Die “Vloek”-Psalms
Een van die groot vrae in verband met die Psalms is wat ons as volgelinge van Jesus Christus moet maak met die wraakgierige houding teenoor die vyande soos baie keer grafies in die Psalms uitgespreek word. Ons vind dit nie net in die sogenaamde “vloek”-Psalms nie (bv Ps 35; 59; 69; 109), maar ook in talle ander Psalms, trouens in talle ander gedeelte regdeur die Bybel.
Hoekom is sulke gedeeltes ingesluit in die Bybel? Is dit steeds aanvaarbaar om dié tipe “vloek“-Psalms te bid? Veral as ons Jesus se opdrag om ons vyande te seën in ag neem?
Ek hou baie van die beginsel wat Marvin Tate gebruik in sy aanpak van die “vloek”-Psalms. Hierdie beginsel kan vir alle moeiliker gedeeltes in die Bybel gebruik word. Hy sê:
“In the appropriation of this language into the life of faith it is well to begin with a framework of understanding rather than with an apology in the sense of an effort to explain away the disturbing elements.” (Psalms: Word Biblical Commentary).
Ons moet dus altyd eerder probeer om die vervloekinge te verstaan as te verdoesel. Ons moet die versoeking weerstaan om die moeiliker gedeeltes in die Bybel weg te verklaar in ‘n misplaaste poging om die res van die Bybelse boodskap te verdedig. Dit lei altyd onvermydelik tot ‘n reduksie van die boodskap van die geheel van die Bybel en ‘n wantroue in die gesag daarvan.
Hier is vier opmerkings vir jou nadenke om die vervloekinge in die Bybel beter te verstaan:
1. Die Palms gee vir ons taal om ons hele ervaring van menswees voor God te verwoord.
Die Psalms bevat eerlike taal wat werklike emosies uitdruk en glad nie probeer om die woede en afgryse weg te steek nie. Die Psalms gee hiermee vir ons taal om ons hele ervaring van menswees voor God te verwoord.
- Die Psalms gee eerstens vir ons taal om die Here te loof en te prys. Dit help ons om in verwondering die Here in dankbaarheid te aanbid vir wie Hy is en wat Hy doen, sy wese en sy werke (Ps 8; 19; 119; 146).
- Die Psalms gee tweedens vir ons taal om in ons diepste nood en ellende ons hart voor Hom uit te stort. Dit nooi ons uit om Hom te vertrou in watter uitdagende situasie ons ons ook al mag bevind. Of dit nou droogte is (Ps 4) of siekte (Ps 6) of sonde (Ps 51), daar is ‘n Psalm waardeur ons ons behoeftes voor God kan uitspreek.
- Hierdie taal sluit derdens situasies van vervolging en verguising in. In sulke situasies word daar nie net gebed vir God se seën vir gelowiges nie (Ps 67:2), maar ook vir God se straf vir goddeloses (Ps 10:15). Dit sluit God se veroordeling en vervloeking van vyande in (Ps 69; 109).
Soos Walter Brueggemann skryf, die Psalms gee vir ons:
“freedom of expression to those raw edges in our life that do not easily submit to the religious conviction we profess on good days” (The Message of the Psalms).
Die waarde van die Psalms vir ons geestelike gesondheid is dat hierdie woede wat ons ervaar nie verberg hoef te word nie, maar teenoor God uitgespreek kan word waarmee ook vir Sy optrede gevra kan word.
2. Wanneer pyn eerlik voor God verwoord word, lei dit tot ‘n katarsis van geloof en vernuwing.
Soos Tate sê:
“When bitterness and pain are poured out to God, the way may be cleared for a fresh vision of reality and new trust in God. These psalms help to purify us of feelings of rage, and also of dereliction and abandonment. They lead toward a catharsis of faith and a renewal of the soul. They also help us to realize that there is no place or condition of life where God is not.”
Dit geld natuurlik ook nie net ons eie pyn nie. Die woedende worstelende woorde van die Psalms moet ons ook roer tot identifisering met ander mense wat aan onreg en geweld blootgestel is, sodat ons nie net hulle lot voor God sal bring nie, maar ook as God se verteenwoordigers betrokke sal raak in die verlossing wat nodig is vir dié wat uitgelewer is aan die magtiges van hierdie wêreld.
Nog dieper, dié Psalms moet ons ook oortuig van ons eie skuld, want ons is baie keer self onbillik en onregverdig, al is dit nie op só ’n groot skaal of met dieselfde afgryslike impak as wat mense in groter magsposisies kan uitoefen nie.
Ons is baie keer ook sélf die vyand en dié Psalms moet ons help om voor God te gaan staan en te vra dat die impak van ons lewens gesuiwer word van eie belang en geweld. Daar is ook ’n voor-Christus houding by ons in sekere lewensituasies wat om bekering vra, soos John Bright geskryf het (A History of Israel).
3. Die Psalms eggo die feit dat veroordelings en vervloekings regdeur die Bybel as beskrywings van God se interaksie met mense voorkom.
Die ongemaklike waarheid van die Bybel is dat God se straf die keersy is van sy seën regdeur die Bybel. In alle beskrywings van sy interaksie met mense sien ons dit. Van Genesis af tot in Openbaring.
Vergelyk maar net die verhaal van die sondeval in Genesis 3. Sowel as die vloedverhaal in Genesis 6-8. God seën nie net voor die voet nie. Hy verwag gehoorsaamheid van sy skepsels en gebruik seën en straf om sy verhouding met hulle in stand te hou. Soos dit ook helder in die res van die Pentateug uitgespel word (Eks 20; Deut 28) sowel as al die profete.
Die beginsel wat hierdie oortuiging struktureer regdeur die Bybel, is die volgende, in die woorde van die Psalmis: “Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is, maar dié wat teen Hom opstandig is, straf Hy swaar.” (Ps 31:24).
Dit is vir baie nuus, maar veroordelings en vervloekings kom natuurlik ook in die NT voor, ook in die mond van Jesus.
Trouens, die evangelies gebruik van die vloek-Psalms in die verwoording van hulle boodskap.
- Jesus se dissipels verbind bv sy reiniging van die tempel – met ‘n sweep! – aan Psalm 69:10 “Die liefde vir u huis verteer my,” (Joh 2:17), ‘n vloek-Psalm.
- En Jesus interpreteer self die vervolging van die Jode as ‘n vervulling van dieselfde Psalm 69:5 (Psalm 69 – Moenie dat dié wat op U vertrou, deur my toedoen teleurgestel word nie; vgl ook Ps 35:19): “Hulle het my sonder rede gehaat,” (Joh 15:25). En Hy gebruik dié feit om die veroordeling van sy vyande en veral die “owerste van hierdie wêreld” te verkondig (Joh 16:11).
Die feit dat Jesus sy kruisiging nie teëstaan nie, moet ons nie verlei om te dink dat Hy die vervolging en verguising gelate aanvaar sonder enige gevolge vir die wat in hulle vyandskap teen Hom volhard nie. Verre daarvandaan!
Jesus dra aan die kruis die straf vir die sonde sodat die genade van God ontsluit kan word vir dié wat in Hom glo en daarom in gehoorsaamheid Hom as Leidsman van die geloof aanvaar (Hebr 12:1-3). En daarvoor kan ons Hom net loof en prys.
Maar, die kruis is ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke (1 Kor 1:23). In die gelykenis van die boere en die wingerd spel Jesus hierdie gevolge uit deur van Homself as die hoeksteen van die gebou van God te praat (aangehaal uit Psalm 118:22) en te voorspel dat: “Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.” (Luk 20:18).
Geen wonder dat Paulus Jesus dus hierin navolg nie! Hy haal ook uit Psalm 69 (en Ps 35) aan soos Jesus en verkondig die straf van God (Rom 11:9-11) sowel as sy genade (Rom 15:3) uit juis dié vloek-Psalms.
Jesus is die middelpunt van God se genade, en dit is wonderlik, ons ewige behoud. Maar, vir dié wat Hom verwerp, is Hy ook die straf van God, hulle ewige verdoemenis.
4. Seën en straf bly deel van God se strategie tot die einde toe.
Soos Johannes later uitvoerig in sy Openbaring aantoon, bly seën en straf God se strategie tot aan die einde toe. Vergelyk maar net Jesus se onomwonde boodskap aan die gemeente van Tiatira.
- Aan die een kant belowe Hy vir almal: “Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.” (Openb 2:23).
- Maar, aan die ander kant, vir dié wat nie in afgodediens en onsedelikheid verval nie: “vir elkeen wat die oorwinning behaal,” sal Hy: “die môrester gee.” (Openb 2:28).
Die boodskap van Jesus sluit natuurlik in dat ons Hom navolg in vyandsliefde en vergifnis, soos Hy in die Bergrede ons beveel (Matt 5-7). Maar ons kan dit doen, omdat ons kan staatmaak op God se regverdigheid wat sal sorg dat daar reg op die aarde en ook teenoor ons sal geskied.
Dit is waarom Paulus ons aanraai om nie self wraak te neem nie, want dit is God se saak. Wraak en vergelding is iets wat volledig by God berus, soos hy in Romeine 12 skryf:
“Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ (Vgl. Deut. 32:35) sê die Here. ‘As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.’ (Vgl. Spr. 25:21–25:22). Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom 12:19-21).
Die vyande is natuurlik uiteindelik ook nie net die menslike agente nie, maar die bose magte soos Efesiërs daaroor skryf. Oral waar hulle egter ontmasker word in die houdings en optrede van werklike mense en gekies word om daarteenoor in geloof, liefde en hoop te lewe (1 Tes 5:8) en te kies om self die waarheid te praat, op God se vryspraak te vertrou en nie op eie vermoëns nie, bereid is om die evangelie van vrede te bly verkondig en ons vertroue op God in alle lewensituasies uit te leef, die Woord van die Here op alle maniere te leef en te gebruik en dit alles in ’n lewe van gebed te doen, dáárin lê die oorwinning oor die vyande opgesluit, dáár kom die koninkryk van God (Ef. 6:14-20).
Lettie Breytenbach
Dankie vir hierdie plasing. Dit is nou regtig insiggewend en vir my in-die- kol.
Chris van Wyk
Dankie!