Skip to main content

Hebreërs 4:14-5:10 – Hou styf vas aan ons belydenis en nader met vrymoedigheid die troon van genade

HebreërsWaar die skrywer in hoofstuk 3 gesê het dat Jesus belangriker is as Moses, vervolg hy hier om te verklaar dat Jesus ook belangriker as Aäron is.  Jesus is die “groot Hoëpriester.”

Die hoëpriester was ’n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word (Eks. 28).  God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep.  Die hoëpriester se funksie was om versoening vir die sondes van die volk (en sy eie) te doen deur eenmaal per jaar in die heiligdom van die tempel te verskyn voor die Here.

Jesus is egter nie ’n Hoëpriester volgens die orde van Aäron nie.  Hy is ’n Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (“my koning [is] geregtigheid”).  Hy het dieselfde funksie as die Aäronitiese hoëpriester om versoening te doen, maar daar is vier baie groot verskille. 

  • Jesus doen nie vir sy eie sonde versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, want Hy is sonder sonde. Daarom is Hy vir ons die bron van ewige verlossing (vers 9).
  • Jesus doen nie net vir die sondes van die volk versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar vir die sonde van die hele wêreld. Só lê Johannes die Doper dit ook uit op grond van die belofte in Jesaja 53:11: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29 – vgl. 1 Pet. 2:24).  Daarom kan Jesus nie maar net ’n Aäronitiese hoëpriester wees nie – Hy was in elk geval nie ’n direkte afstammeling nie – maar moet Hy dit wees as deel van ’n orde wat alle mense insluit.
  • Jesus is nie net ’n menslike priester wat uit die mense aangestel word soos Aäron se nageslag nie, maar ’n Goddelike priester wat as Seun van God verwek is daarvoor, en daarom vir ewig as ’n priester volgens die orde van Melgisedek aangestel is.
  • Jesus tree nie net een keer per jaar in vir sy mense soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar elke oomblik van elke dag vir ewig en altyd.  Hy is “die bron van ewige verlossing” wat te alle tye ontferming en genade kan gee sodat sy mense op die regte tyd gehelp kan word.  Dit is groots!

Jesus het, soos Aäron, nie self besluit om Hoëpriester te word nie, want net God kan dié roeping gee.  Dit is dus vir Hom gegee: “So ook het Christus nie Homself vereer deur hoëpriester te word nie, maar wel die Een wat vir Hom gesê het: ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’”   Dit is God self wat Hom aangewys het as hoëpriester: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” (Ps. 110:4).

Die skrywer sal nog dieper op die orde van Melgisedek in hfst. 7 ingaan.  Melgisedek tref ons net op twee ander plekke in die Bybel aan.

In Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is.  Hy het kos en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde.  Geloof sy God die Allerhoogste!  Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”  Abram se reaksie was betekenisvol.  Hy het vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee.

Dit is dié orde van Melgisedek waarna in Psalm 110 verwys word.  Aan die koning word in dié Psalm nie net oorwinning oor sy vyande beloof nie, nie net die mag oor allerlei nie, maar baie spesifiek ook die priesterskap volgens die priesterorde van Melgisedek.  Hierdie Psalm se boodskap word Messiaans geïnterpreteer en deur die skrywer aan die Hebreërs op Jesus van toepassing gemaak.  Hy is dus ’n koninklike priester volgens die orde van Melgisedek.  Dit is dus ’n koninklike priesterskap, ’n konsep waaroor ook die apostel Petrus skryf in sy brief aan die vreemdelinge in die Diaspora, die uitverkorenes van God, en dit van toepassing maak op wat God met die geloofsgemeenskap doen (1 Pet. 2:9-10).

Hierdie Hoëpriester, sê die skrywer, het “deur die hemele gegaan”.  Daarmee word uitgedruk dat Hy die ruimte van God, die Allerheiligste plek, die troon van God, binnegegaan het.  Hy is dus nie net die Hoëpriester van ’n bepaalde plek en of godsdiens nie, maar van die hele Skepping.  Iet som oor na te dink!  Paulus skryf ook daaroor in Kolossense 1:15-20.

Dit is aan dié belydenis waaraan ons styf moet vashou:

  • dat Jesus die Seun van God is (hfst. 1:5);
  • dat Jesus belangriker is as die engele (hfst. 1:14);
  • dat Jesus die kroon en die doel van die Skepping is (hfst. 2:9);
  • dat Jesus by uitnemendheid die Leidsman van ons verlossing is (hfst. 2:10);
  • dat Jesus die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis is (hfst. 3:1).
  • dat Jesus belangriker is as Moses (hfst. 3:3);

Die skrywer gebruik die Griekse woord omologia om hierdie belydenis uit te druk.  Dit is dieselfde woord wat Paulus gebruik om Timoteus se belydenis voor baie getuies te beskryf.  Vgl. 1 Tim. 6:12: “Hardloop die goeie wedloop van die geloof; gryp na die ewige lewe waartoe jy geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”  Dit beteken dus die inhoud van jou geloof, dít waaraan jy jou verbind, dít waarvoor jy leef.

En waarom moet aan dié belydenis vasgehou word?  Omdat dit die enigste hoop is wat ons het as ons aan allerlei swakhede en versoekings blootgestel word.  Omdat Jesus, as groot Hoëpriester, medelye het met ons swakhede en vatbaarheid vir versoekings, kan Hy ons help.  Hy word nie self deur swakhede of versoekings ingeperk of aan bande gelê nie.  En Hy is altyd beskikbaar om ons te help in versoekings.  Dit is sy werk, sy roeping, dié hoofdoel waarvoor God Hom vir ewig aangestel het.

Daarom: “Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.”  Jesus het baie meer deernis met ons onkunde, ons swakhede, ons uitdagings as wat enige menslike hoëpriester ooit kan hê.  Omdat Hy self deur lyding na gehoorsaamheid en volmaaktheid gebring is, kan Hy vir ons die bron van “ewige verlossing” wees.

Boodskap

Die boodskap van Jesus as Hoëpriester is ’n sentrale waarheid in die brief-boodskap aan die Hebreërs.  Jesus sit aan die regterhand van die Vader en tree nie net vir ons as Voorbidder in nie, maar doen inderdaad Versoening vir ons sondes.  Hy luister na ons gebede om ontferming en genade en sien toe dat ons op die regte tyd gehelp word.  Daarom moet ons sonder ophou met baie vrymoedigheid bid om ontferming en genade, maak nie saak in watter moeilikheid of versoeking ons is nie.

Ek kan aan min dinge dink wat my soveel gerustheid en hoop gee vir hierdie lewe, as juis dít nie.  Die konsep van Hoëpriester is iets wat ek met alles in my omhels.  Dít is die hart van my belydenis oor Jesus.  Want, daarin lê uiteindelik nie net die hoop vir dié lewe opgesluit nie, maar die hoop vir ons almal se “ewige verlossing” opgesluit!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda