Hebreërs 13 – Wees gasvry, meelewend, mededeelsaam, gehoorsaam en onderdanig
In ’n gemeenskap wat fokus op Jesus as Leidsman en Voleinder van die geloof en terselfdertyd sorg dat die ander lede van die geloofsgemeenskap nie agterbly en afvallig raak van die lewende God nie, kan mens nie anders as om te fokus op dinge wat die gemeenskap bevestig en bou nie.
Daarom beskryf die skrywer die tipe gemeenskap waarna hulle streef om te wees in die vorm van ’n hele aantal onderlinge houdings en gewoontes. Hy gee ’n sinopsis van tien van die eienskappe van die geloofsgemeenskap wat as pastorale en etiese onderrig kan dien.
13:1-6 – Let op julle persoonlike verhoudinge
Die eerste lys van vyf aspekte het veral te make met hulle persoonlike ruimte:
- 13:1 – Hulle moet mekaar liefhê – “Die broederliefde moet bly!”
- 13:2 – Hulle moenie versuim om gasvry te wees nie. Só kan hulle straks verras word met engele as gaste! Dit verwys waarskynlik na Abraham wat God self in die vorm van engele gehuisves het (Gen. 18).
- 13:3 – Hulle moet sorg vir gevangenes en mishandeldes, asof hulle self gevangenes en mishandeldes is.
- 13:4 – Hulle moet die huwelik in alle opsigte eerbaar hou. Geen egbreuk en owerspel mag toegelaat word nie.
- 13:5-6 – Hulle moet vry van geldgierigheid leef. Hoe doen ’n mens dit? “Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie en ook nie in die steek laat nie.’” Dit is dieselfde belofte wat die Here aan Josua gegee het (Deut. 31:6,8; Jos. 1:5) en in gewysigde vorm vroeër aan Jakob (Gen. 28:15). Dit bly die belofte van God aan sy mense. Dán, sê die skrywer, sal mens met vertroue kan sê dat die Here vir jou ’n helper is, aangehaal uit Ps. 118:6.
13:7-17 – Let op julle gemeenskapsverhoudinge
Die tweede lys van vyf aspekte het veral met die publieke ruimte van die geloofsgemeenskap te make:
- 13:7-8 – “Hou altyd julle leiers in gedagte, dié wat die woord van God aan julle verkondig het.” Die skrywer verwys hier waarskynlik meer spesifiek na van die eerste leiers van die kerk in die eerste eeu, die apostels, en hulle nalatenskap ná hulle dood, want die gemeente moet spesifiek ag slaan op die uiteinde van hulle lewensloop en hulle geloof as voorbeeld neem. Daaraan voeg hy by dat “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid,” waarmee hy ’n maatstaf gee waaraan hulle prediking gemeet kan word. Die woorde was waarskynlik deel van ’n vroeë credo of belydenis van die vroeë kerk.
- 13:9-14 – “Moenie meegevoer raak deur allerhande vreemde leringe” Hier verwys die skrywer veral na die aandrang van sommige op die nakom van Joodse eet- en offer gebruike. God se genade word egter nie deur fisiese eetgewoontes en –reëls beleef nie, al het dit ook ’n kultiese offer – en godsdienstige karakter. Hoekom? Want, God se genade is iets wat in die hart en deur die werking van die Here Jesus Christus ontvang word en nie deur wat jy eet nie. Na ’n baie moeilik verstaanbare gedeelte, waar hy basies die voortreflikheid van Christus se offer bó dié van die Joodse offers beskryf (vers 11-12), raai hy hulle aan om hulleself met Christus te identifiseer, al beteken dit ook dat hulle smaad sal verduur. Hulle soek immers nie ’n aardse heenkome saam met die Joodse volk nie, maar ’n hemelse heenkome in die toekomstig stad van God.
- 13:15 – Lofprysing moet hulle gemeenskap kenmerk: “dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely.” Dit moet hulle geloofsgemeenskap in sy samekomste kenmerk.
- 13:16 – Hulle moet as geloofsgemeenskap nie versuim om goed te doen nie en mededeelsaam te wees in die gemeenskap nie, want dit is die tipe offer wat God se hart bly maak en ’n impak maak.
- 13:17 – “Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers”. Hier het hy waarskynlik die geestelike leiers in die gemeente in gedagte na wie hulle moet luister, veral omdat dié leiers van hulle rekenskap sal moet gee, ’n dure verantwoordelikheid. Dit sal die leiers ook in staat stel om dié taak van leierskap met vreugde te verrig, want as hulle dit al sugtend moet doen, sal die uitwerking ook nie goed wees op die gemeente nie!
13:18-25 – Aanvaar die boodskap van aansporing
Hy sluit sy brief-boodskap af met ’n aantal laaste versoeke.
- Hy vra dat hulle vir hom sal bid in sy omstandighede waar hy hom op die oomblik bevind.
- Hy wil ook hê dat hulle sal vra dat hy aan hulle terugbesorg sal word.
- Hy bid hulle die seën van die Here toe, veral dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is.
- En hy pleit by hulle om sy geskrewe boodskap van aansporing te aanvaar.
Boodskap
Ek dink elke geloofsgemeenskap moet aan die hand van dié lys van tien houdings en gewoontes ’n eie weergawe opstel wat hulle ooreenkoms met mekaar bevat. En ons moet onsself daaraan verbind en mekaar daaraan hou. Ons is dit aan mekaar verskuldig. Trouens, ons is dit aan die Here self verskuldig.
Hiermee kom ons aan die einde van hierdie besondere brief-boodskap. Mag die genade ook met julle almal bly soos julle die wedloop wat vir julle voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof. En mag jy ook sorg dat niemand in die proses agtergelaat word en afvallig raak van die lewende God nie. Niemand mag die insluiting in die “gemeente van die eersgeborenes” mis nie!