wees nie – Hy was in elk geval nie ’n direkte afstammeling nie – maar moet Hy dit wees as deel van ’n orde wat alle mense insluit.
- Jesus is nie net ’n menslike priester wat uit die mense aangestel word soos Aäron se nageslag nie, maar ’n Goddelike priester wat as Seun van God verwek is daarvoor, en daarom vir ewig as ’n priester volgens die orde van Melgisedek aangestel is.
- Jesus tree nie net een keer per jaar in vir sy mense soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar elke oomblik van elke dag vir ewig en altyd. Hy is “die bron van ewige verlossing” wat te alle tye ontferming en genade kan gee sodat sy mense op die regte tyd gehelp kan word. Dit is groots!
Jesus het, soos Aäron, nie self besluit om Hoëpriester te word nie, want net God kan dié roeping gee. Dit is dus vir Hom gegee: “So ook het Christus nie Homself vereer deur hoëpriester te word nie, maar wel die Een wat vir Hom gesê het: ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’” Dit is God self wat Hom aangewys het as hoëpriester: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” (Ps. 110:4).
Die skrywer sal nog dieper op die orde van Melgisedek in hfst. 7 ingaan. Melgisedek tref ons net op twee ander plekke in die Bybel aan.
In Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is. Hy het kos en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Abram se reaksie was betekenisvol. Hy het vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee.
Dit is dié orde van Melgisedek waarna in Psalm 110 verwys word. Aan die koning word in dié Psalm nie net oorwinning oor sy vyande beloof nie, nie net die mag oor allerlei nie, maar baie spesifiek ook die priesterskap volgens die priesterorde van Melgisedek. Hierdie Psalm se boodskap word Messiaans geïnterpreteer en deur die skrywer aan die Hebreërs op Jesus van toepassing gemaak. Hy is dus ’n koninklike priester volgens die orde van Melgisedek. Dit is dus ’n koninklike priesterskap, ’n konsep waaroor ook die apostel Petrus skryf in sy brief aan die vreemdelinge in die Diaspora, die uitverkorenes van God, en dit van toepassing maak op wat God met die geloofsgemeenskap doen (1 Pet. 2:9-10).
Hierdie Hoëpriester, sê die skrywer, het “deur die hemele gegaan”. Daarmee word uitgedruk dat Hy die ruimte van God, die Allerheiligste plek, die troon van God, binnegegaan het. Hy is dus nie net die Hoëpriester van ’n bepaalde plek en of godsdiens nie, maar van die hele Skepping. Iet som oor na te dink! Paulus skryf ook daaroor in Kolossense 1:15-20.
Dit is aan dié belydenis waaraan ons styf moet vashou:
- dat Jesus die Seun van God is (hfst. 1:5);
- dat Jesus belangriker is as die engele (hfst. 1:14);
- dat Jesus die kroon en die doel van die Skepping is (hfst. 2:9);
- dat Jesus by uitnemendheid die Leidsman van ons verlossing is (hfst. 2:10);
- dat Jesus die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis is (hfst. 3:1).
- dat Jesus belangriker is as Moses (hfst. 3:3);
Die skrywer gebruik die Griekse woord omologia om hierdie belydenis uit te druk. Dit is dieselfde woord wat Paulus gebruik om Timoteus se belydenis voor baie getuies te beskryf. Vgl. 1 Tim. 6:12: “Hardloop die goeie wedloop van die geloof; gryp na die ewige lewe waartoe jy geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” Dit beteken dus die inhoud van jou geloof, dít waaraan jy jou verbind, dít waarvoor jy leef.
En waarom moet aan dié belydenis vasgehou word? Omdat dit die enigste hoop is wat ons het as ons aan allerlei swakhede en versoekings blootgestel word. Omdat Jesus, as groot Hoëpriester, medelye het met ons swakhede en vatbaarheid vir versoekings, kan Hy ons help. Hy word nie self deur swakhede of versoekings ingeperk of aan bande gelê nie. En Hy is altyd beskikbaar om ons te help in versoekings. Dit is sy werk, sy roeping, dié hoofdoel waarvoor God Hom vir ewig aangestel het.
Daarom: “Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.” Jesus het baie meer deernis met ons onkunde, ons swakhede, ons uitdagings as wat enige menslike hoëpriester ooit kan hê. Omdat Hy self deur lyding na gehoorsaamheid en volmaaktheid gebring is, kan Hy vir ons die bron van “ewige verlossing” wees.
Boodskap
Die boodskap van Jesus as Hoëpriester is ’n sentrale waarheid in die brief-boodskap aan die Hebreërs. Jesus sit aan die regterhand van die Vader en tree nie net vir ons as Voorbidder in nie, maar doen inderdaad Versoening vir ons sondes. Hy luister na ons gebede om ontferming en genade en sien toe dat ons op die regte tyd gehelp word. Daarom moet ons sonder ophou met baie vrymoedigheid bid om ontferming en genade, maak nie saak in watter moeilikheid of versoeking ons is nie.
Ek kan aan min dinge dink wat my soveel gerustheid en hoop gee vir hierdie lewe, as juis dít nie. Die konsep van Hoëpriester is iets wat ek met alles in my omhels. Dít is die hart van my belydenis oor Jesus. Want, daarin lê uiteindelik nie net die hoop vir dié lewe opgesluit nie, maar die hoop vir ons almal se “ewige verlossing” opgesluit!
Jan knoesen
Baie dankie vir die mooi en duidelike uiteensetting van ons Jesus Christus. Ek het net n vraag: Hoe bely ek my sonde?moet ek dit voor n mede gelowige doen? Of kan ek dit in my binnekamer voor God erken en bely? Groete Jan
Chris van Wyk
‘n Mens bely primêr jou sonde voor die Here in jou binnekamer. Soms het mens skuldgevoelens oor jou sondes wat met ‘n geestelike begeleier en/of leraar deurgesels kan word en waar jy deur berading en gebed begelei kan word. Wanneer daar ander mense betrokke is, d.w.s. wanneer jy iets eintlik direk teenoor iemand moet bely of iets moet regstel, dan doen jy dit uiteraard in persoonlike gesprek met hulle en bid saam dat die saak uitgesorteer word. Ook hier is ‘n geestelike begeleier en/of leraar van groot hulp.
Petie
Ek stem nie saam met die sonde belydenis in die binnekamer nie. Die Griekse woord wat vertaal word as bely impliseer dat dit in die teenwoordigheid van iemand anders gedoen word. Die woord kan ook vertaal word as erken. Om my sonde in my binnekamer voor God te erken maak ‘n by implikasie ‘n bespotting van God omdat Hy nie net jou sonde reeds ken nie maar dit ook reeds vergewe en versoen het. Dit vind in die teenwoordigheid van ‘n regverdige (verkieslik een met ondervinding van die geestelike implikasies van jou sonde en hoe om daar mee te deel) sodat hy vir jou kan bid en jy genees kan word van die geestelike wonde en siektes wat uit jou sonde voort gespruit het. Anders sou dit moontlik gewees het om in jou binnekamer te bely dat Christus die Seun van God is en dat God Hom uit die dode op gewek het ens. Maar Jesus stel dit duidelik dat Hy elkeen wat dié belydenis voor die mense sal aflê sal Hy voor Sy Vader en Sy engele bely. Die selfde Griekse woord is in byde gevalle gebruik om die kosep te staaf. Dit is maar my beskeie oortuiging in die verband.
Groette in Christus.
Chris van Wyk
Hi Petie
Sondebelydenis en geloofsbelydenis is twee verskillende goed. Die eerste is ‘n belydenis van jou skuld en wel iets wat in die binnekamer kan en moet gebeur, maar ook soms saam met die gemeente en soms in die teenwoordigheid van ‘n medebroer of suster. Die tweede is ‘n belydenis van jou geloof in die Here Jesus Christus en iets wat verseker ook teenoor God gedoen kan word, dit is immers wat ons in gebed doen, maar waarvan dit ook waar is dat sonder dat ‘n mens dit teenoor iemand in die openbaar erken dit nie ‘n groot effek op jou lewe in gemeenskap met ander het nie.
Oor sondebelydenis die volgende opmerkings uit die Bybel:
Die idee van sondebelydenis teenoor God self, sonder dat daar iemand by is, is duidelik op ‘n hele paar plekke in die Bybel:
Daar word net een keer word gesê dat dit ook teenoor mekaar sal wees:
Ons kan die een doen en die ander ook nie nalaat nie.