Skip to main content

Didage

Ons begin die 4de Februarie met Didage op Woensdagaande.  Soos gewoonlik eet ons saam om 18:00 (R25 per persoon, bespreek vooruit by die kerkkantoor – Alta Hanekom gaan ons vergas met haar wonderlike resepte!).  Daarna begin ons met die Mid-Week aanbiedinge om 18:30.

Die aanbiedinge val in drie kategorieë – 1) ‘n fokus op Bybel en Teologie; 2) ‘n fokus op Geestelike Gewoontes; 3) Geloof in Aksie.  Ons beplan om dit mettertyd ook na toerusting in geestelike vaardighede uit te brei, maar dit is nog toekomsmusiek!

Hierdie kwartaal kan jy dus een van die volgende 6 aanbiedinge bywoon:

BYBELSKOOL – Chris van Wyk (Bybel & Teologie fokus)

Ons lees die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.  Geskrywe deur Lukas, die dokter, fokus die evangelie van Lukas op die redding wat Jesus bring vir alle Jode, van die platteland in Galilea tot in die stad Jerusalem.  Sy tweede boek, Handelinge, vertel die verhaal van die redding wat deur die werk van die Gees horisontaal versprei van die stad Jerusalem terug na die platteland, maar dan ook verder na Asië, Afrika, Europa en uiteindelik na die groot stad en magsentrum van daardie tyd, Rome.
Koste: R30 vir ‘n begeleiersgids – almal welkom

LECTIO DIVINA – Deon Loots (Geestelike Gewoontes fokus)

Lectio Divina – geestelike lees – is `n baie ou geestelike dissipline. Dit het ontstaan as `n manier van luister na die Woord van God in ‘n tyd van grootskaalse ongeletterdheid. Dit gaan dus oor die kuns om werklik te leer luister na die Woord en die relevansie daarvan vir jou eie lewe.
Tydens ons Lectio Divina sessies gaan ons met jou van die belangrikste beginsels rondom die benadering deel. Dit is alreeds lewensveranderend. Ons gaan dit daarom ook elke week prakties beoefen. Ons gaan dus leer deur dit self te doen en met mekaar te deel wat ons hoor.
Dit geskied in `n atmosfeer van stilte en luister. Ons sal ook gewyde musiek gebruik om onsself in te stem op God se teenwoordigheid.

GEESTELIKE GEWOONTES – Rethie van Niekerk (Geestelike Gewoontes fokus)

Die beoefening van geestelike gewoontes skep ‘n ruimte vir God om ons van binne af te verander.  En ons leer dié gewoontes die beste aan in ‘n kleingroep wat dit saam met ons doen.
Adele Calhoun het ‘n unieke boek Spiritual Disciplines Handbook – Practices that transform us geskryf om ons hiermee te help.  In plaas daarvan om haar boek net van hoek tot kant deur te lees, help sy mens om jou spesifieke behoefte aan God te verbind aan die geestelike gewoonte wat die beste daarby pas.  As jy byvoorbeeld ‘n behoefte het om met meer deernis met ander te praat, woorde wat eg, liefdevol en genesend is, stel sy oefeninge voor om die gewoonte om jou “tong te beheer” te beoefen!  As jy behoefte het om die teenwoordigheid van God in alles te kan raaksien, stel sy die gewoonte van kontemplasie voor.  En daar is 60 ander …!
Koste: R280 vir Adele Calhoun se boek  – net 20 persone

PROJEK EKSODUS – André Killian (Geestelike Gewoontes fokus)

André nooi 9 mense uit om saam met hom ‘n geestelike reis te onderneem aan die hand van die werkboek van John en Adrienne Carr Projek Eksodus (The Pilgrimage Project).  Die doel van die reis is om aan die hand van die lewenshoofstukke van ons eie verhale te ontdek wat God se plan met ons lewens is.  Hierin speel beide woestyntye sowel as braambostye ‘n belangrike rol.  Die reis word afgesluit met ‘n vooruitkyk na die volgende hoofstuk wat God in jou lewe gaan skryf.
Koste: R20 per persoon vir die werkboek

HUWELIKSVOORBEREIDING – Deon Binneman (Geloof in Aksie fokus)

Hierdie praktiese huwelikskursus gee vir elke getroude paartjie die hulpmiddels vir die bou van ‘n sterk en gesonde huwelik wat ‘n leeftyd hou. Oor 8 weke gesels egpare oor belangrike sake wat maklik in die gejaag van die daaglikse lewe nie aandag kry nie. Onderwerpe sluit in: sien mekaar se behoeftes raak; leer om effektief te kommunikeer; hanteer konflik; genees seerkry uit die verlede; weet hoe om mekaar geliefd te laat voel; ouers en skoonouers; goeie seks; maak tyd vir mekaar en hê pret saam.
Elke paartjie se privaatheid word gerespekteer. Daar is geen groepsbespreking nie en niemand hoef enigiets oor hul verhouding bekend te maak nie. Elke aand begin met ‘n kerslig-ete. Daar is ‘n video-praatjie, gevolg deur ‘n geleentheid om die onderwerp as paartjie te bespreek.

Koste: R100 per paartjie vir die werkboek en R25 weekliks per persoon vir die etes

OP PAD MET GOD – Mariette Rossouw (Geestelike Gewoontes fokus)

Die pad saam met God is uniek en vol verrassings. As jy werklik met God leer wandel het, beloon Hy jou met ’n lewe van vreugde en oorwinning.  Dan wil jy in toewyding voor Hom as jou Vader leef, en in troue navolging die voorbeeld van Jesus volg.

Op jou geestelike pad is daar verskillende seisoene waarin jou kommitment tot God sal verskil. Tog is dit juis hierdie kommitment wat die hoekpilaar vorm van ‘n lewe saam met God, waarin jy leer om:

  • by God tot stilstand te kom: daar by Hom te skuil en van Hom te leer;
  • tot God te nader: die dag saam met Hom te begin;
  • in God vertroue, troos, beskerming en rus te vind;
  • voor God te kom: met jou pyn, emosies en goeters;
  • met God te wandel: bewus van die krag van Sy Gees;
  • vir God te leef: mense bereik, te dien en te bedien, tot uitbreiding van Sy Koninkryk.

OP PAD MET GOD is “kringwees vir Christus” . Dit is vir jou as jy ‘n soeke na God het, of wil ervaar dat God met jou praat, ‘n nuwe geestelike tuiste of ‘n nuwe visie vir jou lewe soek, geestelike afplatting ervaar of gewoon net geestelik wil groei.

Koste: een foliogrootte hardebandboek vir jou joernaal (gespreksboek met God).  Bring ook jou Bybel saam.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms