Skip to main content

Tag: Tien Gebooie

Die tweede gebod – God verwag onverdeelde lojaliteit aan Hom

https://boisefriends.wordpress.com/family-worship/Ek het ‘n navraag gehad oor die sondes/misdade van die vaders wat tot in die derde en vierde geslag besoek/toegereken word aan dié wat my haat/verwerp. (Eks. 20:4-6).

Ek wil graag vier goed daaroor sê:

  1. Hierdie tweede gebod druk God se verwagting van onverdeelde lojaliteit aan Hom uit.  Hy verwag dat mense Hom alleen sal dien soos die eerste gebod reeds geëis het.  Daar is geen kompromie moontlik tussen Hom en ander gode nie.  Enige kompromie lei onvermydelik tot ‘n verdeelde lojaliteit aan Hom.  Waar ‘n gelowige pa en ma dus hulle lojaliteit verbreek aan Hom, het dit ‘n onvermydelike effek op hulle kinders, want dit verbreek die verbondsverhouding.  Soos Durham sê: “indifference to commitment is contagious, in a family or in a society.” Dit deurbreek die Godsverhouding en het ‘n destruktiewe effek op die komende geslagte.  En ons moet dit op geen manier onderskat nie.
  2. Die straf wat aan die tweede gebod verbonde is, is vir mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar wat op ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle God verwerp of begin haat.  God “besoek” die misdade van die ouers aan die kinders, soos die ou vertaling die werkwoord vertaal het.  Dit beteken waarskynlik dat God hulle “straf” deur sy seën van hulle te onttrek en hulle aan hulle eie lot oor te laat.  Dit is soortgelyk aan wat ons in Romeine 1 ook sien waar God die hele mensdom “oorgee” aan allerlei sondes, omdat hulle Hom nie as God geëer en gehoorsaam het nie.
  3. God se straf is natuurlik altyd daarop gemik dat mense tot inkeer kom, soos Esegiël 18 in die OT dit mooi uitlê dat die Here elke individu op sy eie meriete beoordeel.  God verwerp nooit iemand wat na Hom toe terugkeer nie.  Dieselfde word in Romeine 3 vir ons vertel waar die oplossing vir die sonde van die mensdom in Christus, en die geloof in Hom, te vinde is.  Almal het gesondig, maar hulle word in Christus vrygespreek enkel en alleen omdat hulle in Hom glo.
  4. Die effek  op vier geslagte moet veral in sy kontras met die seën vir duisende geslagte in die volgende vers gelees word.  God is “vir altyd” (dit is in wese wat die “duisende” beteken!) goed vir dié wat aan Hom lojaal is en bly, dié wat sy wet/wil/woord/riglyn vir die lewe gehoorsaam.  God gee besondere genade in geloofsgemeenskappe wat aan Hom getrou en gehoorsaam bly.

In kort sê die tweede gebod:  God verwag lojaliteit van sy mense en Hy sal alles in sy vermoë doen om hulle daarmee te help.  Dit sluit straf en seën in.

Oor die Tien Gebooie

Jesus bevestig in die NT die geldigheid van die Tien Gebooie met sy opsomming daarvan in die twee liefdesgebooie:

“28 Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” 29 Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31 Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Mark 12:28-31).

Trouens Jesus verdiep die tweede gebod in Johannes 13:34 deur te sê dat ons nie net ons naaste SOOS ONSSELF moet liefhê nie, maar SOOS HY moet liefhê.

Onlangse kommentaar