Hebreërs 12 – Hardloop die wedloop wat vir ons voorlê met volharding
Die grootste voorbeeld van geloofsvolharding is natuurlik Jesus Christus self. Meer nog, Hy is nie net vir ons ’n inspirerende voorbeeld in eie reg nie, maar trouens die Leidsman sowel as die Voleinder van die geloof. Hy het die vermoë om ons nie net te inspireer nie, maar in staat te stel om die wedloop wat vir ons voorlê, te hardloop. Hy is immers die Een wat as Hoëpriester ons verlede, hede en toekoms in sy hande hou (hfst. 8-10).
Die skrywer sluit dus sy aansporing en bemoediging van die geloofsgemeenskap af deur op die volgende aspekte van die geloofswedloop klem te lê:
- Rig self die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof – 12:1-13
- Sien toe dat niemand anders God verontagsaam nie – 12:14-29
12:1-13 – Rig self die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof
Soos die skrywer sy brief-boodskap begin het met die oproep om met ons geloofs-ore na God te luister wat met ons praat deur die Seun (hfst. 1:2), só vul hy dit aan met die oproep om ons geloofsoë op die Seun te rig, Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.
Hy is egter ook baie bewus daarvan dat hierdie oproep ’n enorme uitdaging is wat met geweldige innerlike en uiterlike konflik en stryd gepaard sal gaan.
Daar is drie uitdagings wat ’n mens die hoof moet bied:
- Nie net is daar die laste (goeie dinge wat egter persoonlike hindernisse kan wees) waarvan ontslae geraak moet word nie,
- ook nie net die sonde wat ons so maklik aankleef nie, waarvan ontslae geraak moet word nie,
- maar ook nog die dissipline (tug) wat God toepas op elkeen wat Hy aanneem as een van sy kinders.
Sommige van hierdie uitdagings kom uit jou persoonlike samestelling en lewenstyl– dinge wat vir jou laste sou kon wees, en sondes wat ’n greep op jou lewe kan kry – en ander uitdagings kom uit die omstandighede van die gemeenskap en die wêreld om jou – dinge wat buite jou beheer oor jou pad kom – soos Jesus wat bv. ’n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom moes verduur.
Die gedagte aan Jesus moet ’n mens in jou stryd teen laste en sondes dra. Aan die een kant moet ’n mens dink aan die feit dat Hy dit gemaak het en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Aan die ander kant moet ’n mens dink aan die feit dat Hy die Leidsman en Voleinder is van die geloof. Hy is jou Inspireerder en Instaatsteller.
Die gedagte aan die uitkoms van dissipline moet jou in die uitdaging van lewensomstandighede dra. Aan die een kant is dit die lot van elkeen wat ’n kind van God is. Niemand word uitgesluit nie. Aan die ander kant lewer dissipline altyd “’n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is, ’n vrug van geregtigheid.”
Hierdie gedagtes moet jou inspireer om die slap hande en lam knieë op te tel en reguit paaie vir die voete te maak, by wyse van spreke, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond word. Dit herinner aan die wysheid van Spreuke 4:26-27 (vgl. my bydrae daaroor: Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af).
12:14-29 – Sien toe dat niemand anders God verontagsaam nie
Die oproep om die oog op Jesus te hou, is egter nie net iets wat ’n mens persoonlik kan omarm nie. Dit bly ’n integrale deel van die evangelie om te sorg dat die mense rondom jou nie afvallig raak nie.
’n Mens kan dus nie net persoonlik streef na vrede met almal en na persoonlike heiligmaking nie – al is dit ook hoe belangrik. Dit moet aangevul word met ’n omgee vir ander om dieselfde pad saam met jou te volg. Niemand sal God daarsonder sien nie – wat immers die einddoel van die geloofsvolharding is.
Die afvalligheid kan volgens die skrywer op drie maniere gebeur.
- Dit kan gebeur dat mense in onbegrip of selfs net onnadenkendheid: “die genade van God verspeel”. Waar Jesus nie voor oë gehou word as Leidsman en Voleinder van die geloof nie, sal mense inderdaad die genade van God verspeel.
- Dit kan ook gebeur deur afvalligheid waar God met iets anders verplaas word. Die geloofsgemeenskap word daarom opgeroep om te sorg dat daar “geen wortel van bitterheid opskiet en moeilikheid veroorsaak en baie daardeur besoedel word,” nie. Die skrywer verwys hier heel waarskynlik na die beskrywing in Deuteronomium 29:18-21 van wat met ’n geloofsgemeenskap gebeur as hulle afvalligheid van God toelaat. Die Here waarsku dat sulke mense, “so ’n gifwortel wat alles kan vergiftig”, tot baie ellende en swaarkry sal lei.
- Dit kan ook gebeur wanneer iemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau wat sy eersgeboortereg prysgegee het. Dit is iets wat nie maklik ongedaan gemaak word nie, al begeer jy dit met baie trane. Esau het tevergeefs vir Isak gesmeek vir ’n gesindheidsverandering, maar dit nie gekry nie. Hierdie gevaar van goddeloosheid dui op dieselfde gevaar wat die skrywer aan Hebreërs in hfst. 3:12 as “’n bose hart van ongeloof” beskryf het. Só iets moet die geloofsgemeenskap ten alle koste in eie geledere probeer vermy.
Die rede hiervoor is dat God nie maar beperk is tot iets tasbaars soos in die natuurtekens by die berg Sinai met die gawe van die wet ervaar is nie. En dit was alreeds skrikwekkend groots. Selfs Moses het daarvan gesê: “Ek is beangs en ek sidder!”
Nee, die rede vir hierdie oproep om om te gee vir ander is dat hulle die doel van hulle lewe kan mis. Hulle is op pad na die hemelse stad van die lewende God met sy tienduisende engele waar hulle deel sal raak van die “gemeente van eersgeborenes”. Israel is in die OT as God se eersgeborene geteken (Eks. 4:22; vgl. Jer. 31:9). Dit word nou op alle gelowiges van toepassing gemaak (vgl. ook wat ek hieroor geskryf het in Psalm 87 – Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore). In God se teenwoordigheid sal hulle as vrygespreektes vervolmaak word. Dít kan ’n mens nie mis nie!
Daarom: “Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie.” Ons kan nie ons rug draai op die Een wat besig is om ’n onwankelbare koninkryk voor te berei nie. En ons moet toesien dat niemand van ons medegelowiges dit doen nie. Die slotsom is: “Laat ons dankbaar wees en God daardeur op ’n welgevallige wyse dien, met eerbied en ontsag, want ons God is inderdaad ’n verterende vuur.”
Boodskap
Ek kan aan geen ander Skrifgedeelte dink wat só onomwonde ons oproep om nie net self die Here met alles in ons te dien en in geloof te volhard nie …. maar ook tegelykertyd ons oproep om alles in ons vermoë te doen om te sorg dat die ander lede van ons geloofsgemeenskap nie agterbly en afvallig raak van die lewende God nie.
En die rede daarvoor is nie net dat dit die gesondheid van die geloofsgemeenskap bepaal nie, hoewel dit ’n belangrike rede is. Die belangrikste rede is dat niemand van die geloofsgemeenskap die voorreg van vervolmaking as die “gemeente van eersgeborenes” kan mis nie. Dit kan net nie gebeur nie. “It’s too ghastly to contemplate!”